§ 21. Hélène van Rhyn.
Hugenotebloed (1933).
In hierdie verhaal word die opdraande stryd van 'n jong seun teen die armoede geskets. Sy ouers is afstammelinge van 'n goeie familie, maar omdat hulle so verarmd is, kan hulle Stefán nie verder as Std. VI laat leer nie. Stefán is egter trots op sy Hugenotebloed, en ten spyte van haas onoorkoomlike struikelblokke slaag hy uiteindelik daarin om selfstandig te word en ook sy familie op te hef. Ons bewonder sy deursettingsvermoë en edele karakter al het die skryfster hom te veel van 'n brawe-Hendrik gemaak.
As kontras word dan geteken die verarmingsproses van oom Ryk Jan se familie. Sy seun, Martinus, is die teëhanger van Stefán, want hy is die verpersoonliking van alles wat sleg is.
Die skryfster wil die onbevoorregte help om sy selfrespek te herwin, en Stefán se voorbeeld sal ongetwyfeld 'n inspirasie wees vir meer as een talentvolle seun of dogter. 'n Gebrek aan uitbeeldingsvermoë en die dik opgelegde strekking, wat tot karakterverdraaiing lei, maak die verhaal uit 'n kunsoogpunt egter van weinig belang.