Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 16. J. Albert Coetzee.Hierdie jeugdige skrywer het hom aan die onderwys onder die Afrikaners in Angola gewy, totdat hy weens die ongesonde klimaat na die Unie moes terugkeer. As redakteur van Die Voorligter op Somerset-Oos beywer hy hom nou op alle moontlike wyse om die belange van die Dorsland-trekkers te bevorder. Gedurende sy verblyf in Angola het hy die verhale van die Trekkers, soos deur hulle self vertel, noukeurig afgeskrywe en deur vergelyking met bestaande bronne die geskiedenis van die verskillende trekke, sover tans nog moontlik, probeer vasstel. Die resultaat was die bundeltjie Dorsland-Trekkers (1924), 'n kroniekagtige opsomming van die uitgebreide togte van hierdie stoere pioniers. Uit die eenvoudige, onopgesmukte kroniek kry ons tog 'n beeld van die byna ongelooflike ontberings wat hulle op togte deur die dorsstreke gely het, en met verheuging merk ons | |
[pagina 463]
| |
dat hulle, ten spyte van persoonlike rusietjies, tog die tradisionele hulpvaardigheid van die eerste Voortrekkers betoon het en in die woeste streke nooit hul roeping as draers van die Boere-beskawing vergeet het nie. Party het omgedraai, baie het langs die pad aan die koors beswyk; maar die meeste het aangedruk, al was dit dan net met die agterste stuk van 'n wa, en al moes hulle die droë lippe van hul kinders laaf met skapebloed of die vogtigheidjie wat hul uit die pensmis kon druk.... (p. 17). En uiteindelik het hulle aangeland.... nie in 'n Afrikaanse Kanaän nie, maar onder onsimpatieke Portugese. Die stoflike resultate van hierdie heldhaftige uittog deur die dorswoestyn mag dus wel power wees, maar die herinnering aan hul taaie uithouvermoë sal steeds 'n inspirasie bly vir die nageslag. Daarom moet hierdie beskeie kroniek dankbaar aanvaar word as 'n welkome bydrae tot ons kultuurgeskiedenis. Op meer aantreklike wyse het die skrywer gebruik gemaak van sy historiese gegewens in 'n bundeltjie sketse Die Swerwers (1925), waarin hy veral vir die jeug 'n lewendige beeld gee van die avontuurlike lewe van die Dorsland-trekkers. Omdat hy self onder dié mense verkeer het en baie na hul vertellings geluister het, kon hy in hoofsaak ware gebeurtenisse in sy verhaal invleg. Sommige persone mag wel denkbeeldig wees, maar die vernaamste insidente berus op persoonlike ervarings van verskillende trekkers.Ga naar voetnoot1) Coetzee het hom goed ingeleef in die toestande van die trek en teken 'n paar tipes op verdienstelike wyse, terwyl die reeks jagverhale vol kleur en lewe is. In Die Trekgees (1926) behandel die skrywer dieselfde onderwerp, maar hy doen hier 'n poging om meer lig te laat val op die gedagtewêreld van die trekkers. Daarvoor gebruik hy 'n eenvoudige liefdesgeskiedenis. Maria Potgieter moet kies tussen haar minnaar, Manie, wat erg aan die trekkoors ly, en haar vader, wat rustig op sy plaas wil bly. Willem Koekemoer veroorsaak deur sy listige diplomasie moeilikheid tussen die twee geliefdes, maar op die ou end kry die twee mekaar tog weer in die dorswêreld. Die geval word sonder veel psigologiese diepte en met heelwat omhaal van woorde uitgewerk, maar die skrywer se opgewekte, luimige verteltrant sal ongetwyfeld sy jeugdige lesers boei. Koekemoer se tekening, hoewel enigsins karikatuuragtig, is tog goed uitgewerk, en as vergoeding vir die koddige persoonsbeskrywing waarmee die verhaal aanvang, kry ons 'n aantal lewendige toneeltjies tussen die twee jaloerse vryers. 'n Ander geslaagde tipe is oom Kerneels, Potgieter se vader, wat die roepstem na die onbekende noorde nie kan weerstaan nie en stilletjies wegloop na die trekkers. Op sy sterfbed in die wildernis voel die grysaard oortuig van die goddelike roeping van die trekker: ‘Ek dink dis die Gees van die Here wat werk in die Afrikaner, sodat die Afrikaner die Christendom kan uitbrei in die onbekende Afrika.’ | |
[pagina 464]
| |
Die toneel tussen die verontwaardigde vader en die verbitterde minnaar wat sonder sy nooi moet trek (p. 84 vlg.), is vir my 'n bewys dat ons nog veel van hierdie verteller kan verwag, as hy hom ernstig wy aan sy kuns en deur meer gerypte lewenservaring 'n dieper blik op sy figure kry. Aan plastiese talent ontbreek dit hom nie en mettertyd sal sy styl ook klankvoller en meer treffend van seggingskrag word. Hierdie verwagting is egter nie vervul deur In die Skadu van die Guillotine (1937) nie. Dis 'n verhaal uit die tyd van die Franse Omwenteling waarin die karaktertekening baie oppervlakkig is en die historiese agtergrond slegs gebrekkig deur 'n reeks avonture aangedui word. Blykbaar was dit die bedoeling van die skrywer om deur 'n aantal tonele die jeug 'n aanskoulike beeld te gee van die toestande in Frankryk. As aanvullingsleesboek by die geskiedenis sal die verhaal goeie dienste bewys. Stompie Kinkelman (1938) is die verhaal van 'n armoedige seun uit die agterbuurte van 'n groot stad. Deur bemiddeling van 'n bloedverwant kry hy 'n geleentheid om in die regte te studeer, keer dan na sy geboorteplek terug en word gekies as parlementslid. Die boodskap van die verhaal is vervat in die volgende woorde van die politicus: ‘Ek wil die wêreld oortuig dat sonder geloof in die Afrikanerdom, ons volk nie uit die dieptes van armoede tot oorwinning gelei sal word nie.... Ek weet dat daar in die nederigste huisies dikwels die warmste Afrikanerharte klop.’ Die eerste gedeelte van die verhaal is 'n aaneenskakeling van lewendige toneeltjies wat ons 'n kykie gee op die daaglikse lewe van die agterbuurtbewoners. Die vader van die Kinkelmangesin is 'n dronkaard en een van die seuns 'n misdadiger. Stompie word uit hierdie omgewing gered deur sy swaer. Minder geslaag is die tweede gedeelte wat heeltemal in beslag geneem word deur politieke intriges tussen die sittende lid en 'n paar aspirantpolitici. Ofskoon die insidente op politieke vergaderinge en die getwis tussen die partye op luimige wyse vertel word, kan die skrywer ons op die duur nie boei nie, omdat daar van sielkundige deurdringing geen sprake is nie. Een van die bes getekende figure is Piet Senekal wat so hartstogtelik deelneem aan die politiek dat hy aan Stompie skrywe: ‘Ik heb heden geen deel aan de polletiek en sal sterven terwyl allen leven in de politiek.’ Maar ofskoon die verhaal hier en daar geslaagde trekkies bevat, gee dit slegs 'n karikatuuragtige beeld van die politieke bedrywighede van onontwikkelde stedelinge. |
|