volop grappies, en deur hul snaakse ‘sê-goed’ kom daar 'n aangename afwisseling in die verteltrant. Jakob April, die troue ou skaapwagter, wat so eie is met sy kleinbasie, en sy werk met soveel liefdevolle toewyding verrig, is 'n tipe Hotnot wat nou haas uitgesterf het. As teëhanger kry ons die parmantige Moos, ook 'n uithaler-werksman wat van geen ingee wil weet nie, maar in 'n opstandige bui sy baas bevlieg. Hierdie Hottentotfigure is wel fragmentaries geteken, maar hul staan in lewende lywe voor ons.
Ook die plaasdiere word met liefde betrag. Daar is onder andere Mooiveld, die volmaakte os, wat sy werk so trou verrig dat ons kan saamstem met Geswind: ‘Weet Baas, die os maak mos party dae vir my hartseer. Hy is so geduldig.... Die kleinbasie het nou die dag al gesê dat Mooiveld eendag in die hemel behoort te kom. Dis nie reg dat daar nie 'n hemel vir osse is nie.’
Een van die bes geslaagde sketse is Roes waarin die opstandigheid van die seun mooi gekontrasteer word met die vrome berusting van die vader: ‘Die Here besoek 'n mens, en Hy weet wat goed is. Maar my kinders wil dit nie altyd verstaan nie. Hulle word ontevrede en kriewelrig....