sy tentjie.’ Daar is baie Afrikaners, wat die padwerker agteloos verbyjaag sonder enige besef van die tragiek van sy eensame bestaan. Daarom is dit goed dat Van den Heever ons in hierdie verhaal 'n blik gee op die wanhopige stryd van Lang Hans.
‘Sy vel is rooi gebrand, maar agter die ligblou oë brand 'n gees wat worstel met die duisterhede van 'n onverstaanbare lewe - 'n lewe wat soos 'n trop skaap trek, en net af en toe sak 'n sieke uit en gaan staan....’
Uit so 'n aanhaling kry ons ook 'n staaltjie van die skrywer se beeldspraak - eenvoudig, maar opreg - direk ontleen aan die plaaslewe.
Ou Garing, 'n bywoner, tob ook oor die onregverdigheid van die lewe en peins weemoedig oor die heerlikheid van vergange dae toe sy vrou hom nog gevoer het ‘op snyselsop, melkkos en allerhande lekkernye’. Vandag sit sy maag ‘agter teen sy rugstring vas’ en sy kinders se oë ‘agter in die kop soos 'n maer bees s'n’. Die armoede wurg hom, en elke dag se ‘droë mieliepap’ laat hom so 'n vleeshonger kry dat hy 'n ou-ooi gaan steel. Terwyl die uitgehongerde gesin gulsig smul aan die skaap se binnegoed word hulle oorval deur die polisie wat ou Garing tronktoe voer.
‘God weet ons is verarm, my vrou, maar ons het dit gedoen omdat ons honger was.’
Treffend blyk uit hierdie verhaal hoe die verarmde bywoner, deur wanhoop gedrywe, uiteindelik 'n misdadiger word.
‘Langs die huisie staan Sofie met die klompie kinders, en haar oë volg die lang stowwe wat die motor uitsleep teen die rooi skynsel van die aand, waar die son soos 'n ronde bloedkol oor die velde ondergaan.’
‘'n Ronde bloedkol’ - so word die lewensbloed van 'n kragtige nasie uitgesuig deur die armoedemonster.
In die orige verhale gee die skrywer ook blyke van talent, maar oor die algemeen bly die tekening te oppervlakkig om 'n blywende indruk te maak. In Beproewing word die worsteling van die seun slegs aangedui en glad nie uitgebeeld nie. Die verandering in die hart van die skoenmaker (Vernuwing) is gebrekkig gemotiveer en die monoloog op bladsy 69-70 verraai nog 'n ongeoefende hand. Oral egter sien ons hoe die skrywer met 'n hart vol begrypende simpatie die leed van eenvoudige siele probeer peil. 'n Afgeleefde mynwerker treur oor 'n seun, wat die staatsdiens verlaat om ook sy dood in die myne te gaan soek. 'n Sukkelende ouma word bitter teleurgestel deur 'n opstandige kleinkind wat plesier gaan soek op 'n dansparty. 'n Ou paar uitgetrapte skoene roep ‘'n wêreld van lyding en smart’ op.... Slegs in een verhaal, Die Vyf Vissers, klink daar 'n vroliker toon op.
As eerstelingswerk beskou, bevat hierdie bundel ongetwyfeld 'n ryke belofte.