§ 20. Gebbina Dekker.
Sketse van Vreugde en Leed (1931).
Op gevoelvolle wyse vertel die skryfster van haar ervarings as verpleegster. Sy teken die wanhoop van die roekelose wat opstandig veg teen die naderende dood en die blymoedige gelatenheid van die gelowige wat in vrede sterf. As Christelike verpleegster sorg sy nie alleen vir die liggaam nie, maar verpleeg ook die gewonde siel. Die beste skets in die bundel, Wat God verenig, is van 'n ontroerende skoonheid. 'n Eenvoudige grysaard bring sy vrou na die hospitaal waar sy 'n langdurige behandeling moet ondergaan. Hy keer terug plaas-toe, maar die eensaamheid is so martelend dat hy haar gou kom haal teen die dokter se advies: ‘Nee, dokter, wat God verenig, mag julle nie skei nie’, en die ou vroutjie knik: ‘Ja.’ Pragtig word die kinderlike liefde en aanhanklikheid van hierdie gryse egpaar uitgebeeld.