klassieke skrywers. Elke verhaal is voorsien van 'n inleiding wat selfs die jeugdige leser in staat stel om dit ten volle te waardeer.
In 1936 het van hom verskyn Briewe aan Reinhard van Johannes. Hierdie ‘beskrywing van 'n reis in en om die Middellandse See’ is een van die aantreklikste reisverhale wat ek nog gelees het. Hy kies die intieme briefvorm, maar ofskoon hy telkens persoonlike herinneringe opdiep, verdwaal hy nooit in vervelende besonderhede nie - 'n kuns wat weinig briefskrywers verstaan. Hierdie briewe is gerig aan Reinhard Kottich, 'n vroeg gestorwe akademievriend, aan wie se nagedagtenis hy ook 'n vers gewy het in Tria Corda. Ofskoon ander Afrikaanse skrywers, o.a. Langenhoven, die brief 'n enkele maal as kunsvorm gebruik het, kan ons hierdie bundel as die eerste ernstige poging in die genre beskou.
Die hoofdoel is ook hier om ons nader te bring aan die klassieke kultuur. Noudat Latyn feitlik van ons skole verdwyn het, het ons 'n digterlike vertolker van die gees van die oudheid dubbel nodig.
‘Lank moet jy met die ou stukke (geboue en standbeelde nl.) saam lewe, voordat hul gees met jou praat; maar as jy eenmaal hul stem gehoor het, weet jy dat dit die moeite werd is. Dan weet jy ook dat hul boodskap nie net vir 'n paar ingewydes is nie, maar vir almal wat 'n greintjie van humanisme besit. Onthou jy daardie sin van Nietzche: Die Grieken sind einfach, desshalb sind Sie die unsterblichen Lehrer? Ja, van hul eenvoud kan ons nog altyd leer; en ryk vir ons tyd word die les, wanneer ons die ingewikkelde, daaruit spruitende kultuur van Rome ondersoek.’
Haarhoff bring sy boodskap op 'n baie onderhoudende wyse en gee ons ook nog 'n skat van geestige anekdotes. Wie sy kennis so gesellig en met so 'n lugtige aanslag kan meedeel, sal wel baie dankbare lesers vind, lesers wat treur oor die feit dat hulle die kultuurskatte van die oudheid so lank verwaarloos het. En wie weet of hulle nie dalk hul onkunde sal toeskryf aan die feit dat die meeste onderwysers van die klassieke ook maar vanmelewe die ‘al-oue metode’ toegepas het wat Haarhoff aldus beskryf: ‘As hy geleerdheid nie by die een ent kan inhamer nie, probeer hy die ander ent.’
Besonder geestig is die karakteristieke van sy reisgenote wat Haarhoff so speel-speel invleg: ‘Bernard Shaw stap soos 'n reier rond, soekende wie hy nou sal skok; deken Inge is somber verdiep in die Grieks van die Odyssee....’ Hierdie briefskrywer het inderdaad ‘'n afbeelding van sy siel’ aan ons geopenbaar.
Haarhoff het saam met C.M. van den Heever ook veel gedoen om ons Engelse landgenote in te lig omtrent die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde. Uit hierdie strewe het ontstaan: The Achievement of Afrikaans (1934). Haarhoff se Oxford-voorlesings is in 1936 gepubliseer onder die titel: Afrikaans, Its Origin and Development.