Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 1. A.A. Pienaar (Sangiro)Ga naar voetnoot1).Sangiro is in 1894 in die distrik Pretoria gebore. Op elfjarige leeftyd het hy met sy ouers die voortrek na Duits-Oos meegemaak. Groot was die ontberings op die lang trek van die kus af na Kilimandjaro. Eers was dit malaria, toe vrek die trekdiere en eindelik was al die voedselvoorraad op - verweg in wilde bosstreke, waar niks te kry was nie. Kort na die aankoms by Kilimandjaro, waar toe al 'n paar Boerfamilies was, is twee van sy broers dood aan die gevolge van malaria en die ontberings langs die pad. Daar was geen ander maats naby die plaas nie en dus het hy alleen opgegroei tussen die diere. Van dié tyd vertel hy: ‘Die grootste plesier het toe nog bestaan in die jagavonture en die doodskiet. Maar ek het baie behae daarin geskep om jong wilde diere lewendig te vang en aan my gewend te maak. Daardie eerste jare was 'n gedurige worsteling om die vee snags teen roofdiere te beskerm. Dié werk het hoofsaaklik op my gerus. Deur gedurige aanraking - jag en naspoor gedurende die dag en opsit in die kraal snags, het ek natuurlik 'n baie intieme kennis van die roofdiere veral gekry. Hierdie lewe het vier jaar geduur. Toe is ek na Suid-Afrika om te studeer. (Heidelberg, Tvl. en Stellenbosch.) Toe ek in 1917 gaan kuier na Duits-Oos, was my lewens- | |
[pagina 427]
| |
beskouing baie verander. Ek het dit nou swaar gevind om wild dood te skiet, en het die jag alleen nog geniet wanneer dit gevaarlike teenstanders, soos die leeu en renoster geld. Die grootste plesier het ek nou daarin gevind om die diere in hulle eie omgewing gade te slaan. Die gebeurtenisse in my boekie (Uit Oerwoud en Vlakte) het gedurende hierdie twee jaar plaasgevind. Die stories is waar. Die leeus het ek 'n weeklank elke maanlignag sit en beskou uit 'n boom. Ek kon elke beweging bespeur en later weergee in my boek. Die jagters wat daarin voorkom is my broer, ('n jonger een) en ek self.’ In 1920 het Sangiro aan die Stellenbosse Universiteit gegradueer. Hy was op die redaksie van Die Burger, en uit dié blad is sy sketse Uit die Lewe bekend, wat hy in 1926 gebundel het onder die titel Diamantkoors. In 1921 het van hom verskyn: Uit Oerwoud en Vlakte, Sketse uit die Oos-Afrikaanse DierewêreldGa naar voetnoot1). Daarvan vertel hy: ‘Die boekie is geskryf in Quarta, Stellenbosch, waar 'n groot verlange na die wildernis van my besit geneem het, sodra ek in 1918 weer teruggekeer het uit Duits-Oos.... Ek kan dit nie help nie, maar ek het 'n gedurige heimwee na die wildernis - nou ook weer.’ So skryf Sangiro net na sy terugkeer van 'n lang jagtog, wat hy in Op Safari (1925) beskrywe het. Die jag was egter bysaak en die volgende keer neem hy miskien net sy kamera saam. Sangiro is die bynaam wat die Kaffers hom gegee het. In die periode 1926-1936 het van Sangiro alleen verskyn die treffende skets Koors in die bundel Nuwe Afrikaanse Kortverhale. Meesterlik beskryf hy daarin die skrikbeelde wat 'n malarialyer verontrus. Dis 'n stukkie outobiografie, want soos hy in 'n onderhoud meegedeel het, het die malaria sy gestel gedurende twintig jaar so ondermyn dat dit letterkundige werk haas onmoontlik maak. (Vgl. sy onderhoud met R.P. Visser in Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring (1936)). Daarom het 'n tweede safari-boek onvoltooid gebly. In hierdie onderhoud word ook ander redes genoem vir sy langdurige swye, Sangiro het lank in Duitsland vertoef en as leier van 'n filmekspedisie in Oos-Afrika opgetree. Daarna het hy in Johannesburg gewerk aan 'n rolprent van die Voortrekkers. In hierdie omgewing kan hy nie aard nie en hy verklaar aan Visser: ‘As die skrywer voeling met die natuur verloor, kan hy maar ophou skryf.’ Verder het Sangiro verbitterd geraak deur die harde teenslae wat die lewe hom toegedien het. Visser meen egter dat hy hom langsamerhand met die lewe begin te versoen en weer sy letterkundige werksaamhede sal kan hervat. Dit sal 'n blye dag vir ons wees! Werke: Uit Oerwoud en Vlakte (1921); Op Safari (1925); 'n vertaling van H.A. Aschenborn se werk: Die Adelaar (1925); Diamantkoors (1926). Uit Oerwoud en Vlakte is in Engels en Frans vertaal. | |
[pagina 428]
| |
Uit Oerwoud en Vlakte, Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld (1921).M.H. van Campen het opgemerk, dat in die loop van die eeue die beroemdste skrywers die dierewêreld ‘nimmer om zich-zelfswil in literaire kunst’ uitgebeeld het nie. In die Pancatantra, die fabels van Aesopus, die Reinaert-sage en ook vir La Fontaine is die dier alleen van belang ‘voor zoover het als acteur te gebruiken viel, wien een menschelijke rol kon worden toebedeeld.’Ga naar voetnoot1) ‘Zeer zeker ging al dezen schrijvers het eigenaardige van het dier-leven niet onopgemerkt voorbij, maar dat leven zagen zij niet als een schoonen stroom, machtig, diep en hunner aandacht ten volle waardig, ook al hadden zij er nooit de spiegeling van der menschheid gelaat in gezien.... De dieren spelen (in de Indo-Europeesche dierensage) wel de eerste rol, maar die dieren denken en handelen met menschelijk verstand, die dieren zijn verkapte menschen, zijn menschen in een dierenhuid gestoken, gelijk in Rostand's Chantecler.’ Natuurlik erken Van Campen dat ‘door spel en tegenspel dezer als 't ware psychologisch-kunstmatige en niet naar de doorgronde-werkelijkheid gebeelde dierfiguren, tafereelen van tot schoonheid gestegen schalkheid, satyre, wysgeerig en menschkundig inzicht ontstaan (zijn), die voor geen andere werken van letterkunde onder hebben te doen.’ In die diere-epos en diereroman van ons tyd word die dier om sy eie ontwil uitgebeeld. Jack London se Pittah noem Van Campen: ‘een dierenverhaal, dat ons den schrijver doet zien, zóó verzonken in de contemplatie van het dier-leven, dat dit op het allereerste plan van het werk staat, en de menschen er slechts in optreden voor zoover zij invloed hebben op geest of lichaam van het dier.’ So langsamerhand het daar 'n uitgebreide literatuur ontstaan, heeltemal gewy aan diere van allerlei soort. Charles Derennes raak in sy bestiaire sentimentale selfs in geesdrif oor 'n vlermuis en in Le Roman de la Riviëre van Georges Ponsot is die held 'n jong snoek. By sommige kunstenaars is dit die herlewing van die ou pastorale idee, 'n wegvlugtery uit die smoor-atmosfeer van die moderne beskawing. Edward Garnett vertel ons van W.H. Hudson ‘who, (flings) off the soiled dust of our human thoroughfares, and (goes) into nature's wilderness to escape the sight of the pale civilized faces, with the mean round of petty human interests of their artificial indoor lives.’Ga naar voetnoot2) In Suid-Afrika met sy wyd uitgestrekte vlaktes, wat nog so dun bevolk is, kan daar van so 'n motief egter geen sprake wees nie. By ons is daar nog maar weinig ‘kinderen van weelderige overbeschaving’,Ga naar voetnoot3) want die grootste gedeelte van die volk leef nog in landelike eenvoudigheid. Maar | |
[pagina 429]
| |
deur die gedurige rondtrekkery in woeste streke het die Boere in intieme aanraking met die natuur gekom, en had hul die geleentheid om die lewe van die grootwild van naby te bestudeer. In ons letterkunde is daar dan ook tallose jagverhale. Maar so 'n digterlike gees soos Sangiro is nie tevrede met die optekening van sy jagervarings nie. Deur 'n langdurige verblyf in woeste streke geraak hy onder die mistieke bekoring van die oerwoud, gaan hy geestelik heeltemal op in die geweldige drama van die natuur. ‘Man.... can only enter into the vast world of (nature's) myriad sentient life by employing all the old emotional tools - his sense of mystery, love of beauty, poetic imagination, and human love - to supplement and vivify the impassive truths of Science.’Ga naar voetnoot1) Dit is wat Sangiro doen. 'n Leeu is vir hom nie alleen ‘'n aantreklike wit’ en ‘na 'n goedgeslaagde skoot... 'n stuk dooie vleis’ nie, maar in elke leeu sit ‘'n fyn georganiseerde lewe...., 'n persoonlikheid in sy soort ruim so interessant as dié van die mens’ (p. 83). ‘Ook onder die wilde diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te verstaan’ (Voorwoord). Maar Sangiro is veel meer as 'n ‘opmerksame waarnemer’; sy liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker van al hul emosies en instinkte, en deur middel van sy plastiese uitbeelding laat hy ons dit ook navoel. Edward Garnett het in die aangehaalde artikel duidelik aangetoon, dat die noukeurige wetenskaplike waarnemings van die beroepsnatuurkundige aangevul en vertolk moet word deur artistieke en poëtiese verbeelding. Tot die wetenskaplike ondersoeker sê hy: ‘You tell us countless facts about the laws of life, but the actual spirit of life, its living feeling, which is the essential volatile principle of life, can never be fully assessed by you.’ Dié artistieke verbeelding en innige aanvoelingsgawe besit Sangiro, en daarom is sy sketse ook 'n kunswerk geword.Ga naar voetnoot2) Hoe diep en innig die liefde vir diere kan word, blyk uit die volgende verklaring van dr. Jac. P. Thijsse: ‘Ik heb nu al zoovele voorjaren met de vogels bewust meegeleefd, dat ik ook de Aprilmaand min of meer op vogelmanier gevoelen kan en ik voel 's morgens bij 't ontwaken, welke vogels in den nacht aangekomen kunnen zijn.’Ga naar voetnoot3) In die eerste skets beskryf Sangiro die lotgevalle van 'n leeufamilie. In al hul houdings het hy die diere bespied, op al hul dwaalpaadjies het sy oog hul gevolg. Die speelse vrolikheid van die kleintjies, die versigtige sluipgang op die jagveld, die kennismaking met nuwe vrinde en die | |
[pagina 430]
| |
nagtelike smulpartye word op mooi realistiese wyse geteken. Hy probeer om al die fyn klanknuanserings in die leeuegebrul te verstaan. Wanneer hy die smart van die trotse bosreuse oor 'n doodgeskiete wyfie beskryf, die hulpelose verlatenheid en swerftogte van die bangerige kleintjies, dan bereik hy 'n diepte en innigheid van plastiese uitbeelding waar 'n roerende skoonheid in bewe. Die langsame ontplooiing van die jaginstink by die jong diertjies word met treffende waarheid geskilder. Die wilde natuur waarin die geweldige dieredrama afgespeel word is nie alleen dekor, is nie louter omlysting nie, maar maak onafskeidelik deel uit van die handeling. In die stilte van sy donker wegkruipplek, in die lange ure van sy spannende nagwake het die geheimsinnige gees van die wildernis hom aangeraak. Hy het die glans van die maanspatsels oor donker blare gesien, die wegskuiwende skaduwees in hul trage gang gevolg; die blitsoë van getergde leeus het hom laat huiwer; die geritsel van die gras, die gekreun van die bome, die jagkrete van al die oerwoudbewoners het hy leer verstaan; die slagtande van gulsige hiënas het hy hoor kners op die afgevrete bene van hul prooi. En deur die skoonheid van sy woord laat hy ons dit ook alles sien en hoor. ‘Ek sou.... vandag die geweer opsy laat en net met kamera en dagboek ter hand 'n beeld uit die daaglikse lewe van die oerwoudbewoners probeer opvang.’ (p. 169.) So ontstaan die skets: In die Oerwoud. By 'n reënpannetjie is sy wagplek en al die lewe rondom hom word met raak trekke geteken, terwyl ook die hele atmosfeer van die oerwoud goed aangedui word. Die derde skets Renosterlewe is 'n deurlopende verhaal van die vrindskap tussen 'n renostertjie en 'n jong seekoei, wat albei hul ouers deur die koeëls van die jagters verloor het en troos en veiligheid in mekaar se geselskap vind. Al hul avontuurlike ondervindings op lang swerftogte deur oerwoud en oor vlaktes word met liefdevolle oorgawe in treffende tafereeltjies uitgebeeld. Die hele tropiese omgewing met sy miljoene dierbewoners en weelderige plantegroei word vir ons 'n skone realiteit, trillende van intense lewe tot in sy donkerste wegkruipplekkies. In so 'n geweldige oerwoud is die mens maar 'n nietige stippeltjie, en in die atmosfeer van plegtige stilte, waar elke geritsel 'n betekenis het vir duisende ore, besef ons, ‘that man's mind, though the most marvellously complex instrument of all, is still, as it were, but a human eyelet hole, through which the Universe can only be refracted back to us in certain aspects of its incalculable whole.’Ga naar voetnoot1) Hoe dankbaar moet ons wees, dat daar kunstenaars soos Sangiro is, wat ons nader aan die natuur bring, wat ons iets laat begryp van die intieme lewe van die diere. Hy is op die jagveld nie alleen 'n vernielende oorwinnaar nie, aangehits deur 'n primitiewe uitroeiingsinstink, maar ook die digterlike aanskouer, wat voel dat daar in die | |
[pagina 431]
| |
krioelende lewe om hom heen skoonheid te vinde is. Dat hy protes aanteken teen die onridderlike praktyke van party jagters kan ons verstaan.Ga naar voetnoot1) Maar sy hele boek is so 'n welsprekende aanklag teen menslike wreedheid, dat 'n direkte pleidooi, wat ook uit kunsoogpunt nie kan goedgekeur word nie, oorbodig is. Treffend is die tekening van die eensame renosterwesie. ‘Sy ongeduldige geproes, waarmee hy eers die seekoeitjie wou uitlok, onderwyl hy opgewonde op die oewer ronddrentel en die sagte brak vol ronde spoortjies trap, het langsamerhand, namate sy maat verder en verder swem, in 'n smekende gepiep oorgegaan.... Nog 'n rukkie staan die donker figuurtjie daar op die wit brak, af en toe sag kwiekende onderwyl hy oor die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy, met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige renostergesiggie.’ So vind Sangiro vir al die woudbewoners die juiste, tekenende woord. Van 'n gekweste seekoei kry ons die volgende realistiese skildering: ‘In stomme wanhoopstaar hang die massiewe kop omlaag, die verbryselde kakebeen bloederig-kwylend in aanhoudende vergeefse poginge om tande op mekaar te knars.’ (p. 225.) Ook die atmosferiese verskynsels, die tropiese sonsondergang, die miswolke teen die hang van die berge, die sombere reënseisoen laat Sangiro in fyn stemmings-beskrywinge vir ons leef. ‘Dae het verbygegaan, en nog duur die sonskyn. Met die groei van die maan het die weer skielik verander, en na 'n week van woeste, stikdonker nagte en droefskemerige reëndae wasem die oerwoud weer geur uit onder 'n sonnige safierhemel; en wellustige dae word gevolg deur toweragtige maanlignagte, wanneer vuurvliegies oor 'n misties-glimmende watervlak dans en dowwe eggo-klanke van nagdiere onder 'n donker, vogtige oerwoud rondom weerklink.’ Mens voel dat die skrywer sy gedagtes gekoester het, sy woorde liefhad en hul met sorg neergeskryf het. Daar is 'n vloeiende buigsaamheid, 'n musikale streling in sy sinne. Telkens word ons verras deur raak seggingskrag en fyngevoelige uitbeelding, sonder dat aanstellerige en bygemaakte woordpronksels die klare eenvoud van sy styl bederf. 'n Enkele maal skryf hy aan die diere miskien te spesifiek menslike gevoelens toe, en soms twyfel ons aan die juistheid van sy psigologie. ‘Die renostertjie (staan) nog snuiwend in die rondte, gereed om te storm ....en heeltemal seker dat hy nou vreeslik boos en luidrugtig is.’ (p. 233.) In so 'n geval bring die skrywer sy eie waarneming op die dier oor en oortuigend is dit seker nie. Maar daarteenoor staan, dat hy hom so ingeleef het in die diereverstand, dat sy intuïsie hom selde op 'n dwaalspoor bring. | |
[pagina 432]
| |
Op Safari (1925).In Uit Oerwoud en Vlakte was die dier hoofsaak en die mens bysaak. Daar laat die skrywer ons so intens saamlewe met die dierlike instinkte en emosies dat die mensfiguur gevoel word as 'n ongewenste indringer, wat die intimiteit van die oerwoud se wegdonkerende dieptes, so vol krioelende lewens-massas, net ontheilig. In Op Safari is die drie jagters meestal op die voorgrond. Die diere is belangrik, omdat hulle bewegings die lotgevalle van die jagters bepaal, en hulle word ook gewoonlik van die jagter se standpunt beskrywe. Maar - hoe sou Sangiro dan ook sy eerste liefde vergeet? - telkens hoor ons die welbekende klank van Oerwoud en Vlakte as die skrywer hom liefdevol verdiep in die innerlike roersels van die viervoeters. Dis dan ook drie ridderlike jagters, wat nie na Oos-Afrika gegaan het om 'n doodskiet-rekord te slaan nie. Uit die aard van die saak ontbreek daar in hierdie boek dié ingehoue dramatiese spanning waarmee ons die lotgevalle van die diere in Oerwoud en Vlakte volg. Ons kan hier nie die langsame ontplooiing van die dierinstinkte volg nie, omdat die belangstelling gekonsentreer word op die kortstondige verskyning van die dier, as hy hom verdedig teen die jagters, of wegvlug na die ruigtes. Dis meer 'n opeenvolging van spannende oomblikke wat Op Safari ons gee: die onverwagte stormloop van 'n groteske renoster, die moedige aanval van 'n vertoornde maanhaarleeu, die opborreling van 'n reusagtige seekoei vlak by die jagter se voete, die blits van die hiëna se ‘groen-geel vlammetjies’ in die stikdonker duisternis. Dit alles gee die skrywer geleentheid om die aandoenings van die jagter mooi te ontleed en in die gouigheid ook nog 'n treffende moment-opname van die dier te kry. Maar dié warm-intieme sfeer wat ons so bekoor het in die beskrywing van die ou maanhaar se familielewe kan Sangiro hier natuurlik nie bereik nie. Ons sou die boek dan ook kortweg kan karakteriseer as 'n vlotgeskrewe, goedgestileerde jagbeskrywing, as joernalistiek in die beste sin van die woord. Maar die innig-begrypende liefde waarmee Sangiro alles beskou, die trilling van egte ontroering wat uit sy melodieuse sinne opklink, gee die boek ook plek-plek letterkundige waarde. Ek dink b.v. aan die dorstrek deur die droë meer, wat by die leser byna dieselfde fisieke aandoenings opwek as by die jagters, só treffend is die tekening. ‘'n Gedurige heimwee na die wildernis’ het Sangiro van gepraat in sy aangehaalde brief. Hoe het hy hom nie verlustig in die wilde natuur nie wat hy so lief het! Die eindelose vlaktes en donkergroen bosse, die hitte-flikkering op die dorre mere, die broei-wasems van die moerasse met hul primitiewe bewoners in ontoeganklike ruigtes - dit alles leef in ons herinnering deur sy kleurige skildering. Op die agtergrond die grootse silhoeët van Kilimandjaro: ‘Teer soos 'n droombeeld, wat elke oomblik | |
[pagina 433]
| |
weggeblaas kan word, verhef die mistige blou gevaarte hom teen die deinserige westerlug....’ Dwarsdeur die wilde eensaamhede slinger die bewegende stippies van die safari-slang en in die verte flikker die skroeiende son op die asgaaie van 'n paar rondswerwende Ndorrobbo's. ‘Hulle is naak, deurspierd en uitgedor soos die woestyn self, aan wie se droë bors hulle groot geword het: die enigste mense wat in hierdie heilige stilte nie steurend werk nie, omdat hulle met hulle omgewing saamgegroei is.’ Sangiro laat die landskap met sy bewoners vir ons lewe, in al sy wisselende skakerings. Elke boom, plant en dier maak 'n indruk op hom, en met 'n paar woorde sit hy hulle vlak voor ons neer: die rank-kaktus ‘met sy grillerige spinnekop-litte’, die ‘verskrompelde, blaarlose kanniedoodboompies en kremetart-reuse, wat verwronge dwergarmpies bo hul knoestige dik rompe uitstrek’; die wegsluipende hiëna ‘met sy kneukelig hoë gestalte, sy grimmige dik kop en grofharige bruin vel, wat met die stof van sy lang swerftogte bedek is’; die renoster ‘met sy groteske, sprokies-vreemde gestalte’ - om maar 'n paar te noem. Selfs die dor-saaklike meedelings wat moet dien om die leser die nodige kennis van die terrein, die samestelling van die safari, ens., te gee, word by Sangiro nooit vervelend nie, omdat sy wyse van voorstelling steeds vol onverwagte draaitjies en komieklike bygedagtes is, wat ons aandag ongemerk verder laat glip. Op so 'n lang tog moet daar vanself 'n soort kameraadskap tussen die drie jagters ontstaan. Sangiro het in sy tweede paragraaf al gevoel hoe moeilik dit gaan wees om ander mense belang te laat stel in hul persoonlike ervarings en grappies. Ons ken dié vertellers wat met 'n egte Sitman-gesanik so allervervelends kan word. Sangiro slaag daar egter deurgaans goed in om ons belangstelling tot die end toe vas te hou en hy vleg 'n aantreklike versameling anekdotes en jagverhale in sy beskrywings in, terwyl hy die kuns om onbelangrike dinge te verswyg, goed verstaan. Die hoofverdienste van die werk lê egter nie in die joernalistieke gedeeltes nie, al openbaar die skrywer daar ook 'n maklik-vloeiende verteltrant. Dit lê veral in dié gedeeltes waar hy die gees van die wildernis vir ons vertolk, waar sy liefdevol gekoesterde herinnerings van die oerwoud hom só ontroer dat dit lei tot 'n herlewing van die hele landskap in ons eie gees, 'n herlewing wat ons vir 'n hele ruk die stof van die stadslewe laat afskud en ons tussen die snerpende motorgetoeter tog nog die lokkende roepstem van die geheimsinnige oerwoud so duidelik in die ore laat klink. Een van dié gedeeltes haal ek aan: ‘Die sidderende gloed van die middag, met die groot, rustig-koele skaduwees van drywende wolke; die felle kontraste van vaalgeblakerde veld en swart boomvlekke, en van groen vleie wat hier en daar opgewek glans soos kosbare steentjies in die droë woestyn; en dan die alles versagtende, deurgloeiende, verheiligende ligglorie van die sterwende son, | |
[pagina 434]
| |
wat agter die rotsberge van die droë meer wegsink soos 'n vulkaniese uitbarsting op die drempel van die nag.’ Sangiro se ‘gedurige heimwee na die wildernis’ sal telkens as 'n weldadig-verfrissende herinnering in ons gedagtes rondwaar; 'n windjie bevrag met die suiwerste oerwoudgeure laat hy dwars deur ons vermufte kantoortjies waai. | |
Diamantkoors (1926).Sangiro slaan in hierdie bundel 'n nuwe rigting in en lewer daardeur 'n oortuigende bewys dat hy ook as uitbeelder van die mens onder ons beste kunstenaars kan getel word. Totnogtoe was die delwerye, letterkundig gesproke, feitlik 'n onontgonne terrein. Imker HoogenhoutGa naar voetnoot1) het wel op onderhoudende wyse sy ervarings as skoolinspekteur geskets in die bundeltjie Op die Delwerye, waarin hy ons 'n aantal interessante kiekies uit die delwersgemeenskap gee. Maar sy sketse munt nie uit deur diep indringende psigologie nie; hy bly aan die oppervlakte en vertel maar net wat hy so in die verbygaan gehoor en gesien het. Vir die kunstenaar moet die vreemdsoortige mensdom op die delwerye, geluksoekers wat uit alle oorde toestroom om 'n laaste wanhopige poging te waag, wel 'n belangwekkende studieveld wees. Onder die saamgebondelde menigtes kry ons verteenwoordigers van al die lae van die samelewing, uitsaksels van verskillende ambagte en beroepe, wat moes padgee as gevolg van die ekonomiese druk, opdrifsels wat die onbarmhartige lewe laat uitspoel het op onsekere dryfsand. Die primitiewe toestande waaronder die delwers hul wisselvallige bedryf voortsit en die geringe bestaansmoontlikheid wat dit aanbied, gee die beskawing weinig kans om vatplek te kry op die vlottende gemeenskap. Hier sien ons die naakte menslikheid van opstandige verworpelinge, wat in hul verbittering die ideale van die georganiseerde maatskappy vervloek en hul oorgee aan verdierliking, maar ook ander wat gedwee voortsukkel, almaardeur met die hoop dat 'n paar blink klippies hul sal red uit die ellende. Tot hierdie laaste groep het ook Jan Neethling totnogtoe behoort. Ons ontmoet hom as hy besig is om die laaste riffie van sy amper uitgewerkte kleim te deursoek. Lank het hy geduldig geswoeg, maar as hy vandag nie 'n geluksdag kry nie, moet hy en sy gesin gaan bedel of van honger omkom. Twee dae lank het hy met skynbare onverskilligheid die stygende ellende in die sakpondokkie aanskou, waar sy vrou met 'n sterwende kindjie sukkel en die laaste krieseltjie kos verdwyn was. En met koorsige werk-ywer swoeg hy voort aan die allerlaaste riffie, wat nog ter elfder ure die lank verbeide uitkoms moet bring. Deur 'n treffende verhaalplastiek word hierdie laaste werkure van die delwer, Jan Neethling, tot 'n slepende ewigheid, wat die leser met angstige | |
[pagina 435]
| |
benouenis moet deurworstel tot by die verlossende klimaks. Want Sangiro het met die intuïsie van die waaragtige kunstenaar die motiewe vir hierdie laaste bedryf van 'n tragiese worsteling met die geluksgodin so saamgestel dat daar 'n dramatiese spanning in kom. Met die krag van die wanhoop het Neethling, nadat hy 'n paar dae al gevas het, sy laaste werkdag begin; in sy werk wil hy die opgekropte wrewel van die afgelope maande versmoor. Hy veg teen die opsteierende opstandigheid in sy gemoed en klem hom krampagtig vas aan die laaste hoop: ‘Niks as ongeluk in die laaste jare nie;.... en alles.... alles kan die Here met een vingerwysing verander.’ Maar as sy tamgewerkte vingers deur die een nuttelose was na die ander gly, wil hy die wrede noodlot begin te vloek. Die wanhoopskreet van sy seun by die slinger van die wasmasjien spoor hom egter weer aan tot driftige werk-ywer. Die volgende sif móet die geluk bring.... ‘altyd maar die volgende.... die volgende.’ Die verskyning van die smokkelaar Brits laat Neethling se gramskap teen die onregverdige noodlot weer oplaai, maar met 'n opperste wilsinspanning gaan hy, skynbaar onverskillig, met sy werk voort. 'n Paar skimpwoorde lei tot 'n onthulling, wat die stoere delwer vir enige oomblikke lam slaan. Deur bedrog het sy buurman hom 'n waardevolle diamant ontfutsel! Weer smoor hy sy gedagtes in geduldige swoeg-ywer, maar sterker word die besef dat hy teen onsigbare magte veg. Die krisis het 'n stappie nader gekom... Sonder die gewone middagrus - want daar was tog niks om te eet nie - swoeg Neethling en sy helpers voort. Maar in die late middaguur dryf 'n knaende selfverwyt hom na die sakhuisie, waar die bleek gesig van sy vrou 'n stille beskuldiging teen sy koppige trots is, wat hom die bywonerskap by 'n ryk broer laat weier het. Teen sonsondergang staan Neethling se groot sif eindelik stil. 'n Boodskap oor sy siek kind verbreek effens die werkspanning, maar dan gryp sy moeë hande weer na die laaste wassie. As kort daarna die berig van sy kind se dood kom, bars die lank onderdrukte oproerigheid eindelik los: ‘Sy hoof gaan agteroor, een groot, bemodderde gryphand strek omhoog in die stil aandlug, en uit sy gemartelde siel ontglip 'n kreet: ‘God .... staan dit dan daarbo geskrywe dat ons vervloek is?’ (p. 41.) Maar selfs die dood van sy kind kan sy hart nou nie vermurwe nie. Hy, wat vanmóre nog gelowig om 'n vingerwysing gesmeek het, verset hom nou in stygende verbittering teen die Godsbestuur, wat hom net 'n opeenvolging van rampe toebedeel het. As die barmhartige oom Willem hom tien pond in die hand stop, dan weier hy nog om weg te trek en bywoner te word: ‘Ek sal veg tot die laaste toe voor ek 'n slaaf word van wie ook al.’ In die koue winteraand stap Neethling deur die gruisbulte terug na sy ellendige krot. Maar die ‘vingerwysing’ sou nòg duideliker word, | |
[pagina 436]
| |
want toe hy op die laaste bult uitkom, staan sy sakhuisie in ligte laaie, en hy kom net betyds om die lyk van sy kind uit die vlamme te red. In hierdie oomblikke van opwinding raak Jan Neethling genees van sy diamantkoors, skud hy die obsessie van die laaste maande vir goed af. En asof hy bang is dat die koors van ‘die volgende.... die volgende’ hom weer sal oormeester en ook die geleende tien pond sal verteer, laat hy die miserabele huisraad voor sy oë uitbrand. Op hierdie ongeluksplek moet alles vir goed en onherroeplik verbygaan! Daar is 'n humor wat deur liefde versoen, wat die dwaasheid vergewe ter wille van sy menslike waarde. Daarvan vind ons 'n voorbeeld in die volgende skets. Maar aan die ander uiterste van die vergewende humor is daar die bittere lag van die ontgogelde soeker, wat slegs in die verganklikheid van sy lank gekoesterde waan die versoening vind. By die smeulende ashoop van sy huisraad vind Jan Neethling die versoening, wat hy nie kon kry by die lyk van sy kind nie: ‘Opsy gedraai in die duisternis, begin die sterk man te snik soos 'n kind, ontdaan, verniel en gebroke in sy worsteling, met al die lewe en hoop in hom vertrap....’ (p. 55). Noudat sy norse eenselwigheid verbreek is, kan sy vrou hom nuwe hoop vir die toekoms gee en die trotse man aanvaar die ‘slawerny’ van die bywonerskap ter wille van sy kinders. In die reeks rampe wat hom tref, is die afbrand van sy pondokkie nie 'n toneeleffek om 'n melodramatiese klimaks te bereik nie, maar die een noodsaaklike ‘vingerwysing’ na die nuwe koers. Die geestesstryd van hierdie gemartelde siel word beslis deur 'n illogies ingrypende mag, wat plotseling die donkere toekoms oopblits en die hede met een felle slag tot verlede maak. Met 'n treffende onverwagtheid, wat tog so onmiskenbaar psigologies-juis is, val die besluit van die afgetobde geluksoeker: ‘Kom terug.... laat dit bly.... dit moet verbrand! - (die huisraad naamlik, wat sy seun en die Kaffer uit die vlamme wil red). Die nors-swygende figuur van hierdie wanhopige werker kry simboliese krag deur die sintetiese afbeelding van verskillende motiewe uit die delwerslewe. Daar is 'n droewe erns in die dowwe ritme van die swaar sinne wat opruis uit die diepte van 'n medelydende hart. Luister maar na die beskrywing van Neethling se ‘ruwe werkshande’: ‘Bruin, knoestig-gespierde werkshande, wat vroeër so kalm op ploegstert of graafsteel kon rus, in urelang geswoeg, sterk in die besef dat hulle met elke inspanning wins aan die taai grond ontworstel, en nou met die bogterige, peuselwerkie van klippies-was moet voortsukkel, tot hulle, ontsenu deur gedurige opwinding en teleurstelling, begin jeuk om te maak en breek’ (p. 16). Voel u in so 'n enkele sinnetjie nie die droefenis oor die ellendige lot van ons gespierde landbouers nie, wat op die troostelose gruisbulte hunker na die groenende vlaktes? En is die ‘bemodderde gryphand’ van Neethling nie 'n roerende aanklag teen die maatskaplike | |
[pagina 437]
| |
toestande wat 'n grote siel tot so 'n diepte van wanhoop kan drywe nie? Ook die byfigure in hierdie skets is met innigheid geteken. Die twee draaiertjies by die wasmasjien, wat so beklemd voel onder Vader se norse swygsaamheid en so 'n eg-kinderlike berekening maak om die koffie gouer te laat kom! Ou Booi, troue skepsel, wat in die uiterste ellende sy baas aankleef en die ondraaglike spanning deur 'n simpatieke woordjie probeer breek; daarna die oproerige verbittering by klein Jannie, wat met die gevoel van 'n veronregte martelaar wil aanhou draai tot hy doodval by die slinger.... dit alles is met 'n roerende innigheid geteken wat 'n knop in die keel laat kom.... En rondom hierdie armsalige swoegersgroepie ‘gewemel van rooi-vaal grondkoppies, weghobbelende tot waar eentoniggrou van omgedolwe aarde in ontsaglike wydte van winter-grasvlaktes versmelt. Naargeestige, kerkhofdroewe plundergrond, wat die velddier met sy dorre naaktheid afskrik, waar lentebloei van geskonde veld baie jare lank nog onder stof- en kliprommel sal versmoor.’ (p. 17.) Maar uit die ‘troostelose kaaltes’ klink die verleidelike lokstem: ‘die volgende .... die volgende’ en vir baie koorslyers kom die vingerwysing te laat! In die tweede skets word die komiese ervarings van twee tabakboere, wat uit tydverdryf na die delwerye trek om gou ryk te word, op lugtige trant verhaal. Sangiro het die geval van hierdie eenvoudige fortuinsoekers met simpatieke ironie aangevoel en in hul dwaasheid waardeer ons die algemeen-menslike. Hulle kom na die delwerye ‘sonder ander voorbereidsels as die karretjie(s) om die diamante in te laai’, maar word langsamerhand ontnugter. Die verhouding tussen die twee onnosele delwers en hul poging om hulle by die nuwe omgewing aan te pas, word met gelukkige trekke aangedui, en by die beskrywing van hul trekdiere herken ons weer die ou liefde van die skrywer. Die twee tabakboere behou genoeg praktiese sin om, as die eet- en rookgoed skaars begin word, huis-toe te trek, en die bondgenootskap word nie ernstig verstoor deur 'n vermaaklike vegpartytjie nie. |
|