Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 5. Kinderverhale.'n Breedvoerige beskouing van Langenhoven se kinderverhale val buiten die bestek van hierdie werk. Oorslaan wil ek dit egter nie, omdat ons hier veral in direkte aanraking kom met die innige menslikheid van ‘'n ou kinderhart’, oud in jare miskien, maar nog steeds fris van gees. By die bespreking van die Fantasieë het ons al gesien met hoeveel tederheid Boet Nelie verwyl by die herinneringe uit sy eie kinderjare. En in die bekende Wiegliedjie sus hy met die klankvolle onsin van 'n liefhebbende moeder vir kindjie aan slaap op die fluistermaat van vertederende verkleinwoordjies en kinderlike krompraat: ‘Doedoe dan, liefstetjie,
Moeder se diefstetjie!
Doedoe maar, tapies maar -
Moedertjie wakies maar,
Wiegies maar, sussies maar, kindjielief tapies maar!’
As Langenhoven vir die kleinspan skrywe, dan vergeet hy al die sonde met die bure en die ergernis wat die geleerdes hom aandoen. Vir 'n tydlank sluit hy hom op in 'n besondere sfeer, waar die kriewelrige kwellings van die gewone lewe nie sy stemming kan bederwe nie. In die gevoelige ritme van sy melodieuse sinne voel ek die trilling van 'n egte gevoel, die toegespitste, gewyde aandag van iemand wat hom diep ingeleef het in die kindersiel; daarom het alles wat hy beskrywe iets van die donsige frisheid van die kinderlike verbeelding. Langenhoven het nie tevergeefs gesug nie: ‘Maar as ek iets terugwens is
dit, dat ek by my ouderdom
my kinderhart weer mog bekom -
met fleur van lus en geur van smaak,
en groot belang in kleine saak....’
In Die Eensame Hoop maak hy gebruik van die allegoriese Vader Tyd en die nooientjie Hoop uit sy toneelstukke om die kinders die vroegste geskiedenis van Suid-Afrika te vertel. ‘Kyk, verbeel nou maar vir julle dat daar 'n ou man is wat baie, baie | |
[pagina 501]
| |
oud is, ouer as julle oupappie, en julle oupappie se oupappie se oupappie, as dié nog sou geleef het; ek kan julle nooit sê hoe oud nie.’ Hoe word deur so 'n aanhef nie dadelik die regte snaar aangeroer nie! En dwarsdeur die verhaal hou Langenhoven die kinders se aandag vas deur die teenstelling tussen die geduldige, wêreldwyse grysaard en die lewenslustige nooientjie, wat so besorgd is oor haar mooi, onbewoonde land. Deur hul gesprekke moet die kinders se besef van die langsame tydsverloop aangewakker word en ook hul insig in historiese verskynsels verdiep word. In Brolloks en Bittergal word die kinders weggevoer na die wonderwêreld van Grimm. Uitstekend slaag Langenhoven daarin om sy towenaars in 'n eg Afrikaanse omgewing te laat optree en hy verbly ons hart weer deur die manier waarop hy hom inleef in die geesteslewe van die kind. By Die Krismiskinders staan ek 'n bietjie langer stil, omdat ons daaruit iets leer omtrent die ideaal van 'n kunstenaar. | |
Die Krismiskinders (1927).Die Krismiskinders is 'n verhaal van drie wonderkinders, wat as Kersfeesgeskenk aan 'n eensame egpaar gebring word deur Vader Krismis. Die ouers woon in die nabyheid van die Kangogrotte en met wonderlike teerheid teken Langenhoven die gelukkige familielewe. Die huisdiere ontbreek ook nie, want Vader Krismis bring vir sy kinders Woewoef en Miaau. Hy het egter nog waardevoller presente gebring: Talie kry 'n viool, Aristo 'n boek met versies en stories, Sontie 'n verfdoos. Op geheimsinnige wyse kry die drie kunstenaarskinders onderrig in die eerste beginsels van hulle kuns. Talie hoor 'n onverwagte stemmetjie en as sy twyfel aan die egtheid daarvan, kry sy 'n kostelike lessie oor die onderskeid en die betreklike waarde van die sigbare en onsigbare dinge. (p. 36.) ‘Harmonie’ leer haar hoe om die snare van haar viool te stem en na 'n gereelde kursus van hierdie onsigbare onderwyseres word sy 'n Afrikaanse Pied Piper, wat deur haar soete musiek die towermag besit ‘to draw all creatures living beneath the sun, that creep or swim or fly or run....’ Dit maak 'n end aan die erflike vyandskap tussen Woewoef en Miaau, wat die skrywer met sulke treffende kinderbeelde geteken het. Die kat is jaloers op die nare hond, wat haar bedags nooit 'n kansie gee om teen haar geliefde meesteressie te skuur nie. Ek moet die hele toneeltjie afskrywe om te laat sien hoe goed Langenhoven die egte kindertoon getref het. Miaau sit ontevrede op die vensterbank. ‘Haar hare staan orénd, haar stêrt is viermaal so dik as wat hy behoort te wees, en sy swaai hom heen en weer nes 'n vasgemaakte slang s'n. Sy brom nes 'n jong donderweertjie, en kort-kort spoeg sy Tjoeg, Tjoeg. Dis vir Woewoef wat sy so kwaad is. Sy wil graag afspring van die vensterbank af en na haar Kleinnooi toe gaan en op haar skoot gaan lê en met die | |
[pagina 502]
| |
gesiggie teen haar bors aan boor, en skuur en r-r-r-r maak van lekkerkry nes 'n ketel wat kook. Maar dáar sit die nare hond wat nooit van die Kleinnooi af wil weggaan sodat 'n ander ook by haar kan kom nie. Waarom gaan hy nie kyk of daar beeste in die gesaaides kwaaddoen en byt hulle nie; dis mos sy werk. So brom Miaau 'n lang dreun van 'n klagte aanmekaar. Woewoef sit maar ewe kalm en op sy gemak; hy maak of hy haar nie sien of hoor nie. Hy had nie nodig om kwaad te wees nie.’ Is hierdie beskrywing, waarin ek 'n paar plastiese trekkies gekursiveer het, nie 'n volmaakte kiekie uit die dierelewe nie? Deur klank en beeld staan daar vlak voor ons: die opgewonde kat en die grote lummel van 'n hond, wat in die trotse besef van sy meerderwaardigheid, Miaau se spektakels met stoïsynse kalmte ignoreer.Ga naar voetnoot1) Maar laat ons sien wat van die seuntjies word. Aristo kry van Minerva les in die digkuns, Sontie van Aurora in die skilderkuns ‘en van toe af het daar nuwe skoonheid gekom in die lewe van die mense van die boerehuisie daar in die Kango’. Maar daar kom 'n end aan die gelukkige saamleef in die idilliese omgewing. Die drie kunstenaartjies het 'n hoë roeping. Die mense moet hard werk, maar daar is ook 'n rustyd ‘en in die rustyd is dit goed dat ons ons siel verskoon en verheerlik en dat ons hart nuwe moed skep.’ Die kinderkunstenaars moet die wye wêreld in. Hulle talente is te groot om net aan vyf mense bestee te word. Op die sewende kersfees kry hulle van Vader Krismis opdrag om 'n laaste aandenking vir hul ouers na te laat - elkeen in sy besondere kuns. Op die agste kersfees word hul deur Boesmans weggevoer. Nadat hulle die Boesmans deur hul kunsvaardigheid onskadelik gemaak het, word hulle deur ‘Harmonie’ verder onderrig omtrent die doel van hul verhewe roeping in die wêreld. Hulle is op die verjaarsdag van Jesus gebore en hulle moet die leer van dié goddelike Kunstenaar verder gaan verkondig. ‘Weet julle wat het Hy ons kom leer? Dat ons lewe nie ons eie alleen is nie; dat ons nie net ons eie geluk moet soek nie; dat ons hier op aarde leef om ander mense se lewe soet te maak. Verstaan julle, kinders?’ Maar dan kom die Versoeker in die vorm van 'n monsteragtige vlermuis, wat hulle deur die donker spelonke van die Kangogrotte voer na die Koning van die Donker. Al drie weier egter om hul kuns te verkrag deur aan sy duiwelse opdrag te voldoen. Talie antwoord hom aldus: ‘My kuns is in die diens van die land van die Koning van die Lig.... My kuns is vir my heilig. My kuns is die kuns van skoonheid, en van soetheid, en van liefde....’ As gevolg van die weiering, word die drie kunstenaars in die diepste afgrond gewerp ‘in die diepte van die uiterste duisternis’. Daar slaap | |
[pagina 503]
| |
hulle, totdat hulle miskien eendag sal gewek word deur 'n ligstraaltjie, wat iemand van die Koning van die Lig moet leen. Die sinnebeeldige betekenis van ‘die laaste Krismis’ sal die kinders natuurlik nie begryp nie, en die realistiese beskrywing van die tog deur die stikdonker grotte na die ryk der duisternis sal party 'n koue grieseling op die lyf ja. ‘Weer volg die lange stilte, die geruisie, die drup....drup....drup.’ Die suggestiewe werking van hierdie telkens herhaalde sin sal miskien 'n gevoelige kind bang maak. In alle ander opsigte is dit 'n voortreflike kinderverhaal, wat buitendien deur sy innigheid van toon en die plastiese skoonheid van sy styl ook deur kinders ‘tot agt-en-taggentig’ toe met genoeë sal gelees word. Ook om sy vertolking van die kunstenaars-ideaal verdien dit die belangstelling van volwassenes. By 'n skrywer wat so herhaaldelik kla oor verkeerde uitlegging van sy doel, voel 'n mens skrikkerig om jou aan 'n verklaring te waag. Tog wil ek hier my vertolking van die sprokie gee. Daar is kunstenaars wat hul goddelike gawe onteer deur dit om vuil gewin in die diens te stel van wat laag is. Aristo egter, weier om 'n gedig te maak, waarin daar geen glimlag, geen liefde, geen goedheid is nie. Sontie weier om die lelike te skilder ter wille van die lelike. Hy sê: ‘Ek het skaduwees geskilder om te wys waarvandaan die lig skyn.’ Ook Talie weier om die vors van die duisternis te dien. Ons het al haar antwoord gehoor en ons het ook gesien hoe al drie se ideaal dié van Jesus was. Die Koning van die Donker kan wel die liggame van die kunstenaars martel, maar hul siele is onsterflik. Immers, die siel van 'n kunstenaar leef voort in sy werke. Die een geslag kan die ander geslag opvolg sonder dat 'n sielsverwant die boodskap van die kunstenaar begryp. Baie mense het die grotte besoek, maar hulle het nooit by die donkerste kerker van die kunstenaartjies gekom nie. So is daar baie lesers wat 'n oppervlakkige kennis van die groot kunstenaars se werke het, sonder dat hul ooit die suiwerste essensie daarvan aangevoel het. Maar ‘die kleinste liggie wat ons leen van die Koning van die Lig sal genoeg wees’ om die donker kerker te verlig. Wie die werk van 'n kunstenaar met liefde nader, sal dit ook begryp. Ander hulpmiddele - geleerdheid, kennis, ens. - is nie van soveel belang nie. Die lig van die liefde alleen kan die duisternis laat opklaar. Dit kan ook wees dat Langenhoven by die tog en verblyf in die donker grotte gedink het aan die ‘hellevaart’ wat die meeste kunstenaars moet deurmaak voordat daar diepte in hul kuns kom. Die kunstenaar-kindertjies het 'n onbekommerde jeug gehad, maar hulle moet deur Gethsemane's van die diepste ellende gaan, voordat hulle kuns tot volle ontplooiing kan kom. Op hulle rus die seën, maar ook die vloek van die talente. | |
[pagina 504]
| |
In Aan Stille Waters het Langenhoven dieselfde gedagte op treffende wyse uitgedruk: ‘Kindertjies, suigelinge, babetjies, almal van hulle (d.w.s. die kunstenaars) - hulpelose met die gees van gode. Hulle pas nie op die aarde nie, daarom roei hulle hulle self uit, waar hulle maters hulle nie uitroei nie.... Eensaam, onbegrepe, leg hulle hulle weg af.... Arme geteisterde en self-geteisterde, verdwaalde hemellinge op 'n vreemde, meedogenlose aarde - hulle kom hier om te dien en om te ly. En op die pad van diens bly hulle lê, gemartel, gefolter, gekruisig, veroordeel, misverstaan.’ |
|