Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 4. Ontspanningslektuur.Loeloeraai (1923).In hierdie verhaal word Kerneels se familie besoek deur 'n soort Ubermensch, Loeloeraai, wat van Venus afdaal in 'n sfeer. Die hoë besoeker veroorsaak natuurlik 'n geweldige opskudding in Oudtshoorn en die skrywer behandel al die verwikkelinge waartoe dit aanleiding gee op die humoristies-satiriese manier van Sonde met die Bure. Oom Stoffel, wat nog altyd probeer om sy rente in te vorder, en ook ou Watwo verskyn op die toneel, terwyl Herrie en Jakkals vir afleiding sorg. Die magistraat probeer om die onwettige immigrant aan te keer tronk-toe, maar Loeloeraai oorbluf hom deur 'n kragmiddel. Die regering stuur nou ‘Majoor Sir Thomas Ietsofanders met 'n een-oog-glas en 'n peits-steel-rotting-kierietjie’ om Loeloeraai om te koop met aardse eerbewyse en geld. Sir Thomas, wat sy base met soveel sukses op hoë begrafnisse verteenwoordig het, kan dié slag niks uitvoer nie. Die redakteur van Die Burger smeek Loeloeraai om tog 'n ietsie van sy hoëre kennis mee te deel ten einde die aardse ellende te verminder. Loeloeraai moet egter weier, omdat kennis wat nie langs die natuurlike weg verkry word nie, net tot groter ellende lei. Hy het darem soveel tekens van vooruitgang op die aarde gesien, dat daar alle kans is vir dié planeet om ook eendag die gelukstaat van Venus te bereik, langs die weg van geleidelike evolusie. Met 'n seer hart aanskou hy ons ellende maar: ‘Aan geen wesens kan geluk van buite meegedeel word nie.’ Ons moet ons eie saligheid uitwerk. Loeloeraai neem sy gasheer en die se familie saam op 'n plesiertoggie na die maan, maar die rekening vir Engela se sykouse veroorsaak enige vertraging. Oom Stoffel kan hom nou met sy eie oë oortuig dat die aarde draai. Kerneels stuur deur middel van 'n draadlose telefoon verslag van hul ondervindings na Die Burger. Op die sweeftog deur die ruimte gaan die gesprekke natuurlik oor astronomiese besonderhede wat op populêre wyse behandel word, terwyl Loeloeraai af en toe 'n verklarende opmerking maak. Nadat die sfeer deur 'n ondermaanse labirint gedaal het, vind dit eindelik 'n rusplek op die oewer van 'n meer, waar daar lekker piekniek gehou word. Loeloeraai bring sy gaste weer aarde-toe en vertrek dan self na Venus. Die verhaal is 'n gelukkige verbinding van humor en populêre sterrekunde, met 'n etiese motief uitgedruk deur die woorde van Vader Tyd wat die skrywer aan die verhaal laat voorafgaan: | |
[pagina 492]
| |
‘Ek het tot hiertoe nog maar een weg gesien waardeur nasies en mensies hulle geluk gevind het, en dit was die weg waarop hulle hom self uitgewerk het.’ H.G. Wells laat in sy First Men in the Moon (1913) twee persone 'n tog na die maan onderneem in 'n sfeer, nadat hulle deur 'n geheimsinnige stof wat na die uitvinder ‘Cavorite’ heet, die werking van die swaartekrag oormeester het. In die uitwerking van besonderhede is daar heelwat ooreenkoms tussen die twee boeke, al het Langenhoven ook in die begin die verhouding omgekeer deur die Venusbewoner na die aarde te bring. Hy mag miskien een en ander aan Wells ontleen het, die humoristiese inkleding is onteenseglik sy eie en daarby suiwer Afrikaans. | |
Die Wagtende Wêreld (1927).Adelryk, 'n Stellenbosse student, ontdek na lang proefnemings, 'n proses ‘om die atoom kunsmatiglik te ontbind en die snelheid van ontbinding te beheers.’ Deur hierdie revolusionêre ontdekking word 'n onuitputlike bron van krag beskikbaar gestel wat 'n einde kan maak aan alle ekonomiese botsings en oorloë. Die plotselinge vernietiging van die waarde van goud kan egter so 'n groot ramp te weeg bring dat dit nie ‘minder kan beteken as die ondergang van die beskawing nie.’ Adelryk worstel met hierdie probleem totdat die geweldige verantwoordelikheid hom dwing om troos te soek by sy vriend, Hein, wat hom trou bystaan. Die saak word aan die Senaat van die Universiteit voorgelê en ook bespreek op 'n Kabinetsitting. Niemand kan egter Adelryk beweeg om sy skrikwekkende geheim te openbaar nie. Hy wys alle huldebetoon af en gaan na die hartbeeshuisie van sy verarmde ouers om skape op te pas. Die kluisenaar word egter nie met rus gelaat nie, want die kapitalistiese magte, en selfs die Russiese Regering, wend pogings aan om die geheim te bemagtig. Laasgenoemde slaag daar amper in om deur 'n verfynde marteling Adelryk tot openbaring te dwing. Uiteindelik word die sterwende Adelryk na Genève vervoer waar die saak deur die Volkebond bespreek word. Verrassend is die ontknoping: Adelryk graveer sy formules op 'n goudplaat op voorwaarde dat dit in sy doodkis geplaas moet word. Onder toesig van die Volkebond moet die kis in 'n gletserskeur afgerol word, sodat die geheim eers na sewe jaar beskikbaar sal wees. Gedurende hierdie periode moet die ekonome dan middele beraam om die wêreld voor te berei deur 'n nuwe basis in plaas van goud te vind as ‘algemene wêreld-erkende ruilmiddel’. Hierdie skets van ‘die wagtende wêreld, wagtend op die kennis wat hom sal verlos...’ sluit aan by die gedagtegang van Loeloeraai. Langenhoven het ernstig nagedink oor die toekomstige ontwikkelingsgang van die mensdom en kom hier, soos ander ondersoekers, tot die slotsom dat | |
[pagina 493]
| |
die sedelike vooruitgang van die mens ver agtergebly het by sy tegniese bedrewenheid. Daardeur ontstaan die gevaar dat die moderne mens met sy knap uitvindings die hele beskawing te gronde kan rig. | |
Die Lig van Verre Dae - 1752 (1923).Oor hierdie verhaaltjie kan ons kort wees. Dis 'n eie kind van Johannes van Wyk, 'n onskuldige avontuurstorie, wat met 'n dun draadjie vasgehaak is aan 'n jaartal. Jongmense van veertien tot sewentien jaar sal dit met plesier lees, omdat Langenhoven prettig vertel en vir spanning gesorg het. So tussen die storie deur sal hul inligting omtrent die eerste Trekkers kry, wat die geskiedenislesse van die onderwyser bevestig en as oorbekend kan oorgeslaan word. Gelyktydig met die verskyning van die boek het Langenhoven in Aan Stille Waters geskryf: ‘Ten opsigte van sy leesstof is die grote gros van ons volwasse volk kinders.’ Met so 'n teorie skryf 'n mens so 'n boek. | |
Geeste op Aarde (1924).In Sonde met die Bure het Langenhoven al getoon dat hy 'n goeie spookstorie kan vertel, en die agt verhaaltjies van hierdie bundel bewys dat hy die tegniek van die kortverhaal goed beheers. Elke storie word meegedeel deur die persoon wat self in aanraking gekom het met die bo-natuurlike verskynsels, en op dié manier is daar direkte waarneming en afwisseling van styl en metode in die versameling. Op eenvoudige maar doeltreffende wyse word die spookomgewing aangedui: 'n donker eikelaan met hier en daar 'n kolletjie maanlig, 'n verwaarloosde plaas, die woonhuis toegegroei onder allerlei bosgasie, 'n nou, rotsagtige poort, die uitgang bewaak deur twee reusagtige taaibosse, wat soos skildwagte staan, 'n eensame strand, flou verlig deur 'n dun maansekeltjie, ens. Deur allerlei suggestiewe besonderhede slaag die skrywer daarin om die illusie te versterk dat sy spookgedaantes nie willekeurig uitgedagte verskrikkinge is nie, wat met sataniese lis die vereensaamde reisiger op ons verlate vlaktes onverwags bespring, maar dolende geeste met menslike eienskappe. En dit bereik Langenhoven, nie deur 'n fynuitgewerkte beskrywing nie, maar meestal deur 'n enkele aanduiding. Ek wys o.a. op die vloekwoord in die brief, en die stofspore van ongesiene voete (albei in Die Bouval op Wilgerdal), die rilling van Die Wit Hand as daar sprake is van 'n moordsaak. Die kern van elke verhaal is 'n geheimsinnige handeling of 'n grieselige verskrikking, maar die ontwikkeling en ontknoping hang nie af van 'n onwaarskynlike sameloop van omstandighede nie. Elke beweging word gemotiveer, en ofskoon dit op fragmentariese wyse geskied, voel ons steeds dat die geeste eg-menslike beweegredes het om hul te bemoei met die sake van gewone sterwelinge. | |
[pagina 494]
| |
Meesterlik word die spanning voorberei en gehandhaaf, totdat 'n verrassende klimaks, soms 'n enkele sinnetjie, die oplossing bring. 'n Toktok aan 'n tussenmuur bring twee koppige verloofdes weer bymekaar. Op humoristiese wyse vertel oom Dolf die geval in teenwoordigheid van die betrokke persone, en sy uitweidings oor egtelike verskilletjies herinner ons aan die verhouding tussen Kerneels en Vroutjie. Temidde van die feesvreugde word die spanning verhoog deur die koppige erns van die verloofdes en die stygende ongeduld van die oubaas. Terwyl hy met Sofia sit en redeneer oor die geheimsinnige tok-tok, hoor hulle dit albei weer. Die oubaas laat hom egter nie uit die veld slaan nie en na 'n deeglike ondersoek kom die verrassende ontknoping: ‘My kindjie, hierdie tussenmuur is vyf voet dik.’ In Die Hangende Gedaantes word die dolle kaskenades van 'n vrolike troep studente, wat in die maanlig piekniek hou, beskryf. Die koms van 'n ou reisiger, wat 'n spookstorie vertel, onderbreek die stemming van verspotte uitgelatenheid. Maar vlak op die komiese ontknoping volg die grieselige ontdekking, wat die studentepret plotseling laat oorslaan tot verbysterende ontsetting: ‘Agter, dieper in die skaduwee, hang nog twee (liggame).’ Net so verrassend is die ontknoping in Die Roepstem van die See, waar op 'n maanverligte strand twee geliefdes in die dood herenig word. Hierdie knap vertelde spookstories is 'n welkome aanwins vir ons volksliteratuur. Die persone en toestande daarin beskryf is tipies Afrikaans; die styl het 'n eenvoudige aantreklikheid en soms 'n skertsende lugtigheid, wat ons die beklemming van die spookatmosfeer laat vergeet. | |
Die Wandelende Geraamte en ander Verskynings (1930).Langenhoven het hom vererg oor die ‘onnosele verspottigheid’ van die gewone spook, wat nooit 'n ‘redelike oogmerk’ het nie. Hierdie verhale moet dien om ‘die arme belasterde geeste verstandelik te rehabiliteer.’ Dit is dus 'n voortsetting van Geeste op Aarde, waarin dieselfde metode toegepas is. 'n Wandelende geraamte verskyn om 'n eerlike begrafnis te versoek vir 'n tweeling-broer; die spook van Vergeleë lewer 'n moordenaar aan die gereg oor; Piet Weiland se misdaad, hoe vernuftig ook al uitgedink, word geopenbaar; die gedaante van 'n moeder dwing 'n eensame reisiger om sy reis in 'n koue wintersnag voort te sit, sodat haar kindjie gered kan word; 'n dubbele skaduwee agtervolg 'n bedrieër, wat die lewensgeluk van 'n jong paartjie verwoes het, totdat hy sy misdaad bely; 'n professor wat glo dat die dood gelykstaan met totale vernietiging word 'n onherkenbare spook sonder gedaante - ‘'n wil, 'n gevoel, 'n bewustheid, 'n geheue, en verder niks’ - totdat hy deur ‘gewilligheid tot offerande’ sy geestelike beeld terugkry; ou Mal Hans word uit die folte- | |
[pagina 495]
| |
ringe van 'n geloofstryd gered deur 'n stralende gedaante wat sy ootmoed beloon deur hom ‘die kennis van die lig’ mee te deel; 'n geliefde verskyn om 'n afskeidsgroet te bring, of voer haar maat saam om hom deur trooswoorde te bemoedig vir 'n eensame lewenstryd; die spookgestalte van 'n troue hond red sy baas uit die stortwaters deur nog net betyds hulp te gaan haal. Uit hierdie kort opsomming blyk duidelik dat Langenhoven se spoke ‘altyd 'n verstaanbare beweegrede’ het en hul opdrag uitvoer ‘met 'n verstandige doelbewustheid’. Die skrywer prikkel ons nuuskierigheid nie deur onverklaarbare geheimsinnighede nie, want as die spook sy rol gespeel het is die hele geval opgehelder en die raaisel opgelos. Die misterieuse spookatmosfeer word net effentjies aangedui en die spook verskyn om die ontknoping te bewerk. Maar Langenhoven hou ons belangstelling vas deur die verhaal self, en die persone wat optree sou ons interesseer selfs sonder enige spookbyvoegsels. 'n Belangwekkende figuur in hierdie bundel is Koos Heyns van Uniondale wat optree as speurder in die spokewêreld, en steeds daarin slaag om hul geheime tekens te verklaar. | |
Mof en sy Mense (1926).Oor die ontstaan van hierdie verhaal het Langenhoven een en ander meegedeel in Aan Stille Waters. Twee vriende het hom aangespoor om 'n boek te skrywe oor 'n hond, wat nie spesiaal vir kinders bedoel sou wees nie. Lank het hy tevergeefs gesoek, maar uiteindelik ‘vlieg die hele boek - ergens klaar uitgewerk, ek weet nie waar nie - in my gedagte. En daardie aand het ek begint neer te skryf, op 'n diktaat van ergens binne wat te vinnig was vir my pen om by te kom.’ In vier dae se tyd was die eerste redaksie klaar en op die veertiende dag word die finale teks aan die drukkers gestuur. Al die tyd is Mof sy lastige maat, maar tewens ook sy inspirasie. Hy skryf met die ‘een hand op die papier en die ander in Herrie (Mof) se bek.’ Op 'n ander manier sou die boek ongeskrewe gebly het, ‘want die inspirasie daarvan was my bobbejaanmol van vier maande oud en 31 pond gewig, Herrie Kurriebellie Mof’. Iedereen wat van honde hou sal getref word deur die innige simpatie waarmee Langenhoven die verwantskap tussen mens en hond uitbeeld. Ons het al gesien hoe hy in sy humoristiese sketse telkens wegvlug van die lastige mense om troos te soek by die redelose diereGa naar voetnoot1). Herrie se slurp en logge krag kom goed te pas by komiese situasies, maar dis die honde veral waarop hy al sy liefde uitstort. Die hond is ‘die een dier op die wye wêreld wat ooit glimlag.... dubbeld glimlag van weerskante; met die stert wat swaai en die kwylende rooi bek, ha-ga-ga....’ By sy hond vind Langenhoven rus en genesing vir sy vermoeide gemoed; die roerende | |
[pagina 496]
| |
behoefte aan aanhanklikheid en onwankelbare trou van sy swygsame vriend verteder sy hart as hy huis-toe kom uit die mensewêreld, verbitter deur die klein ergernisse van die lewe, en geprikkel deur die oortollige woordevloed van sondesoekers. In die stille geselskap van sy hond herwin hy sy geloof in die mensheid. In een van sy allereerste sketse, Twee Oues van Dae het hy al op gevoelige wyse die verknogtheid van die hond Roman aan sy oubaas geskilder. 'n Naamgenoot van hierdie hond verrig heldedade in Verre Dae, terwyl Jakkals, Adeel en Kwagga, die Saphond, ook telkens op die toneel verskyn. In Mof en sy Mense is die hond egter min of meer die hooffiguur, wat in twee kinderlose gesinne optree as trooster van teleurgestelde ouers. Eers ontmoet ons Fiela met haar ses woelige kleintjies. Tussen haar en haar baas bestaan daar so 'n innige gemeenskap, dat hy elke beweginkie van die hond kan vertolk. Terwyl hy besig is om met Fiela te gesels, verskyn sy vrou op die toneel en hulle kom ooreen om die vetste outjie as hul eie aan te neem. By hierdie moederweelde voel die kinderlose vrou haar eensaamheid dubbel, en as hulle beraadslaag oor 'n naam vir die nuwe hond-kindjie volg daar 'n aandoenlike moment: ‘Ek het lankal oor 'n naam gedink, Pappie. 'n Moeder dink mos vooruit.... Die blinkigheid in haar oë word druppeltjies hierdie slag. Sy draai haar gesig weg en vee met haar vingers af dat hy nie moet merk nie. Hy laat nie merk dat hy darem gemerk het nie....’ In hierdie toneeltjie is daar nie 'n woord te veel of te min nie, selfs die Langenhoviaanse woordspeling hinder ons nie. So 'n suiwere weergawe van 'n subtiel-vroulike gewaarwording deur 'n manlike skrywer is seldsaam. Langenhoven het hom weleens smalend uitgelaat oor psigologiese spitsvondighede in 'n roman, maar hier gee hy ons 'n roerende voorbeeld van sielkundige dramatiek, waarin selfs Fiela 'n aandeel kry. Mooi word verder die kaskenades van die jong hondjies beskrywe en die houding van die teef teenoor haar woelige kroos. Maar een vir een verdwyn hulle en elke slag vergewe Fiela die verraad van haar Oubaas met ‘'n treurige tjankie’. Sy is 'n liefdevolle moeder, maar haar troue aanhanklikheid aan die Oubaas is nóg sterker. In 'n lewendige toneeltjie word Frikkie van Zyl se ontvangs deur Fiela en Mof beskrywe, as hy gedurende die griep-epidemie die laaste hulp aan hul base kom bewys. Net soos Sangiro het elke hond vir Langenhoven 'n byna menslike persoonlikheid. In Fiela se groot geheimsinnige oë is daar 'n menslike uitdrukking, en sy weet instinktief dat Frikkie 'n vriend is. Plegtig groet sy hom met die poot en gee haar droefheid deur huil-tjankies te kenne. Mof is nog in sy onbekommerde jeug en hy maak op onstuimige manier maats. Tydens sy base se siekte het hy al hoe meer waaghalserig geword en met Frikkie se koms stuif die ‘wolharige ongediertetjie’ soos 'n dwarrelwind om die hoek van die huis: | |
[pagina 497]
| |
‘Agter hom is 'n kalkoenmannetjie, sy vlerke tot 'n reusegestalte uitgesambreel, sy kop nes 'n blou kaaiman s'n.’ Die groot gestalte van die teefhond is egter 'n veilige fort en op komieklike wyse koggel die klein parmant sy vervolger uit: ‘Harrg, harrg,’ sê hy, uitdagend soos een wat tot sover nog die oorhand gehad het en van mening is om dit te behou. ‘Harrg, harrg!’ Hy kan nog nie sê ‘woef’ nie.’ Is dit nie 'n vermaaklike toneeltjie uit die dierelewe nie? Fiela bly getrou tot in die dood; sy sterf van honger tussen haar Oubaas en Ounooi se grafte. Die ligsinnige Mof gaan saam met sy nuwe baas. Onderweg raak Frikkie aan yl van die griep en skop in 'n bose bui die hondjie uit die kar. Met 'n verbryselde pootjie en 'n seer hartjie oor soveel onreg kom Mof op sy nuwe baas se plaas aangesukkel. Mof word nou langsamerhand 'n opgevoede hond en sy ‘karakterontwikkeling’ word in 'n reeks toneeltjies goed geteken. Hy bly spelerig van geaardheid, maar ontgroei die periode van ‘onverantwoordelike kinderbaldadigheid’. So fyngevoelig is hy, dat as sy baas hom per ongeluk met 'n kluit raak, daar 'n traan in sy oog blink. (p. 70.) Lief en leed deel hy met sy mense; saam met hulle eet hy die krummels van die armoede en as daar weer beter dae aanbreek word hy 'n toegewyde kindermeid. Gladnie geslaag is egter die tekening van Mof se mense nie, wat feitlik net in die verhaal optree om die hond 'n kans te gee om sy besondere gawes te ontwikkel. Hul lewensloop is eenvoudig 'n saamlapsel van die sonderlingste toevalle, soos ons die gewoond is van die onbedrewenste skrywer van 'n avontuurroman. Langenhoven doen nie eers die moeite om dié toevalle enigsins te motiveer nie. 'n Huwelik tussen 'n fris, gesonde boer en 'n meisie wat al twintig jaar verlam is, is natuurlik 'n uitsonderingsgeval. Dit sou die genie van die grootste kunstenaar vereis om so 'n huwelik tot 'n sielkundige noodwendigheid te maak. Nie die blote feit, die huweliksdaad, is interessant nie, maar die verborge sielewerking wat die man tot so 'n buitengewone daad aanspoor en wat die gebreklike vrou noop om die offer te aanvaar. Maar Langenhoven konstateer alleen die uiterlike feit, sy draadpoppies moet dans soos hy hulle rondtrek. In Aan Stille Waters het hy hom uitgelaat oor ‘die nadeel van kernagtigheid’. Hy gee die geraamte van 'n speurroman en sê dan: ‘Ek onkunstige, vinnige klaarprater, kon niks meer uit so 'n skat loswoeker nie as ternouernood twee kolom in 'n efemere dagblad.’ Die moderne romanskrywer egter, verklaar hy, sou daaruit 'n boek van ses- tot agthonderd paginas gedistilleer het o.a. deur ‘vervelige bladsye van “uitbeelding”, met 'n doolhof van uitdraaipaaie, met diepsinnige sielkunde en waansinnige komplekse, met langdradige omslagtigheid.... Ons Afrikaners draai en talm en sloer en sukkel nie met wat ons wil sê nie. Ons sê dit, rats en vinnig en klaar, sodat ons weer iets anders kan sê.’ | |
[pagina 498]
| |
Met hierdie verklaring het Langenhoven self sy krag en swakheid as skrywer aangedui. Sy krag lê in die kernagtigheid van sy logiese uitdrukkingsvermoë, sy swakheid as skepper van lewende karakters in die gebrek aan uitbeelding, wat hy as oorbodige vulsel beskou. Dit ontbreek hom geensins aan die gawe om die innerlike roersels van 'n mensesiel te peil nie, soos ons selfs in Mof en sy Mense gesien het. Maar hy gee die voorkeur daaraan om sy storie padlangs te vertel, en bepaal hom liewer by die nugter geobserveerde feit. Nadat hy in Aan Stille Waters die herinneringe van 'n Engelse regter bespreek het, sê hy: ‘En met my sal (die leser) dit betreur dat ons so min van (hier)die soort ware sielkundige verhale het teenoor so baie valse dramas en romans van kunsmatige siele.’ Onder die opskrif Slimme Waansin verklaar hy verder: ‘Met die oog op die oneindigheid van verskeidenheid van werkelik bestaande karakters wat deur die liewe God geskape is, lyk dit nie vir my of daar 'n menselike skepper is wat my aandag verdien vir sy verbeeldings-kreasies nie.’ Hierdie uitspraak vind ons ook by Multatuli: ‘Er is geen mensch wiens gemoedsgeschiedenis niet belangrijker is dan de langste “mooiste” gemaakte roman’ (Idee 252). Langenhoven se volkome gewettigde protes het natuurlik nie betrekking op die eintlike sielkundige roman nie, maar alleen op daardie uitwas van die genre, wat in plaas van psigologie-in-aksie en motivering, die leser verbyster deur 'n vervelende, haarfyne ontrafeling van sielestate en stemminge, of 'n kwasie-geleerde analise van sielskomplekse. Hy is afkerig van filosofiese bespieëlinge en spitsvondighede, en soek steeds na 'n houvas in die hom omringende werklikheid. Hy beweer selfs dat elke karaktertekenaar van betekenis sy figure geskep het ‘uit karakters om hom heen, of karakters uit die geskiedenis’. Hierdie oorwegings lei hom dan tot die kort geraamteverhaal, waar die feite met 'n minimum van uitbeelding en beskrywing eenvoudig gekonstateer word, soms met telegram-beknoptheid, soos o.a. in die wonderlike lewensloop van dr. Gert van Zyl. Vir die besondere leserskring waarvoor die skrywer hierdie boek bestem het, naamlik ‘kindertjies - en volwassenes byna soos kindertjies ongeletterd....’ sal dit waarskynlik aantreklike leesstof wees. Hoe fragmentaries die verhaal ook al mag wees, dit is uit 'n liefdevolle hart geskrywe en die verhouding tussen die verskillende persone word met opregte gevoel aangedui. Veral die altoos diensvaardige moeder wat so ongemerk haar liefdewerk verrig is met 'n paar trekkies goed geteken. Die hoofverdienste van die boekie lê egter in die goed geslaagde uitbeelding van Mof. | |
Donker Spore (1926).Donker Spore is die eerste speurdersverhaal in Afrikaans. Die spil waar- | |
[pagina 499]
| |
om die storie draai is 'n geheimsinnige moord in die Ladismithse distrik, en die aandag word volgens gewoonte gekonsentreer op die vraag: ‘Wie het dit gedoen?’ Die geheim van die moordenaar se identiteit word tot ongeveer in die middel van die verhaal bewaar en die ontsluiering daarvan vorm die klimaks. Dit ontbreek Van Duine nie aan buitengewone skerpsinnigheid nie, maar hy wyk tog af van die gestereotipeerde speurdersfiguur, wat gewoonlik 'n wonder van vernuf is en medelydend glimlag oor die domheid van sy medemense. Van Duine is naamlik 'n aspirantjoernalis, wat daarop uit is om 'n scoop te maak. In die gouigheid skraap hy ook nog 'n voorbeeldige nooi met wie hy sonder versuim na Natal afreis. Ter afwisseling sal hy op sy wittebroodstoertjie 'n geheimsinnige gouddiefstal ontrafel. Op die gebied van die liefde en die speurdery is Van Duine verbluffend snel, maar terwyl hy as minnaar net gewoon sentimenteel is, openbaar hy as detektief 'n interessante oorspronklikheid. Deur laasgenoemde eienskap veral, het die verhaal 'n aangename verposing vir 'n leë uurtjie geword, want Langenhoven het te veel goeie smaak om hom aan die gewone grieselighede van die detektieweroman te besondig. In plaas daarvan verras hy ons deur so 'n lewendige toneeltjie, soos die waarin die dorpse Sherlock Holmes probeer om 'n droë koe te melk! (p. 84 vlg.) In een van sy voorredes sê R. Austin Freeman, wat veel gedoen het om hierdie genre te veredel: ‘In die werklike lewe is die identiteit van die misdadiger 'n hoogs belangrike vraag uit 'n praktiese oogpunt, maar in verbeelde verhale, waar hierdie rede afwesig is, het die leser veral belangstelling in onverwagte gevolge van eenvoudige oorsake. Die nuuskierigheid van die leser is nie soseer gevestig op ‘Wie het dit gedoen?’ nie, maar ‘Hoe is alles ontdek?’Ga naar voetnoot1) Hoewel 'n mens volgens hierdie metode dus alles van te vore eintlik al weet, word die verhaal tog 'n verfrissing vir die gees, omdat die speurder nie alleen uitblink deur verbluffende skerpsinnigheid nie, maar sy ondersoek volgens wetenskaplike beginsels verrig, wat met groot noukeurigheid en juistheid beskrywe word. Die swaartepunt van die roman lê dan nie in die fantastiese gegewens, of in die diaboliese van speurder of misdadiger nie, want die figure is gewone mense, en die ontleding van hul motiewe verhef die verhaal bo die gewone ontspanningslektuur. Langenhoven het in die opstel Speurverhale (Vers. Werke XIV) verklaar dat ‘die een onverbiddelike vereiste van so 'n verhaal is dat hy 'n intellektuele probleem behoort te wees soos 'n skyf by skaakspel of 'n som in die wiskunde.’ In 'n aanvulling merk hy op dat 'n speurverhaal ‘niks meer as 'n oombliklike waarde het nie. ‘En daardie waarde bestaan daarin dat hy óf 'n prikkelmiddel is om jou op te wek wanneer jy neer- | |
[pagina 500]
| |
slagtig is, óf 'n verdowingsmiddel om jou uit onaangename opgewondenheid tot bedaring te bring.’ Interessant is ook in hierdie opstel die arbeidsveld wat aangedui word vir Afrikaanse skrywers van speurverhale. Nadat hy op enkele uitsonderings gewys het, kom Langenhoven tot hierdie slotsom: ‘Maar oor die algemeen is die speurroman of avontuurroman soos die harlekyn in die skouburg - goed vir een aand se ontspanning en vermaak.’ |
|