sitter is Hansie wat vanuit die verandakoelte sy kaffers rond en bont skreeu nie. Van jongsaf gehard in die boerdery, kan hy reeds op jeugdige leeftyd sy man staan teen die beste werker, voel hy dit aan sy prestige as blanke verplig om op die voorpunt te wees by al die plaaswerk. Lewendig en vlot vertel Joubert van die spannende skeerkompetisie tussen die ou ervare Jagata en die jong boerseun: ‘Die litte raak lekker los. Plat op die skaapvel, doodsekuur, gly Hansie en Jagata se skêre hap-hap deur die wol; hoe lekker glad draf dit oor die skaap se ribbes, altyd om die ronde lyf, om en om tot die skaap daar sit soos 'n ronde komkommer wat vinnig afgeskil word.’ Die spraaksame Makat prikkel die swoegende werkers tot koorsagtige inspanning deur sy geestige kommentaar, en die lomp bewegings van die ander twee boerseuns laat ons nog meer behae skep in die blitsvinnige raakvat van die twee baasskeerders. As Hansie, vuil en ene skaapolie, na sy oorwinning voorstel om te gaan swem, dan kry ons hierdie geestige kiekie van die twee lomperds: ‘Teësinnig kyk Doors en Klasie op. Doors maak sy linkerbeen stadig bymekaar, en trek die litte
langsaam op.
“Nee, 'ot, Gawie, ek is te moeg om nou te gaan swem.”
Klasie druk sy krul reg, en sê: “Nee, Hansie, dis te koud, jong. Kyk, dis al amper don....” Maar die laaste woord bly halfklaar, want sy kraai het hierdie keer regtig lelik deurgeslaan.’
Joubert teken ook die luimige kant van die plaaslewe. Daar is Pietman wat deur 'n onsimpatieke vader gedwing word om met 'n ouderwetse ‘vrytuig’, 'n regte ‘flentergeraas’, na sy nooi te gaan. En Frikkie wat sy dorpsnooientjie so jammerlik verloor omdat hy haar by die stasie gaan afhaal met 'n paar steeks perde. Dan nog oom Jannie wat so benoud raak as hy ‘voor die kommissie moet verskyn’ dat hy sy pruimpie skoon wegsluk!
Hierdie verhale mis nog diepte, en is dikwels so los van bou dat hul die indruk gee van 'n aaneenstrengeling van anekdotes. Die skrywer openbaar egter onmiskenbare talent en sy intieme kennis van die plaaslewe stel hom in staat om die leser aangenaam besig te hou.