Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 447]
| |
Die Siel van die Mier (1934) en Burgers van die Berge (1938).Die Siel van die Mier bevat soveel interessante besonderhede uit die lewe van diere, soveel verrassende meedelings en teorieë oor die wondere van die natuur dat dit sonder enige twyfel as een van die merkwaardigste boeke in Afrikaans moet beskou word. Ek is nie bevoegd om 'n oordeel uit te spreek oor die wetenskaplike waarde van Marais se stellings nie, en vermoed dat die vakmanne wel sommige van sy bevindings in twyfel sal trek.Ga naar voetnoot1) As prikkel tot verdere wetenskaplike ondersoek kan Die Siel van die Mier egter uitstekende dienste bewys, en aangesien daar volgens die geleerdes meer as 5000 miersoorte bekend is, bestaan daar 'n uitgestrekte arbeidsveld vir 'n Afrikaanse Fabre. Die Duitse ondersoeker, dr. H.H. Ewers, het beweer dat daar in die mierewêreld nog genoeg onopgeloste geheime is vir die eerste honderdduisend jaar! Marais se werk het in die buiteland erkenning gevind en die Belgiese skrywer Maeterlinck is daardeur selfs tot plagiaat verlei. Marais beskou die termietnes as 'n organiese eenheid, ‘'n afsonderlike en volmaakte dier wat alleen ontbloot is van die beweging van plaasverandering.’ Die gedrag van die hele nes word bepaal deur die onsigbare invloed wat uit die organisme van die koningin straal. Die uiteensetting van hierdie teorie lewer 'n hele reeks wondere op. Daar ‘gebeur dinge so sonderling, so verbasend, dat die natuurkenner homself gedurig hoor sê: Dit kan nie wees nie, dit kan nie wees nie! Maar dit is!’ Ek glo nie dat ek te veel sê nie as ek beweer dat die gemiddelde leser met 'n weinig belangstelling in die natuur hierdie boek interessanter sal vind as 'n boeiende roman. Die gebeurtenisse in die termietnes word langsamerhand saamgeweef tot 'n romantiese drama, en as die skrywer ons nie telkens daaraan herinner nie dat alles op haarfyne waarneming gegrond is, sou ons regtig meen dat hy ons in 'n towerwêreld verplaas waar die pampoen 'n rytuig en die muise vier spogperde geword het! By sy bespreking van die termiete deel Marais ons ook nog interessante besonderhede oor ander diere en plante mee o.a. oor toktokkies, bobbejane, vuurvliegies, fluitjiesriet, ens. Hy vertel ons hoe om 'n akkedissie met sewe sterte te fabriseer of 'n miershoop met sewe torinkies. Hy beweer dat die moederliefde in alle diere deur geboortepyn ontsluit word, dat die mierekoningin ‘'n psigologiese mag besit om deur 'n soort uitsaaiing die gemeenskap aaneen te hou’ en dat die insektetaal bestaan uit ‘trillinge in die eter’. Ek doen maar 'n greep uit die lang reeks wondere wat in | |
[pagina 448]
| |
hierdie wonderlike boek proefondervindelik bewys word. Dit alles geskied op so 'n eenvoudige wyse en in so 'n glashelder betoogtrant dat die gewone leek, wat oor geen tegniese kennis van die onderwerp beskik nie, die uiteensetting sonder veel moeite sal kan volg. Omdat die boek ontstaan het as 'n reeks artikels in Die Huisgenoot bevat dit nogal herhalings en uitweidings. In Burgers van die Berge het Marais verslag gedoen van ‘'n broederskap van drie jaar’ met bobbejane in die Waterbergse distrik. Hy en 'n vriend het ‘op so 'n vriendskaplike voet met die bobbejane verkeer dat (hulle) tussen die trop, soos 'n eienaar deur sy skape kon deurloop.’ Deur uitstrooiing van mielies het hulle die absolute vertroue van die bobbejane gewin en daarom kan die skrywer baie staaltjies vertel van ‘die verbasende menslikheid van hul verstand’. Hy volg die bobbejanetrop op hul omswerwings deur die berge, vertel van hul angs vir die sluipende tier, betrag die spel van die kleintjies wat maats maak met Kafferbokwagtertjies, en beskryf hoe hul deur 'n Raad van Elf geregeer word. Al sy meedelings is gebaseer op eie waarnemings, ofskoon hy ook af en toe gebruik maak van inligtings van ander persone verkry. 'n Aantal goed vertelde anekdotes word ingevleg om die gedrag van die bobbejane onder besondere omstandighede te illustreer. Marais het daarin geslaag om ons 'n interessante kyk te gee op die ‘persoonlikheid’ van die bobbejaan. Oor die wetenskaplike besware teen sy teorieë kan vergelyk word 'n resensie van dr. C.G.S. de Villiers in Die Huisgenoot, 3 Junie 1938. |
|