Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 7. Aan Stille Waters.
| |
[pagina 506]
| |
Hierdie laaste drie moet minstens eenmaal per maand verbykom! Na die inhoud kan ons Aan Stille Waters beskou as 'n voortsetting van Ons Weg deur die Wêreld, terwyl dit vergelyk kan word met die Ideën van Multatuli, een van die weinige Nederlandse skrywers, wat invloed uitgeoefen het op Langenhoven.Ga naar voetnoot1) Terwyl Multatuli dikwels in die bitterste ellende geskryf het om sy gesin van broodsgebrek te red, is hierdie noodsaaklikheid in Langenhoven se geval afwesig, al gebruik hy dikwels sy stapels onbetaalde rekeninge en agterstallige rente as humoristiese motief. Maar net die feit dat hy weekliks soveel bladsye kopie moet lewer, verklaar al gedeeltelik die skommeling in die gehalte van sy werk. (Daar is nog 'n ander rede ook, waaroor later). Naas die haastig geskrewe stukke van die afgejakkerde joernalis wat moet klaarkry voor die Kaapse pos sluit, is daar in Aan Stille Waters van Langenhoven se beste werk, wat 'n blywende bydrae is tot ons letterkunde. Net soos Multatuli is hy dikwels eensydig en oppervlakkig, en lei sy neiging om 'n pakkende effek te bereik deur oordrywing hom partymaal tot uiterstes, maar hy besit die gawe van die woord, en weet hoe om sy mening steeds op 'n apart-persoonlike wyse te uit, sodat dit die aandag afdwing. In sy taal is daar die frisheid van die oorspronklike denker. Hy kan ons meesleep deur die innige toon van 'n stem wat huiwer van ontroering, en ons verras deur plotseling die blitslig van sy helder verstand te laat speel op die ongekende kant van 'n saak. Of anders laat hy ons skater deur sotte oordrywing en glimlag oor die gemak waarmee hy algemeen erkende begrippe op hul kop sit. En as die waters te lank stil gebly het, dan trek hy op onbekookte wyse los teen een of ander hooggeplaaste ‘mindere’, wat eenvoudig weggeblaas word deur 'n stormwind van opgewonde redenasie, terwyl die eintlike verskilpunt verlore raak in die stofwolke van sy heftige verontwaardiging. So het hy o.a. met meer hartstog as kennis uitgevaar teen die ‘veertig-jaar verslaapte Tagtigers’, en die moderne impressionistiese skilders bestempel as ‘horrieskunstenaars’!Ga naar voetnoot2) Maar wat ook al die waarde van sy argumente mag wees, hy bly ook interessant in sy fel-persoonlike polemieke, waarby sy advokatehandigheid hom met gemak 'n skynoorwinning besorg. Prikkelbaar en fyngevoelig in hoë mate is hy, en kleinserig waar dit sy eie werk geld. Daarom kom hy telkens in botsing met sondesoekers, wat sy stemming | |
[pagina 507]
| |
bederwe.Ga naar voetnoot1) Een oomblik is hy die eerbiedwaardige senator, wat met kalme besadigdheid sy volk voorligting gee oor belangrike volkskwessies, dan weer trek hy soos 'n baardelose outeurtjie, wat sy eerste boekie geskrywe het, los teen 'n naamlose resensent, en as die bui oor is troos hy hom met 'n briefie van een van sy bewonderaars! Maar of Langenhoven ons nou al vir gek hou met 'n koddige ‘limmerik’ waarvan een rymwoord nog op soek is, of ons vertel van sy jigbeen en toegekalkte slagaar - steeds is dit 'n genot om sy geestige bolmakiesies te volg, omdat sy werk die uitstorting is van 'n eerlike, hartstogtelike mensesiel. Soos baie kunstenaars het hy dubbel en dwars betaal ‘die belasting van oorgevoeligheid vir die gawe van diepgevoeligheid’, soos hy dit self noem in die Brief van die Harlekyn, waarin hy op gevoelvolle wyse aan 'n boesemvriend iets vertel van die wanhopige marteling van ‘die jollie skrywer-harlekyn’, wat die skouburg met sy fratse moet vermaak, terwyl sy siel van binne verteer word. Sy beroep is, sê hy ‘om in die skouburg op te tree en my gehoor.... tot trane te beweeg vir denkbeeldige leed en tot skaterlag oor my bespotting van die bitterheid van my eie siel. Altyd wissel my taak af tussen twee rolle - harlekyn in die tragedie, treurspeler in die klug.’ Soms tree hy in die publiek op ‘met baldadige ligsinnigheid’ maar tegelykertyd vra hy sy vriend in 'n wanhoopsbui of hy nie maar die pen sal neerlê nie, want hy ‘kan nie meer nie’. ‘Hy, die harlekyn, is publieke eiendom. Hy het geen aanspraak op 'n ek wat syne is nie. Elke aanleg, elke mik, elke drif en drang, elke karaktertrek en eienaardigheid.... is publieke vermaakstof. En dis dáar waar die grap is. Almal ken hom.... en geeneen ken hom nie.’ Ek weet van geen ander artikel waarin Langenhoven met soveel roerende innigheid en openhartigheid die klagtes van sy kunstenaarsiel uitgestort het nie. Hyself wil nie sy afwykings verdedig met 'n pleidooi van kranksinnigheid nie,Ga naar voetnoot2) maar hom sal waarskynlik dieselfde lot tref as Multatuli, wat deur een van sy eie geleerde familielede uitgemaak is as 'n geestessieke, eenvoudig omdat hy afgewyk het van die middelmatige tipe! Maar Langenhoven is gewillig om vir sy volk die vloek van die kunstenaarskap te dra. Hy is een van die ‘kinderlik-onnoseles’, soos hy hulle noem in Die Vloek van die Talente, wat moet ly ‘met 'n lyding wat ons nie kan besef nie, omdat ons begrip maar die begrip van die kudde is.... Om ons ontwil, om sonneskyn in ons lewe te bring het hulle gely.... Die tien talente brand hulle besitter tot woeker.’ Maar hy ken ook die blydskap van die skepper, want hy sê: ‘Bukkende onder die las | |
[pagina 508]
| |
van sy kruis....: Vader, ek dank u vir die segen van die talente!’ In die verdere uiteensetting van die skrywer-harlekyn se ergernisse vaar Langenhoven vir die soveelste maal uit teen die resensente, wat wel nooit 'n boek doodkry nie, maar tog ‘boeke versmoor voor hul geboorte’ deur die skrywer se stemming te bederwe. Die geskiedenis van die letterkundige kritiek bewys egter voldoende dat hierdie soort ‘doodgesmoorde’ boeke van so 'n gehalte sou gewees het, dat niemand daar skade by gely het nie! Belangriker word Langenhoven waar hy klaag oor soveel gebrek aan verstand by sy lesers wat hom telkens verkeerd begryp, om nie eers te praat van hul onvermoë om self die skrywer se bedoeling na te voel nie. Die arme harlekyn wat sy bydrae bekostig ‘uit die bloed van sy hart’ hunker na 'n bietjie waardering en deernis en liefde, maar moet versmag in sy ewige eensaamheid, omdat die kudde hom nie kan begryp nie: ‘Ag, arme, eensame, eensaam-lydende siel! - langes die pad van die menslike geskiedenis, Goddank, staan daar, behalwe die Een Grote, 'n aaneen uitgestrekte reeks van kleinere Golgota's waar allerlei harlekyne: sieners, dinkers, leraars, hervormers, martelaars, profete, kunstenaars, wetenskaplike navorsers, gekruisig is vir die heil van die mensheid. In hoc signo vinces - daar is geen ander weg van saligheid nie.’ Uit hierdie aandoenlike sielebieg kan ons enigsins voel met hoeveel hartstogtelike liefde Langenhoven sy volk dien, kan ons besef in watter stemming hy partymaal sy ‘bokspektakels’ in die skouburg maak, en hoe groot die prys is van die wanhopige kleinserigheid van ‘die jollie harlekyn’. Hy het nie die temperament om hom rustig aan sy taak te wy nie. As hy 'n nuwe boek skrywe, werk hy met 'n verterende ywer. Binne 'n week of twee moet alles klaar wees, anders word die inspirasie verjaag deur een of ander sonde-soeker. Daarom is hy op sy beste in die kort novelle en in die opstel, waar sy voorkeur vir kernagtige saamgedrongenheid dan ook tot sy reg kom. So beskou kry die Sonde-met-die-Bure-motief nog 'n diepere betekenis, want dan is dit nie net 'n komiese avontuurtjie nie, maar die veiligheidsklep van 'n rustelose, prikkelbare gemoed, wat na die oplossing van 'n innerlike konflik soek in 'n voortdurende selfparodiëring. Sy spot en ligsinnige ‘bokspektakels’ is die kieme van 'n heftige ironie, waarin die gemartelde gemoed streef om hom bo sy gebrek aan selfbeheersing te verhef. In sy siel is daar die hunkering na die stille waters van kalme oorpeinsing, waar hy 'n enkele maal sy idilliese fantasieë geskrywe het; maar sy eie rustelose gees voer hom telkens na die onstuimige branders van die harde werklikheid. En dan spoor sy liefde vir die verwaarloosdes onder ons volk hom weer aan tot 'n uiterste kragsinspanning. Hy wil woeker met die spanne tyds wat hom nog toebedeel is: ‘Ek moet nog 'n paar uur werk voor slapenstyd. Want die vuurtjie | |
[pagina 509]
| |
hierbinne is aan 't uitbrand en daar is baie te doen in die tydjie wat sy gloed vir my sal duur.’ Sterk in hom is ook die liefde vir die vrye ongerepte natuur, die wye eensaamheid van die veld, waar al ‘die tienduisende soorte van ergernisveroorsakers’ hom nie kan bykom nie. Met komiese oordrywing het hy vertel van sy sonde met die geriewe van die moderne beskawing, o.a. die telefoon en die draadloos. Ten spyte van al ons beskawing leef daar nog in ons ‘die onoorwinlike en onuitroeibare liefde en drang om weg te kom na die wilde wêreld, na die winde en reëns en sonneskyn’. Op die Kaapse skiereiland vind hy orals modehotelle en soek tevergeefs na 'n plekkie ‘waar 'n mens op die sand kan gaan rol en jou stukkie hoenderbout met jou hand vat en met jou tande van die been afskeur en kaalvoet loop en nie omgee oor mooi klere nie.’ Die rustelose moderne gees het ook al die stille, huislike vrede verstoor. Langenhoven het 'n hoë dunk van die vrou se bekwaamheid, maar reken dat die vrouebeweging die huislike geluk ondermyn, omdat die pligte van eggenote en moeder deur buitebelange vervang word: ‘Die kleine eie kringetjie se mure is omgegooi; ons woon almal op die vlakte, rusteloos woelende tussen rusteloos woelendes.’Ga naar voetnoot1) Daar is 'n knaende heimwee in sy hart na die idilliese eenvoud van die ou dae toe Pappie sy velskoentjies gemaak het en Mammie sy kappie. Teenswoordig se ouers het in hul jagterige plesierlewe nie meer die nodige belangstelling vir hul kinders nie. Hul laat die groot inrigtings van die moderne maatskappy vir hul kroos sorg en daar is die kinders nie meer Kerneels of Jan of Diederik nie, maar nommer so en so. Hierdie gebrek aan liefde en belangstelling beskou hy as die grondoorsaak van al die sosiale euwels van die moderne beskawing. Die ontsielde mense het moderne masjienes geword en masjienes kan geen mensediens verrig nie sonder die mensesiel om hulle te bestier nie. Langenhoven het ook 'n oplossing vir hierdie maatskaplike vraagstukke: ‘Liefde, liefde, liefde: daarin is die geheim opgelos om van die aarde 'n hemel te maak’. ‘Die heerlikheid van offerande’ is die grondslag van Jesus se stelsel en Hy is ‘die groot Staathuishoudkundige’. Daar is 'n innige jammerte in Langenhoven se hart vir die arme, wat soos 'n lasdier moet swoeg sonder ideale of drome oor 'n beter toekoms. Sosialisme is maar net ‘'n skoon-klinkende evangelie’, wat die arbeider na 'n dieper hel toe sal lei, want dit berus op dwang, ‘'n dwang wat noodwendig op korrupsie en terrorisme uitloop’. Die ontwikkeldes moet die arbeider help in sy | |
[pagina 510]
| |
stryd teen die ‘gewetelose parasiet-kapitalis’. Nie ons aardse goedere moet ons onder die armes verdeel nie, maar ‘die ontwikkeling en kennis waarmee ons bo hulle bevoorreg is.’ Hiermee is ons vanself genader tot die eintlike bron van Langenhoven se inspirasie, naamlik sy innige liefde vir die ‘arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie’, sy roerende simpatie vir die groot skare onbevoorregtes, wat deur die late erkenning van die volkstaal nooit die kans gekry het om kultureel-bewus te word nie. In die eerste paragraaf het ek daarop gewys hoe reeds aan die begin van sy skrywersloopbaan Langenhoven hom rekenskap gegee het van die dringendste behoeftes van sy volk. Later het hy hom herhaaldelik uitgespreek oor sy ideaal as volkskunstenaar, en vir 'n regte begrip en waardering van sy werk is hierdie uitsprake van groot belang. Sy ideaal is om 'n boek te skryf ‘wat genot verskaf by die veewagterskraal, en nie benede die hoogsgeleerde universiteitsprofessor (is) nie.’ Verskeie ander kunstenaars het dieselfde ideaal gehad, o.a. Tolstoi en Adama van Scheltema. Laasgenoemde sê in sy Grondslagen (p. 112): ‘Hij, die niet bij elke grashalm van de zomerwei een gedicht zou kunnen schrijven, waarnaar de koeienjongen luisterde, hij is geen waarachtig dichter!’ Langenhoven besef ten volle dat die kultuurkragte uit die volk self moet oprys, en dat die letterkunde gelyke tred met die volksgroei hou. Hy dink aan die behoeftes van die verskillende lae in ons samelewing: ‘Skryf ek vir die geleerde mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk onleesbaar - dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is, dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is benede die hedendaagse ontwikkelde peil’. Die ‘versoening tussen hierdie twee teenstrydige uiterstes’ vind hy in die Bybel en by Homerus. ‘Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in staat is, en bereik langes die weg van die allernederigste eenvoud.’Ga naar voetnoot1) Duidelik word sy didaktiese standpunt uiteengesit in Hoe skryf 'n mens? ‘Wat ons roeping en plig is, ons wat skryf, is om naar ons broers om te kyk wat die opvoeding van node het wat aan hulle in hulle jonge dae weerhou is en wat hulle nergens anders kan kry nie as by ons.... Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie.’ By die détail-bespreking van sy werk het ek aangetoon in hoeverre Langenhoven sy ideaal bereik het. By hom het die jammerte vir die on- | |
[pagina 511]
| |
bevoorregte massa inderdaad dié ontroeringstaat gewek, waaruit besielde didaktiek kon ontstaan. Baie ander van ons eerste skrywers het ook onder die indruk van die groot volksnood probeer om by te dra tot die opbou van 'n suiwer Afrikaanse kultuur. Maar by die patriotiese bedoeling het die inspirasie meestal jammerlik ontbreek. In eenvoudige verhaaltjies met 'n duidelike strekking het hulle gewaarsku teen sedebederf, teen versaking van die voorvaderlike godsdiens, teen on-afrikaanse gewoontes en verder regstreeks didaktiese vermanings gegee. Daar het inderdaad gevaar bestaan dat hierdie soort vlakke gemeenskapslektuur, bereken op die lae ontwikkelingspeil van die bywoner en armblanke, en deurspek met sedeprekies en didaktiese oorpeinsings van weinig oorspronklikheid, langsamerhand as die ideale volkskuns sou beskou word. Langenhoven egter, word deur 'n innerlike drang steeds gedwing om rekening te hou met die behoeftes van sy volk. Hy eksperimenteer in allerlei rigtings, laat amper geen genre onbeproef nie, want hy wil ‘vir almal’ iets gee. ‘In Suid-Afrika moet die skrywer hier een leser vang hiermee, daar een daarmee, en goddank bly wees dat hy hulle hoegenaamd vang. Want sy roeping is om sy volk te leer lees.’ Hierdie houding wil hy regverdig deur te wys op die beperkte mark van die Afrikaanse boek. Hy bespreek die besware van 'n sestal lesers teen gedeeltes van sy werkGa naar voetnoot1) en om aan almal se sin te voldoen vind hy die bo-gesiteerde oplossing. Met sy stelling dat die kuns nie beperk moet wees tot 'n klein kringetjie ontwikkeldes nie sal almal dit eens wees. Maar die veelsoortigheid deur Langenhoven beoog het ook sy gevare, waaraan hy nie ontkom nie. 'n Groot gedeelte van sy werk is met opset ‘eenvoudig’ gemaak vir die onbevoorregtes. Dit is nie die spontane uiting van die ontroerde volkskunstenaar nie, maar verstandelike maak-werk, spesiaal toebereide babetjieskos. Hy wil die volk opvoed deur af te daal tot die peil van die veewagter; hy maak ‘bokspektakels in die skouburg’ om die applous van die engelebak te win. Die strewe na populariteit is op sigself onskuldig en selfs loflik. Dit word alleen afkeurenswaardig as die skrywer daardeur verlei word om aan 'n smaak te voldoen, wat soos hy goed weet bedorwe is, of as hy iets skrywe wat slegter as sy beste is, omdat hy weet dat sy beste poging nie net so populêr sou wees nie. Langenhoven verheerlik die smaak van die ongekunstelde veewagter en loop dus die eerste verwyt mis; dat hy soms met opset slegter as sy beste skrywe om party lesers te vang, erken hy rondborstig: ‘As ons dan nie die smaak na die boek kan maak nie, moet ons die boek na die smaak maak’. Hierin vind ek die tweede oorsaak van die ongelyke gehalte van Langenhoven se werk. Hy gee nie altoos die beste wat in hom is nie, hy word | |
[pagina 512]
| |
soms ontrou aan die innerlike stem, juis deur sy grote liefde vir die onontwikkeldes. Die edele motief kan ons almal waardeer, al betreur ons partymaal die letterkundige gevolge daarvan. Maar net soos Multatuli werp hy met veragting alle skrywerseer van hom af. Of die ‘deskundige’ fynproewers sy werk ‘mooi’ vind - daaraan steur hy hom nie; hy wil maar net sy volk dien.Ga naar voetnoot1) Uit 'n kulturele oogpunt is daar heelwat vir Langenhoven se standpunt te sê. Die herdrukke van sy populêre volksboekies bewys dat daar behoefte is aan eenvoudige leesstof. En selfs in so 'n bioskoopverhaaltjie soos Verre Dae, is daar af en toe 'n opflikkering wat ons herinner aan die beste werk van die geniale skrywer. Maar dit is werk wat alleen in 'n tydelike behoefte voorsien, 'n kunsvaardige bedenksel tot vermaak van die menigte, wat nie die onbevoorregtes se smaak sal veredel nie. Die groot volkskunstenaar vertolk nie net die gevoelens van die onontwikkelde massa nie, maar voed dié massa op, sodat dit die vertolking van die beste wat in die kunstenaar self is, kan navoel en waardeer. Gelukkig het Langenhoven ook, deur die hartstogtelike uiting van alles wat daar in sy siel omgaan, bygedra tot die kulturele verryking van ons volk - sonder om altoos aan die teoretiese veewagter te dink. Sy strewe om die verhewenste te bereik ‘langes die weg van die allernederigste eenvoud’ is 'n loflike ideaal, maar die bewering dat die letterkundige meesterstukke van die wêreld nie te hoog is vir die ongekunstelde volk nie,Ga naar voetnoot2) berus op 'n drogredenasie. Vir die onbedorwe veewagter sou Homerus glad onverstaanbaar wees, terwyl 'n groot gedeeltè van die Bybel, selfs vir die ontwikkelde leser, onoorkoomlike moeilikhede oplewer. Maar die verklaring wat Langenhoven van sy stelling gegee hetGa naar voetnoot3) help ons om sy strewe beter te verstaan. Die verhewe eenvoud van die Bybel is sy ideaal; hy het 'n onversoenlike afkeer van ‘harsingspinnerakke en frase-opstapelings’, en hoogdrawendheid is vir hom ‘'n skone snobbery’.Ga naar voetnoot4) In sy beste werk het hy dan ook 'n kernagtige eenvoud bereik, ten spyte van sy voorliefde vir spitsvondige woordspelings en vernuftig bedagte antiteses. Die | |
[pagina 513]
| |
karakteristiek wat hy van Macaulay se styl gee is ook in hoofsaak op sy eie van toepassing: ‘Sy skoonheid van uitdrukking, sy opeenvolging van verrassende beelde; sy antiteses, sy pittige aforismes, sy - hoe sal ek dit noem? - sy sensasionele verskeidenheid en skilderagtigheid, maak sy geskiedskrifte boeiend soos 'n roman en sleep die leser saam.’ Langenhoven erken dan ook dat hy ‘in (s)y jeugdige jare, en tot nie alte jeugdig meer nie, geweldig onder die invloed van Macaulay se styl geval het’.Ga naar voetnoot1) So terloops het ek daarop gewys hoe Langenhoven sekere stokperdjies van Multatuli oorgeneem het en ook hoe dié se menings en styl hom beïnvloed het. Dit verminder natuurlik gladnie die waarde van sy werk nie, want Langenhoven het sonder enige twyfel sy eie, oorspronklike stem. By alle ooreenkomste is daar dan ook radikale verskille tussen die twee skrywers. In die plek van Multatuli se oppervlakkige materialisme vind ons by Langenhoven 'n hartstogtelike idealisme. Albei is naarstige soekers na waarheid, wat 'n onversoenlike haat koester teen alle doktrinêre napraters, maar met offervaardige liefde die saak van die verdruktes behartig. Op hul soektog na waarheid kom hul in botsing met baie ‘gevestigde’ opinies, wat hul met revolusionêre heftigheid bestorm en deur geestige spot ontsenu. Die gawe van 'n uiters ratse oordeel verlei hulle soms tot ligsinnige menings en 'n minagtende houding teenoor wat werklik groot is. Albei besit 'n besonder geestige vernuf en 'n sterk ontwikkelde taalgevoel. Selfs waar hul denkbeelde op gebrekkige kennis berus, en die indruk maak van dilettantisme, bevat dit meestal 'n vrugbare kiem, wat later tot volle rypheid kan ontwikkel. Multatuli bereik nie altoos die waarheid nie, omdat sy gees so verbitter is deur gelede onreg; Langenhoven egter, oortuig ons dikwels deur die logiese gang van sy betoog, en ontroer ons deur 'n stem vol teerheid en liefde. Multatuli se bespotting van die godsdiens slaan oor in profanasie en 'n opsigtige pronkery met ongeloof; Langenhoven worstel ook met die onoplosbare raaisels van die lewe, maar het 'n kinderlike geloof in die wysheid van die Albestierder: ‘Ek is ouderwets genoeg om vas oortuig te wees van (Gods) persoonlike, doelbewuste en almagtige bestiering van die lotgevalle van tale en volke.’Ga naar voetnoot2) Op 'n ander plek sê hy: | |
[pagina 514]
| |
‘Nooit het ons gesien die Onsienbare, nooit geken die Onkenbare nie. Maar om ons heen, in die dwarrelende kragpuntjies van die atome, in die swaai van sonnestelsels en gesterntes sien ons Sy Almag. En binne in ons hart voel ons Sy Liefde....’ Geen wonder dat Multatuli se bitterheid en hooghartige spot Langenhoven telkens weer afstoot van sy geliefkoosde outeur nie, wie se felle kritiek in hoofsaak negatief gebly het. By Langenhoven kry ons nie die bytende sarkasme wat die lewe self wil bespot nie, maar die gesonde, optimistiese ironie, wat deur wegruiming van ridikule uitwasse, die ingeskape goedheid van die mens des te beter wil laat sien. Dit is sy besondere verdienste, dat hy in 'n kritieke oorgangsperiode, die kultureel verbasterde Afrikaner met die striemende voorslaghoue van sy geestige spot getref het, en ook daardeur die louhartige twyfelaar tot volle nasionale bewustheid gevoer het. Ook as satiris is hy die volksopvoeder, wat hom ten doel gestel het om die oppervlakkige aankleefsels van 'n vreemde beskawing te hekel en daardeur die groei van 'n rasegte Afrikaanse kultuur te bevorder.Ga naar voetnoot1) Dit sal sy roem bly dat hy een van ons eerste kunstenaars was, wat die Afrikaanse volk geestes- en sielevoedsel verskaf het, wat die nasie se leeshonger bevredig het deur dit die daaglikse brood van sy eenvoudige woord te gee. In hoë mate het hy sy ideaal bereik, want sy boeke word op die platteland in die eensame boerewoning gewaardeer en die grootste gedeelte daarvan besit ook soveel literêre verdienste dat die hoogsontwikkeldes dit met genot lees. As 'n skrywer se werk toegang vind by mense wat hoegenaamd geen letterkundige opleiding gehad het nie, wat dikwels liggaamlik afgemat is en met allerhande stoflike sorge te kampe het, dan word hy inderdaad 'n krag in die lewe van die nasie. Dié mense moet 'n literatuur hê waarin hulle nie alleen aangename verposing, maar ook artistieke genot kan vind, en terselfdertyd moet hulle onbewus, verstandelik ontwikkel en sedelik veredel word. Wie sal ontken dat Langenhoven met sy veelsydige talente hierdie benydbare en verantwoordelike taak deurgaans op waardige en geniale wyse volbring het?Ga naar voetnoot2) |
|