§ 6. Bybelverhale.
Skaduwees van Nasaret (1927).
In U Dienswillige Dienaar vertel Langenhoven ons van die geloofstwyfel en godsdiensstryd van sy studentetyd en voeg dan daarby: ‘Had ek in daardie tyd maar so 'n eenvoudige boekie in die hande gekry soos my eie Skaduwees van Nasaret sou dit my redding gewees het.’ Die brief aan 'n twyfelende student bevat 'n persoonlike belydenis waarin sy ‘jarelange worstelings.... in enkele paragrawe saam(ge)pers (is).’ Dis 'n merkwaardige dokument wat ons 'n intieme blik gee op die doolgang van 'n soekende siel: ‘'n Smagtende kind, wat weet dat hy 'n Vader het, maar wanhopig onseker is omtrent Sy gebod en Sy liefde, en verdoem word omdat hy vertwyfeld na sekerheid soek.’ Uiteindelik, na veel ondersoek en twyfel, vind hy terug ‘die God van my kinderdae, van my Pappie en Mammie.’ En hierdie hele werkie is deurdrenk van die tederheid van gelukkige kinderdae toe hy nog die Almagtige kon soebat om sy siek hondjie nie te laat doodgaan nie. Maar daarin is ook die besonke wysheid van die Christen wat in die lewensleer van Jesus van Nasaret 'n vaste anker gevind het en oortuig is dat alle kultuuropbou sonder godsdiens waardeloos is.
In ses verdigte briewe deel 'n Griekse wysgeer, Pontius Pilatus, 'n skrifgeleerde, 'n Fariseër, Martha, die Reine, en Magdalena, die Gereinigde, hul indrukke mee omtrent die persoon en leerstellings van Jesus. Uitstekend slaag Langenhoven daarin om deur die gedagtegang en styl die individualiteit van elke briefskrywer te tipeer. Sy aanvulling en uitbreiding van die Bybelse gegewens gee kleur en lewendigheid aan die welbekende lydensgeskiedenis.