Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 9. A.J. van der Walt † 1926.Andries Jacobus van der Walt is gebore op Grootfontein, Middelburg, K.P. Van sy tiende tot sy vyftiende jaar het hy skool gegaan op Ratelpoort, waar hy leer hoera skree het, toe die anneksasie van Transvaal (1877) bekend word. Maar nadat hy enige jare skool gehou het is hy Transvaal-toe en daar het hy gou tot 'n ander oortuiging gekom. Kort na die Jameson-inval is sy Hollandse roman Afrikaner wees u zelf geskryf.Ga naar voetnoot1) Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog moes hy saam met ander die wyk neem na Delagoabaai en vandaar na Holland. In Europa het hy byna twee jaar gebly, baie rondgereis en sy ondersoekings oor Andries Hendrik Potgieter begin. Noordwaarts, wat in 1906 al klaar was het hy in Afrikaans omgewerk vir die Burger-leeskring (1919).Ga naar voetnoot2) In 1920 het ook nog verskyn Vastrappers I. | |
Noordwaarts (1919).In 1877 het 'n groot aantal huisgesinne die Suid-Afrikaanse Republiek verlaat en noordwaarts getrek. Die skrywer het historiese gegewens oor hierdie Dorsland-Trek versamel en dit as Deel II van Noordwaarts uit- | |
[pagina 550]
| |
gegee. Die verhaal van D.J. Erasmus word afgebreek deur die volgende opmerking van Van der Walt: ‘En dan volg 'n hele reeks van kostelike informasie.... wat vir ⅔ as boustof verstrek ('t) van Boek II’ (p. 217). Boek II is 'n gedeelte van 'n romantiese verhaal, wat aan die Boustowwe voorafgaan. Hier het ons dus te doen met 'n onwetenskaplike vermenging van waarheid en verdigting, wat die boek vir die historicus vrywel waardeloos maak. Selfs op die boustowwe kan ons nie reken nie: ‘Die skrywer het eers gemeen, by die omwerking en besnoeiing van die handskrif, om die verdwaal-episode maar agterweë te laat....’Ga naar voetnoot1) Nog duideliker blyk sy werkwyse uit die volgende: ‘Ons moes dus by die skrale bedeling van boustof, nadat ons ons so goed moontlik onder ons omstandighede op hoogte van die Land- en Volkkunde van die streke waardeur die twee van Stadens denkelik getrek het, gebring het, toe maar verder die regte van 'n romanskrywer ons aanmatig, om so op dié manier die leemtes enigsins aan te vul.’ (p. 185.) Teen 'n historiese roman oor die Dorslandtrek bestaan daar natuurlik geen besware nie, maar die onoordeelkundige vermenging van fantasie en waarheid in 'n boek, wat die ondertitel Historiese Sketse dra, moet ten sterkste afgekeur word. Van der Walt het verskillende episodes uit sy boustowwe tot een verhaal saamgeflans. Hy gee 'n reeks gekleurde historie-prente en laat op bioskoopagtige wyse die vernaamste episodes voor ons verbytrek. In die uiterlike omstandighede van die trekkers het hy hom goed ingeleef. Hul ontberinge en eindelose gesukkel in die dorsland word op skilderagtige wyse geskets. ‘Die opeenvolging van ellendes’ (p. 58), die lyding van mens en dier in woeste oorde, die moeilikhede met die inboorlinge is op duidelike en aanskoulike wyse voorgestel, sodat die geheel 'n treffende rolprent van die volhardingsvermoë van die Afrikanerpioniers word. Maar ons mis die hand van die kunstenaar wat só kan skilder, dat die figure van die doek af na ons toe kom, met ons praat en die roersels van hul innerlikste menssyn openbaar. Want daarvoor deins die skrywer terug. ‘Ons laat maar liewer die sluier val!’ (p. 112);Ga naar voetnoot2) ‘Maar laat ons maar liewer van Tys van Wyk, die vader en van Roelf, die liefhebbende oom, swyg - swyg van algar se verdriet, wat elkeen op sy eie manier getoon het....’ (p. 136); ‘O, geen pen kan die aakligheid van die reis beskrywe nie!’ (p. 139); ‘Wie sal 'n vroumens se trane deurgrond?’ (p. 162.) So soek die skrywer altyd maar uitvlugte. Net waar hy 'n kans kry om die dieper menslikheid te teken, getuig hy sélf van sy onmag. Hy bly meestal die belangstellende toeskouer, wat nie die ellende self deurleef nie, maar op 'n goeie distansie aantekeninge maak: ‘Laat ons, Leser, hulle afkyk in hulle doen....’ (p. 65). Die kranksinnige Mieta is ‘die ware beeld van wanhoop’ (p. 51) en 'n paar reëls verder weer ‘die | |
[pagina 551]
| |
beeld van verregaande onverskilligheid’. Tog het hy daarin geslaag om 'n hele paar lewendige toneeltjies te teken, soos o.a. die dood van Joggie (p. 68 vlg.). Ook die vaste vertroue op die Voorsienigheid onder die bangste gevare, en die stille godsvrug van die trekkers is goed weergegee. Die gebeurtenisse deur Van der Walt beskryf was vanself al danig romanties. Maar hy is nog nie tevrede nie! Dit word so aangedik, dat mens jou naderhand verbeel dat jy onder die oud-testamentiese bedeling leef. Daarom verbaas dit ons nie dat die steenbokkie reguit in Tys se knipmes inloop nie! (p. 144.) Die meisie wat deur die kaffers ontvoer word, ontbreek ook nie, nog minder die paartjie wat mekaar ‘kry’. ‘Leser, ons paar het mekaar nou. Sal ons ook nou maar ophou?’ (p. 157.) Asseblief tog neef, want ons het dit al só baie gehoor! As jy van die verliefde paartjie nie twee lewendige mense kan maak nie, wat op hul eie manier liefhet en nie mekaar sommer ‘kry’ en ‘het’ nie - bly dan maar liewer stil! Die bruilof, ens. - ja kyk - soiets lees ons elke dag in Die Burger en De Volkstem. Ons weet presies hoe dit gebeur en daar in die wildernis is 'n mens ook maar 'n mens! Hou tog maar liewer op! In plaas van plastiese uitbeelding kry ons moralisasies en godsdienstige oorpeinsings, soos by die beskrywing van Sarie Swarts se lotgevalle. Hoe sterk die moraliserende tendens is, blyk duidelik uit | |
Vastrappers I (1920).In die voorwoord al staan 'n heftige tirade teen allerlei ‘onruswekkende verskynsels’. Daartoe behoort: ‘die prysgewing van ons jeug aan die Rugby-Moloch,.... die goddelose Rugby-gedoente’ (p. 7); ‘die gruwelike en gevaarlike sigarette-draak, gemengde baaiery, die Malthusiaanse euwel’, ens. Ook in die teks kom sulke uitvalle voor. Van der Walt het seker die volste reg om vir sy lewensbeskouing propaganda te maak, maar in 'n historiese werk kom sulke sedeprekery nie te pas nie. Die eerste afdeling van Vastrappers bestaan uit sitate van ‘wat ander mense so ongeveer van Boer geskryf het.’ Waarom ons dit eers moet lees, is nie duidelik nie. Dan volg: ‘Die Historie van seker vier Potgietergeslagtes’, 'n reeks ‘oorspronklike familieverhale’, wat ‘so origineel moontlik’ afgedruk word. Hy hoop dat ‘veral Jong S.A. se oë meer mag oopgaan om die egte goud van ons skone Verlede te onderskei van baie namaaksels en klatergoud van ons tye.’ (p. 37.) Die derde afdeling ‘Baanbrekers en Vastrappers’ is 'n soort sedekundige verhandeling om aan te toon, dat daar ‘'n goue streep van Kalvinisme deur heel ons Vaderlandse Geskiedenis (lê)’ (p. 200). Afdeling IV dra 'n uit taalkundige oogpunt onjuiste titel: ‘Uit vanmelewe ou Potchefstroom se dae’. Dit is 'n herdruk van 'n artikel uit Het Westen van 1908, met 'n naskrif van 1919 waarin gedeeltes uit ou Potchefstroomse koerante afgedruk word. III en IV is albei ‘onvoltooide sketse’. ‘Omstandighede het ons belet | |
[pagina 552]
| |
om al die informasie behoorlik te verwerk soos dit eintlik behoort. Dit het gekom deels omdat ons nog nie klaar het met ons histories ondersoek’ (p. 211). Met dié woorde veroordeel die skrywer sy eie werk. Die wanordelike allegaartjie wat hy ons aanbied, met sy doolhof van inleidings, aanhangsels, naskrifte, note en bymekaargeskraapte sitate is 'n duidelike bewys dat naas liefde vir die voorgeslag 'n deeglike, wetenskaplike voorbereiding onmisbaar is. As Vastrappers I enige waarde het, dan moet dit gesoek word in die Potgieterverhale, wat die grootste gedeelte van die boek beslaan. Die beoordeling daarvan kan egter aan die historici oorgelaat word. |
|