Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. Dr. Gustav Schoeman Preller.Preller is 4 Okt. 1875 gebore op die plaas Klipdrif, distrik Pretoria. Sy oorgrootvader Preller was wat ons ou mense nou nog 'n ‘blommesoeker’ noem, d.i. natuurkundige. Hy het aan die Kaap gewoon, terwyl die grootvader veeboer geword het in Natal, waar sy Fries beeste die aandag getrek het. Komdt. Robert Preller († 1916), die vader van die skrywer, het na die Vrystaat verhuis en in die oorlog onder genl. de la Rey gedien. Hy was getroud met 'n dogter van H. Schoeman († 1890), wat met die Voortrek saamgekom het en in die tyd van president Pretorius generaal en waarnemende president geword het. Gustav Preller se eerste herinneringe gaan terug na 'n plaas in die nabyheid van Standerton, Paardekop, wat destyds aan sy vader behoort het. Op sy vyfde jaar is hy te perd met sy vader saam na die Swasielandse bosveld. In 1886 is hulle verhuis na Rietspruit, cok in die distrik Standerton. Toe kort daarop hy en sy suster egter moes skoolgaan, het sy vader die skaapboerdery opgegee en dorp-toe gegaan, omdat losies vir die kinders nie te kry was nie. In 1891 gaan die familie na Pretoria, waar Gustav eers 'n rukkie in 'n Boere-winkel gewerk het, toe op 'n prokureurskantoor, en later in die staatsdiens getree het. Voordat hy egter sover was, moes hy verskeie jare hard werk onder private onderwysers, en ook daarna het hy sy studie voortgesit. Hy was eerste-klerk op die hoofkantoor van mynwese toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek. Dié stryd het hy meegemaak met die derde battery van die staatsartillerie tot vier maande voor die vrede, toe die hele res van sy afdeling oorrompel | |
[pagina 517]
| |
en gevange geneem is. Na sy terugkoms uit Indië was al wat hy besit het skoon weg. Op versoek van Eugène Marais word hy toe redakteur van Land en Volk. Voor die oorlog al, het hy dikwels artikels geskryf vir die koerante en tydskrifte - dikwels in Engels! - o.a. in The Moon en De Pers. Vir De Volkstem het hy gedurende enige jare al die mynnuus gelewer, en Land en Volk voortgesit tot Maart 1903, toe hy sub-redakteur van De Volkstem geword het. Later was hy 'n tydlank hoofredakteur van dieselfde blad, totdat hy in 1924 as gevolg van 'n politieke bekering afgetree het. Vervolgens het hy hoofredakteur geword van Ons Vaderland (later genoem Die Vaderland), 'n betrekking wat hy in 1935 neergelê het om hom verder heeltemal aan sy geliefde vak te wy. Die meeste opstelle en stories wat tussen 1905-'10 in De Volkstem verskyn het as feuilletons is van sy hand, asook die bekende artikels getitel: Knop oor Landsake. Hy is lid van die S.A. Akademie, van die Historiese Genootschap in Utrecht en die Maatschappij van Nederlandsche Letterkunde. In 1930 het die Universiteit van Stellenbosch die waarde van sy geskiedkundige navorsings erken deur hom 'n doktorsgraad honoris causa toe te ken. Van hom het verskyn Laat 't ons toch Ernst Wezen (1905); Piet Retief (1906); Baanbrekers (1915)Ga naar voetnoot1); Kaptein Hindon (1916); Dagboek van Louis Trigardt (1917); Voortrekkermense I-IV (1918-1925); V-VI (1938); Generaal Botha (1920)Ga naar voetnoot2); Oorlogsoormag en ander sketse en verhale (1923); Voortrekker-wetgewing, Notule van die Natalse Volksraad, 1839-1845 (1924); Historiese Opstelle (1925); Sketse en Opstelle (1928); Die GroblerMoord (1930); Ons Goud-Roman (1935); Daglemier in Suid-Afrika (1937); Andries Pretorius (1938); Scheepers se Dagboek (1938); Ons Parool (1938). Saam met dr. Engelenburg het hy ook geskryf: Onze Krijgsofficieren (1903) en De Familie Kruger (1904). Die volgende het hy vertaal: Charley's Aunt (Piet s'n Tante), Les Héritiers Rabourdin (Erfgename van Erasmus), Jock of the Bushveld van Sir Percy Fitzpatrick, Baas en Kneg van Tolstoi (saam met 'n paar ander skrywers) (1925). Die Voortrekkersrolprent is onder sy leiding opgestel. In 1919 het hy met C.J. Langenhoven geskryf: Twee Geskiedkundige Opstelle. Op sy aandeel in die taalstryd en sy werk as redakteur van Die Brandwag is alreeds gewys.Ga naar voetnoot3) Sy vernaamste werksaamheid is op geskiedkundige terrein, en sy navorsings oor die Voortrekkersperiode veral, verseker hom 'n plaas as baanbreker onder die Afrikaanse historici. ‘Uit 'n aantal oorspronklike historiese dokumente in die koerant (De Volkstem, 13 Des. 1905) openbaar gemaak.... is langsaam gegroei’ die kloeke boekdeel Piet Retief, waarvan die oplaag in 1920 al veertienduisend eksemplare bereik het.Ga naar voetnoot4) ‘Sedert | |
[pagina 518]
| |
dié tyd (1905) het daar ander werke van Preller oor die Voortrek gevolg. Want hy set sy arbeid onvermoeid voort.... Wie op sy studeerkamer kom, sal kan sien die reeks gekatalogiseerde lewens van Voortrekkers, soveel moontlik met die portret of portrette van die betreffende man of vrou daarby.... Preller leef in, leef vir daardie tyd. Die naspeur en die bekendstel daarvan het langsamerhand sy eintlike lewenstaak geword, sodat ons vandag oor die lengte en breedte van ons land tevergeefs sal soek na die eweknie van Preller as kenner van die Voortrek en sy mense, tot selfs van die kleredrag wat in dié tyd gedra is.’Ga naar voetnoot1) 'n Hele reeks belangrike dokumente oor die Voortrek het Preller bymekaar gemaak in | |
Voortrekkermense, I, II, III en IV (1918-1925); V en VI (1938).Hierdie belangrike bronnepublikasie bevat persoonlike herinneringe van Voortrekkers en hul afstammelinge, dokumente uit die Odé-versameling in die staatsargief en verder historiese boustowwe wat Preller gedurende 'n tydperk van twintig jaar met die noukeurigste sorg versamel en vergelyk het. In die tweede bundel kom voor die herinneringe van Karl Trichardt, die gedenkskrif van Anna Steenkamp-Retief en die dagboek van Erasmus Smit. In al die bundels vind ons waardevolle aanvullings, wat die heldetydperk van ons geskiedenis op interessante wyse belig. Preller verdien die hulde van die nageslag vir die liefdevolle ywer waarmee hy hierdie persoonlike kronieke - baie net betyds nog - vir die nasie bewaar het. Hoeveel armer sou ons kultuurgeskiedenis nie gewees het nie sonder hierdie kleurige skildering van outydse gewoontes en sedes, hierdie boeiende verhale van ooggetuies van ons volk se worsteling met die natuur en die wilde Kafferstamme, wat so volgepak is met spannende situasies. Hier is inderdaad 'n weelderige weiveld vir die toekomstige historiese romanskrywers van Suid-Afrika. Preller se voorbeeld het ook ander aan die werk gesit en so is tallose historiese besonderhede in die laaste tyd opgeteken en die belangstelling in ons volksverlede orals aangewakker. Met stille eerbied luister ons na die herinneringe van hierdie gryse Voortrekkermense. Hulle voer ons terug na die galg op Slagtersnek, skets die moeilikhede langs die trekpad en die marteldood van baie dierbares; hulle vertel met roerende eenvoud van dapper dade, en skyn deurgaans onbewus van die grootse tragiek wat daar in die naakte feite skuil. Met 'n paar woordjies glip hul soms oor die bittere lyding van lange jare, om dan weer uit te wei oor 'n onskuldige jeuggrappie wat met kleure en geure vertel word. Ons volg die grillige kronkelinge van die oumensgedagte met liefdevolle aandag en uit tallose tekenende besonderhede begin die historiese tydperk weer vir ons te lewe met die volle rykdom van al sy | |
[pagina 519]
| |
verrassende avonture, maar ook met die bittere weedom van al sy eindeloos herhaalde moorde. Hier kom ons inderdaad in intieme aanraking met die mense van die Voortrek, en uit die persoonlike kronieke begryp ons beter die gees van die tydperk, dan uit die logies aaneengeskakelde betoog van die historicus, wat nie solank kan verwyl by die betreklik klein-alledaagse ervarings van die enkeling nie. 'n Kostelike skat het Preller vir ons en die nageslag versamel in die ses bundels. 'n Groot gedeelte van die gegewens het hy in sy Piet Retief verwerk. L.C. de Klerk het hy in 1908 ‘teruggeneem naar die Natalse slagvelde van die Voortrek, en dáar ter plase opgeskryf wat hy daarvan te vertelle had’ (I, p. 211). ‘Hier had ik een van die Voortrekkers op die eienste grond van die Voortrek; my doel was om, as 't kon, die ander Voortrekkers as mense daar te sien herleef, inplaas van die stereotiepe “itinerant prayer-meeting”, waar ander van vertel.’ (id., p. 212.) Die dokumente stel ons in staat ‘om die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulself gesien het, op die trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd. Buitendien verskaf 't uitsluitsel oor tal van belangwekkende historiese gebeurtenisse’ (id., p. 1). Die kritiese opmerkings van Preller getuig van groot skerpsinnigheid en 'n intieme kennis van die voortrekkersperiode. In die ses dele het hy dokumente van die grootste belang op wetenskaplike wyse uitgegee. Op dieselfde manier het hy ook (1917) in opdrag van die Akademie uitgegee die | |
Dagboek van Louis Trigardt (1836-8) (1917).‘Vir die kennis van ons volk besit ons uit die tyd van die Voortrek geen ander dokument wat hiermee te vergelyke is (nie) - die daaglikse aantekeninge van 'n Afrikaner wat die grote, ja grootse in die historie volbring sonder dit nogtans as bewuste doel voorop te stel, maar tevrede is om 't vanself, as dominante gevolg van sy handeling voor 'n dag te laat tree uit 'n kroniek van die kleine’ (p. XI). Preller toon verder aan hoe belangrik die Dagboek is ‘vir ons kennis van die inboorling-bevolking van Transvaal, vir verskeie seer merkwaardige historiese uitkomste, vir (ons) aankomende nasionale letterkunde, vir die volkekundige en ons kennis van Suid-Afrikaanse meteorologiese toestande.’ (p. XII vlg.) Die belangrikheid van die Dagboek word seker aanmerklik verhoog deur die voortreflike inleiding en note, asook deur die feit dat die teks op 'n wetenskaplike wyse behandel is. Ontroering tril daar in die woorde waarmee die resultate van Trigardt se trek beskryf word: ‘Die voorste Voortrek is volbring! Dis slegs 'n Verkenning gewees vir die Afrikaner, - van die Vryheid en die See. 'n Verkenning egter, net soos dié van Piet Retief, wat nie vrugteloos is nie.... Hans van Rensburg se ongelukkige | |
[pagina 520]
| |
trek had tot eindbestemming die oseaan; en die 49 manne, vroue en kinders wat daar aan die Limpopo-boorde geval het onder die Zoeloeasgaai, was die eerste dúre offer wat die Boere-Nasie gebring het aan 'n ingeskape vryheidsdrang. Trigardt se trek en ál die mensewee, wat uit hierdie Dagboek soos 'n seëning oor die nageslag saggies snik, was aangeleg op éenselfde hoë nasionale Bestemming....’ (p. CXXVI vgl.). | |
Piet Retief (1906).Dit is Preller se hoofwerk, wat hy met jarelange ywer en groot liefde tot stand gebring het. Alles wat van die groot Voortrekker bekend is word meegedeel. Maar uitsluitend biografie is dit allermins. Ons kry 'n volledige beeld van die moeilikhede op die Kaapse grens, die oorsake van die Trek, die onderlinge verhoudings en geskille tussen die aanvoerders, die internasionale status en grondwettelike instellings van die Trekkers, die moeilikhede van hul togte en hul betrekkinge met die naturelle. Die gebeurtenisse wat aanleiding gee tot Dingaan se groot verraad word haarfyn uitgepluis, en die konklusies van die skrywer se ondersoek op helder wyse uiteengesit en gestaaf. Ook die gebeurtenisse na Retief se moord tot aan die Bloedrivierslag word beskryf en die betekenis van Retief se optrede bepaal. Dit gaan uiters moeilik om objektief te staan teenoor 'n boek soos Piet Retief, want die tragedie daarin uitgebeeld is op sigself al só roerend in sy dramatiese afwikkeling en só betekenisvol vir die lot van ons nasie, dat selfs 'n uitgedroogde kroniekskrywer sonder 'n vleugie verbeelding nog daarin sou slaag om ons die grootsheid van die worsteling te laat gevoel. Dit het Preller blykbaar ook besef, want hy gee 'n onopgesmukte verhaal, in sober gehoue styl, waarin die tragiese gebeurtenisse self tot hul reg kom, sonder dat die aandag afgelei word deur bykomstige woordfraaiigheid. Treffend is dit veral by die hoogtepunt van die verhaal, waar in die beskrywing van die oorrompeling deur die dansende kaffers alleen 'n joernalistieke draaitjie in die styl hinderlik is. Nadat die posisie van die dramatis personae aangegee is, word die dansbeweging mooi beskryf: ‘Drieduisend pare voete kom in forse beweging om tyd te hou na 'n wild-eentonige maatsang, wat al naarder en wilder word na gelang Dingaan se improwisasie hul opwinding aanspoor, sodat naderhand die nugtere aarde dril en dreun onder die neergehurkte Boere....’ (p. 273). Wanneer Retief protesteer as ‘die bokspringende rye’ teen sy vrinde aanstort in hul lawaaierige dans, vervolg Dingaan sy onheilspellende deuntjie: ‘Drink, o drink van die bier! Jul brandende kele roep daarom! Drink soveel jul kan; want môre sal jul nie meer drink nie.’ (p. 274.) Dan klink meteens temidde van die ‘barbaarse orgie’ die fatale sein: ‘Boelàlánie abatágatie!’ Juis deur die sobere eenvoud in die styl, die kalme weergawe van die historiese besonderhede, raak die toneel ons tot in die hart, | |
[pagina 521]
| |
móet dit ook iemand van 'n ander nasie raak. Saggies huiwer die ontroering in die woorde: ‘Retief.... troue, moedige Retief, regskape, opregte Afrikaner, siel van die aankomende Afrikanernasie! - sy marteling moes die onmenslikste gewees het van almal!.... Met knopkieries werd hy afgemaak - laat ons hoop vóórdat Dingaan se laaste bevel aan sy afgebeulde liggaam voltrek was!’ (p. 277.) Hoofstuk XXIX is 'n meesterlike samevatting van Retief se optrede en die betekenis daarvan. Hier kom Preller se forse styl meer tot sy reg, omdat hy geen historiese dokumente hoef aan te voer nie. Met breë blik oorsien hy die hele Trek, en met simpatieke aanvoeling van die Boerestandpunt en lewensbeskouing deel hy in helder, logiese redenering sy gevolgtrekkinge mee. ‘Piet Retief het 'n nasie gestig; of, as dit histories te veel gesê is, het hy ten minste met volkome bewustheid die grondslag gelê waarop 'n nasie ontstaan is. Hy was idealis in nasionale sin - dit is te sê, hy het hom met die Voortrekkers, met sy volk, duidelik voor oë gestel die nastrewing van 'n ideaal, wat insluit 'n onafhanklike ontwikkeling en voortbestaan van dié volk as nasionale eenheid op die wêreld.’ (p. 345.) Retief het ‘die Afrikaanse Bestemming in woorde ontwerp - wyd en breed soos die Afrikaanse veld....’ (p. 351). ‘Hy is die eerste gewees wat die gebore Afrikaner se nasionaliteit in woorde gebring het, toe hy van Suid-Afrika as sy “vaderland” gewaag het; terwyl die meeste ander die land sowel as hulself nog maar beskou het as 'n volslae willose aanhangsel van een of ander Europese ryk.’ (p. 350.) Hy het ‘deur sy werk, sowel as deur sy dood, die Hollands-Afrikaanse Emigrant laat begryp.... dat hy nie somar 'n op sigself rondswerwende eenling is nie, maar deel uitmaak van 'n groot volksverband, met een belang en een bestemming.’ (p. 355.) Solank daar 'n Afrikaner is ‘jaloers op sy geskiedenis, jaloers op die waaragtige waarheid daarvan’ sal Piet Retief gelees word, want Preller het daarmee 'n duursame monument opgerig van die wordingstydperk van ons nasie. Buitendien het Piet Retief deur sy verskyning in 1906 'n besondere plaas in ons letterkundige geskiedenis. Saam met Johannes van Wyk, wat in dieselfde jaar in boekvorm verskyn het, is dit die eerste prosawerk van betekenis onder die Tweede Beweging. | |
Kaptein Hindon (1916).Dit is die Oorlogsaventure van 'n Baas-Verkenner, ‘'n getroue weergawe van die middellike dagboek-aantekeninge van die krygsman self.’ (Voorwoord). Maar groter waarde het Preller se bewerking: ‘Die toevallige omstandigheid, dat die outeur die grootste gedeelte van dieselfde gebeurtenisse as Hindon - al was 't ook soms op 'n afstand - meegemaak 't, (is) vanself bevorderlik gewees aan 'n lewendiger opvatting by die beskrywing dan anders die geval kon gewees 't; en.... 'n gevolgelik dieper | |
[pagina 522]
| |
ingeleefde voorstelling.’ Hieraan is dit te danke dat Preller se bewerking van die dagboek nie geword het 'n eentonige relaas van avonture nie, maar 'n lewendige voorstelling van belangrike episodes uit die Tweede Vryheidsoorlog. Daarby verloor hy nooit die historiese verband uit die oog nie, en word al die alleenstaande oorlogsfeite ingeskakel in die groot geheel. So word dit 'n saamhangende verhaal van die gebeurtenisse tussen 1895 en die vrede van Vereniging. Deur 'n handige gebruik van Engelse bronne, soos die outobiografie van sir William Butler, geluk dit Preller om tallose belangrike historiese feite te staaf en onverdiende laster aan die kaak te stel. Onder andere word die opstokery van die Kaffers op oortuigende manier bewys. Die tallose heldefeite van Hindon en sy maats word op aanskoulike wyse beskryf. Dit geld ook veral van die veldtog in Natal, wat met groot uitvoerigheid geteken word. Vermaaklik is Hindon se avontuur by die huis van die Middelburgse volksraadslid (p. 291 vlg., 2de druk). Deur talryke anekdotes, wat 'n helder lig werp op die toestande tydens die stryd en die mentaliteit van albei vegtende partye word die beskrywing van die militêre gebeurtenisse op aangename wyse afgewissel. Hoe mooi Preller daarin slaag om sy veldslag-indrukke te verklank, blyk o.a. uit die volgende: ‘Die eienaardige dubbele koe-ka knal van die Engelse lee-metfordgewere, wat mens in die begin duidelik kon onderskei van die dowwe mouser s'n énkele dodelike doef-slaggie, smelt nou saam in éen gelykmatige kraakgeluid, wat soos springmielies in 'n vetpot sing deur die laagte en teruggewerp word van die bergkante af, deurmekaar in 'n sware dreuning, waarin net die kanonne-bas naderhand oorheers. By die skansmuurtjies zip-zip die klein koëltjies teen die klippe, en stukkies fluit vrolik eenkanttoe, of 't skuur met so 'n snaakse singsangetje skielik deur die lug oorheen, waarvan mens die dodelike vyandskap eers merk as 't raak is, en 'n man inmekaar sak op die grond, of die fyn blaartjes van die mimosaboompies hier bokant afspat, op die vilthoede’ (p. 58). ‘Bom na bom breek briesend op hul klipskanse uitmekaar, en bars met brullende giering bôkant hul toegewyde hoofde in nydige moment-blitse oop, om hul inhoud oor die Boere uit te braak, soms vyf, ses tegelyk, wat die kante van die kop omkarn in kokende kraters en 'n onweer van skerwe en rotse opjae.’ (p. 125.) | |
Baanbrekers (1915)Ga naar voetnoot1).Hierdie brosjure, 'n herdruk van Brandwag-artikels bevat ‘'n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal’, waarin die moord van ag-entwintig persone by Moorddrif in 1854 en die belegering van Makapaansgat deur 'n strafkommando beskryf word. By dié ekspedisie was ook Paul Kruger, en besonder interessant is die waagstukke wat van hom | |
[pagina 523]
| |
meegedeel word. Preller moet weer verskillende verdraaide voorstellings weerlê. ‘Die dinge is verby, en die laster-kampanje het sy uitwerking gehad. Praktiese, materiële voordeel kan 't nie meer aanbring om 't te weerleg nie. Tog is 't tyd om, terwille van die waarheid alleen, 'n oordeel wat op dié manier gevorm werd teen die Boere-volk, in hersiening te neem, en inplaas van die fantasiebeelde van politieke feuilletoniste, of die sentiments-oorweginge van 'n wekelike altruïsme, die onweerlegbare feite alleen te laat spreek’ (p. 33). Met die optekening van so 'n ‘heroiese insident’ het Preller ongetwyfeld nuttige werk gedoen.
Preller en C.J. Langenhoven het saam uitgegee: | |
Twee Geskiedkundige Opstelle (1919).Eersgenoemde se opstel oor Suid-Afrika s'n Boere-RepubliekeGa naar voetnoot1) is 'n bondige opsomming van die vernaamste feite uit ons geskiedenis in die tydperk 1486-1910. In enkele paginas word daarvan 'n handige oorsig gegee, en juis die snelle opeenvolging van die gebeurtenisse laat 'n sterk indruk van ons ‘eeu van onreg’ na. Langenhoven gee 'n Paar Algemene Oorweginge omtrent Geskiedenisstudie. Met aanskoulike beelde toon hy aan ‘dat die hele wilde natuurlewe 'n onafgebroke stryd is’ (p. 114). Een van die vernaamste stellings in die betoog is ‘dat die geskiedenis 'n eindelose ketting is van oorsake en gevolge wat nie plotseling begin en nie plotseling afbreek nie.’ (p. 130.) Na 'n paar opmerkings oor die kudde-instink word die ontwikkeling van ons volksbewussyn geskets en daarop aangedring, dat geskiedenisstudie meer behoort te wees as 'n ondersoek van ‘die blote geraamte van uitwendige datums en gebeurtenisse’ (p. 143). ‘In ons vurige idealistiese vaart word ons skielik nugter geskok teen 'n feit van die guurste en nakendste realisme’ (p. 147). - ons honderdduisend armblankes naamlik. ‘Dit is 'n baie ernstige siekte-verskynsel. Die geskiedkundige moet die diagnose van die kwaal vind en daaruit moet ons die remedie soek’ (p. 154). Preller beweer daarenteen in sy Eksplanasie: ‘Die diagnose is egter die werk, nie van die Geskiedenis nie, maar van die Staat. Die geskiedenis word eers daaruit opgebou’ (p. XII). Preller wil die statistiese metode van ondersoek op die armblankevraagstuk toepas. | |
Generaal Botha (1920).In hierdie brosjure het Preller 'n paar artikels oor genl. Botha verenig. Dit is ‘meer brokstukke van die boustof (vir 'n lewensbeskrywing) as dat 't aanspraak wil maak op 'n afgeronde behandeling.’ (Voorwoord.) Hy deel dan verder mee dat hy op hom geneem het ‘die byeenbrenge van die materiaal vir 'n uitvoeriger “lewe” van Suidafrika s'n grootste | |
[pagina 524]
| |
staatsman’. Die brosjure bevat enkele herinneringe van persone wat genl. Botha intiem geken het en 'n herdruk van 'n artikel uit Neerlandia deur dr. J.H. Kiewiet de Jonge. Daar is meedelings oor die generaal se familie en kindsdae, oorlogservarings, sy politiek en huislike lewe. In kleine omvang is heelwat interessants bymekaar gebring. | |
Historiese Opstelle (1925).Hierdie bundel bevat 'n bloemlesing van Preller se verspreide historiese opstelle. Party kan beskou word as knap joernalistieke proewes, wat by hul eerste verskyning 'n aktuele waarde gehad het, Frederik die Grote, b.v.; ander egter, berus op persoonlike herinneringe of bronne-studie, soos Ons Militêre Tradisie, waarin interessante gegewens oor die ontwikkeling van die Vrystaatse en Transvaalse artilleriekorpse verwerk is. Uit 'n letterkundige oogpunt is die skets oor adv. Eugène Marais se joernalistieke bedrywigheid van die meeste belang. Preller het in die woelige jare voor en na die Tweede Vryheidsoorlog met Marais saamgewerk, en hy gee ons 'n interessante kyk op die joernalistieke toestande van hierdie periode. Hy het ook 'n voorwoord vir Marais se gedigte geskrywe, waarin hy op simpatieke en fyngevoelige wyse die persoonlikheid van sy vriend uitbeeld, wat hy in moeilike jare intiem leer ken het. | |
Oorlogsoormag en ander Sketse en Verhale (1923).In hierdie bundel het Preller 'n aantal Brandwag-verhale, Baanbrekers en die welbekende Moedersmart verenig. Die gelukkige verbinding en saamsmelting van historiese feite met persoonlike fantasie, gebou op eie ervaring - dit gee aan hierdie versameling sy bekoring. Preller is liefdevol versonke in sy herinneringe van die Engelse oorlog; sy verhale is vol van ‘old forgotten far-off things, and battles long ago’. Juis die liefde waarmee hy die verlede beskou, het hom bewaar vir 'n dof-vale feitefotografie, vir 'n kroniekagtige opsomming. ‘Die hele oorlog,’ sê hy, ‘dof al so langsamerhand weg uit ons herinnering, soos 'n ongefikseerde portret in die sonlig; die áltyd-grote daaruit, wat álmal moet onthou, vergeet ons terwille van die geskiedvorser; die kleine, wat in kleine kring eina-seer gemaak 't, vryf ons uit om 'n kleurlose politiek te behaag....’ (p. 3). Preller hang vir ons 'n kleurige skildery op van die oorlogstyd. Daar is die wakker Boerenooientjie, Lettie, wat 'n indringerige kakieoffisier so goed op sy plek sit, hom skoon oorbluf deur haar ratsheid met 'n mousergeweertjie, en hom eindelik ontwapend en kaalkop kamp-toe laat draf! En Johanna wat 'n hele paar offisiere koudlei deur haar interessante stories van Jaap van Deventer, die berugte perdedief; deur haar lekker tee en ooggeflits hulle skoon die tyd laat vergeet, sodat Danie Theron nog net mooi kans kry om 'n trein in die lug te laat vlieg. Naas die vrouefigure, die dapper oom Hans wat, met of sonder ‘slagorde’, | |
[pagina 525]
| |
sy vaderland so trou verdedig het en oplaas nog so'n bitter stryd teen die kanker moes stry. Dan die twee burgers, wat met egte Boerevernuf 'n primitiewe gepantserde wa inmekaar sukkel en onder bedekking daarvan die Engelse blokhuislinie so parmantig bestook. Daar is nog 'n opgewekte beskrywing van insidente uit die geveg by Dalmanutha, van die wegvoer van die ‘Krugermiljoene’ uit die Pretoriaanse munt, en die verhaal van Oembaswane, 'n Zoeloekaptein, wat in die Voortrekkertyd 'n verlore Boereseun teruggestuur het na die laers. Verder nog die geskiedenis van die verlate Voortrekkerdorp, Schoemansdal, en 'n mooi stemmingstukkie Boere op See, wat onder die korter sketse miskien die beste is. Met fors trekke word die uitvaring van 'n skip, volgepak met krygsgevangenes, beskrywe: ‘Diékant-toe is net lug en water, en die onbekende bestemming. Agter kleursketter kus en stad en skepery, in transparantwarme voorsomerlug. Bokant die reëlmatige pulsasie van die skeepsmasjienerie hees 'n vreemde getoeter van stoombootfluitjies oor die seewater, snaaks en onbekend soos die stemme van voorwêreldse reusereptiele op 'n oersee....’ (p. 127). Hier is Preller se kragtig-skilderende styl op sy beste. Al die oorlogstonele word beskrywe met die warme intimiteit van iemand wat dit self meegemaak het. Dit is historiese gebeurtenisse beglans met die lig van 'n skeppende verbeelding, wat ons veral die menslike kant van die oorlog beter laat deurvoel. Hoe mooi het Preller die bedrukte stemming van die Boere op see weergegee! ‘Die pynlikste gedagtes deursomber dié afgeleefde ou siele, en diep in die meeste van hulle sink daar 'n galbitterheid af, die droesem van 'n onverdiende smaad....’ En dan vlak daarnaas die jolige uitgelatenheid van die jongspan wat nog moed het vir die lewe, en pret maak oor die jong-os-inspannery! Alleen die laaste verhaal in die bundel wat herinneringe oor Frank Fillis, die sirkusbaas, bevat, detoneer 'n bietjie in hierdie atmosfeer, ofskoon dit, op sigself beskou, geslaag kan heet. Dit is goed dat hierdie verhale van óns worstelstryd teen oorlogsoormag vir die opgroeiende geslag opgeteken is, want na die groot Europese stryd bestaan daar gevaar dat die jeug van ons volk dit ook as ‘onbeduidende insidentjies’ sal beskou. Preller het hom nou feitlik versoen met die ‘bolsjewistiese’ spellingswysigingGa naar voetnoot1) en dit maak sy bundel vir die skoolwêreld ook bruikbaar. Daar is nog baie onafrikaanse draaitjies in sy styl, soos die gebruik van bereids en werd; maar laasgenoemde is in elk geval beter as die anglisistiese was, wat nou orals veldwin. Preller se bekende voorliefde vir vreemdgetinte woorde word in hierdie bundel verteenwoordig o.a. deur saljante, marsiale, amikale, ostentasieus, ens., en daar is seker mense wat hul | |
[pagina 526]
| |
sal vererg oor 'n sin soos die volgende: ‘Sy oë olik flou....; 'n vreeslike naarheid begint op sy gelaat te mislik’ (p. 132). Maar dit is nietigheidjies, want een ding staan vas: Preller het 'n individuele siening en 'n styl met 'n eie geluid, wat ten spyte van sy joernalistieke sleurwerk, nie verdof het tot 'n eentonige straatdeuntjie nie. Hy besit die gawe om historiese gegewens om te werk tot 'n aangrypende verhaal, soos in Moedersmart. Op treffend-realistiese wyse word daarin uitgebeeld die foltering van 'n moeder, wat die sterwensgeroep van een kind moet veronagsaam om 'n ander gesonde uit die hande van die Kaffers te red. In sy historiese werk word die moordlustige bedrywe van die Kaffers op saaklike wyse meegedeel, maar hier is dit deur plastiese tekening tot 'n roerende tragedie gegroei. Solank as daar Afrikaanse moeders en vaders is, sal Hennie van Aswege se verwytende doodskreet die innerlikste roersels van 'n ouerhart raak. ‘Mammie! - ag my mammie, moet ek allénig bly!’ En in die smart van dié Moeder wat dit gehoor het en tog nie kón bly nie, het Preller op dramatiese wyse die lyding van die Voortrekkervrou gesimboliseer. | |
Sketse en Opstelle (1928).Die grootste gedeelte van hierdie bundel is 'n herdruk van die inleiding by die Dagboek van Louis Trigardt en die oortuigende bewys van die egtheid van die Retief-Dingaan-traktaat wat reeds verskyn het in die Annale van die Stellenbosse Universiteit. Veldkornet van As is 'n treffende vertelling van 'n tragiese episode uit die laaste dae van die Tweede Vryheidsoorlog. | |
Die Grobler-Moord (1930).Die omvang van hierdie werk, wat uit twee dele bestaan, word beter aangedui deur die ondertitel: ‘Historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, Boere-Engelse kontak met die Matabele en die verowering van Matabeleland met sy gevolge.’ Preller beskou egter die moord op Grobler ‘nie slegs 'n insident in die geskiedenis nie, maar 'n keerpunt, en 'n knooppunt van menigvuldige drade.’ Hy beskryf die botsing tussen Afrikaanse nasionalisme en Britse imperialisme gedurende die laaste kwart van die negentiende eeu. Die vernaamste figure in hierdie stryd was Kruger en Rhodes. Toe Matabeleland oorstroom is met konsessiejagters het Piet Grobler die Transvaalse regering gewys op die moontlikhede in die noorde, en 'n verdrag gesluit met Lobengoela in 1887. Konsul Grobler word op verraderlike wyse vermoor deur kaffers van Khama wat onder Britse beskerming gestaan het. Preller se uiteensetting van die ingewikkelde sameswering, wat tot Lobengoela se ondergang gelei het, werp 'n interes- | |
[pagina 527]
| |
sante lig op die ideale van Kruger en Rhodes. Laasgenoemde se beginselloosheid en geslepe taktiek word aan die kaak gestel deur 'n skerpsinnige ontleding van baie nuwe gegewens, wat vir die gewone leser 'n heeltemal nuwe kyk op die worsteling tussen Boer en Brit sal gee. Dit is 'n verhaal volgepak met dramatiese gebeurtenisse wat tot dusver betreklik onbekend gebly het vir die Afrikaanse leser. Ek doen 'n paar grepe uit die ryk inhoud. Piet Grobler weier 'n omkoop-aanbod van £10,000, wat deur Johannesburgse kapitaliste gemaak word, met die fiere woorde: ‘Ek is Afrikaner en dien die belange van my eie mense en Regering.’ Helena Lottering snel die gewonde Grobler te hulp en trotseer die kaffers se koeëls om hom met haar uitgespreide rok aan hul blik te onttrek. Een van Lobengoela se raadgewers, Lotsjie, gaan sy dood met ongeëwenaarde dapperheid tegemoet. Aangrypend is die skildering van die bedroë Matabele-koning: ‘Arme Lobengoela! Toe hy in sy onwetenheid goud- en landkonsessies kon weggee, was hy omring deur 'n skaar van bewonderende witmense; in die noodlotsuur van sy lewe moes 'n rasgenoot sy stamelende ou briefie opstel om sy nood te klae by die “grote Witte Koningin”, aan wie hy in weerwil van alles, in sy eenvoud nog alle geloof geheg het, soos die een potentaat in die ander....’ Die dramatiese onderhoud van Rhodes met Somaboelane is 'n bittere aanklag teen die gewetenlose oorwinnaar wat met sy uitpuilende geldsak alle onreg wil vergoed. Van hoeveel bitterheid getuig die antwoord van die parmantige Koemalo wat by 'n onderhoud sy geweer nie wil neersit nie: ‘My ondervinding is, as ek met my geweer in my hande praat, dan luister die witman beter. As ek dit neerset, is ek niks nie, as ek dit neerset is ek somaar 'n hond.’ Dit is maar 'n paar van die merkwaardige feite wat Preller in hierdie twee dele byeengebring het. As 'n mens hom nie ken as wetenskaplike vakman nie, dan sou jy soms jou oë in ongeloof uitvrywe, so onmoontlik lyk sommige bewerings. Onderwyl sir Henry Broughan Loch, Hoëkommissaris, ‘in Pretoria die gasvryheid geniet van die Regering en volk van Transvaal, stook hy 'n rebellie teen hulle aan. Perfiditeit het vér gegaan in die geskiedenis, maar grower moderne voorbeeld sal mens vér moet soek.’ Die kafferhoof, Makoenie, wat met sy volk in grotte ingevlug het, word met dinamiet en lis daaruit gejaag en dan tereggestel. Maar die Engelse predikant het mos gesê ‘dat die sone Cham's almal verdelg sou word’ en hy het die soldate geleer om ‘Onward Christian Soldiers’ te sing! (Deel II, p. 65 en 89.) Hierdie donker tafrele van meedoënlose wreedheid word egter afgewissel deur 'n reeks grappige insidente wat Preller met veel smaak vertel. Genl. Frederik Grobler het moeg geword om op sy hurke voor Lobengoela te sit en toe een van die indoenas hom | |
[pagina 528]
| |
daarop wys dat hy nie op 'n kopbeen mag sit nie was sy antwoord: ‘Bog, sê hom, my buik is amper net so groot as die koning syne, en ek kan nie heeldag op my hurke sit nie, ek is moeg.’ 'n Anglikaanse biskop was op reis in Matabeleland ‘en toe een van sy agterosse die jukskeie breek, het hy homself ingespan naas die ander os, maar het dit nie te ver volgehou nie.’ Komies is ook Jameson se oulike taktiek teenoor die deftige Portugese administrateur d'Andrade. Vir elke belangstellende in ons vaderlandse geskiedenis sal hierdie twee dele nuwe vergesigte open. Af en toe vermoei die skrywer ons wel deur herhalings en alte breedvoerige uiteensettings, maar so interessant is die ingewikkelde skaakspel tussen Kruger en Rhodes dat ons die verloop daarvan met gespanne aandag volg sonder om ons te veel te bekommer oor die groot aantal Prellerismes en anglisismes. Ek vertrou dat hierdie waardering die aandag van baie lesers sal vestig op 'n werk wat tot hiertoe, heeltemal ten onregte, oorgelaat is aan vakmense. Dit is boeiender as menige roman, en dit bevat feite waarvan elke ontwikkelde, wat wil saampraat oor Afrikaanse toestande, goed op die hoogte behoort te wees. | |
Ons Goud-Roman (1935).By die feestelike herdenking van die Goudstad se vyftigjarige bestaan het baie sogenaamde ontdekkers van die hoofrif aansprake gemaak wat histories totaal ongegrond was. Soos gewoonlik is veel lof toegeswaai aan uitlanders, en smalend geskryf oor die aandeel van Afrikaners. Volgens Preller het die meeste artikels geëindig ‘met 'n onwelwillende kleinlikheid’ aan die adres van 'n ‘bankroete Boererepubliek’. As amptenaar van die departement van mynwese het Preller 'n intieme kennis gehad van die vroegste ontwikkeling van die goudnywerheid, en na geduldige navorsing kom hy in hierdie studie tot die gevolgtrekking dat Pieter Jacob Marais die eerste ontdekker van goud in Transvaal was (1853) en dat Louis A. Oosthuizen en J.J.P. Ackermann ‘die eerste her-ontdekkers was van die Witwatersrandse Hoofrif, op die plaas Langlaagte, en wel in Maart 1886.’ Marais se dagboek word in hierdie uitgawe opgeneem. Dit bestaan uit baie beknopte aantekeninge, maar deur Preller se toeligtings word dit 'n waardevolle dokument, wat baie lig werp op die bedrywighede van die eerste goudsoeker en sy opvolgers. So terloops deel die skrywer ons ook interessante wetenswaardighede mee in verband met die soektogte na goud, onder andere die herkoms van die woord banket. Die titel van die boek is misleidend. Dis 'n historiese ondersoek, wat nie tot die gebied van die letterkunde behoort nie, maar uit kultuuroogpunt tog van groot waarde is. | |
[pagina 529]
| |
Daglemier in Suid-Afrika (1937).Volgens die skrywer se voorwoord is dit ‘'n populêre leesboek oor die geskiedenis van ons land’ van die vroegste tye tot 1881. In die eerste hoofstukke word 'n samevatting gegee van wat wetenskaplike navorsers reeds ontdek het omtrent ‘die tienduisende jare van Afrika se kultuurlewe.’ Heelwat aandag word gewy aan die omswerwings van naturellestamme en met klem word geprotesteer teen die bewering dat die blankes wederregtelik besit geneem het van die Bantoe se ‘erfreg’. In hierdie beknopte oorsig het Preller gebruik gemaak van gegewens uit sy eie historiese werke. So het hy onder andere 'n paar dramatiese episodes uit Andries Pretorius hier oorvertel. Telkens vind hy geleentheid om wanvoorstellings wat nog by die algemene publiek in omloop is op te ruim: ‘Die ware vriende en beskermers van die naturel was nie Exeter Hall of hierdie sendelinge nie, maar die Boere, wat die mag verbreek het van Mzilagazi en Dingane.’ Die vernaamste verdienste van hierdie leesboek is die geleentheid wat dit die algemene publiek gee om hom op hoogte te stel van historiese feite wat anders slegs uit omvangryke handboeke opgediep kan word. Deur middel van 'n vertaling (Day-dawn in South Africa) sal ook ons Engelse landgenote kan kennis maak met die Afrikaanse standpunt wat heelwat afwyk van dié van hul eie historici. | |
Andries Pretorius (1938).Hierdie lewensbeskrywing is feitlik 'n voortsetting van die geskiedenis van die Groot Trek waarmee Preller begin het in Piet Retief (1906). Deur jarelange navorsing en die geduldige opsporing van historiese dokumente het hy die erkende outoriteit geword oor hierdie tydvak. Net soos Piet Retief bevat ook hierdie werk veel meer as blote biografie, en is dit eintlik 'n breedopgesette geskiedenis van die Groot Trek vanaf Bloedrivier tot aan die Zandrivierkonvensie. In sy teenswoordige vorm sal dit die gemiddelde leser afskrik, want dit is 'n historiese handboek wat beantwoord aan die vereistes van die wetenskap. Elke bewering word noukeurig ondersoek, al die beskikbare getuienisse sorgvuldig getoets voordat die skrywer sy gevolgtrekkings meedeel. Daarvoor is natuurlik breedvoerige redenering en uitgebreide dokumentasie nodig, wat uit 'n letterkundige oogpunt, afbreuk doen aan die dramatiese gang van die verhaal. Telkens egter, wanneer Preller 'n hoogtepunt in sy geskiedverhaal bereik, waar hy nie slegs as wetenskaplike feite hoef te konstateer nie, maar 'n belangrike historiese toneel uit skrale gegewens moet rekonstrueer, daar verras hy ons deur forse beelding en ryke fantasie. Ek noem o.a. die tog van die Winkommando na Bloedrivier en die beskrywing van die slag; die weergalose rit van die perdepatrollie van die wit-Oemfolosi om uit 'n hinderlaag te ontsnap; die gevegte teen die Engelse in Natal; die vaskeer van Cloete | |
[pagina 530]
| |
in die hofsaal op Pietermaritzburg deur die vroue; Boomplaats en die betekenis van dié geveg; die versoening met Potgieter; Pretorius se onderhoud met die afgesante van Panda wat die Engelse wil oorrompel in Natal. Is dit nie jammer dat Preller se meesterlike beskrywings van hierdie historiese gebeurtenisse moet weggesteek word in 'n lywige boekdeel van 500 bladsye nie, wat waarskynlik slegs deur vakmense en geskiedenisonderwysers sal gelees word? 'n Mens sou so graag sien dat elke Afrikaanse seun en dogter besield moet word met die gees en ideale van die Groot Trek. Maar om dit te bereik moet ons hulle 'n geskiedenis van die Groot Trek in hande kan gee, wat nie alleen 'n dorre feite-relaas is nie, maar 'n verhaal geskrywe deur 'n kunstenaar wat hulle kan ontroer deur sy grootse uitbeelding van ons volksverlede. Preller is daarvoor die aangewese persoon, want hy is veel meer as geduldige navorser en nougesette historicus. Jarelange verdieping in die prestasies van die voorgeslag het by hom so 'n hartstogtelike liefde vir die Voortrekkers laat ontstaan dat hy nie oor hulle kan praat in die saaklike kroniekstyl van die historicus nie, maar telkens hul ideale vertolk met die warme gloed van die kunstenaar. Soos die Hollandse seun en dogter met tintelende oë vertel van Tromp en De Ruyter, die Engelse van Drake, die Spaanse Armada en Wellington, so sou ons, veral in hierdie jare van eeufeeste, ons jeug graag in vervoering sien raak oor ons eie volkshelde. In al Preller se werke lê daar boustowwe opgestapel vir so 'n monument aan die Voortrekkers. Hierdie biografie sal 'n vraagbaak word van almal wat meer as oppervlakkige kennis verlang oor die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Andries Pretorius ‘oortref Retief as historiese persoonlikheid omdat, terwyl hy - bewus of onbewus, - voortgebou het op die ideale wat Retief sig ten doel gestel het, hy ook die volledige verweseliking daarvan beleef het, in die erkenning van sy volk as volkome vry en onafhankelik.’ Preller behandel kwessies wat ons volksbestaan tot in sy diepste wese raak, o.a. die segregasiebeleid van die Voortrekkers, hul verhouding tot Engelse en naturelle, hul bestuurstelsel, die oorsake van nasionale armoede en verval, Afrikaners in Engelse diens teen mede-Afrikaners, onderlinge naywer tussen volksleiers. Hoeveel skrywers en redenaars is daar nie vandag nog, wat allerlei dwaashede oor hierdie sake debiteer, omdat hul eenvoudig geen benul het van die wordingsgeskiedenis van hul eie land nie. Preller verhelder ons historiese insig deur 'n streng-logiese betoog en deur tallose anekdotes wat ons help om die gees van die tydperk te verstaan. Daarby het hy ook daarin geslaag om nie alleen die staatkundige bedrywighede van die kommandant-generaal te teken nie, maar ons ook 'n blik te gee op die intieme lewe van die mens Andries Pretorius. | |
[pagina 531]
| |
Scheepers se Dagboek (1938).‘As daar ooit 'n jammerlike vertoon van reg was, dan was dit dié teen Gideon Scheepers. Sy aanklaers het Transvaal en Vrystaat platgebrand, sodat daar geen enkele huis êrens op 'n plaas bly staan het nie. Hulle het in Transvaal dorpe verwoes en kerke met die grond gelykgemaak; maar sy verbranding van die regeringsgeboue van sy vyand was 'n geval van “brandstigting”!’ Deur die uitgawe van hierdie dagboek het Preller 'n treffende hulde gebring aan die nagedagtenis van een van ons dapperste helde wat die slagoffer geword het ‘van 'n blinde oorlogshaat in 'n vuil Goudoorlog van hebsug en afguns.’ Met verloop van tyd het daar allerhande gerugte en legendes ontstaan omtrent Scheepers se teregstelling, en daarom is hierdie goed gedokumenteerde uitgawe dubbel welkom. Met diepe ontroering vertel Preller hoe Scheepers se moeder jarelank gefolter is deur die onsekerheid omtrent haar seun se graf wat selfs nou nog nie aangewys kan word nie. In die eerste deel het Preller alle beskikbare gegewens omtrent Scheepers se lewe en sterwe versamel. Deel II bevat dié gedeelte van sy dagboek wat bewaar gebly het. In deel III word 'n beknopte maar lewendige oorsig gegee van die krygsverrigtinge in Kaapland, waardeur ons die gebeurtenisse in verband met die tragiese Scheepers-episode soveel beter kan verstaan. Hierdie bundel is 'n waardevolle bydrae tot die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit het egter veel meer geword as feiterelaas, want die skrywer se vertolking van hierdie droewige episode sal nog 'n inspirasie wees vir die verre nasaat. | |
Ons Parool (1938).Dit mag 'n haglike onderneming heet om ses-en-dertig jaar na die Engelse oorlog jou dagboekaantekeninge te verwerk. Hoe moeilik moet dit nie wees om gebeurtenisse wat al verdof het in die wasige verlede weer te laat herrys, en hulle te beglans met die lig van 'n onmiddellike realiteit! Dat Preller dit bereik het bly vir my die vernaamste aantreklikheid van sy verhaal, veral as ek dink aan soveel ander oorlogsherinneringe wat so duidelik die merkteken dra van die leer van ‘vergewe en vergeet’. Preller egter, het hom nie laat beïnvloed deur latere gebeurtenisse nie, want hy het hom ten doel gestel om die verlede, soos hy dit self ervaar het, te herskep, sodat die leser 'n getroue beeld kan kry, nie alleen van die liggaamlike ontberings wat die krygsgevangenes gely het nie, maar van alles wat daar in hul gedagtelewe omgegaan het. So het hierdie herinneringe 'n interessante studie geword van 'n belangrike episode in ons geskiedenis: die Afrikaner in ballingskap. Duisende landgenote van allerlei stand was saamgehok op 'n ou transportskip. ‘Baie goeie, warme vader- | |
[pagina 532]
| |
landers was daar onder hulle, wie se oë gloei en hande jeuk as hulle van die stryd praat....’ Maar ook: ‘hendsoppers, verraaiers en boslansers, selfs diewe en moordenaars.’ Dis hierdie bont mengelmoes wat Preller uit sy afgesonderde sitplek belangstellend betrag: die bejaardes wat met dowwe wanhoop oor die waterwoestyn staar ‘terwyl moedelose gedagtes die moege ou hoofde deursomber’; die jong seun, wat sy denkbeeldige ‘vaalpens-kallers’ met soveel luidrugtige gebare oor die dek dryf tot stigting van honderde see-siekes! En later in die kamp, die vurige jongkêrels wat elke verraaier bydam en warm skop; die sestig Vrystaters wat hul by die Engelse aanbied vir aktiewe diens teen hul eie mense; die klomp versuftes wat soos outomate eet, slaap, drink en kerk-toe gaan. Al hierdie tipes laat die skrywer in lewendige toneeltjies voor ons optree, totdat ons gaandeweg 'n goeie begrip kry van die lyding, hartstogte en swakhede van hierdie krioelende massa gevangenes. Vier maande voor die vrede is Preller op die Transvaalse Hoëveld gevange geneem. Die verhaal van hierdie nagtelike oorrompeling is 'n mooi voorbeeld van sy lewendige beskrywingskuns. Hy vertel van die tog na Standerton, die onmenslike behandeling van krygsgevangenes en die gemene rol deur verraaiers gespeel. Deur Standerton se strate stap hy met ‘'n nat velbroek, verflenterde baadjie en ruie baard.’ As besondere guns mag hy 'n paar nodige goedjies gaan koop by dieselfde winkel waar hy as jongeling klerk was teen £2. - 10s. per maand. Deur 'n hele reeks jeugherinneringe verplaas hy ons in die rustige vooroorlogse atmosfeer. In steenkoolwaens sonder enige geriewe word die krygsgevangenes na Durban vervoer, en vandaar vertrek hul in 'n vuil transportskip na Indië. Vermaaklik is die beskrywing van die metodes deur die Engelse gebruik om die maandelikse aantal ‘Krygsgevangenes’ hoog te hou. ‘Boere op See’ het ek reeds by die bespreking van Oorlogsoormag as een van Preller se beste sketse aangedui. Die beskrywing van die kamplewe in Indië word afgewissel deur 'n paar dramatiese episodes. Die swygsame veldkornet Fourie herken in 'n mede-krygsgevangene die moordenaar van sy vrou, en stoot dié oor 'n krans. Oom Piet, 'n sewentigjarige grysaard uit Lydenburg, trek hom die lot aan van 'n eensame jongeling uit sy eie distrik wat aan die gevolge van 'n ou wond in die hospitaal sterf. Skamerig probeer die oubaas 'n ruikertjie veldblomme verberg wat hy vir die dapper Japie Greyling gepluk het omdat hy daar so ‘heeltemal alleen’ moet lê. Na die vrede moet oom Piet self 'n ernstige operasie ondergaan en dan deel hy sy innigste sielewens aan Preller mee: op Rusplaas het hy onder 'n krans 'n klompie geld verberg, wat 'n broerskind moet gebruik om sy gebeente oor te bring na Suid-Afrika. ‘Na ons tuiskoms in Transvaal het ek baie moeite gedaan om die broerskind te vind en eindelik verneem dat hy in Bermuda dood is, sodat oom | |
[pagina 533]
| |
Piet se geldjies nog op Rusplaas begrawe lê, en hy.... in Indië.’ Dit is sulke eenvoudige episodes wat ons so 'n onvergeetlike indruk gee van die oorlogstragedie. Ook in hierdie verhaal is Preller nie slegs die nougesette historicus wat feite opteken nie, maar die begrypende kunstenaar wat ons ontroer deur sy uitbeelding van menslike leed. Geen wonder dus dat hy, by die gedagte aan al die dapperes wie se grafte in die vreemde verspreid lê, hierdie wens uitspreek: ‘Sou 'n erkentlike nageslag nie eendag, as hulle weer vry is, op die vreemde kerkhowe waar hulle begrawe lê 'n onverganklike legende in brons of yster wil aanbring nie: Hier rus drie Afrikaners uit wat gesterf het vir hul Vaderland? Net 'n kleinigheid, opdat dies wat verbygaan sien en, miskien, nadink!’
Vir die kennis van Preller se letterkundige opvattings is van belang een en ander uit sy reeks artikels: Eerstelinge - 'n Persoonlike appresiasie van J.H.H. de Waal s'n Roman, Joh. van Wyk (De Volkstem, 18 Aug. 1916 vlg.). Joh. van Wyk is volgens dié artikel ‘op s'n best 'n vernuftig inmekaar gewarde verhaal van 'n paar mense met hul haat, afguns en liefde, wat s'n “boeiendheid” ontleen aan die manier waarop dit inmekaar geset is, aan die ontknoping en aan 'n gemaklike verhaaltrant. Die menstragedie daarin blyf klein.... die romantiek is partykeer voos, die stylmiddele gebrekkig, die psychologie hopeloos vals.’ Tog kon hy die kulturele waarde van die roman insien: ‘Dis net die ding wat ons nodig het om te leer lees. Al die ander sal later kom.’ Maar dit is merkwaardig, dat hy van die staanspoor af sy mening sonder doekies-omdraai uit, en sy letterkundige oordeel nie deur bykomstige omstandighede laat benewel nie. Eerstelinge open die literêre kritiek van die Tweede Beweging op waardige wyse. Onder ons prosaskrywers is daar seker weinig wat al in 1906 so 'n fors, persoonlike styl gehad het. Wie kon toe al iets so raak sê, soos die volgende: ‘Die klompie afgejakkerde woorde.... wat 'n sukkellewe bymekaar gesweet het....; Die hele wêreld bekyk hul van die hopie waar húl op staan; ómdat húl die hang anderkant die bult nie kan sien nie, is die aarde pannekoek-plat op syn pilare gegrondves.’ Ook met sy Inleiding tot Jan Celliers in Die Vlakte (1908) het Preller 'n kloek stuk prosa gelewer, wat uitmunt deur fris beeldspraak en kragtige geluid. Vir sy taalgebruik is die volgende van belang: ‘Dis glad nie nodig om voor wat hul taal-barbarisme noem.... juis so wild te wees als 'n histeriese jong meisie voor 'n groot miskruiergogga....’ En in sy werk is woorde soos touchant, subiet, marsiale, parafernalië, imminente, violente, skrupules, ens. glad nie skaars nie.Ga naar voetnoot1) | |
[pagina 534]
| |
Oor dialoogkuns maak hy die volgende juiste aanmerking: ‘Dialoogkuns.... is in algeval nie die nakende natuurlikheid nie; maar, gepaard aan grondige mensekennis die neerslag van 'n skeppende verbeelding; iedere stenograaf sou 'n mens kon verseker, dat jij die grootste onsin van die wereld sou hoor als jij presies moes neerskrijf, woord voor woord, wat daar gesproke word....’ Dan lê hy die vinger op 'n tegniese fout wat vandag nog deur baie van ons verhaalskrywers gemaak word: ‘'n Techniese fout wat De Waal nou en dan maak is om telkens self so 'n gemoedelike gesprekkie met sijn lesers te hou, wat totaal nie te pas kom nie.’ Hy wys ook daarop dat De Waal ‘Adam Tas als historiese figuur.... geen reg laat wedervaar nie.’ Die volgende pleidooi vir fris beeldspraak is vandag nog net so nodig as in 1906: ‘De Waal sal in sijn latere werke.... 'n groter en 'n warmer liefde (krij) voor sijn woord, voor die afgebeulde, seerrug woord, dat waarlik tog nie meer kan nie. Die sal hy bêre, en alleen gawe, ronde, hele woorde inspan, en mooi agtermekaar, so's 'n span breed-gerugde vaarlandse osse, wat gelijkweg beur om sijn mening te trek en te draag. 'So geseg, so gedaan'.... gaat ons perbeer opvolg, maar as 'n vorm van uitdrukking voor éwig begrawe, en in die uitbeelding van gedagte en gevoel gaan ons altijd soek naar die raakste woorde, en al die verslonste ou plunjes en toiens weggooi.... Gee ons maar 'n kans; ons gaat ons woorde navoel, en wik en weeg iedereen, sodat iedereen naderhand weer inbom, en dreun en gons so's die ko'els van 'n pompom, in plaats van so's 'n uitgewaaide ou stofstorm op ons neer te sak.’ Word hier nie op tipies Afrikaanse wyse die denkbeelde van die Tagtigers weergegee nie? Dat Preller dit al aan die begin van die Tweede Beweging gesê het, is merkwaardig. En dat die strewe na 'n persoonlike woordkuns by hom erns was, blyk uit al sy prosawerk. Dit sou seker nie moeilik wees om daarin ook paginas aan te wys, wat nie meer as goeie joernalistiek is nie, bladsye waarin ‘die afgebeulde, seerrug woord’ nog gemoor word, uitdrukkings met die haastigheid van 'n koerantskrywer neergeklits. Maar meestal klink uit sy prosa op 'n eie stem, en telkens verras hy ons deur skoonheid van segging en mooiheid van klank.Ga naar voetnoot1) Omdat by ons nog soveel muwwe, onpersoonlike stylkuns is, so 'n oorvloed van ‘verslonste ou plunjes en toiens’, of anders aanstellerige woordpraal, daarom is dit 'n ware verademing om te luister na die harmoniese deining en wieging, wat Preller se periodes vorentoe stoot. Hy is ten minste iemand, wat nie sommer die eerste die beste frase wat in sy gedagte opkom afskryf nie; sy sinne maak nie die indruk van ‘so gemaak en so gelaat staan’ nie; hy hoor nog die taalklanke, deurvoel dié nog in hul volle betekenis. |
|