Af en toe raak die skrywer aan moraliseer, soos in die ‘Vallei des Doods’ (p. 60 vlg.) by 'n afgebrande bos sederbome. Erg oorspronklik is sy oorpeinsings nie en nadat hy uitgewei het oor strale wat uit die geloofslamp op 'n hart ‘bevrore in vertwyfling’ val, kry sy verstandige Boerenatuur gelukkig gou weer die oorhand: ‘Die hout maak fraai meubels, splyt pragtig gelyk en is uitstekend geskik vir tiggelstene om vloere mee uit te lê....’ laat hy daar abrup op volg, en.... ek lees liewer sy opsomming van die hoedanighede van sederhout as sy retoriese ontboeseming oor die onverbiddelikheid van die dood!
Maar sulke sedekundige intermezzo's is gelukkig skaars, en as die skrywer sy jagondervindings verhaal, kan ons luister. Hy het hom baie moeite getroos om al die gewoontes van die wilde diere te bespied en die wetenswaardighede wat hy oor land, volk, diere en plante vertel, is legio. Vir ons wat so gewoond is aan die geriewe van 'n verfynde beskawing is dit 'n opfrissing om weer die geure van die ongerepte bosse op te snuiwe, en die getroue weergawe van die ontberings van 'n Trekker op een van die voorste poste van die Afrikanerdom sal vir baie seker 'n openbaring wees. Elke Afrikaner wat die naam verdien, sal met trots en bewondering die verhaal van sy stamgenote in Oos-Afrika lees.
Taalkundig is die boek goed versorg en dit het ons aan S.P. Rossouw te danke. Die voorwoord gee ons maar min inligting omtrent sy aandeel in die werk, maar ek het rede om te vermoed dat die letterkundige inkleding van die verhaal van sy hand is. Indien my vermoede juis is, het hy alle eer van sy aandeel. Enkele vergissings kan by 'n tweede druk herstel word.
Ten slotte nog 'n kort aanhaling ter karakterisering van die verhaaltrant: ‘'n Man wat op reis was met sy ossewa, kry eendag 'n vrind van hom staan en rondvoel in die middel van die pad met die agterkant van sy sweepstok. ‘Ou maat en wat soek jy dan daar in die modder?’ vra hy toe hy by sy vrind kom. ‘Nee man,’ sê die ander, ‘ek staan net hier en rondvoel na my wa en osse. Hul het net hier weggeraak.’ (p. 59.)
Hierdie grappige voorval is egter nie pure grap nie, soos uit bladsy 134 blyk, en dit bewys tewens dat die skrywer, ten spyte van al sy ontmoedigende ervarings, nog 'n oog het vir die komiese kant van die saak. Die boek sal seker 'n ruime leserskring vind en die belangstelling in ons stamgenote in die vreemde verhoog.