Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 8. A.J. Jacobs.Reisavonture op Land en See deur 'n Dómine (1920).Volgens De Goede Hoop, Augustus 1919, is Dómine die skuilnaam van A.J. Jacobs. Hy het oor Madeira 'n reis gemaak na Buenos-Aires en vandaar na die Boere-kolonie in Argentinië om vir die geestelike belange van die uitgewekenes te sorg. 'n Lywige boekdeel het hy nodig om al sy ervarings te vertel. En dan betreur hy dit nog, dat hy nie alles haarfyn kan meedeel nie! ‘Dis tog jammer dat hulle nog nie 'n instrument soos 'n gramafoon uitgevind het nie, wat mens op reis by jou kan dra nie. Dit moet nes 'n sakkamera wees en daarmee moet mens alles wat jy hoor kan opvang en bewaar. Daar gebeur so baie dinge, wat mens hoor en dis moeilik om alles akkuraat weer te gee.’Ga naar voetnoot2) Die neiging om alles mee te deel is juis Dómine se fout. Hy veronderstel, dat tallose besonderhede, wat vir hom persoonlik van belang is, ook die leser sal interesseer, en weet eenvoudig van geen ophou nie. En dit is jammer, want hy het ongetwyfeld slag om 'n anekdote smaaklik te vertel, soms met so 'n drooghumoristiese draaitjie, dat iedereen daarby moet glimlag. Maar sulke onderhoudende gedeeltes lê diep toegepak onder wavragte van onbelangrike sake. So kry ons b.v. allerlei banaliteite oor die Saxon; tot selfs die tonnemaat van die skip word meegedeel! (p. 18.) Soms lyk dit of die skrywer hom 'n klein agterveldse leserskring voorstel, wat hy met groot syfers kan dronkslaan! Is dit nou nodig om nog in 1920 te vertel: ‘Eendag is die pond sterling veel meer waard as op 'n ander keer’? (p. 61.) Dit is maar een voorbeeld van die tallose uitweidings, wat allermins op 'n fris oorspronklikheid kan aanspraak maak en eenvoudig 'n herkouery van oorbekende sake word. Soms lyk dit weer of die skrywer 'n handleiding vir toekomstige emigrante wou skryf. Hy gee selfs kookresepte! En so word sy reisbeskrywing 'n sonderlinge byeenskraapsel van allerlei wysheid. Natuurbeskrywings kom daar baie in die boek voor, maar gewoonlik word die land uit die oogpunt van 'n boer gesien. ‘Die plek waar ons sou staan, was besonder waterryk; groot kuile en helder strome loop deur die ganse breedte van die kañedón of vlei. 'n Boer se hart sal bly word, as hy die rykdom van gras en water kan aanskou’ (p. 227). Hy | |
[pagina 455]
| |
is gedurig in die stemming van 'n boer. wat 'n nuwe landstreek opneem om die beste plek vir 'n plaas uit te soek, en ondertussen bereken watter soort boerdery daar die voordeligste sal wees. In 'n handboek vir emigrante sou sulke aanwysings seker onmisbaar wees, maar die skrywer wou tog iets anders gee. As hy by die glanspunt van sy reis kom, en sy tog oor die mere en deur die oerwoude moet beskryf, is hy 'n opmerksame toeris, wat gedurig syfertjies en berekeninge in sy sakboek opteken. ‘Die formasie van mere tussen hoë berge is in veel opsigte merkwaardig. Op gesag van Delgado weet ek dat hierdie een 12,000 vt. bokant die oppervlak van die see geleë is’ (p. 174). Gevoel vir skoonheid het hy ook, maar wanneer dit tot uiting kom, blyk sy volslae magteloosheid as taalkunstenaar. ‘Alles skyn omtower in iets onnatuurliks, denkbeeldigs, fantasties!.... Nee, geen kunstenaar kan op die doek verewig, wat daar ieder dag afgespeel word nie. Die Skepper wat daardie onbeskryflik heerlike gloed van lig as met 'n towerslag op berg en bos heenwerp.... laat Sig nie naboots nie!.... Bokant ons hoofde verskiet bundeltjies agterblywende sonstrale verby.... Dit word aand en die stil maar guur lug voel skerp teen hande en gesig.... Van alles wat mens sien en ondervind, skyn die bloedsomloop vinniger en warmer in sy werk te gaan; geen honger of koue hinder in hierdie towerwêreld nie....’Ga naar voetnoot1) Wie sou nou in só 'n omgewing praatjies verkoop oor honger, kou en bloedsomloop - en nogal teenstrydige praatjies ook! ‘Majestueuse en reuse-berge, ontsaglike kratermond, onpeilbare diepte, toweragtige effek’, ens. - dit is almal holle frases, wat ons gladenal nie kan ontroer nie. By die beskrywing van die oerwoud kom die sakboekie weer te pas. Die ‘sirkelvormige bek van die onderaardse blaasbalk ('n krater) moet enorm groot wees....’ (p. 177); ongelukkig kon Dómine hom nie meet nie! Maar die bome is 150 vt. hoog, die uitholling vir die pad 20 vt. diep en die boomstamme lê 15 vt. dik op mekaar gestapel in 'n moerassige plek. ‘Een boom was 6 vt. dik, as die vet humus van varens en struikgewas wat daaraan kleef, meegereken word’. Sulke duimstok-beskrywings kan nou eenmaal geen ‘onvergetelike afdruk op die geheue’ maak nie. Dit doen Sangiro wel, al meet hy sy bome nie. Beter slaag Dómine as hy die toestande en gewoontes in Suid-Amerika beskryf. Hier val sy neiging om oor-akkuraat te wees nie so in die oog nie. Ook die ervarings van die trekkers en hul moeilikhede in die vreemde land het hy op lewendige wyse geteken. In 1934 het 'n verkorte en omgewerkte uitgawe van hierdie boek verskyn onder die titel: Reisavonture onder die Boere in Argentinië. Die bewerkers (L.A. en P.C. Schoonees) het die taal en styl hersien en alleen die interessantste gedeeltes behou. |
|