Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 548]
| |
sendeling, gearbei het. Sy gehele opvoeding het hy feitlik in Stellenbosch geniet, en daar is hy ook tot predikant opgelei. Sy teologiese studie het hy in 1922 voltooi aan die universiteit in Tübingen, waar hy die graad Dr. Phil. cum laude verwerf het en hom veral op die nuwere geskiedenis en die tydperk van die Hervorming toegelê het. As sekretaris van die Christelike Studente-Vereniging het hy in 1907 en 1910 groot buitelandse reise gemaak. Gedurende 1912-17 was hy onder die Mohammedane in Kaapstad werksaam, daarna as predikant op Stellenbosch en Wakkerstroom. In 1937 is hy benoem as professor aan die Teologiese Kweekskool. Van hom het verskyn 'n bundel gedigte: Uit Mijn Jonkheid en verskeie godsdienstige werke, alles in Hollands; Sarel Cilliers, Die Vader van Dingaansdag (1919) en Boustowwe in die Geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk in Transgariep (1934). | |
Sarel Cilliers (1919).Piet Retief word die martelaar van die Groot Trek genoem, Andries Pretorius, die krygsman en Sarel Cilliers die profeet (p. 3). ‘Beter tipe van die diepe godsvrug en die innige vroomheid, wat in dae van donkerheid en droefheid aan die hart van die Trekkers lig en troos verskaf het is daar nie as Sarel Cilliers nie.’ Sy kinderjare en uittog na die noorde word beskryf, terwyl ook in vlugtige trekke die verloop en betekenis van die beweging van 1836 geteken word. Episodes waarin Cilliers 'n groot aandeel gehad het, soos die slag by Vegkop en die aflegging van die gelofte word uitvoerig behandel en op helder wyse toegelig. Cilliers se ervarings in Natal en later in die Vrystaat, sy rol in die kerklike lewe is op aanskoulike wyse in die laaste hoofstukke geskets. Deur verskillende anekdotes kry ons 'n helder beeld van sy persoonlikheid. In die slothoofstuk word sy betekenis so saamgevat: ‘Hy was 'n onverskrokke baanbreker van die beskawing, 'n dapper stryder vir vryheid, 'n edel patriot en 'n vrome Godsman.’ Die geskiedenis van die Dingaansfees en die beste manier om dit te vier word bespreek. Dit was dan ook die aanleiding tot die ontstaan van die biografie. Die aanhangels bevat 'n joernaal en verskeie briewe van Cilliers. ‘Die meeste mense van die twintigste eeu sal (Cilliers) noem 'n onbuigsame, ouderwetse puritein’. Deur sy verwante lewensbeskouing kon Gerdener so 'n figuur met 'n begrypende liefde aanvoel en hy slaag dan ook daarin om veel wat vaag was te verduidelik. As hy ons egter vertel dat hy liewer ‘die sluier van vergetelheid’ oor die onaangenaamheid tussen Cilliers en Smit wil trek, dan twyfel ons aan sy objektiwiteit. Vir 'n geskiedkundige werk kan die omsluieringsmetode nóg noodlottiger wees as vir 'n roman! Deur so 'n sinnetjie bring die lewensbeskrywer homself onder die verdenking dat hy te werk gegaan het volgens die gesegde: De mortuis nil nisi bene. Onwillekeurig vraag ons: Wat het nog | |
[pagina 549]
| |
meer onder ‘die sluier van vergetelheid’ geraak? In die aangehaalde geval is dit alleen getuienis uit 'n ander bron wat Gerdener tot 'n bespreking dwing. Maar die feit dat hy dit met blykbare teësin doen, kan ons die indruk gee, dat hy alleen 'n lofrede op ‘die vader van Dingaansdag’ wou skryf. En selfs die vaagste sinspeling in dié rigting moet die biograaf vermy, as hy geen agterdog wil opwek teen sy onpartydigheid nie. Ook die volgende verklaring is 'n erkenning deur die skrywer self van wat daar nog ontbreek in sy werk: ‘Ons sluit hierdie Hoofstuk ‘Bloed en Trane’ met die gevoel dat daar taferele in die geskiedenis is, wat niemand kan beskrywe nie. Neem b.v. Piet Retief, bo-op die Drakensberg met sy aangesig in die rigting van die Indiese Oseaan.... Gebeurtenisse kan 'n mens nog beskrywe, maar sulke manne, so groot, so onsterflik: die Martelaar, die Profeet en die Staatsman van die Grote Trek. Hier moet die digter en die skilder ons te hulp kom!’ Die kunstenaar-biograaf mag egter sy taak nie so maklik op ander skuiwe nie! Dit spreek vanself dat iemand wat uit stowwige oorkondes en fragmentariese oorlewerings 'n beeld van 'n mens moet opbou daarin slegs gedeeltelik kan slaag; die tydgenoot, steunende op intieme kennis en persoonlike omgang is daartoe veel beter in staat. Maar waar die tydgenoot dit nagelaat het, is 'n biografie soos die van Sarel Cilliers vir ons van groot belang. Uit die beskikbare gegewens het Gerdener 'n duidelike beeld van die man en sy betekenis saamgestel. |
|