Hoofstuk VIII.
Ander Prosaïste.
§ 1. J.G. Engela.
Van J.G. Engela, gebore in 1862 op Ceres, het verskyn: Afrikaanse Verhale (1909), Gesellige Half-Uurtjies, Gesels (1913), 'n Terugblik (1925) en Die Getatoeëerde ‘K’ (1929).
In die voorwoord van sy tweede bundel, Gesellige Half-Uurtjies verklaar die skrywer, dat hy ‘in alle eenvoudigheid getrag (het) om ons volk tot meer lees aan te spoor.’ Dié doel het hy seker bereik, veral omdat in 1909, toe die eerste bundel verskyn het, Afrikaanse boeke nog baie skaars was, maar ook omdat hy sy grappies op aangename wyse vertel. Engela laat gewoonlik een of ander bluffer of norse persoon in 'n strik loop. Hoe om iemand 'n poets te bak is sy spesialiteit.
Minder gelukkig is hy met sy ernstige verhale, wat by voorkeur 'n moordgeskiedenis behandel en erg melodramaties is. Vir romantiekerige situasies is hy baie lief. So hoor ons dat Gratia ‘plaas neem op die ou omgevalle boomstam, en.... haar betraande oë omhoogslaan, naar die heerlike groen lommer waarmee die woud so kunstig in 'n Septembergewaad versier was.... Saggies roer sy die snare van haar Mandoliene aan....’ (Half-Uurtjies, p. 33). Tog ken Engela vir Rhijnvis Feith seker net uit sy gesangeboek. Gesels is die swakste van die vier bundeltjies. Taal en styl is hier besonder onbeholpe, die grappies word flou, soms selfs stuitend. Die Storms van Bergendal is seker die summum van alle bereikbare onnatuurlikheid. 'n Broer, wat met sy verlore gewaande suster trou, haar dan keel af sny; 'n lyk, wat na 'n vreeslike storm deur die ‘rumoerige woelwaters.... met alle sorg’ in 'n kar ‘neergelê’ word; 'n gedrogtelike misgeboorte, wonderlike drome, en geesverskynings, waarby vier predikante te pas kom, 'n groot skat, ens..... brr! Dis 'n gruwelstuk, wat Jan Vos sou laat watertand!
Net soos die ander bundels is die sketse in 'n Terugblik ook sonder enige literêre pretensies meestal in eenvoudige geselstoon geskrywe. Die klugtige voorvalle is ook hier die beste geslaag, want in die ernstige verhale word die strekking so dik opgeplak, dat dit na traktaatjies lyk.