Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 465]
| |
Kimberley; hoe oom Hans 'n groot diamant optel, wat deur 'n verbytrekkende vreemdeling gesteel word, hoe hierdie vreemdeling, deur 'n verskriklike onweer tot inkeer gekom, die gesteelde klippie weer berouvol terugbring. Vlot vertel is die storie, maar dit munt nie juis uit deur besondere eienskappe nie. Die tweede verhaal, Goedgeluk, is in briefvorm. Op aangename geselstoon skets die skryfster die lewe in die Bosveld en vleg daarin die geskiedenis van 'n meisie se liefde vir 'n talentvolle vreemdeling, wat egter 'n dronkaard blyk te wees. Ofskoon vlugtig geskets, interesseer die geval ons deur die fyngevoelige wyse waarop die skryfster dit behandel het. Om die Draai is 'n soort sedekundige allegorie. 'n Meisie, wat reddingswerk in 'n stad doen, betreur die feit dat daar soveel verborgenheid in die menslike hart is. Sy wil graag die vermoë besit om elke mens se gedagte te kan lees. Sy kry dan 'n blik op wat daar gebeur na die dood. Die mense verstaan mekaar, omdat geloof en liefde hul harte vervul. Sy moet egter terug na die ou wêreld om eers haar leertyd uit te dien. Die uitwerking van die besonderhede is leesbaar, maar seker nie treffend nie. In Geld wat stom is word gebruik gemaak van 'n ou bekende motief, nl. die ontdekking van 'n skat. Besonder goed uitgebeeld is die huislike toneeltjies in hierdie verhaal, waarin ons kennis maak met 'n egpaar wat dit opdraand kry in die lewe. As al die swaarkry verby is en die man al gestorwe, vind tant Ellie onverwags die skat, wat hulle in hul jong dae veel verdriet kon bespaar het. Die doop van 'n tweeling by die sterfbed van die moeder is die onderwerp van die vyfde verhaal, wat op historiese feite berus. Dit gee ons 'n goeie blik op die toestande aan die Kaap omstreeks 1800. As kortverhaal beskou, is die laaste storie die besgeslaagde. Kort en saaklik word die verwikkeling uiteengesit - die liefde van 'n jong vrou vir haar eggenoot se voorman. Lange jare nadat sy met laasgenoemde getroud is, bring die pastoor 'n ‘boodskap uit die doderyk’ in die vorm van haar eerste man se kopbeen, waarin daar 'n lang verroeste spyker steek. Mooi het die skryfster die spanning volgehou tot op die indrukwekkende slot. |
|