§ 2. Christian Zinn.
Van Christian Zinn het in 1911 verskyn: In Harte Verenigd, of Sketse uit die Boer-Lewe. Dit is 'n verhaal uit die tyd van die Jameson-strooptog en Tweede Vryheidsoorlog, waarin die skrywer geleentheid vind om heelwat politieke beskouings aan die man te bring. Die dapper held, mooi meisie en lae verraaier ontbreek nie. Die liefdesverhaaltjie is vol soeterige sentimentaliteit. Daar is o.a. sprake van ‘'n miljoen dralende soene’! Die historiese gebeurtenisse word oppervlakkig behandel en die uitwerking daarvan op die uitgebeelde persone uiters gebrekkig aangedui. Letterkundige verdienste het die verhaal nie, want die styl is onbeholpe, gebrekkig en taamlik vol anglisismes. Vir die taalkundige kan dit interessant wees, omdat daar soveel oorgangsvorme in voorkom.