Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 553]
| |
§ 11. Ds. J.D. Kestell.Ds. Kestell is 15 Des. 1854 gebore op Pieter-Maritzburg. In sy jeug is hy persoonlik met verskeie Voortrekkers in aanraking gewees. Hy vertel: ‘Sarel Cilliers het ek gesien in die huis van my vader, en later op sy eie plaas, Doringkloof. J.N. Boshoff het ek as kind op Pieter-Maritzburg geken. Marthinus Oosthuijse het ek dikwels ontmoet, en uit sy eie mond die geskiedenis van die Trek gehoor. Daniel Bezuidenhout het my self verhaal wat sy wedervarings was.’Ga naar voetnoot1) Na sy teologiese opleiding op Stellenbosch het hy 'n jaar lank gestudeer aan die Utrechtse universiteit. As predikant het hy gestaan op Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein. Daarna was hy redakteur van De Kerkbode (1919) en 'n tydlank rektor van die Grey-Universiteitskollege. Sy eerste geskrif was 'n toneelstuk oor Slagtersnek, The Struggle for Freedom (1881). In sy studiejare het hy ook 'n Engelse roman oor dieselfde onderwerp geskryf. ‘Onse Jan’ het dit vir Het Z.-A. Tijdschrift vertaal. Uit het Afrikaansche Boerenleven (1897) is 'n bundel dorpsnovelles,Ga naar voetnoot2) later in Afrikaans uitgegee onder die titel Modderrivier. De Voortrekkers of Het Dagboek van Izak van der Merwe (1898) is in samewerking met Nico Hofmeyr geskryf, Johanna Cloete in 1899. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het ds. Kestell pres. Steyn en genl. De Wet vergesel op hul togte en die stryd meegemaak tot die bitter einde toe. Na die vrede het verskyn: Met de Boerencommando's of Mijn Ervaringen als Veldprediker en De Vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit (1909), die laaste in samewerking met D.E. van Velden. Sy skoonvader se biografie het ds. Kestell in 1911 uitgegee onder die titel Het Leven van Prof. N.J. Hofmeyr, die van Christiaan de Wet in 1920 en Die Lewe van Abraham Paul Kriel in 1932. Die Vootrekkers (1920) is 'n omwerking van 'n reeks voorlesings op Kimberley gegee. Ds. Kestell is lid van die S.A. Akademie, die Leidsche Maatschappij en die Historische Genootschap van Utrecht. Op kerklike en nasionale gebied is hy een van die volksleiers en volgens die redakteur van Die Brandwag ‘in baie opsigte vir ons die verpersoonliking van die beste wat daar in ons Afrikaanse volk woon.’Ga naar voetnoot3) Aan die redakteur het hy ook vertel ‘hoe dit hom spyt, dat hy in die ou dae nie deelgeneem het aan die stryd vir die regte vir Afrikaans nie.’ Hy was een van die hoofvertalers van die Bybel. Die Universiteit van Suid-Afrika het die waardevolle dienste van hierdie volksleier erken deur aan hom 'n eredoktorsgraad toe te ken. Sy bydraes tot Die Kerkbode is gebundel onder die titel Die Stille Uur. | |
[pagina 554]
| |
Die Voortrekkers (1920).Dit is ‘'n kort geskiedverhaal’, waarin die oorsake en die vernaamste gebeurtenisse in verband met die Groot Trek tot op 16 Desember 1838 beknop en helder uiteengesit word; 'n handige boekie vir iedereen wat die groot gang van die emigrasiebeweging wil begryp, sonder om daarvan eintlik 'n studie te maak. Van Gardiner en Owen word gesê: ‘Maar so bitter vyandig teen die Boere was hulle ook nie, dat hulle 'n barbaarse opperhoof kon aanhits tot 'n gruwelike bloedbad.’ (p. 76.) Die bewyse vir die stelling ontbreek egter. ‘Ek vertrou dat wat aan my werk iets wat op sigself staan sal gee is, dat ek persoonlik met eminente Voortrekkers in aanraking is gewees.’ (p. VI.) Gedeeltelik is dit waar, maar daar is tog geen figuur, wat só geteken is nie, dat ons na die lesing van die boekie voel, dat ook ons in persoonlike aanraking met 'n Voortrekker gewees is. Kestell mis die plastiese gawe wat vir so'n uitbeelding nodig is. Hy verseker ons trouens self, dat dit onmoontlik is. ‘OnbeskryflikGa naar voetnoot1) was die aandoening in (Retief se) siel, toe hy staar op die land wat daar aan sy voet lê: Natal, met sy golwende berge en dale’ (p. 60). Ook die beskrywing van Retief se eerste blik op Natal toon duidelik, dat Kestell geen woordkunstenaar is nie, wat deur die mag van sy skilderende woord 'n beeld kan laat lewe nie. ‘In die jonge groen van die vroeë lente was alles gedos.... Oral sien hy die veld met 'n ryke oorvloed bedek metGa naar voetnoot2) blomme van allerhande vorm en kleur en geur....’ (p. 60). Ook die moord van Retief is ‘onbeskryflik’ (p. 76), en in die Bloedrivierslag beleef die Trekkers ‘onbeskryflike ure’ (p. 101). Of anders is die tonele weer ‘ontsettend, hartverskeurend’ (p. 86), retoriese skrikmaak-frases, wat geen ontroering wek nie. Ds. Kestell wil van die Hollandse kuns na 1880 niks weet nieGa naar voetnoot3) en in sy werk kom dan ook versteende beeldspraak soos die volgende voor: ‘onuitwisbar(e) littekens in die hart.... gebrand’ (p. 8); ‘'n golf van onuitspreeklike smart’ (C. de Wet). | |
Christiaan de Wet (1920).In die eerste hoofstukke word 'n oorsig gegee van sy jeug en die moeilike jare wat op sy huwelik gevolg het. Op lewendige wyse word sy aandeel in die Transvaalse Vryheidsoorlog meegedeel. Nadat hy 'n tydlank veldkornet en volksraadslid gewees het in die Transvaal, keer hy terug Vry-staat-toe, waar hy ook gou op politieke gebied optree. ‘Sy breë kyk op sake’ word veral geroem. Dan volg 'n historiese oorsig van die gebeurte- | |
[pagina 555]
| |
nisse wat aanleiding gee tot die Tweede Vryheidsoorlog. De Wet gaan op kommando as gewone burger, maar word gou veggeneraal, en na die oorgawe van Cronjé hoofkommandant. Met gebruikmaking van De Wet se oorlogsboek gee Kestell dan 'n oorsig van die vernaamste krygsgebeurtenisse. Die besoek van die Boere-generaals aan Europa word beskryf en ook mevr. De Wet se ondervindings gedurende die oorlog. Onder die verantwoordelike bestuur word De Wet minister van landbou. Die gebeurtenisse na 1914 is breedvoerig behandel. Hier gee die skrywer nie alleen 'n relaas van die uiterlike feite nie, maar hy toon duidelik aan wat daar in die siel van die generaal omgegaan het en hoe sy besluit om te rebelleer geryp het. Die laaste gedeelte van die biografie is die bes geslaagde, omdat ons daar werklik in aanraking kom met 'n persoonlikheid. De Wet se laaste veldtog, sy verhoor en gevangenislewe word op gevoelvolle wyse beskryf. Met verskeie historiese bylaes sluit die boek. Op die gebrek aan sielkundige analise maak die skrywer ons 'n enkele maal self weer opmerksaam: ‘Geen woorde kan beskryf wat daar op die oomblik deur die siel van C. de Wet gaan nie.’ Die plastiese skildering is meestal geslaag, ofskoon die gemeenplase soms hinderlik word: ‘Daar kom generaal De Wet aangery van die voorpunt, en hy roep die burgers bymekaar. Hy bly sit op sy perd, en die burgers kom voor hom staan. Hy is woedend kwaad. Hy byt op sy tande. Deur sy tande kom die woorde sissend.... Daarna word hy kalmer, en eindelik haal hy sy hoed af. “Kom ons bid”, sê hy. Wat 'n gebed was dit uit die mond van dié man, daar op die perd! Dit roer elkeen tot op die bodem van sy wese. Elkeen voel dat die hare op sy hoof rys....’ (p. 68-9). Meer as een lewendige kommando-toneeltjie is treffend deur juiste tekening. Die begin van hoofstuk XIII is daarvan 'n mooi voorbeeld. Ook uit die generaal se jeug het die skrywer heelwat voorvalle opgeteken wat ons 'n goeie insig in sy persoonlikheid gee. De Wet se eie meedelings is op aangename wyse verwerk en munt uit deur aanskoulike voorstelling. Kestell het gesegdes van hom opgeteken, wat 'n kosbare bydrae is tot ons kennis van die groot heldefiguur, terwyl die na-oorlogse periode van sy loopbaan op treffende wyse verduidelik is. In die slothoofstuk het die skrywer op gevoelvolle wyse die betekenis van De Wet se persoonlikheid geskets. ‘Hy leef voort in die herinnering van sy volk. Meer en meer sal dit ondervind word dat besieling van hom gedurig uitgaan, waar die nageslag op die grondveste van die vadere die nasie opbou.’ As dié besieling vrugbaar bly, sal dit grotendeels te danke wees aan ds. Kestell se simpatieke vertolking van die groot held se ideale Die nageslag sal hom steeds erkentlik bly vir die liefdevolle toewyding waarmee hy aan hierdie lewensbeskrywing gearbei het. Hy het daarin episodes opgeteken, wat altoos die hart van die nasie sal raak en wat nie mag vergeet word nie, solank daar Afrikaners is. |
|