§ 13. Hermanus.
Van hierdie skrywer het verskyn Agter die Vyeblare (1922), eers in De Goede Hoop opgeneem. Hermanus het nie alleen die ‘komplot’(!) van Roe se Barriers Burned Away gevolg nie, maar so onder die invloed van dié se Engels geraak, dat sy Afrikaans plek-plek onleesbaar word. Dit is een van die eerste pogings om 'n stigtelike roman in Afrikaans te skrywe en waar Hermanus op eie wieke drywe, toon hy wel enige talent. Hy het probeer ‘om lekeprekies te vermy’ en oor die algemeen is die strekking nie hinderlik nie. Die gebrekkige taal, styl en uitbeeldingsvermoë maak die werkie egter vir die grootste gedeelte ongenietbare lektuur, ofskoon die gesonde moraal en goede bedoeling van die skrywer aanmoediging verdien.