§ 42. Dr. Abel Coetsee.
Van hierdie skrywer, wat verbonde is aan die Randse Universiteit, het verskyn: C.M van den Heever, Die Wese van sy Kuns (1936) (vgl. hoofstuk XI); Die Afrikaanse Volksgeloof (1938), 'n dissertasie; Skimme van die Goudstad (1936). Laasgenoemde bundel sketse en kortverhale bevat werk van baie ongelyke gehalte. Goudjagters is onsuiwer van siening omdat die skrywer hier sy eie grootmensgedagtes aan die kinders opdring. Hy is ‘raad-op met 'n mense-massa wat na goud soek en nie goud kan herken as hulle dit sien nie.’ Hierdie gedagte vorm die grond-motief van die bundel. Die benouenis van die grootstad-lewe het Coetsee aangegryp; hy het ondervind hoe ‘die afgemete perke van die samelewing jou laaste krieseltjie siel genadeloos vasdruk tussen al die reguit strepe.’ Die swakkes en misdeeldes word onbarmhartig fyngemaal in die ekonomiese masjien! ‘Al sterf jou kind, die Goudstad moet voortgaan met sy insameling van skatte.’ Uit 'n gevoel van deernis ontstaan verhale soos Ons Vriend, die kantoorwerker, wat smag na die ongerepte natuur, Die Sprokie, waarin 'n mynteringlyer met sy laaste kragte vertel van die monster wat sy gesondheid verwoes het, Om die Hoek, die verhaal van 'n gebreklike straatmusikant, Bankrot, waarin 'n ou tante so hulpeloos staan teenoor die grootstad se geldmag, en Ontnugtering, waarin 'n bekommerde vader moet ontdek: ‘Besigheid ken nie sentiment nie.’
Ook die vroliker kant van die lewe trek Coetsee se aandag. In Los Klippers ontmoet ons 'n klompie rioolwerkers, wat op 'n Saterdagmôre so in die middel van die stadsgewoel hul kwellings vergeet in uitgelate pret. Een van die besgeslaagde verhale is Rus. Oom Sampie beleef 'n tweede jeug as gevolg van 'n gerug dat die regering tien vrouens vir elke man gaan beskikbaar stel! ‘Vir 'n enkele dag het die verwagting van die jeug kragtig opgevlam in hom.... tien jong vrouens.... hy, Sampie met die houtbeen waarop 'n mens nie lank kan staan nie.’ Maar in die aand sukkel hy eensaam na sy donker kamertjie - ‘in hom.... die stilte van die afgeleefde wat verlang na rus....’
Coetsee se uitbeelding is hier en daar nog onseker, maar die ontroering is eg, want hy bring ons in aanraking met die gees van die Goudstad:
‘In my ore die ewigdurende gedruis van voete op straat, 'n gedruis wat verdof en die ritmiese geklop van die goudstampers deurlaat, soos