§ 11. Dr. G.W. Eybers.
Die skrywer, lank hoof van die Graaff-Reinetse Volkskool, later inspekteur van skole in die Kaapprovinsie, en tans verbonde aan die Unie-Onderwysdepartement, het ses sketse gebundel onder die titel, Montaux-Sources (1925). Op aantreklike wyse vertel hy van twee togte na die berge, en vir die Aberdeense C.J.V. beskryf hy sy ondervindings in Europa as student. In die besgeslaagde skets, Uit die lug geval, gee hy 'n kleurige relaas van 'n Duitse lugaanval op Londen, waarin die figuur van 'n onverskrokke Duitse vliegenier goed geteken word. Vir sy seun, Jannie, beskryf Eybers die Kaapse toestande omstreeks 1800 en op uitstekende wyse het hy in hierdie skets die regte kindertoon getref.
Eybers verstaan die kuns om by die saaklikste beskrywing 'n komiese nadraaitjie in te las, en die indrukke wat hy orals invleg gee daar telkens 'n persoonlike klank aan. Hy het ook 'n Afrikaanse bewerking uitgegee van uittreksels uit ou reisverhale: Outydse Sketse en Stories (1925.