§ 19. Mev. dr. W.P. Steenkamp.
Kykies in ons Volkslewe (1930).
Hierdie bundel bevat ses verhale, wat blyk gee van die skryfster se simpatieke belangstelling in die droewige lot van ons verarmdes. Sonder enige literêre pretensie vertel sy padlangs van die bittere stryd teen die armoede, van die versoeking om deur onwettige diamanthandel aan die ellende te ontsnap en die treurige nasleep daarvan. Sy teken 'n farisese ouderling, wat baie salwend kan redeneer oor die armblanke-vraagstuk, maar sy eie bywoners uitsuig en aan die grofste vernederinge onderwerp. Veel beeldingsvermoë besit die skryfster nie en as sy by 'n dramatiese toneel kom heet dit: ‘In die heiligdom van smart kan 'n mens nie inkyk nie.’ Tog kan hierdie bundeltjie deur sy gesonde strekking wanbegrippe omtrent die verarmdes verwyder.