Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 556]
| |
§ 12. Dr. N.J. van der Merwe.Hy is gebore in 1888 op Senekal, O.V.S. Aan die Grey-Kollege het hy in 1907 gegradueer met honneurs in moderne tale. Twee jaar lank was hy onderwyser in Fauresmith en daarna het hy teologie studeer aan die Stellenbosse Kweekskool, waar hy in 1911 ook die B.D.-eksamen afgelê het. In 1914 was hy reisende sekretaris vir die C.S.V. en daarna predikant op Wepener en Theunissen. Sy teologiese studie het hy voortgesit aan die Vrye Universiteit op Amsterdam, waar hy in 1921 gepromoveer het op 'n dissertasie Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Op die oomblik is hy lid van die Volksraad. Hy is in 1916 gehuud met 'n dogter van president Steyn. Sy skoonvader se lewensbeskrywing Marthinus Theunis Steyn het in 1921 verskyn in twee dele. Hy het ook vertaal Emily Hobhouse se boek oor die konsentrasiekampe: The Brunt of the War, (Die Smarte van die Oorlog) (1923) en by haar begrafnis in 1926 hierdie edele vrou gehuldig deur 'n beknopte biografie getitel: Tot Nagedagtenis van Emily Hobhouse. In 'n aantreklike verhaal vir die jeug, Die Burgemeester van Sannaspos (1929), word die ondervindinge vertel van 'n seun wat elf jaar oud was by die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Terwyl die manne op kommando is, ageer Boetie op bekwame wyse as ‘burgemeester’ van die dorpie Sannaspos. Later word almal weggevoer na die konsentrasiekamp by Norvalspont. Ook hier word Boetie deur sy onselfsugtige hulpvaardigheid onmisbaar. Hy is darem alte veel van 'n brawe-Hendrik, maar sy ervarings sal jeugdige lesers 'n interessante blik gee op die toestande in die konsentresiekamp. Dis 'n waardevolle stukkie kultuurgeskiedenis, omdat ons hierin die Tweede Vryheidsoorlog deur die oë van 'n jong seun sien. Waarskynlik is die verhaal op eie ervaringe gebaseer. | |
Marthinus Theunis Steyn (1921).Die skrywer van 'n politieke biografie staan voor 'n groot moeilikheid wat deur Winston Churchill goed aangedui is in sy voorwoord by die lewe van Lord Randolph Churchill. ‘The style and ideas of the writer must throughout be subordinated to the necessity of embracing in the text those documentary proofs upon which the story depends. Letters, memoranda, and extracts from speeches, which inevitably and rightly interrupt the sequence of his narrative, must be pieced together upon some consistent and harmonious plan. It is not by the soft touches of a picture, but in hard mosaic or tessellated pavement, that a man's life and fortunes must be presented in all their reality and romance. I have thought it my duty, so far as possible, to assemble once and for all the whole body of historical evidence required for the understanding of Lord Randolph Churchill's career.’ Op dieselfde manier het Van der Merwe | |
[pagina 557]
| |
te werk gegaan. Die grootste gedeelte van sy biografie bestaan uit historiese dokumente, waaronder 'n uitgebreide diktaat van pres. Steyn, briewe, redevoerings en offisiële stukke. Tereg verklaar hy dan ook in sy voorwoord: ‘Met die volle bewussyn dat daar in die voorliggende werk dikwels eenvoudig boustof gelewer word waar die leser miskien 'n gebou sou verwag, dog met die oortuiging dat dit onder die huidige omstandighede voorbarig sou wees om meer te doen....’Ga naar voetnoot1) Selfs by 'n gewone lewensbeskrywing het die biograaf al 'n moeilike taak. Hy moet 'n verslag gee van die uiterlike loopbaan van die persoon; maar hy moet ook sy intellektuele en geestelike groeiproses teken en die gestadige wisselwerking tussen die twee nooit uit die oog verloor nie. Is die onderwerp van die lewensbeskrywing so 'n buitengewone persoon soos pres. Steyn, wat gedurende die periode 1896-1916 feitlik aan die hoof van die hele volk gestaan het, dan word dit nog noodsaaklik om die geskiedenis van die nasie ook te vertel. Op dié manier loop die biograaf gevaar om die eenheid van sy werk te verstoor, presies soos die skilder van 'n groot veldslag, wat probeer om àl die soldate van weerskante op sy doek in te druk. Die verstandige biograaf sal soveel moontlik aan die historicus oorlaat, en dit het Van der Merwe dan ook meestal gedoen o.a. met die Tweede Vryheidsoorlog en die vredesonderhandelinge. Sulke gebeurtenisse behoort tot die terrein van die historicus. Edmund Gosse het verklaar, dat dit 'n groot fout is om, wat genoem word Life and Times van 'n mens te probeer beskryf. ‘History deals with fragments of the vast roll of events; it must always begin abruptly and close in the middle of affairs; it must always deal, impartially, with a vast number of persons. Biography is a study sharply defined by two definite events, birth and death. It fills its canvas with one figure, and other characters, however great in themselves, must always be subsidiary to the central hero.’Ga naar voetnoot2) Per slot van rekening bly dit 'n moeilikheid wat iedere biograaf op sy eie manier moet oplos. Dit verdien in elk geval die noukeurige oorweging van ons toekomstige lewensbeskrywers. Die lewensbeskrywing van pres. Steyn sou m.i. aan eenheid gewin het, as daar 'n skeiding gemaak was tussen die historiese en biografiese gegewens. Die diktaat van die president, sy redevoerings en die offisiële dokumente kan gemaklik as historiese aanhangsel gegee word. Omdat dit alles in die teks van die biografie geskuif word, verloor ons telkens die persoonlikheid van die president uit die oog. By die behandeling van die Hertzog-krisis (II, Hoofstuk XII), en die Rebellie (II, Hoofstuk XIII) is dit veral die geval. Hier word die lewensbeskrywing feitlik 'n offisiële blou-boek, 'n bronnepublikasie. Maar dit is dan ook van dié gebeurtenisse waarvan die skrywer | |
[pagina 558]
| |
in sy voorwoord sê: ‘Die rook trek nog uit meer as een brand.... en daarom word hier 'n poging aangewend om so objektief moontlik te wees; om die ipsissima verba van die verskillende persone wat op die toneel verskyn, letterlik weer te gee; en om alle kommentaar wat aan partygevoel kan toegeskrywe word, te vermy.’ (I, p. 11.) Waar dit sulke delikate kwessies geld, sou dit seker onbillik wees om noual van die skrywer 'n samevattende oordeel te verwag. Maar as die rook eendag weggetrek het, is dit sy plig as biograaf om ons te laat voel wat daar in die siel van die groot staatsman omgegaan het in dié tyd. Dan sal sy boek waarlik 'n lewensbeskrywing word, want ten spyte van die moeilikheid waarop Churchill sinspeel, bly dit tog waar dat 'n versameling briewe, dokumente en redevoerings nog geen biografie uitmaak nie, al word dit ook hoe netjies gerangskik. Dit is net die materiaal wat die biograaf moet verwerk. As hy alles in extenso afdruk, loop sy werk gevaar om 'n veelverwige lappieskombers te word. Van der Merwe het dikwels die skêr-en-lympot-metode toegepas, soms uit noodsaak, soos in die laaste gedeelte van sy werk, maar gelukkig het hy ons ook nader gebring tot die mens in pres. Steyn. In die eerste ses hoofstukke slaag hy daar uitstekend in om 'n duidelike beeld te gee van Steyn as kind, boereseun, student, regsgeleerde en staatshoof. Met groot liefde het hy alle beskikbare gegewens so verwerk, dat selfs iemand wat die president nooit geken het nie, die man vlak voor hom sien staan. Hier spreek die biografie nie alleen tot ons verstand nie, maar ook tot ons hart; hier is die warme tinteling van 'n aanraking tussen mens en mens, die intiem-gesellige sfeer, en nie alleen die bloot serimoniële ‘kennismaking’ tussen wildvreemdes nie. Alleen teen een opmerking het ons 'n bedenking: ‘Talryke staaltjies word vertel van Steyn se jowiale natuur as student en sy hartlike verkeer met sy Nederlandse vriende. Dit is egter nie nodig om die leser met hierdie studentegrappies langer op te hou nie. Die lewe van elke gesonde en vrolike student, soos Steyn was, is daar vol van’ (I, p. 36). Dit kan ons alleen betreur, want Plutarchus merk tereg op in sy Alexander: ‘Nor is it always in the most distinguished achievements that men's virtues or vices may be best discerned; but very often an action of small note, a short saying, or a jest, shall distinguish a person's real character more than the greatest sieges, or the most important battles.Ga naar voetnoot1) Samuel Johnson het ook 'n juiste opmerking gemaak. Sommige biograwe, sê hy, ‘rarely afford any other account than might be collected from public papers, but imagine themselves writing a life, when they exhibit a chronological series of actions or preferments; and have so little regard to the manners or behaviour of their heroes, that more knowledge may be gained of a man's real character by a short conversation with one of his servants, than from a | |
[pagina 559]
| |
formal and studied narrative begun with his pedigree and ended with his funeral.’Ga naar voetnoot1) Wanneer die skrywer sy boustof omwerk tot 'n gebou, verdien die gekursiveerde woorde seker nadere oorweging. In die volgende hoofstukke word die onderhandelinge, wat gelei het tot die nouer vereniging van die twee republieke beskryf. Dan volg die diktaat van president Steyn waarin die staatkundige gebeurtenisse vanaf 1896-1899 uiteengesit word. Vervolgens gee die skrywer 'n gedokumenteerde verslag van die onderhandelinge wat aan die oorlogsverklaring voorafgegaan het. ‘Die tak, geduld sowel as staatsmansbeleid en beslistheid van die Vrystaatse president word daardeur duidelik geopenbaar’ (I, p. 235). ‘Hoewel hy ook lank reeds aan vrede gewanhoop het, was hy egter beslis om nie na die wapen te gryp nie voor hy met 'n rein gewete sy volk kon verseker dat elke moontlike middel te baat geneem was om die onheil af te keer’ (I, p. 246). Die president se houding blyk duidelik uit sy antwoord aan 'n paar offisiere wat gesê het: ‘Laat ons maar veg’: ‘Ek stem nie toe tot oorlog 'n minuut voor dit nie anders kan nie, maar weet dit, as ek die dag sê “Oorlog”, dan moet julle nie met my van vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde’ (I, p. 273). Manlike woorde van een, wat ook met dade bewys het, dat hy tot die grootste van die Bittereinders behoort! Hoe graag sou ons meer wil weet van die ‘sieleworsteling’ daar in die eensame veld, op 'n stille sabbatsmore, 8 Oktober 1899 - net voor die versending van die ultimatum. (I, p. 275.) Maar dit is een van die dramatiese momente wat die biograaf net vir ons aanstip. Wanneer Steyn, gebroke in die liggaam, maar onverwinlik in die gees afskeid neem van sy getroues by Vereniging, dan sê Van der Merwe ook: ‘Geen pen kan dit ooit beskryf nie’ (II, p. 51). En as die sterk man, gedeeltelik herstel terugkeer na sy geannekseerde vaderland, dan roep die skrywer weer uit: ‘Wat dié middag deur die hart van die Vrystaters by Kaalspruitstasie (naby Onzerust) gegaan het, sal geen pen ooit beskrywe nie’ (II, p. 148). Maar sulke verklarings help ons nie om die tragiek van Steyn en sy volk se lyding te begryp nie. Hier moet die kunstenaar-biograaf deur die skoonheid van sy beeldende woord, deur die innigheid van sy weergawe ons ontroer, hier kan hy nie volstaan met 'n blote vermelding van feite nie! In die tweede deel word Steyn as ‘die siel van die vryheidstryd’ geteken. ‘Om sy ware grootheid te leer ken, moes 'n mens hom egter in sy daaglikse handel en wandel onder sy offisiere en burgers sien’ (II, p. 34). Hier word Van der Merwe in waarheid weer lewensbeskrywer, want uit die kommandoanekdotes leer ons Steyn as mens veel beter ken as uit sy offisiële depêches. Sou ‘die halfbarbaarse gesegdes van Ruiter’ (II, p. 37) wat ons weerhou word, ‘uit vrees dat die leser wat Ruiter nie geken het nie’ dit ‘wat ru en plat sal vind’, sou dit nie die realiteit van die skildering verhoog | |
[pagina 560]
| |
het nie? Hier geld Plutarchus en Johnson se opmerkings weer. In die volgende hoofstuk is die president weer self aan die woord en vertel hy van die ‘poginge tot vrede’. Mev. Steyn se oorlogservarings en haar ontmoeting met die president na die vrede, hulle vertrek na Europa om herstel van gesondheid te soek word dan beskryf. Onder die geneeskundige behandeling van prof. Winkler kom die langsame herwinning van lewenskragte en eindelik keer die volksheld weer tot sy vaderland terug. Die beskrywing van die lewe op Onzerust is goed geslaag, en op treffende wyse word Steyn, as ‘volksiener en raadsman’ geteken. Sy bemoeiings om selfregering en die vereniging van die verskillende state te verkry is die onderwerp van die volgende hoofstukke. Wanneer die politieke verdeeldheid na die totstandkoming van die Unie begin, is pres. Steyn weer die raadsman van al die leiers. ‘Die enigste plek waar al die partye so nou en dan in die gesonde lug van vertroue kom asem skep het, was daardie boerplasie op die vlaktes van Kaalspruit. Almal het daar hulle hart kom lug. Niemand het tevergeefs na Onzerust gekom nie. Soos 'n vader innig besorg oor dreigende onenigheid onder sy kinders, het president Steyn alles in sy vermoë gedoen om vrede en eenheid te bewaar’ (II, p. 242). Die onderhandelinge tydens die Hertzog-krisis en die rebellie word in extenso afgedruk. Daar is ook 'n uiteensetting van die president self oor sy houding tydens laasgenoemde gebeurtenis. In die slothoofstuk word die laaste dae van die president, sy begrafnis en die roudienste beskryf. In sy voorwoord het die skrywer die hoop uitgedruk, dat sy arbeid ‘iets sal bydra om die inspirasie van president Steyn se lewe vir die Volk te bewaar en lig te werp op 'n seer belangrike deel van ons volksgeskiedenis....’ (p. VII). Dié doel sal hy ongetwyfeld bereik, nie alleen omdat sy stof van soveel nasionale belang is nie, maar ook omdat sy lewensbeskrywing uitmunt deur 'n helder, goedversorgde styl. |
|