§ 18. Adv. J.H.H. de Waal.
Die Lewe van David Christiaan de Waal (1928).
In die voorwoord verklaar die skrywer: ‘Ek beskou dit die plig van elke spruit van waardige ouers om 'n skriftelike opsomming.... van die hooffeite van hul lewe te oorhandig vir bewaring aan die nageslag.’ Gedeeltelik is hierdie biografie dus 'n piëteitsarbeid, ‘'n private familieboek’. Die skrywer het egter sy taak so breed opgevat dat die verhaal kultuur-historiese gegewens van groot waarde bevat oor die periode 1845-1911. David de Waal was 'n rustelose gees wat hom op velerlei gebied beweeg het. Hy het begin as boer, later Kaap-toe verhuis, waar hy koopman word en aktief deelneem aan die openbare lewe. As burgemeester van Kaapstad kom hy in aanraking met al die leidende figure van die samelewing. Twintig jaar het hy Piketberg in die parlement verteenwoordig. Met Rhodes en Onse Jan het hy vertrouelik omgegaan, en deur sy politieke bedrywighede kry ons baie interessante kykies agter die skerms. Hy maak verskeie togte met Rhodes mee na Masjonaland en Matabeleland, en onderneem ook nog nege buitelandse reise. Al die groot historiese gebeurtenisse en politieke beroeringe van hierdie periode word breedvoerig behandel, en deur briewe, koerantartikels en ander gegewens slaag die skrywer daarin om die gees van die tydperk te openbaar. Soos ons van die skrywer kan verwag word besondere aandag gewy aan taaltoestande. Ek noem slegs enkele feite: As Jan Hofmeyr (Onse Jan) in 1875 as parlementslid vir Stellenbosch benoem word, dan spreek hy die boere in Engels toe! Ds. S.J. du Toit en ander lede van die Genootskap van Regte Afrikaners skryf sonder uitsondering in Hollands aan David de Waal, en die huistaal van die meeste toonaangewende Afrikaners bly lange jare Engels.
Op byna elke gebied van die volkslewe kan daar uit hierdie lewensbeskrywing interessante besonderhede opgediep word. Die skrywer het ons die beskawingsgeskiedenis van 'n hele tydperk gegee en daardeur ons blik op die verlede verhelder. Wanneer sy verhale reeds lank vergeet is, of alleen nog van belang is vir die geskiedskrywer van ons letterkunde, dan sal hierdie lewensbeskrywing nog steeds geraadpleeg word, omdat dit so 'n ryke skat van kultuur-historiese gegewens bevat.