Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 4. Dr. S.P.E. Boshoff.Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is in 1891 gebore op Vaalbank, distrik Senekal. Eers het hy in die Boland skool gegaan en later na die Grey-Kollege gekom. Na sy M.A.-eksamen in 1912 het hy aan die Universiteit van Amsterdam in die Nederlandse Lettere gestudeer. Met die uitbreek van die oorlog het hy na Suid-Afrika teruggekeer en daar deelgeneem aan die rebellie. Sy ondervindinge op kommando en in die tronk het hy beskryf in Vaalrivier, die Broederstroom (1916)Ga naar voetnoot1) en Rebellie-Sketse (1918). Na die troebele is hy aangestel as professor aan die Potchefstroomse Universiteitskollege. In 1921 het hy sy studie in Amsterdam voltooi en cum laude gepromoveer tot doktor in die Nederlandse Taal en Lettere op 'n dissertasie: Volk en Taal van Suid-Afrika. In 1930 word hy professor aan die Universiteit van Kaapstad en in 1932 Direkteur van Onderwys in Transvaal. Nadat hy in 1934 bedank het, word hy hoof van die Universiteits-korrespondensiekollege, Pretoria (1936). In 1922 is hy tot lid van die Leidsche Maatschappij benoem. Hy sê self: ‘dat hy hom nog nie en miskien nooit sal reken tot die Afrikaanse skrywers nie. Wat hy doen is maar houthakkers- en waterputterswerk vir ons ontluikende letterkunde’ (Die Brandwag, Des. 1918). Hy is in die eerste plaas dan ook filoloog, en sy dissertasie is 'n monumentale werk, die vrug van jarelange arbeid. Ook uit bowegenoemde sketse blyk sy voorliefde vir taalkundige waarneming. In samewerking met L.J. du Plessis het hy ook uitgegee twee deeltjies Afrikaanse Volksliedjies, 'n versameling van piekniek- en minnerympies. Die inleiding getuig van onvermoeide nasporingsywer op die gebied van folklore. Meer as een fyn liedjie, wat in een of ander uithoek van ons land lê en roes, sal deur dié bundels algemeen bekend word. Van Boshoff het verder nog verskyn 'n toneelstuk Jannies, Johnnies en Jantjies, 'n gewysigde bewerking van ds. S.J. du Toit se Margrieta Prinsloo, Beskouinge en Feite (1936)Ga naar voetnoot2) en Etimologiese Woordeboek van Afrikaans (1936). | |
[pagina 539]
| |
Vaalrivier, die Broederstroom (1916). - Rebellie-Sketse (1918).Vaalrivier behandel veral die laaste dae van generaal C.F. Beyers, terwyl Rebellie-Sketse uit my Dagboek 1914-1915 verskillende gevegte en ook die tronklewe beskryf. Dit is feitlik alles persoonlike ervarings, wat die skrywer meedeel en hy doen dit op 'n aangename verteltoon, in 'n goed versorgde styl. Hy het daar mooi in geslaag om die taamlik eentonige militêre en topografiese meedelings af te wissel met lewendige dialoog, waardeur ons 'n goeie kyk kry op die stemming onder die burgers. Veral die beskrywing van die tronkewe munt uit deur aanskoulikheid en raak humor. Mooi staaltjies van boerekwinkslae word ook gegee en o.a. die knaende rooklus goed uitgebeeld. Daar is burgers wat selfs van die dominee tabak kry ‘want die predikante was prakties en hul roltwak was gewoonlik langer as hul predikasies’ (R.S. p. 132). ‘Na die preek kon 'n mens dan ook gewoonlik 'n gelukkige roker hier en daar onder die skare onderskei aan die blou rookwolkies om hom heen, en aan die streep minder gelukkige broeders, wat agter hom aanstryk om tog maar net die ruik van die rook te kry.’ (t.a.p., p. 133.) Daar is meer sulke voorbeelde van goeie waarneming, wat getuig van intieme kennis van die boere-mentaliteit. Die rake slag waarmee sommige persone uitgebeeld word is 'n aanduiding, dat die skrywer ook op die gebied van die roman sukses sou hê. Die styl word gekenmerk deur 'n besondere voorliefde vir alliterasie, waarvan reeds die eerste sin van Vaalrivier 'n voorbeeld is. In die beeldspraak verras meer as een oorspronklike wending, b.v. ‘'n eensame en blykbaar verlate woonhuis.... waarby 'n lang en nog eensamer ou bloekomboom half staan en slaap, nes 'n reier op sy een been langs die vlei’ (Vaalrivier, p. 92). |
|