Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 543]
| |
§ 6. Ds. Willem Postma (1874-1920).(Dr. O'Kulis).Ds. Willem Postma was 'n seun van prof. Dirk Postma, die vader van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy is in 1874 op Burgersdorp gebore, waar hy hom vir die leraarsamp voorberei het onder prof. Jan Lion Cachet, (Ou Oom Jan). Op Bethulie, Bloemfontein en Reddersburg was hy predikant. In die oorlogsjare (1899-1902) moes hy uitwyk na Middelburg, K.P., omdat hy geen eed van trou wou aflê nie. Daar het hy die kos vir sy gesin in 'n winkel en deur privaatlesse verdien. Onder groot moeilikhede het hy die gemeente in Bloemfontein gestig. In Mei 1905 het hy onder die skuilnaam Jong Afrika in die Hollandse Friend begin te skryf oor die Afrikaanse taal, sonder dat hy iets van Preller se stukke afgeweet het. As gevolg van die groot byval het ds. Postma toe gereeld bydraes onder die titel Oogdruppels gelewer. Toe die setter verstaan, dat die ondertekening van die eerste stuk, nl. Okulis, oogdokter beteken, het hy daarvan Dr. O'Kulis gemaak en so het die naam gebly. ‘Deur dié stukke het hy hom as volksman geopenbaar, het hy hom 'n weg gebaan na die hart van die Vrystaatse volk.....’ verklaar Totius.Ga naar voetnoot1) In Bloemfontein was hy ook die stigter van wat tans bekend is as die Voorbereidende Tegniese Skool. In die aangehaalde artikel gee Totius 'n paar persoonlike herinneringe en sê o.a. dat hy ‘nie maar 'n merkwaardige figuur (was) nie, maar 'n heldeverskyning’. Van hom het verskyn: Die Eselskakebeen,Ga naar voetnoot2) Doppers (1918) en Die Boervrou (1919). In Die Brandwag (1912) het hy 'n teorie oor die ontstaan van Afrikaans uitgewerk.Ga naar voetnoot3) Sedert 1918 was hy lid van die Akademie. Van belang is nog dat sy vriende huiwerig was oor die uitgawe van die Eselskakebeen. In 1920 is hy oorlede. | |
Die Eselskakebeen.In Die BrandwagGa naar voetnoot4) het die skrywer verklaar, dat die boek 'n ‘suiwere outobiografie’ is met uitsondering van die laaste hoofstuk. Maar dit is veel meer; dit is ook die biografie van etlike Afrikaner geslagte, wat nog vir 'n tiental jare na die Anglo-Boere-oorlog gekreun het onder dieselfde treurige onderwysstelsel deur hom beskryf. Pas in die laaste jare het daar verbetering gekom en in sommige dele van ons land heers feitlik dieselfde misstande noù nog. Eers beskryf dr. O'Kulis sy geboorte, waarby tant Antjie met haar | |
[pagina 544]
| |
medisynetrommeltjie gehelp het. Spoedig begin die taalmoeilikhede en in 'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige stryd teen die step-by-step-denasionalisering, wat die doel was van 'n verpolitiekte stelsel, as so'n onpedagogiese gedoente ten minste die naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die skoolen huislike invloed beskryf. ‘Wel, die Boere het van al daardie Royal-Reader-gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al wat ek vir my moeite gekry het, was: ‘Jou Rooinek, glo jy al daardie leuens?’Ga naar voetnoot1) Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met Boerfamilies, wat vashou aan die ou Trap der Jeugd en die Bybel, versterk die Boergees in hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle selfkennis sy Engelse meester toevoeg: Ek is 'n Boer (p. 44). Hy wil nie langer ‘'n agterryer in sy eie land’, 'n jingo of weeluis wees nie (p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen vogtigGa naar voetnoot2) met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die mokerslae op ‘die Filistyn in die Afrikaner’. Dit word 'n geweldige wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n ‘duisend man’ verslaan het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die Royal Reader, oor British en Cape History, Geography, ens. word met satiriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. ‘Daar is van die geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel (Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak’! Op aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. ‘Jannie het op skool net 'n bietjie algemene kennis en die School-Higher-sertifikaat opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak.’ (p. 55.) Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n kultuurhistoriese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit iets is wat werklik ‘uit (die) hart opgeborrel het’Ga naar voetnoot3) sal dit altyd sy waarde behou. | |
[pagina 545]
| |
Doppers (1918).Dr. O'kulis verklaar in sy inleiding: ‘Ik het die egte ou Doppers nog goed geken en hulle opregte nasate leef ik nog mee saam, sodat ik meen in staat te wees om enigsins 'n suiwere portret te skilder van 'n eienaardige groep van ons volk....’ Hy het 'n ruim opvatting van die woord Dopper. ‘Al die Doppers (is) nie in die Dopperkerk nie, en.... nie alle lidmate van die Gereformeerde Kerk van S.A. (is) egte Doppers nie.’ (p. 8.) ‘Ons profeteer dan ook beslis.... dat ons volk altyd meer terug sal draai naar die Backveld, al meer Dopper sal worde, naarmate ons nasionale selfbewustheid ontwaak en ontwikkel’ (p. 15). Op kernagtige wyse word die hele lewensbeskouing van die Dopper uiteengesit en alles wat daarmee in stryd is afgekeur. Die oorsprong van die Doppers, hul isolement, godsdiens en beskawing word geskets en hul beginsels met warmte verdedig. Ten slotte word daar 'n staanplek gevra vir die Dopper in die Afrikaanse samelewing: ‘Ons vra geen guns, geen medelyde, geen beloning, geen verering nie. Ons vra net staanplek in die Boer-geledere om saam te werk en saam te stry vir die heilige pand ons saam toevertrou’ (p. 116). In die bylae volg die opinies van ander skrywers oor die Doppers. Die grootste gedeelte van die boek is van godsdienstige aard en kan buiten beskouing bly. Dat ons hier egter te doen het ‘met 'n faktor, wat geweldig invloed uitgeoefen het op die kultuurlewe van ons volk’ (p. 71) is ongetwyfeld waar, en dr. O'kulis se pleidooi vir die Doppers is 'n belangrike bydrae op kultuur-historiese gebied. Daaruit kan ons die Dopper se standpunt teenoor die wetenskap, die kuns, opvoeding, sport, ens. leer ken. Die skrywer het 'n persoonlike kyk op al die probleme van ons tyd, al is sy behandeling daarvan dan ook dikwels sketsagtig. Kapitalisme en sosialisme kan seker nie met so 'n paar sinnetjies soos die volgende afgemaak word nie: ‘Geen van bei ken soiets as 'n lewens- of nasionale ideaal nie - hulle klim nooit hoër op as hulleself nie. Daar is niks verhewens of opheffends in hierdie rigtings nie - dit is net: - ‘Laat ons eet en drink en vrolik wees, want more sterf ons.’ Ook die definisie van modernisme is vaag en misleidend. (p. 65.) | |
Die Boervrou (1919).Die Boervrou, ‘Moeder van haar Volk’ is saamgestel op versoek van die Nasionale Helpmekaar- en Kultuur-Vereniging, Reddersburg. Die skrywer verklaar: ‘Dis my doel om die lewe en dade van die Boervrou in die geskiedenis op te spoor en voor te stel op eenvoudige en heldere wyse.’ (Voorwoord.)Ga naar voetnoot1) Hy wil probeer om self ‘so min molik te sê en | |
[pagina 546]
| |
soveel molik getuienis van vreemdelinge (ook vyandige), wat die mense geken het invoer.’ (p. 20.) In hoofsaak is dit dan ook 'n kompilasiewerk, waarin veral die periode van die Groot Trek en daarna uitvoerig behandel word. Onder andere word die gedenkskrif van Anna Stenecamp afgedruk en 'n paar koerante-artikels oor Maria Koopmans - de Wet. Daar is nog naklanke van die Eselskakebeen: ‘Ongelukkig dat ons altyd op skool nog moet ly aan die verouderde Engels-Turkse stelsel van afgryslike geestesmoord.’ (p. 104.) ‘Dis nodig om die wissels van die spoor van ons Vaderlandse Geskiedenis eers reg te sit vir ons, wat op skool deur Cape History en Jingolaster so hopeloos verknoei is....’ (p. 44). ‘Die godsdienssin van die Boervrou is die sleutel van haar hele geskiedenis; die wat dit nie vooropstel, en gedurig voor oë hou nie, kan haar nie begryp, haar portret nie skilder nie’ (p. 66). Godsdienstige beskouings neem dan ook 'n groot plaas in, en telkens word 'n klein prekie ingelas (o.a. p. 160, 179). Die streng-Calvinistiese lewensbeskouing van die skrywer laat hom dikwels teen allerlei maatskaplike euwels te velde trek, teen ‘die sonde van kinderbeperking’ (p. 157), die vroue-stemreg en allerlei vreemde sedes. ‘Hoe geleerd en ontwikkel ons ook al word, laat ons Boer bly. Praat van beskaaf - wel ik het nergens hoër, fyner beskawing gesien as by ons egte kristen Boer voorouers nie.’ (p. 109.) Hy is nie teen vooruitgang nie: ‘Die Boervrou mag die kappie en die manteltjie vaarwel sê en tog haar grootmoeder in alles gelyk bly.’ (p. 177.) Maar ons moet voortbou op ‘die hegte breë Boerfondament’ en alle ‘vreemde modelle’ vermy. ‘Daar is geen hoër adel, geen fyner beskawing, geen edeler siel as die van die Boervolk self nie. Al wat ons daarvan afwyk, gaan ons verkeerd, breek ons onsself af, ondermyn ons ons indiwidualiteit. Ons mog dan wat vreemds byspyker, en daar uitlandse vernis oor smeer, maar dit sal nie hou teen die Afrikaanse son nie.... Wat ons het is egte goud, al mag dit nog nie gelouter en bewerk wees nie, wat ons in die vreemde naloop is klatergoud.’ (p. 206.) Hier ontaard die gevoel van nasionale eiewaarde in chauvinisme, en werk die ou isolasie-drang van die Boer, en sy afkeer van alle vreemde beskawing nog na. Op 'n ander plaas is sprake van ‘die gesonde lewenswyse en wêreldbeskouing van die Boervrou, so afkerig van die verfynde en demoraliserende uitlandse “beskawing”....’ So voer die groot nadruk wat op die Afrikaanse voortreflikheid gelê word en die waarskuwing vir alles wat vreemd is tot die stelling, dat alles in Afrika goed is en alles daarbuite sleg. Dit was seker nie die bedoeling van die skrywer nie, maar wanneer 'n goeie beginsel te veel op die spits gedryf word, lei dit tot bekrompenheid: Die neiging vir allerlei moeilik verdedigbare generalisasies, wat ook in Doppers aangetoon is, blyk uit so 'n bewering: ‘Is die teenwoordige oorlog nie vrug van die onvrouelikheid van die vrou van Berlyn, Parys, Brussels, Londen?’ (p. 180.) | |
[pagina 547]
| |
Die portret en karakter van die Boervrou het dr. O'kulis met liefde geteken. Veral in die sewende en agste hoofstuk, waar die skrywer self meer aan die woord is, kom juiste opmerkings en 'n persoonlike uitdrukkingswyse voor. Die nuwere geskiedenis wil hy verbygaan, maar oor die konsentrasiekampe kán hy nie swyg nie. (p. 141.) ‘Die geskiedenis swyg nie, al vergeet ons ook al graag.’ (p. 148.) ‘Dwars deur ons land loop die bloedspoor van die Boervrou’ (p. 114). Met eerbiedige hulde volg hy dié spoor deur ons geskiedenis. Van die politieke vroueverenigings verwag hy weinig heil. Ook die foute van die Boervrou word beskryf. In Marie Koopmans - de Wet ‘sien ons die Boervrou soos sy ontwikkel op die hoogste sport’ (p. 181). Die bylaes bevat hoofartikels van die Mediator oor die trekkers en oor vaderlandsliefde, asook 'n stuk uit Preller se Voortrekkermense. |
|