poging om die letterkunde tot propagandamiddel te verlaag betreurenswaardig.
As voordragskunstenaar het Danie Smal die hele Unie deurreis en orals waardering aangekweek vir ons eie en ook die Nederlandse en Vlaamse lettere. Hy het in Brussel onder professor Lauwerys gestudeer. Deur sy gloedvolle vertolking van ons gedigte het hy veel gedoen om die besef te kweek, dat poësie, net soos musiek, 'n kuns is wat hom rig tot die gehoor. Op die Rand veral, het hy ook 'n lewendige aandeel geneem in maatskaplike en kerklike aangeleenthede, en met groot opoffering gearbei aan die opbou van 'n Afrikaanse kultuur.
Tonnie en Danie is geesdriftige voorstanders van 'n optimistiese lewensleer, wat wel nodig is in ons land waar die begroeting: Hoe gaan dit? gewoonlik beantwoord word deur: Kan nie kla nie! In Glimlaggies (1925) maak hul soms op suksesvolle wyse propaganda vir 'n meer opgeruimde lewensbeskouing, en talryke kwinkslae sal seker met 'n uitbundige skaterlag beloon word. As Tonnie net sy dierbare eie-ek kan vergeet, sal hy ongetwyfeld nog veel meer bereik in die komiese genre. Glimlaggies behandel die grappige avonture van Danie se studietyd in België.