ander witmens ontmoet nie, niemand het om mee te praat nie, daar leer jy later die taal van die diere verstaan. Al kan jy self nie met hulle gesels nie, kan jy darem luister, kan jy die besorgdheid en angs hoor wat daar in die sebraleier se runnik klink, wanneer hy 'n merrie roep wat jy die oggend doodgeskiet het. Oor die maanbeligte oop plekke draf hy en roep maar aanhoudend.... en later die duidelike noot van wanhoop wanneer sy nie antwoord op sy roep gee nie.’
Hierdie simpatie met die diere stel hom in staat om ons 'n blik te gee op die tragiek, humor en ironie van hul bestaan. Mooi word dit geopenbaar in die vriendskap tussen die eensame sebra, Strepies, en die girafvulletjie, Nekkie, wat ons dadelik herinner aan Sangiro se renostertjie en seekoeitjie.
Schoeman het ook dieselfde rustelose swerwersgees wat hom, net soos Sangiro, telkens uit die beskawing laat wegvlug omdat hy die geheimsinnige roepstem van die oerwoud gehoor het. ‘Wanneer die stem roep, moet hy gaan; slegs in sy gaan vind hy rus. Altyd maar gaan, altyd maar swerf. Soos 'n polsslag deur sy siel gaan die enkele woord: vorentoe.’ Onder die inboorlinge, wat nog soveel nader aan die natuur lewe as die blankes, vind hy geesverwante, en daaraan het ons die treffende geskiedenis van Dabula en 'Mbalek te danke.
Schoeman het as gevolg van sy studie die Kafferstamme met intense belangstelling beskou. ‘Hul religie, geskiedenis, taal, ongeskrewe letterkunde en klei- en ysterbedrywe sal menig blanke verstom laat staan.’ 'n Groot gedeelte van sy werk bestaan uit interessante meedelings omtrent hierdie onderwerpe. Maar dis wanneer sy wetenskaplike belangstelling aangroei tot begrypende liefde vir die Kaffer as mens dat Schoeman kunstenaar word. Dan gee hy ons brokstukke ‘uit die magtige Zoeloeepos wat wag op 'n vertolker’, dan hoor hy ‘die sugkrete opgaan van 'n groot volk, 'n volk wat pleit vir net so 'n klein bietjie aandag en 'n klein bietjie belangstelling....’
Hoe goed Schoeman hom kan inleef in die kaffermentaliteit blyk uit sy digterlike vertolking van die geskiedenis van 'Mboneni, die eensame Zoeloemeidjie, wat so graag 'n kindjie wou hê. Sy werk sal ongetwyfeld, soos prof. E.C. Pienaar opgemerk het, groter belangstelling wek in die Kaffer - ‘nie as blote skepsel wat alleen maar kan dien as 'n stuk gereedskap in die kombuis, op die plaas of in die myne nie, maar vir die Kaffer as mens van gelyke sielsbeweginge as onsself.’
Omdat die gemiddelde leser so weinig weet van die sedes en gewoontes van die naturelle vind Schoeman dit telkens nodig om verklarende toeligtings by sy verhale te voeg. Soms word selfs die gang van 'n verhaal onderbreek deur die inlas van didaktiese gedeeltes. Die wetenskaplike wil die kunstenaar te hulp kom, maar bederf dikwels die totaalindruk deur glad oorbodige toeligtings. Daar is egter aanduidings dat Schoeman besig is om hierdie hinderlike gebrek te oorwin.