agtige dr. Fohl, wat alleen die eenheid van die bundeltjie verstoor. In die laaste skets kry ons 'n kykie op die misdadiger-elemente van die delwerye.
Hoogenhout se sketse bevat 'n paar goedgetekende tipes, maar munt nie uit deur diep indringende psigologie nie; hy bly aan die oppervlakte en vertel maar net wat hy so in die verbygaan gehoor en gesien het. Hy dring sy eie persoon op die voorgrond en speel die rol van Hildebrand. Ook slaag hy nie daarin om die ellendige bestaan van die delwers vir ons te versigbaar nie, omdat sy beskrywingstalent te swak is. Hy bring ons wel by die krotte en laat ‘'n hartverskeurende toneel ontvou’, maar al wat hy verder kan sê, is die onbeduidende versekering dat hy soiets nog nooit van te vore gesien het, of hoop om daar nooit weer getuie van te wees nie! (vgl. p. 13 waar dit tweemaal voorkom en p. 49.) As ons lees dat tant Lenie ‘uitgeteer en spierwit, 'n toonbeeld van ly en swaarkry’ is, dan voel ons hoeseer dit die skrywer aan plastiese talent ontbreek. Hy moet in sy volgende bundel minder redeneer oor die ‘hemeltergende euwels’ wat hy wil bestry; as ons die noodlottige gevolge daarvan in dramatiese toneeltjies kan sien, het die skrywer mos sy pleit gewin! Dan sal sy werk ook letterkundig meer genietbaar wees, want Hoogenhout het ongetwyfeld 'n aangename verteltrant.