§ 22. Eerw. H. Kling († 1935) en C.P. Naudé.
Van eerstgenoemde skrywer het in 1932 verskyn Onder die Kindere van Cham. Op onderhoudende wyse vertel hy die ervarings van die oudste Duitse sendelinge van die Rynse en Berlynse Sendinggenootskappe in Suidwes-Afrika en elders. Hierdie baanbrekers het hul edele werk onder die grootste moeilikhede in onherbergsame oorde voortgesit met 'n geloofsvertroue wat eenvoudig geen grense geken het nie. Hulle het tot sterwenstoe dors gely in die sandwoestyne en dikwels in lewensgevaar verkeer onder woeste heidene, wat deur onderlinge rusies en gevegte soms hul lewenswerk vernietig het. Maar onkunde, bygeloof en teenstand het hul slegs tot groter inspanning aangespoor, en waar die een sy moeë hoof ter ruste lê, staan 'n ander gereed om die werk voort te sit. Onskatbare dienste het hierdie Duitse Voortrekkers aan die Afrikaanse beskawing bewys,