Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. G.C. en S.B. Hobson.Die werk van hierdie Engelssprekende Afrikaners is in baie opsigte merkwaardig. In die eerste plaas om die hoë gehalte van die werk self, ten tweede om die oorsake wat die skrywers gedwing het om Afrikaans as uitingsmiddel te kies, en ten derde om die samewerking tussen twee broers wat tot so 'n gelukkige resultaat gelei het. 'n Verduideliking van die omstandighede waaronder hul werk ontstaan het, sal ons help om tot 'n vollediger waardering daarvan te geraak.Ga naar voetnoot1) | |
[pagina 438]
| |
Die twee broers het opgegroei op 'n Graaff-Reinetse plaas, waar al hul maters Afrikaanssprekend was. Hulle het albei na Engelse skole gegaan, maar by die bespreking van sake in verband met die boerdery het hulle steeds as vanself oorgeslaan in Afrikaans. ‘My eerste pogings om te skrywe was in Afrikaans,’ verklaar G.C. Hobson. ‘Ek vind dit besonder moeilik om die regte atmosfeer te tref in Engels as ek te doen het met die veld en die wilde diere.’ Na 'n opleiding op die middelbare skool lê hy hom toe op boerdery, terwyl sy broer na die Rhodes-Universiteitskollege gaan en onderwyser word. Met die Tweede Vryheidsoorlog trek die Hobson-gesin na Betsjoeanaland en die broers onderneem baie besigheids- en jagtogte deur die Kalahari, wat hulle op dié manier goed leer ken. S.B. Hobson word prinsipaal op Franschhoek en in 1914 skoolinspekteur in die Noordweste, wat Boesmanland en die Kalahari-grens ingesluit het. G.C. Hobson het na oorlogsdiens (1914-1917) 'n regeringsbetrekking aanvaar, eers by die Landboudepartement en later by die Vrugtebeurs in Kaapstad. In verband met hul werk het die broers die hele Unie kruis en dwars deurreis, maar die betowering van die Kalahari-sandvlaktes het hulle nooit losgelaat nie. G.C. Hobson verklaar o.a.: ‘Die dorre streke van ons land en veral die Kalahari besit 'n geweldige aantrekkingskrag vir my en my vroegste herinneringe is verbonde aan die verskrikkinge van die droogte: vrekkende diere, hitte, wind, waterskaarste en verskrompelde plantegroei. Ten spyte van dit alles het die sanderige dorsstreke hul betowering vir my behou.’ En sy broer voeg hieraan toe: ‘Ek hou van die oop vlaktes van die Kalahari, omdat dit nog woes en wild is. At heart we are farmers and of necessity do something else.’ Gedurende 1925 begin G.C. Hobson skrywe, gedeeltelik as afleiding na 'n tydperk van oorspanning veroorsaak deur drukke werksaamhede, maar ook omdat die heimwee na die vrye veld hom met afkeer van die stadslewe vervul het. Hy ondervind allerlei moeilikhede met die taal en die literêre tegniek, en besluit om die hulp van sy broer in te roep. S.B. Hobson, die inspekteur van skole, wat Nederlands op die Universiteit gestudeer het, vind dit 'n goeie geleentheid om sy praktiese kennis van Afrikaans te toets en op hierdie manier ontstaan die samewerking tussen die twee broers. G.C. sorg vir die materiaal en S.B. vir die letterkundige inkleding. S.B. verklaar dan ook: ‘Die inspirasie is negentig persent my broer s'n, die taal en styl myne. Ek het merendeels oorvertel wat hy aan die hand gegee het.’ By hierdie verklaring moet ons natuurlik rekening hou met 'n broederlike beskeidenheid. Hoe groot die aandeel van elke broer is, is egter 'n kwessie van minder belang. Hulle het saam grootgeword, het albei die Kalahari hartstogtelik lief en verwerk hul indrukke tot so 'n harmoniese eenheid dat selfs die skerpsinnigste leser geen lasplekkies sal ontdek nie. | |
[pagina 439]
| |
Van hulle het verskyn: Kalahari-Kaskenades (1929); Kees van die Kalihari (1929); Skankwan van die Duine (1930); Op die Voorposte (1932); Buks (1933); Geluksvlei (1937). | |
Kalahari-Kaskenades (1929).Die Hobsons begin met 'n kinderverhaal: Kalahari-Kaskenades. Koning Sterktand, die leeu, regeer oor die geheimsinnige woestyn en op aandrang van die Son beraam die diere planne om 'n groot dam te bou. Dit gee aanleiding tot allerhande verwikkelinge waarin die jakkals natuurlik kans kry om tallose streke uit te haal. Die skrywers ken die gewoontes en eienaardighede van al die diere haarfyn en laat hulle in pakkende toneeltjies optree. Die kinders sal hul verlustig in hierdie kaskenades, want dit voer hulle na 'n towerwêreld waar alles moontlik is en agter elke sandhoop 'n nuwe verrassing skuil. | |
Kees van die Kalahari (1929).Die beste werk van die Hobsons is egter Kees van die Kalahari. Kees, die parmantige bobbejaan-kommandant, en sy maat Adoonsie sal ons onthou saam met Sangiro se Maanhaar en renosterwesie. Kloes, die rooijakkals en sy wyfie Karlyntjie word vir ons ook diere met 'n aparte ‘persoonlikheid’. Hierdie skrywers gee egter veel meer as 'n aaneenstrengeling van toneeltjies uit die dierelewe. Soos Sangiro vir ons die gees van die oerwoud vertolk het, so het die Hobsons ons 'n visioen gegee van die Kalahari met sy swerwende Boesmans en sy troppe groot- en kleinwild, 'n visioen waarin mens en dier en landstreek saamgevleg is tot 'n ondeelbare eenheid. Die onherbergsame woestyn met sy troostelose sandduine, af en toe herskape tot 'n weelderige wei- en jagveld vir Boesman, bobbejaan en grootwild, dien nie alleen as agtergrond vir die spannende bestaanstryd nie, maar neem self deel aan dié stryd. Wreed werk die onbarmhartige woestyn met sy bewoners en dis alleen deur 'n oorgeërfde aanpassingsvermoë dat hulle hier 'n wisselvallige bestaan kan vind. Die skroei-hitte van die son brand ongenadig en die verdorrende westewind veeg die laaste groenigheidjie weg. As die orkaan verby getrek het, is al wat agterbly: ‘die duisende der duisende duine wat hy in die nag oor die plantegroei opgehoop het.’ Die trop wat hierdie eensame woestynstreek bewoon, word aangevoer deur die geslepe Kees, wat met toegewyde trou waak oor die belange van die bobbejaangemeenskap. As gevolg van 'n besering moet hy egter padgee en deur 'n toeval sluit 'n jong bobbejaantjie, Adoons, wat ook van die trop afgeraak het, by hom aan. Ofskoon die sieklike ex-kommandant maar 'n onvriendelike maat is, word 'n soort toenadering tog te weeg gebring deur die gevreesde westewind, wat hulle geweldig met | |
[pagina 440]
| |
klippertjies bestook. ‘Sagkermend begin hy (Adoons) al hoe nader na die ou mannetjie skuiwe: dié voel self net onrustig, en in plaas van die outjie soos gewoonlik af te snou, laat hy hom met 'n benoude ûf-ûf teen hom aanskuiwe.’ Hoe die bangerige aanhanklikheid van die onervare Adoons eindelik triomfeer oor die afwerende norsheid van die eensame balling, is een van die mooiste momente in die verhaal. Dis inderdaad 'n interessante trop bobbejane waarmee ons kennis maak. Ons sien hulle pronk en baklei op die duine by die verkiesing van 'n nuwe kommandant; ons bewonder hul oulike taktiek as hulle volstruiseiers buit, of lag oor hul kaskenades as hulle heuning steel. Maar ons beleef ook die martelende angsspanning waarin hulle telkens verkeer as Sluip, die luiperd, snags sy prooi beetpak. In die donker vlug hulle verbouereerd weg - ‘'n snouende tjankende gespuis’ - maar as Sluip dit waag om helder oordag 'n bobbejaan te vang, loop die ou vegters hom moedig storm en skeur hom flenters. Nie minder interessant is die geskiedenis van die rooijakkalse nie. Kloes se reputasie in die buitewêreld mag nou wel ongunstig wees, maar ons leer hom hier lief kry omdat hy so 'n toegewyde eggenoot is, wat hom die grootste opofferinge getroos vir sy wyfie en kleintjies. As die honger knyp, of gevaar hulle bedreig, blink hy uit deur vindingryke planne, by die uitvoering waarvan Karlyntjie hom trou ter syde staan. As sy egter deur 'n pofadderbyt tydelik hulpeloos word, sorg hy alleen vir sy gesin, ofskoon dit telkens alleen deur 'n uiterste inspanning moontlik is. Die troue wyfie offer haar lewe op om haar kleintjies te beskerm, en aan die end van die verhaal staan die treurende Kloes weer verlate op die sandvlaktes, want sy enigste seun hoor die verleidelike lokstem van 'n wyfie. | |
Skankwan van die Duine (1930).Ga naar voetnoot1)In Skankwan van die Duine maak ons ook kennis met die menslike bewoners van die Kalahari. Marak, wat jare lank as slaaf onder die Kaffers gelewe het, veroorsaak 'n skeuring onder die Luiperdstam en deur sy superieure kennis bemagtig hy die kapteinskap. As gevolg van sy gekonkel word die agjarige Skankwan, 'n kleinseun van die vermoorde kaptein, 'n eensame swerweling, wat hom egter ten spyte van sy jeug op behendige wyse handhaaf in hierdie onherbergsame oord en uiteindelik daarin slaag om met behulp van 'n bevriende stam wraak te neem op die moordenaar van sy vader. Skankwan se omswerwings en avonture gee | |
[pagina 441]
| |
ons 'n uitstekende kyk op die leefwyse en geaardheid van die Boesmans, asook van die wild waarop hy gedurig jag maak. | |
Buks (1933).In Buks word die geskiedenis van 'n ratelfamilie vertel. Kalant en Bekkie, die ouers van Buks, word gedood in 'n dapper geveg met otters. Na 'n sorgelose jeug moet Buks en sy suster dus op eie pote staan net soos Sangiro se leeuwelpies. Hulle stryd om te bestaan word in 'n reeks lewendige toneeltjies dramaties uitgebeeld. Elke dag bring nuwe avonture, botsings met vyande en die gedurige stryd om voedsel te bemagtig. As Sussie muisneste in die kop kry, sit Buks sy swerftogte verder alleen voort totdat hy Kappie raakloop. Mooi word die familielewe van die ratels beskrywe, die baljaardery van die lewenslustige kleintjies en die oulike jagtaktiek van die ouers. Buks doen ernstige kwetsure op in 'n geveg met 'n bosvark en word gedurende die volgende lente deur Kappie verlaat. Nadat hy sy kragte herwin het, keer sy tot haar eerste liefde terug, maar nie voordat Buks 'n medeminnaar in 'n verwoede geveg doodgebyt het en daardeur bewys het dat hy weer die baasratel is van die bosklowe langs die Limpopo. Ofskoon hierdie verhaal nie op dieselfde peil staan as Kees van die Kalahari nie, verras dit ons andermaal deur die liefdevolle betragting van die dierelewe, en die dramatiese uitbeelding van die stryd om die bestaan.
By die Hobsons ontbreek die magtige ritmiese deining wat Sangiro se prosa so bekoorlik maak. Die musikale ruising van sy klankryke volsinne, wat met so 'n maklik stromende beweging vorentoe gly, is by die Hobsons vervang deur 'n minder ingewikkelde sinsbou. Kort en saaklike waarnemings volg mekaar snel op en met 'n paar haastige woorde word elke fase van die dieredrama vir ons geskets. Terwyl Sangiro meer aandag bestee aan 'n breed uitgewerkte skildering van die dierelewe, bepaal die Hobsons hulle by voorkeur tot 'n weergawe van die dramatiese botsings wat elke oomblik haas op die veld plaasvind. Sterk kom ons dan ook onder die indruk van die folterende spanning waarin die veldbewoners gedurig lewe. Wee dié dier wat selfs maar enkele sekondes in sy waaksaamheid verslap! Onverbiddelik is die natuurwet wat verordineer dat die een dier die ander moet verslind. Agter elke bossie kan daar gevaar skuil, en selfs uit die blou lug pyl die lammervanger om 'n onskuldige jakkalsie te gryp. Hierdie onafgebroke oorlog tussen die diere gee aanleiding tot 'n reeks spannende gebeurtenisse, wat die Hobsons se boeke 'n besondere bekoring laat verkry het vir jong mense. Elke oomblik kan daar iets gebeur, want 'n wapenstilstand is so goed as onbekend op die veld. Die onnosele steenbokkie, wat slegs vir enkele oomblikke die koelte van 'n erdvarkgat soek, word geruisloos bekruip deur die oulike Skankwan, | |
[pagina 442]
| |
doodgesmoor en sommerso rou opgeëet. Die vlakvark wat binne die bereik van die luislang kom, word soos die blits doodgedruk. En so trek die een toneel na die ander voor ons oog verby. Elke oomblik ontstaan daar 'n nuwe situasie vol verrassende moontlikhede en onverwagte verwikkelinge. Maar ook die romantiek van die wildernis word met liefdevolle aandag beskou. Pragtig geslaag is die beskrywing van die vryery tussen Kloes en Karlyntjie en van Skankwan se kordaatstuk, waardeur hy die kaptein se dogter verwerf. By al die onbarmhartige wreedheid en listige bedrog wat Boesman en wilde dier kenmerk, word ons ook getref deur die innige teerheid en roekelose moed waarmee hulle hul kroos beskerm. En net soos beide Boesman en wilde dier die geringste ritseling op die jagveld kan verstaan, so ook het die skrywers deur jarelange ondervinding geleer om die betekenis van elke geluid of beweging of ruik te vertolk. Die geheime van die woestynwêreld het hulle beluister en in direk-beeldende taal aan ons geopenbaar. Die karakteristieke bewegings van elke dier word soms met 'n enkele woord so gelukkig aangedui dat die leser die toneel as voor-sy-oog-gebeurende ervaar. Voorbeelde van hierdie dramatiese vermoë staan haas op elke bladsy en wie aandagtig en luisterende lees, hoor nog lank die dolle blafgelag van die hiëna, die weemoedige hoesgeblaf van wildehonde, die uitgerekte fluitnoot van die koestertjie, of die dubbel-drieklank-geroep van 'n weemoedige jakkalsmannetjie. | |
Op die Voorposte (1932).In Op die Voorposte word die woelinge op die westelike grense van Transvaal beskrywe, waar in 1882-1883 die twee republiekies Goosen en Stellaland opgerig is deur blanke vrywilligers wat deelgeneem het aan twiste tussen naturellekapteins. Deur hul verblyf in Betsjoeanaland het die Hobsons in persoonlike aanraking gekom met party van die hooffigure uit hierdie tydperk, en sonder om ooit in lang historiese uitweidings te verval, bied hulle ons 'n kleurryke beeld van die voortrekkers wat hierdie deel van ons land bewoonbaar gemaak het. Le Roi, wat die vernaamste rol in die verhaal speel, is ongetwyfeld geïnspireer deur die berugte perdedief, Scotty Smith, George St. Leger Lennon, 'n afstammeling van 'n Skotse familie. Uit 'n rapport van kapt. Bower, soos gesiteer deur dr. Leyds, haal ek die volgende aan omtrent hierdie interessante figuur: ‘De vee- en paardedieven te Taungs en omstreken wonende, gaan nog steeds voort met hun rooftochten. Een van hun, genaamd Scotty Smith, is bezig een huis te Taungs te bouwen. Deze man heeft een groote bende Zoeloe's en koloniale Kaffers, die hij heeft afgericht om onder hem te werken. Hij beroemt er zich op 750 paarden te hebben gestolen. De andere benden onder Getty, Yankee, Wright, Forster, enz., zijn ook bezig geweest.’ Volgens Bower was daar by die Batlapins meer diewe | |
[pagina 443]
| |
as wat hy ooit by enige ander stam aangetref het, en oor die blanke fortuinsoekers te Taungs vertel hy: ‘Deze menschen zijn voor het meerendeel Engelschen en kunnen in twee klassen worden verdeeld: paarde- en veedieven van beroep en landhaaien.... Deze menschen stoken de vijandschap tusschen naburige stammen aan....’ In Stellaland was die toestand egter heelwat beter: ‘Ik had verwacht,’ rapporteer Bower, ‘daar een hol van vrijbuiters en roovers te zien, doch vond het Hollandsche deel der nederzetting bezig met te overwegen, welke de beste middelen zouden zijn om fondsen bij elkaar te krijgen voor den bouw eener kerk!’ In hierdie republieke, wat lank die speelbal was van uitgerekte onderhandelinge tussen die Imperiale Regering en Transvaal, het daar gedurig woelinge plaasgevind en aan spannende avonture was daar geen gebrek nie. Ofskoon die historiese episodes soos deur die skrywers geskilder nie altyd ooreenkom met die gegewens wat dr. Leyds ons bied in Het Insluiten van de Boerenrepublieken nie, kry ons tog 'n goeie kyk op die lewe van die ou ‘wildebeesvreters’, wat onder geen gesag wou buk nie en hul eie wette daarop nagehou het. Le Roi het 'n edele inbors, maar na die dood van sy vrou raak hy ingewikkeld in allerhande twyfelagtige avonture. Sy weerstandsvermoë verswak allengs in hierdie losbandige omgewing en met die hulp van sy troue Kafferbondgenote word hy die held van ontelbare waaghalsige avonture. Uiteindelik leef die Koning van die Kalahari soos sy volgelinge hom betitel, met die dogter van 'n Kafferkaptein, en ofskoon hy hom verset teen die degenererende invloede en soos sy historiese dubbelganger tallose weldade aan verongeluktes bewys, kan hy tog nie die Boeredogter Ralie beweeg om sy vrou te word nie. Teleurgesteld trek hierdie rustelose swerwer weg na die noorde, waar hy op gevaarlike jagtogte sy leed probeer vergeet. Ook die ander karakters ondervind die verslegtende invloed van hul bandelose omgewing, en Willem, die seun van 'n trotse Karoboer, trou met 'n halfnaatjie. Maar die karakteruitbeelding is baie oppervlakkig en onoortuigend. Alle nadruk val op die romantiese avonture en hier is die skrywers in hul element. In ons land waar goeie vertellers maar baie yl gesaai is, behoort hierdie boek 'n dankbare ontvangs te geniet weens sy opgewekte verteltrant. Jeugdige lesers sal hulle verkneukel oor die spannende heldefeite van die Koning van die Kalahari, wat sy teenstanders altyd so netjies troef. Die eerste gedeelte van die boek bevat 'n uitstekende beskrywing van die moeilikhede van 'n Karoboer wat met bokke boer. Die haastige oom Jan Viljee, wat maar steeds uitroep: ‘Roer, my outa's, roer-roer!’ is met liefde geteken. Hier is skrywers aan die woord wat nie net die boer in sy daaglikse doening oplettend beskou het nie, maar self geworstel het met die teleurstellings en beproewings van die plaaslewe. | |
[pagina 444]
| |
Geluksvlei (1937).Ofskoon hierdie verhaal onder albei broers se name verskyn het, is S.B. alleen daarvan die skrywer. In die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring (1936) vertel hy hoe daar baie skrywers is ‘wat die droogte, sprinkane en armblankes so graag op die voorgrond stel. Dit word hoog nodig dat iemand ook die blink kant wys. Daar is tog ook mooi plase en vet skape en gawe mense op die platteland. In Geluksvlei wil ek.... reg daaraan laat geskied.’ Die vernaamste verdienste van hierdie verhaal is dat dit ons 'n aantreklike beskrywing gee van die skaapboerdery op 'n Karoplaas. Jan van Zyl kom op sy een-en-twintigste verjaardag in besit van Geluksvlei, waar hy nou die kennis op die landbouskool verwerf prakties kan toepas. Hy moet egter die helfte van die plaas se waarde, £ 8000, aan 'n ouer broer uitbetaal en daarom sal dit fyn oorleg vereis om Geluksvlei los te boer. Sy raadgewer is oom Koos, wat in sy jeug transportryer was op die goudvelde, maar sy ou-dag kom slyt het op die geliefde familieplaas. Oom Koos is 'n boer van die ou stempel, wat die grond hartstogtelik liefhet, en al sy tyd bestee aan die vrugteboord en tuin. Hy vertel Jan van die boerderymetodes van die ou dae toe dit nog nie nodig was om ‘agter geld aan te boer’ nie, maar hy is verstandig genoeg om te besef dat Jan op die modernste manier te werk sal moet gaan. Hierdie waardige grysaard is die besgetekende figuur in die boek. Deur sy knaende heimwee na die ou dinge vestig hy die aandag op wat waardevol is in die verlede, daardie hoë ideale wat ook vir die moderne boer nog van groot betekenis is. Ongelukkig is die uitbeelding van die ander figure baie fragmentaries en oppervlakkig, terwyl die konvensionele liefdesverhaaltjie klaarblyklik ingevleg is om 'n bietjie afwisseling in die plaasbedrywighede te bring. Die eintlike tema bly dwarsdeur die boek die skaapboerdery en die suksesvolle manier waarop Jannie veesiektes behandel en grondverspoeling keer. Dit is uitstekende leesstof vir die Afrikaanse seun, wat so dikwels deur sy ouers afgeraai word om te gaan boer, want hy sal uit hierdie verhaal leer dat wie die grond liefhet en met kennis van sake te werk gaan, ryklik beloon word vir sy arbeid. Na die lang reeks verhale waarin die treurige lot van die uitgeboerde boer met so 'n felle realisme geteken is, het ons hierdie opgewekte verhaal dubbel nodig om ons geloof in die ekonomiese stabiliteit van die boerebedryf te herstel. Uit 'n kunsoogpunt beskou is die verhaal egter grotendeels teleurstellend. Daar is wel mooi kiekies uit die dierewêreld, wat ons herinner aan die beste werk van die skrywers, maar dit het geen epiese uitbeelding geword van die boerelewe nie. Die beskrywings van die plaasbedrywighede bly nugter en saaklik en bestaan dikwels slegs uit 'n katalogus- | |
[pagina 445]
| |
agtige opsomming. As 'n mens die verslag van die skeerdery in hoofstuk 26 vergelyk met die koringsny in Van den Heever se Somer, dan word die gebrek aan beeldende vermoë by Hobson baie opvallend. Gedeeltelik moet dit aan die outeur se didaktiese bedoelings toegeskrywe word, want orals wil hy die voordele van die wetenskaplike metodes beklemtoon. Of hierdie metodes altyd korrek aangedui word moet ons aan die oordeel van deskundiges oorlaat. Een van hulle het my daarop gewys dat 'n landboustudent behoort te weet hoe gevaarlik dit is om bene, op 'n vuilgoedhoop opgetel (p. 86), aan diere te gee sonder om dit te steriliseer. Uit 'n taalkundige oogpunt is dit erg jammer dat die skrywer die gebruik van werkwoorde soos klas, pres en dose aanmoedig. Hy beheers die pittige plaasidioom so goed dat hy regtig sonder hinderlike anglisismes kan klaarkom. |
|