Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 415]
| |
§ 44. Hettie Smit.Sy kom met die Sekelmaan (1937).Hettie Smit staan op die verlate strand van haar liefde waarop slegs die tere rimpels is van die eb en vloed van angegolfde en weer uitgewiste verwagtings. In hierdie dagboek-aantekeninge en kamma-briewe gee sy 'n onopgesmukte, eerlike ontleding van die leed van die nie-begeerde vrou. Met 'n vrymoedigheid, in ons letterkunde totnogtoe onbekend, spreek sy die vroulike eie-aard van haar liefde uit. Sy is met haar hart alleen ‘geschroeid van droomen en van licht beroofd’. Sy kan dweep en vereer en aanbid ‘sonder die valse tradisionele vroulike skaamte en terughouding... G'n lamlendige fatsoenlike wattepop hoef ek meer te wees nie.... g'n maagdelike versmagting, g'n bleke smekeling meer nie; maar 'n mens wat liefhet, met 'n lewende luid uitsingende of eensaam snikkende liefde.’ (p. 126.) Haar spontaan geuite gevoel word nie gerem deur logiese oorwegings of verwater deur verstandige nabetragting nie. ‘Ek kan my liefde laat groei en bloei in my, “utterance” soos 'n blom in die son.’ Die hoogmoed van die miskende vrou, of die bygedagte dat lesers haar selfonthulling miskien onbetaamlik kan vind, belet haar nie om met 'n argelose suiwerheid van gees en 'n openhartige eerlikheid, sonder enige reserwe, die rustelose hunkering van haar ontberende en verterende mensehart bloot te lê nie. Haar werk is los van bou: brokstukke van 'n sielebieg, in wisselende stemming neergepen, dikwels met grillige oorgange en snaakse hiate, en plotseling afbrekend sonder afgeronde slot. Soms. skrywe sy met 'n koorsagtige gejaagdheid omdat sy daarin alleen bevryding kan vind: ‘Ek moet die hele gebeurtenis van my afskrywe, dan sal ek kan rus, en slaap en vergeet, soos 'n omgevalle boom, of 'n ou murasie waar baie winde oor gewaai het.’ (p. 93.) Dan weer sit sy na kalme selfbetragting haar sielkundige viviseksie voort: ‘Ek kan uit myself klim en eenkant staan. En ek wil koel en wreed vertel....’ (p. 147). Soms egter, word die gewone werklikheid opgehef in die verbeelding tot 'n musiek van woordklank en maat, en dan gee sy haar oor aan die doellose heerlikheid om in haar liefde te kan skep. ‘It is by utterance that we live. In die uiterlike lewe, of op papier.’ (p. 127.) Uitwendig gebeur daar heel weinig, maar steeds hoor 'n mens in die dinken spreekgemurmel die inwendige lewe van twee wesens: Maria en Marié. Hierdie ‘onvoldane twee-ding met die ewige innerlike debat’ is die sentrale tema waaraan al die stemminge verbind word. In haar siel is daar 'n tragiese tweespalt: Maria, die fynbesnaarde vrou met die digterlike temperament, hunker na die sielegemeenskap van 'n medestudent, Johan; Marié is die ‘primitiewe stuk vroumens’ in haar wat nie tevrede is met die platoniese vriendskap van die geesverwante digter, Johan nie, maar hom lyflik wil besit. Die gedurige stryd tussen hierdie | |
[pagina 416]
| |
twee kante van haar persoonlikheid vorm die hoofinhoud van die verhaal. Dis 'n geveg teen die onvervulde van die lewe, waarin die swartste wanhoop en vertwyfeling haar soms aangryns, maar waarin sy ook oomblikke van ekstatiese geluk belewe. Met spanning volg ons die steeds wisselende reaksies van hierdie gewonde siel, en bewonder ons die skerpsinnige analise wat Maria ons gee van Marié se ‘sieklike selfbejammering’. Maria se kalme objektiwiteit teenoor die sentimentaliteit van haar alter-ego verhef hierdie dagboek bokant die peil van die gewone bakvissie-roman. Die innerlike botsing word aan die slot nie opgelos nie: ‘Ek droom sommer, oom; en ek het lief, oom.... Partymaal hou ek ook skool, oom. Vyfuur op 'n dag. Maar as die vyf uur verby is, dan het ek lief en droom maar sommer....’ Sy is een van die vroue van wie Nine van der Schaaf gesê het: ‘Wij dragen de sublieme oogenblikken van de droom, tot een intens besef van geluk en dood, mee in de grauwheid, de lust en de veranderlijkheid van het leven.’ Die ou lewe moet nou eenmaal geleef word en sy weet daar nog geen raad mee nie. En hoeveel eensame vroue - en manne - sal hul nie verwant voel aan hierdie dubbelpersoonlikheid Maria - Marié nie! I. Die Spieël. Hier vertel sy van aangename literêre aandjies met Johan deurgebring, hoe sy ‘ontroerd luister as die skoonheid uit die boeke deur (sy) swaar soet stem op haar breek soos 'n verblindende nuwe daeraad.’ Haar medestudente is ‘tennis-olifante.... renosters van sosiale sukses’. Sy verag hul oppervlakkige praatjies, en in haar liefde vir die skoonheid herken sy ‘die siel van my binneste ek’. Johan se vriendskap verflou egter, sy besoeke word baie seldsaam. Maria se letterkundige pogings misluk, in die musiek vind sy geen troos nie, want die klavier kyk haar aan ‘met sy grynsende geelwit valstande’. In haar eensaamheid oorlaai sy Johan se nuwe vriend, Du Toit, met uitgesoekte skelwoorde. Aldeur word sy verteer deur 'n knaende hunkering na Johan se geselskap; sy is ‘'n bedelaar by die lewe se agterdeur.... die verlate reisiger in 'n ewige wagkamer’. Aan die slot van hierdie afdeling ontdek sy deur selfwaarneming dat daar ‘'n aparte losstaande persoonlikheid’ in haar woon: Marié, die naïewe, primitiewe vrou, wat deur haar verliefderigheid die intellektuele vriendskap met Johan vertroebel het. Sy besluit om hierdie onbelangrike ‘outydse meisiekind’ met haar ‘onmerkbaarfyne sluipbewegings’ in bedwang te hou. II. Die Sekelmaan. So maklik gaan dit egter nie, want uit die tweede afdeling blyk dat Marié haar gereeld met die Sekelmaan bekruip. Johan skryf haar koel-formele briefies gedurende die vakansie, ‘'n hoe - gaan - dit - nog - brief, met baie - reën - hier - by - ons.’ Sy antwoord met dieselfde floue gemeenplase, maar in haar dagboek openbaar sy die geheime verlangens van haar hart en haar wrewelige haat teenoor alle ondeurvoelde gewoontewoordjies. Na die vakansie gesels sy nog toevallig met Johan, | |
[pagina 417]
| |
ontmoet hom op literêre aandjies, maar die ou vertrouelikheid is weg. In haar hartseer roep sy al die ou herinneringe op ‘soos 'n pak ou, geel briewe wat 'n mens uit 'n trommeltjie haal en stadigies deurblaai.’ (p. 40.) Maar sy verval nie in temerige sentimentaliteit nie, soos bewys word deur die nugter opsomming van die situasie wat sy in ‘die offisieelste koeranttaal’ gee. In helder oomblikke van besinning probeer sy die lastige Marié van haar afskud en soek sy troos by haar boeke en musiek. Maar dan beleef sy weer oomblikke van ‘blinde, stomme droom-verdwaalde liefhê’, waarin sy slegs in onvoorwaardelike oorgawe geluk kan vind. In sulke stemmings skrywe sy bewoë prosa wat so reg uit haar hart kom, prosa, waarin die fynste roersels van haar vrouesiel sidderend blootlê: ‘Vou my in jou teerheid toe, soos 'n skulp sy pêrel, dat my oneindigheid.... glans-wit uit die duister opglim. Spin my in jou liefde toe dat die krag in my kan uitbreek soos 'n dansende vlinder....’ (p. 46.) Sy besoek haar ou wandelplekkies, maar die waterval, wat eers 'n ‘dansende watergees met wapperende skuimkantrokke’ was, is nou sommer water wat afval. En haar geliefde skrywers is slegs ‘boeke - daar - op - die rak.’ Sy ly aan slaaploosheid, verloor haar eetlus en raak uiteindelik heeltemal in die ‘put’, waar haar gedagtes al-ewig om die middelpunt, Johan, sirkel. Gedurig stry sy teen die neiging om soos 'n ‘bespotlike, tranerige, selfbejammerende bakvissie’ te kere te gaan en sy het selfs die moed om haar smart te parodieer. Vergelyk b.v. die manier waarop sy Johan se versies, briewe en kiekie wegbêre (p. 62-63) en die styf-retoriese taaltjie waarmee sy na romanskrywers, wat so lief is vir gerieflike sluiers, verwys. (p. 64.) Langsamerhand begin 'n vale moedeloosheid oor haar kruip: ‘Ek is sommer moeg vanaand - moeg vir al die ou heeldagse dinge wat nooit end kry nie....’ Johan se jammerte en ‘liefdadige groetjies - in - die - straat’ is vir haar 'n marteling. Sy gevoelloosheid prikkel haar tot 'n uitbarsting van haat. Maar reeds die volgende dag pleit en soebat sy weer om tog by hom te kan wegkruip, want die eksamen vervolg haar soos 'n roofdier. Angsvisioene verskrik haar en in 'n roerende brief smeek sy die Liewe Heer om haar tog maar saggies weg te neem omdat sy soveel hartseer het. Haar liggaamlike uithouvermoë verswak en sy begin selfmoordgedagtes koester. Op 'n Sondagaand word sy so gemartel deur die benouende eensaamheid dat sy met 'n angskreet op die stoep vlug. Die woeste geweld van stormagtige weer laat in haar 'n ontembare dadedrang ontstaan. Na al die maande vol kwynende verlangens wil sy haar geluk gryp of anders ondergaan in die stryd. Soos 'n waansinnige duik sy in die stormgeweld in.... op pad na Johan! Fors van beelding is die be- | |
[pagina 418]
| |
skrywing van hierdie wanhopige tog deur die verblindende reën en swiepende rukwinde. Hier kry ons nie alleen los aantekeninge nie, maar 'n skone geheel. Deur die ritmiese vaart van haar kragtige prosa en die verrassende verhaalplastiek het hierdie klimaks van Maria se stormagtige hartstog een van die treffendste momente in die verhaal geword. Terwyl sy verpleeg word deur Johan se mense voel sy dat daar 'n nuwe Niks saggies uit die toekoms op haar aanrimpel. III. Die Onafhanklike. Van Rietvlei waarheen sy gegaan het vir herstel van kragte skryf sy aan haar verstandige vriendin, Anna. Op die afgeleë plaas voer sy 'n plantebestaan en beswyk sy vir die ‘heidense verleiding: om in die onwetende primitiewe dinge weg te raak, opgelos te word met verlange en liefde en al.’ Vol ontsag is sy vir die groot natuurdinge, en innig besef sy haar eie nietigheid. So vertroulik gaan sy met plante, bome en diere om dat die verlede soos 'n nare droom lyk. Saans egter kom die ou skrynende verlangens haar weer pynig. 'n Aanstelling as onderwyseres op die Karodorpie, Kruitfontein, bring afleiding en help haar om haar geestelike ewewig te herwin. Die verlore kontak met haar medemense word herstel deur die spontane reaksies van haar leerlinge op haar geesdriftige literatuurlesse waarin sy vertel van die ‘goddelike mens’, Van Deyssel, wie se liefde vir die Woord so duidelik uit haar eie werk blyk. Sy hervat haar studie, stel belang in opvoedkundige vraagstukke, en vaar uit teen ‘opgeblaasde dominees’ wat net oor die werklike vuur van die hel preek. IV. Die Geloof. Op Rietvlei word sy weer 'n eenvoudige plaasniggie, wat haar dae vul met huislike werkies. Geestig spot Marié met die ‘geleerde mies Maria’ wat nie wil sit en brei ‘soos 'n oordentlike vroumens’ nie, maar snags loop en grens onder die sekelmaan en lang kammabriewe aan Johan skrywe. Maria probeer om haar wilde hartstog tot liefde te vergeestelik. Sy wil die mens Johan vergeet; hy moet vir haar word ‘'n idee, 'n beginsel, 'n geloof wat (haar) doellose doen en dink sal deurstraal en saggies aan stille waters lei.’ (p. 125.) In haar kammabriewe kan sy dan sonder enige skroom die heerlike droom van haar liefde belewe. In haar liefde wil sy skep. Hierdie oplossing, hoe netjies beredeneer ook, bevredig Marié egter nie. Dié verlang nie na 'n kammamens nie, maar na 'n lewendige mens. Die rustige plaasomgewing prikkel haar tot 'n woeste opstandigheid, en met 'n wanhoopskreet wil sy haar in die dam stort. Oubaas se simpatieke trooswoordjies en Moeder se wakende liefde bring haar weer tot besinning. V. Bliss. Sy is nou onderwyseres op 'n Engelse meisieskosskool waar 'n strenge tug gehandhaaf word deur 'n klompie uitgedroogde oujonknooiens wat hul eie verbittering op die jong meisies wil wreek. Mooi word | |
[pagina 419]
| |
die somber atmosfeer van hierdie klooster met sy oppervlakkige godsdiensgimnastiek geteken. Na twee jaar ontvang sy eindelik weer 'n briefie van Johan waarin hy met waardering skrywe oor die literêre vriendskap van vroeër. Hy stuur haar sy eerste digbundel en nooi haar uit om die gebeurtenis te kom vier. Die ou liefde begin weer te sing in haar hart: ‘Die werk is 'n lied, en hierdie klooster se donker gange is maar lae tjellonote in 'n wonderlike simfonie....’ (p. 145). Koel en wreed vertel sy van haar ‘sagte ekstase’ en die ‘vriendelike verfynde verraad’ van die digbundel se viering. Die reis na Kaapstad is soos 'n bedevaart; ou herinneringe herleef en psalmverse jubel in die hart van die pelgrim. Wanneer Johan van sy verse voorlees dan voel sy daarin die ‘onvermydelike, onherroeplike saamhorigheid’ wat hul ou vriendskap gekenmerk het. Met die weggaan van die gaste volg die wrede ontnugtering. Sy wag op Johan by die hekkie; maar hy stap weg met Bertha. ‘En toe het die deur in die wrede wit maanlig agter Johan, en die Naam, en die Geloof, toegeslaan.’ (p. 153.) Johan waardeer enkel die vriendskap van die kunssinnige Maria. Die liefde van die vrou, Marié, versmaad hy; dit was ‘'n sinnelike verwarring’ wat vir goed tot die verlede behoort. Koel en wreed wou sy dit alles vertel. En inderdaad, die afgemete objektiwiteit van haar vertelling laat ons die onherroepelikheid van hierdie miskenning beter as iets anders begryp. In Johannesburg probeer sy haar eensaamheid en smart vergeet deur ‘dom sleurwerkies’. Anna bly nog steeds die ou staatmaker-vriendin by wie sy geestelike steun vind. Sy ontferm haar oor 'n klompie koerantverkopertjies, wat verder wil leer, en op 'n Saterdagmiddag gaan sy wandel ‘met een van die goedige tikmasjiensiele wat ook hier werk.’ VI. Mylpaal. Vir 'n tydlang vind sy troos in ‘die onlogiese familieskap’ met hierdie nuwe maat, wat haar afleiding besorg deur haar te laat deelneem aan oppervlakkige plesiertjies. Hy is 'n deeglike, selfopofferende vriend, en sy goeie eienskappe laat haar 'n afkeer kry van haar yle sekelmaan-meditasies. Van 'n geesverwantskap kan daar egter geen sprake wees nie, en hoe Marié ook al behae skep in die bewondering van ‘'n gesonde lewendige mens’, die ou Maria met haar stralende skoonheidsaanbidding rebelleer teen die banaliteit van hierdie vriendskap. Maria wil liewer weer putgedagtes dink en met haar bedelbakkie rondloop. Sy weet dat daar geen ontsnapping is vir wie eenmaal ‘gegryp’ is nie. ‘Mens kan nie jou liefde flous nie; en veral nie hierdie enige, eensame liefde vir die énige mens wat so naby staan aan my lewensvorm, die woord. die literatuur nie.’ (p. 174.) VII. Ek droom sommer, Oom. Al wat nou nog vir haar oorbly is die droom.... ‘Ek sal in die wilde wind na jou toe wegloop vanaand en meteens | |
[pagina 420]
| |
saggies by jou wees asof daar niks bangheid en vreemdheid tussen ons is nie....’ Hierdie kamma-bestaan, hierdie vlug uit die werklikheid van die saaie al-dagse dingetjies - dit is haar eintlike lewe. En die sublieme oomblikke van haar droom dra sy saam met haar in die grouheid van die lewe....
Hierdie eerste uitgawe van die Vereniging vir die Vrye Boek is 'n belangrike moment in die ontwikkeling van ons prosakuns. Hettie Smit het, om een van haar eie beelde te gebruik, met haar stem 'n reënboog oor die vaalte van ons prosa gespan. Dit mag waar wees dat haar werk veel reminisensies van die Tagtigers bevat en dat veral Van Deyssel haar styl beïnvloed het, maar sy het onteenseglik 'n eie fris geluid. Net soos die groot Tagtiger het sy die Woord lief en sy verras ons deur so 'n weelderige oorvloed van eiegevoelde beelde dat ons meteens die nagmerrie van hele reekse romans in eenderse breikous-styl kwytraak. Op haas elke bladsy vind ons beeldspraak wat onmiddellik tref deur oorspronklike siening. Sy is nie slegs 'n stylskepper nie, maar ook 'n skepper van taal, wat die woorde 'n nuwe glans gee, en 'n huiwerende innigheid lê in die ritme van haar periodes. Sy is vry van alle aanstellerigheid en kan haar dus sonder enige skroom oorgee aan die bedwelming van haar liefdedroom. Sy het nie die tradisionele ‘drie druppeltjies verslaande Eau de Cologne’ nodig waarmee haar bleke kunssusters hul liefdesherinneringe gewoonlik begiet nie, want die gestaltes van haar drome en die verskrikkinge van haar angsvisioene loop ons tegemoet soos lewende wesens. 'n Mens kan by Hettie Smit wel af en toe egosentriese oorgevoeligheid aantref, en haar daarvan beskuldig dat sy soms opsetlik haar vrouesmart literêr uitbuit, maar haar fel opvlammende prosa is tog heel iets anders as die rokerige misvuurtjies wat by ons skrywende dames as ‘egte gevoel’ moet deurgaan. Ons weet dat haar werk nog ver agterstaan by die wêreldletterkunde se grootste skeppings,Ga naar voetnoot1) maar hoef haar nie die lof te weerhou wat haar eerlik toekom nie, want sy het ons Afrikaanse lesers geleer dat die liefde nog iets anders is as 'n sentimentele bevlieging waaroor 'n mens 'n gesellige romannetjie kan saamstel. Want het sy nie ervaar dat dit veeleer is soos 'n dwarrelwind, wat nooit rus nie, wat die geeste meevoer met sy dwarreling? (Dante: Vyfde Sang van die Hel.) |
|