§ 20. Dr. S.P. Engelbrecht.
Thomas François Burgers (1933).
Die skrywer het hom ten doel gestel die rehabilitasie van die Transvaalse president wat, volgens die gangbare opvatting, baie Engelsgesind was, met die vyande van sy land geheul en selfs die anneksasie deur Shepstone in die hand gewerk het. ‘Dit het my by aanhoudende studie dan ook duideliker en duideliker geword dat die tekening van die beeld van President Burgers in ons geskiedenisboeke 'n karikatuurtekening is wat jare gelede deur sy bitterste vyande ontwerp is.’ Die werk getuig van ywerige bronnestudie, en bevat 'n uitgebreide versameling sitate wat 'n helder lig werp op die kerkstryd in die Kaap en die politieke verwikkelinge in Transvaal. Daardeur het dit veel meer geword as blote biografie. Dis 'n belangrike kultuur-historiese studie wat deur sy breedvoerige dokumentasie ons in staat stel om die gebeurtenisse op kerklike, maatskaplike en politieke gebied in die negentiende eeu veel beter te verstaan. Dr. Engelbrecht gee ons uittreksels uit privaat briewe en koerante wat 'n nuwe lig laat val op die rol deur leidende figure gespeel. Onder andere het hy belangrike gegewens openbaar gemaak uit die briewe en dokumente wat die familie Burgers tot sy beskikking gestel het.
Dr. Engelbrecht se vooropgesette doel om president Burgers in sy eer te herstel het hom tot gevolgtrekkings verlei wat die onpartydige leser nie sal aanvaar nie en wat deur historici verwerp word. Dr. Preller meen dat die lewensbeskrywing ‘geen kritiese studie van feite en omstandighede geword (het) nie, maar 'n loutere verdediging en ophemeling.’ (Die Vaderland, 12 Aug. 1833). Preller lê veral nadruk op Burgers se gebrek aan staatsmansbeleid en praat van ‘sy aan verraad grensende swakheid in verband met die anneksasie.’ Prof. J.A. Wild betreur die gebrek aan objektiwiteit by die biograaf, maar kom tot hierdie slotsom: ‘Prof. Engelbrecht bewys egter oortuigend dat Burgers, ondanks al sy swakhede, nie aan verraad skuldig was nie. Hy was maar net naïef-eerlik en wêreldvreemd toe hy b.v. met Shepstone ooreengekom het dat hulle vir mekaar hul Anneksasie- en Protes-proklamasies vooraf sou toon.’ (Die Huisgenoot, 29 Sept. 1933).
Die beoordeling van die wetenskaplike verdienste van die biografie kan ons aan die historici oorlaat. Ek wil hier alleen wys op die tragiek van 'n mislukte lewe wat dr. Engelbrecht met soveel simpatie en toewyding vir ons geskilder het. Burgers studeer in Nederland waar hy onder die invloed van Romantiek en Verligting beskouings opdoen wat hom by sy terugkeer in Suid-Afrika in 'n verbitterde kerkstryd wikkel. Nadat hy dertien jaar as predikant op Hanover gestaan het en deur die Sinode weens onregsinnigheid gevonnis is, word hy in 1872 president van die Suid-Afrikaanse Republiek. Hy koester hoë ideale en droom van 'n