§ 19. Dr. F.V. Engelenburg (1863-1938).
Genl. Louis Botha (1928).
Dr. Engelenburg, oud-redakteur van Die Volkstem, was 'n persoonlike vriend en bewonderaar van genl. Botha. As joernalis het hy gedurende party van die kritiekste periodes in ons geskiedenis daagliks in aanraking met die generaal gekom en daardeur indrukke opgedoen, wat van onskatbare belang is vir wie 'n juiste beeld wil kry van die politieke geskiedenis van die wordingsjare van die Unie van Suid-Afrika. Deur uittreksels uit briewe, optekening van gesprekke en herinneringe gee hy ons dikwels 'n kykie agter die skerms, en stel ons in staat om te begryp watter motiewe tot politieke aksie gelei het. In sy voorwoord verklaar hy: ‘Daar is maar baie min persone wat vandag 'n juiste perspektief kan vind vir definitiewe beoordeling van Botha se prestasie.... Ek kan nie loskom van my agting, my bewondering vir Botha nie!’ Dit spreek dus vanself dat die skrywer se uiteensetting van die konflik Steyn - Botha, en Hertzog - Botha baie partydig is en deur latere geskiedskrywers in 'n juister lig sal gestel word. Maar die toekomstige historicus sal in hierdie werk waardevolle boustowwe vind, want ons kry penportrette van al die leidende figure wat na die Tweede Vryheidsoorlog die grondslae van die Unie gelê het.