Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 404]
| |
kunde leer waardeer het. Haar voorliefde vir die sielkundige roman het ontstaan deur die lees van Couperus se Eline Vere.Ga naar voetnoot1) Van haar het verskyn: Wrede Grense (1935) en Fyn en Broos (1937). | |
Wrede Grense (1935).In die periode, wat op die wêreldoorlog gevolg het, het baie ou gevestigde instellings op hul grondveste begin wankel en omgestort. Die na-oorlogse mens was sy houvas op die lewe kwyt en het as gevolg van sy geestelike ontreddering 'n wanhopige soeker geword wat alle oorgelewerde begrippe aan felle kritiek onderwerp het. Die kragtige opbloei van die individualisme het onder andere gelei tot die volkome emansipasie van die vrou, wat natuurlik 'n groot verandering teweeg gebring het in die huweliksverhouding. Herman Poort het daarop gewys dat ‘de zoete romantiek van het ideale, absoluut-beminnende liefdespaar’ vir goed verdor is, dat twee mense altyd twee bly en nie meer een kan word nie volgens die ideaal van die klassieke huweliksliefde. Daarom is dit vir ons onmoontlik om ons Romeo en Juliet voor te stel in 'n fordjie of Floris en Blancefloer ‘te zamen ontvluchtend op een motor met duo-zitting’. Die moderne jongmens eis die reg van selfbestemming, die reg om sy deeltjie geluk te vind selfs as dit hom in botsing bring met oorgelewerde konvensies. Die weerspieëling van hierdie begrippe vind ons in 'n eindelose reeks romans waarin die probleem van die huwelik behandel is deur die groot skrywers van al die Europese volkere. Uit die groot verskeidenheid van motiewe wil ek slegs op enkele kerngedagtes wys wat vir ons bespreking van belang is. In byna al hierdie romans word die huwelik beskou as 'n onoorkoomlike belemmering op die pad na die ware geluk. Die huweliksband is 'n sinnelose en onregverdige inperking van die persoonlike vryheid van die individu. Deur die huweliksfeit word dit onmoontlik om 'n vergissing, wat in die jeug begaan is, later by ryper lewenservaring te herstel. In hul hunkering na liefde en geluk steier die hoofkarakters gewoonlik teen konvensionele opvattings, maar veral teen die dwang van die huwelik. Die algemene strekking is dus dat die huwelik alleen 'n verouderde vorm is wat so spoedig moontlik moet verdwyn. Hierdie romans pleit op welsprekende wyse vir 'n lewensbestemming volgens eie, vrye keuse en individuele begeerte. In aansluiting by hierdie gedagte word dikwels behandel die motief van die ongehude moeder. Sy soek na die vervulling van haar heiligste instink. Waarom moet sy dan blootstaan aan smaad en hoon as sy dit vind buitekant die formele huwelik? Die alles trotserende liefde van die vrou word verheerlik as haar edelste eienskap, en hierdie liefde, hoe misplaas ook al, gaan bo alle dinge. In Sophie Roux se roman vind ons hierdie idees verwerk in die geskiedenis van Suzanne Lombard se ongelukkige huwelik en dié van Grieta | |
[pagina 405]
| |
du Plooy, 'n gevalle meisie, wat sy uit jammerte 'n skuilplekkie aanbied. Suzanne se huweliksellende ontstaan op die gewone wyse wat ons leer ken het uit die tallose romans waarin ‘die ewige driehoek’ behandel word. Sy was die kind van 'n tuiemaker, getroud met ‘'n swerwende sirkusman se dogter’ en het reeds in haar jeug iets aparts gehad wat haar dadelik onderskei het van die ander meisies van die Karodorpie, Klipdrift. In haar gedrag en opvattings was sy onkonvensioneel en van aanleg artistiek. Daarby het sy 'n hart vol deernis gehad vir almal wat aan vervolging blootgestel was. Hierdie eienskappe word mooi uitgebeeld deur grepies uit haar kinderlewe. Rooihaar Suzanne met die wipneusie verlaat die eenvoudige platdakhuisie van haar vader om die vrou te word van die aansienlikste boerkêrel in die distrik. As sy egter aan die begin van die verhaal 'n terugblik werp op agt jaar van haar huwelikslewe dan kan sy slegs aan ‘een volkome gelukkige dag’, nl. haar huweliksdag, dink. Al haar jeugdige illusies is weggevaag deur Flip Lombard se bytende sarkasme, sy dierlike sinnelikheid, sy drank- en dobbelsug. So staan sake as Suzanne haar ontferm oor die arme Grietjie, 'n onskuldige veldkind, wat die prooi geword het van 'n gewetenlose skurk. Grietjie se koms verhaas die verwyderingsproses tussen Suzanne en Flip, want tussen die twee vroue ontstaan daar 'n baie intieme vriendskap. Hierdie kameraadskaplike verhouding tussen die twee vroue, albei uitgewerp uit die samelewing deur die vyandskap van die bekrompe dorpsbewoners, is met fyn vroulike teerheid geteken. Suzanne se beskermende simpatie gee Grietjie nuwe lewensmoed, en haar digterlike natuur laat die meisie 'n blik kry op nuwe vergesigte en hef haar op uit die alledaagse gewoontelewe. Maar hierdie tere vriendskap prikkel Flip tot dierlike woede. Hy slaan Suzanne met 'n sambok oor haar gesig en verdwyn dan 'n hele ruk van die toneel. Intussen vind Suzanne ‘vertroosting’ by dr. du Toit, want soos 'n bang kindjie kruip sy in sy arms en laat haar sonder enige verset liefkoos. (p. 148.) Sy word ons voorgestel as 'n onskuldige martelares, 'n hulpelose wesentjie, ‘vasgekeer tussen grense wat onoorkomelik is’, ‘'n gehokte dier wat deur die tralies tuur om die tergende skoonheid van .... aanloklike vryheid te aanskou.’ Sy eis vir haarself die reg op van persoonlike vryheid en geluk, maar kan die wrede grense van die formele huwelik tog nie oorskry nie, omdat haar kinders haar aan 'n verbeestelikte eggenoot gebonde hou. Al oplossing wat sy kan vind is berusting in haar lot, aanvaarding van die gebondenheid van die huwelik ter wille van haar kinders. ‘Nou staan haar besluit vas om elke krummeltjie geluk op haar lewensweg gulsig buit te maak’ .... en dan kom die mooiste .... dr. du Toit moet haar help om ‘min of meer tevrede’ by haar man te bly! Naïef, nè! | |
[pagina 406]
| |
Ofskoon die skryfster steeds objektief vertel en nêrens direk propaganda maak nie, bevat die verhaal tog 'n duidelike strekking. Dit is 'n protes teen die ‘wrede grense’ van die huwelik wat Suzanne van haar lewensgeluk beroof. Teen hierdie strekking moet op etiese en literêre gronde ernstig beswaar gemaak word. Elkeen tog met 'n bietjie lewenservaring sal dadelik besef dat die skuld van Suzanne se verwoeste lewensgeluk nie op die huwelik as instituut kan geskuif word nie, maar by haarself te soek is. Sy het 'n man getrou met wie sy nooit geestelik kontak gekry het nie en moet daarvoor boet. Gedurende die agt jaar van haar huwelikslewe het sy van lewensinsig verander. In haar jeugdige onkunde het sy die huwelik aanvaar as basis van haar lewensgeluk, maar later voel sy dit as 'n belemmering en pleeg verraad aan die huwelikstrou deur haar verhouding tot dr. du Toit. Die eintlike oorsaak van haar ellende lê dus nie in die gebondenheid van die huwelik nie, maar in die veranderlikheid van haar eie verlangens. Om ons Suzanne te laat sien as gemartelde vroutjie, slagoffer van die irrasionele huweliksdwang, word die skryfster tot onware uitbeelding gedwing - 'n gewone fout van die strekkingsroman. Suzanne is geïdealiseer tot 'n digterlike vroutjie, die verpersoonliking van alle goeie eienskappe, terwyl Flip al die kenmerke van die konvensionele skurk dra. Hy is 'n woeste, ongemanierde wellusteling in wie daar ‘'n wilde dier’ woon! Die gevoel van Suzanne vir dr. du Toit word ons voorgehou as 'n ideële behoefte aan lewenswarmte en simpatie, maar as ons dit 'n bietjie nader bekyk, wat is dit anders as blote sinnelikheid? Wie kan glo aan die egtheid van hierdie ‘liefde’ as hy die volgende oorpeinsing van Suzanne (na 'n agtjarige huwelik) lees: ‘Haar groot verwarde oë was ook diè van 'n oorblufte kind: Het ek werklik die voorreg gehad om in sy arms te wees, asof ek daar hoort? Die geluk van sy soene het ek ondervind en te min waardeer ....’ (p. 225). Nêrens vind ons dan ook enige bewyse van innige sielegemeenskap nie, en ek meen dat die uitspraak van prof. Ribbing hier van toepassing is: ‘Van die zijde waarbij men zich zoo overmatig bezorgd maakt over de rechten van de persoonlijkheid, strijdt men eigenlijk voor de bevrediging der zinnen, niet voor een recht geven tot vrijheid aan de menschelijke ziel’ (Sexueele Hygiëne). Eties en sosiaal sal die standpunt van die skryfster vir die grootste gedeelte van ons volk verwerplik wees, omdat dit die heiligheid van die huwelik aantas, wat tog die eintlike fondament van die hele maatskaplike bou is. By die behandeling van Grietjie se moederskap is daar ook verdraaiing ter wille van die strekking. Sy is 'n engelagtige wese, so rein en onskuldig dat al die blaam moet val op die geslepe bedrieër wat haar verlei. Sy ondervind ook nie die konsekwensie van haar oorgawe nie, en ontduik die smaad en verguising van die skinderlustige publiek, grotendeels altans, deur haar huwelik met .... Klipdrift se jong predikant. Ds. Steyn moet | |
[pagina 407]
| |
natuurlik sy bediening neerlê, maar materiële sorge hoef die geluk van die ‘bedroë kleintjie’ nie te belemmer nie, want 'n skatryk tante bied die paartjie al haar besittings aan! Reeds hierdie beknopte opsomming is voldoende bewys van die tendensieuse karakter van die skryfster se voorstelling. Sy gésel die bekrompe samelewing van Klipdrift met sy huigelende vroomheidsvertoon deur haar vlymend-satiriese tekening, en kontrasteer Suzanne se diep-menslike barmhartigheid met die wrede ongevoeligheid van die dorp se skinderkliek. Maar nêrens is daar enige sweem van skuldbesef by Grietjie nie. Inteendeel: ‘Dis vir haar ook asof die meeste mense dinge verdraaid sien. Hoe kan 'n wonderwerk soos die begin van 'n menselewe nou lelik en laakbaar wees?’ (p. 103.) Die gevolg is dat die leser haar daad gaan beskou as die reinste idealisme, en homself die vraag stel of elke toegewing aan 'n natuurlike drang buiten die band van die huwelik nou juis noodsaaklik tot ellende en skande behoort te lei? As ons die gelukkige slot, dat Grietjie 'n man vind om haar in haar eer te herstel, 'n oomblik wegdink, dan vind ons ook hier, ofskoon van 'n ander kant besien, 'n heftige protes teen die onlogiese, outydse huweliksband met sy onoorskrybare ‘wrede grense’. Oppervlakkig beskou kan 'n mens miskien beweer dat Grietjie se geskiedenis 'n pleidooi ten gunste van die huwelik is. Suzanne soek haar geluk in die huwelik maar word wreed ontnugter; Grietjie soek dit eers buiten die huweliksbande, maar vind dit pas in 'n wettige egverbintenis. Deur bogenoemde voorstelling van Grietjie se reine onskuld egter, word die hoofmotief van ‘wrede grense’ juis versterk deur die newemotief. Om dit te bereik waag die jeugdige skryfster haar aan die uitbeelding van ds. Steyn se sielestryd - iets wat haar kragte ver te bowe gaan. Dis bes moontlik dat 'n predikant hom voor so 'n moeilike keuse kan bevind, maar dit sou selfs vir 'n gerypte kunstenaar 'n buitengewone prestasie wees om ds. Steyn se versaking van sy roeping aanneemlik te maak. Vir Sophie Roux is die saak egter eenvoudig. Grieta se skoonheid het ds. Steyn so ‘bedwelm’ dat sy predikantswerk enkel ‘verdoofmiddel’ word. Haar ‘patetiese oë’ het ‘'n ewige vlam in hom aan brand gesteek’! Net so min as Flip kan hy sy ‘woeste hartstogte en onstuimige begeertes’ beheers. ‘Sy ontugtige hart het geneul soos 'n koppige kind’ en hy word kwaaivriende met sy Heer oor 'n skinderpraatjie. In 'n droom word sy besluit geneem en al die bange weifelinge was tog maar 'n rookskerm want ‘dit was voorbestem’ dat hy Grieta sou kies bo sy heilige roeping. Ek doen maar 'n paar grepe om aan te toon hoe magteloos die skryfster staan teenoor hierdie sielekrisis, en hoe weinig besef sy het van die heilige roeping van 'n predikant. Haar uitbeelding van die mannefigure is besonder ongelukkig, want in almal sien sy slegs die dierlike instinkte raak - selfs ds. Bezuidenhout is ‘'n dier, 'n hond aan 'n ketting wat 'n been uit sy bereik bespeur.’ Oor gewigtige | |
[pagina 408]
| |
sielkundige veranderinge soos o.a. by Grieta se ouers en Flip se ommekeer glip sy eenvoudig heen. Veel beter geslaag is die uitbeelding van die twee vroue se wisselende stemminge. Die wrange humor van party kindertoneeltjies bevat iets skrynends. Dink aan Henkie se trooswoordjies as hy meen dat Suzanne ook verlang na sy vader: ‘Toemaar Mamma, moenie huil nie. Pappa sal gou weer kom!’ Of aan die kostelike satire van die snuffelende, onchristelike ouderling, oom Willem, wat lewensgroot voor ons staan deur die enkele sinnetjie: ‘Hy het driftig sy pyp gestop en vroutjie het die karring gedraai.’ Die skryfster het ongetwyfeld beeldingsvermoë, en by alle kritiek op die strekking van haar roman moet ons die letterkundige verdienste daarvan nie vergeet nie. Met so 'n besondere kiesheid het sy die seksuele feite behandel dat selfs die mees preutse leser geen aanstoot kan neem nie. Daar is by haar geen die geringste neiging om die lewensintimiteite op stuitlike wyse uit te stal nie. Al wat ons haar ten laste kan lê is dat sy in jeugdige oormoed 'n onderwerp aangedurf het waarvoor sy nog die rype lewenservaring mis. Sy wou bewys dat die oorgelewerde huweliksbegrippe volgens haar mening onhoudbaar is en het haar gegewens versigtig ingespan. Maar juis deur die vooropgesette doel het sy haar laat verlei tot onwaaragtigheid in haar voorstelling van die probleem. Met verdere verdieping in haar kuns sal sy haar wel kan bevry van die dweperige sentimentaliteit wat haar werk nog aankleef; en van retoriese opsmuk soos die volgende: Grieta se oë ‘twee donker poele waarin slegs misterie triomfeer’ (p. 191). Gelukkig vind ons ook 'n hele paar stemmings-beskrywings waarin die taal fris en die siening oorspronklik is, maar daar is ook veel wat die taalgevoelige leser nog sal hinder. | |
Fyn en Broos (1937).Vergeleke met Wrede Grense toon hierdie tweede roman van Sophie Roux 'n opmerklike styging in haar kuns. Sy word hier nie belemmer deur 'n stelling wat sy deur haar verhaal wil bewys nie en gevolglik is die ontwikkeling van haar hoofkarakter veel natuurliker en ongedwongener. Tilde Louw is die twaalfjarige dogter van arm ouers. Die vader is 'n ou sukkelaar wat sy boerderytjie verwaarloos om politieke vergaderings by te woon. Die moeder sloof haar af om die kinders behoorlik te voed en te kleed. Jare van swoeg en swaarkry het Katoo so verbitter dat sy niks as verwyte oor het vir haar man nie. Koos is 'n dromer wat weinig aanleg het vir die praktiese kant van die lewe. As die rusielewe hom verveel, pak hy sy goedjies en verdwyn vir 'n paar maande: ‘As ek dan niks is nie, maak niks ook nie te veel saak nie.’ Tog het hy 'n baie teer hart vir sy kinders, en dis Tilde wat daarin slaag om sy beste eienskappe tot 'n mate van ontplooiing te bring. In die skewe huisie by die skewe garingbome slyt Tilde haar vreugde- | |
[pagina 409]
| |
lose jeug. Tussen moeder se strenge ongenaakbaarheid en vader se duistere geslotenheid kan haar sonnige natuur nie tot 'n harmoniese ontwikkeling kom nie. Sy het 'n lewendige fantasie en verwag tog so veel van die lewe: ‘Lewe, o lewe tog! Dit brand in Tilde. Hier op sy beste is die een dag nes die ander, kom 'n mens nooit verder as jou neus lank is nie ....’ Haar romantiese drome word telkens verydel deur die onverbiddelik terugkerende roetinewerkies: kind oppas, stopwerk, was en stryk, ens. Haar fyngevoeligheid word gekwets deur die armoedige klere wat sy moet dra en die skimpe van skoolmaats oor haar snaakse, rondswerwende vader. 'n Ouer suster, Lea, beskerm haar teen die ergste stampe en stote, en die simpatieke onderwyser, Pieter Boshoff, verstaan die kuns om haar beste eienskappe tot ontplooiing te bring. Wanneer Lea vertrek, word Meester haar geestelike leidsman met wie sy vertroulik omgaan. Die mooiste gedeelte van die roman is die skildering van Tilde se ontluikende vroulikheid. Ek dink aan toneeltjies soos dié waar Tilde haar eie liggaam staan en bewonder voor die spieël en haar verontwaardiging oor moeder se klappe; haar kinderlike reaksie op Meester se geskenke, en die subtiele verandering wat daar in haar verhouding tot hom kom nadat sy die skool verlaat het en hy deur privaat lesse haar gebrekkige opvoeding wil voltooi. Die lewenslustige bakvissie vol dwalende gedagtes naas die verliefde meester; sy met haar voet op die drempel van die Lewe waarvan sy soveel heerlikhede verwag; hy vol tere liefde, maar onmagtig om haar te laat begryp dat hy iets meer as deftig-bedaarde meester vir haar wil wees. Weg is die ou vertroulikheid van die gewese leerling, en Meester word pynlik bewus van sy middeljarigheid as hy stywerig aansukkel agter die lugtig trippelende nooientjie, ‘wat haar gang matig asof hy so oud soos Metusalem is’! Dan verskyn die prins wat Tilde sal wegvoer na die sprokieswêreld waarvan sy so lank gedroom het. Fritz se eerste pogings tot toenadering faal jammerlik, omdat daar nog 'n ou wrok in Tilde se hart leef; maar op die damwal in die maanskyn triomfeer sy beskermende sorg en eerbiedige hulde oor haar skamerige verset. Sy het al so lank gehunker na iemand wat haar kan verstaan, wat haar kan vertroetel, dat geen skugterheid haar kan belet om hom tegemoet te tree nie. In hierdie toneel en ook in die beskrywing van Tilde se besoek aan die ateljee toon die skryfster bewonderenswaardige talent. Dit kon so maklik ontaard het in banale sentimentaliteit, gewone magazine-verliefderigheid van die kwylerige soort. Maar die skryfster laat ons iets voel van die heilige erns waarmee 'n rein meisiekind haar eerste onsekere stappies waag op die pad van die liefde. Vier nagte wag Tilde tevergeefs op haar geliefde onder die sipresboom en dan besluit sy impulsief om na hom te gaan. Teen die ‘dooie muur’ van sy verlate kamer snik sy haar verdriet uit en begin dan weer haar | |
[pagina 410]
| |
struikelgang na die skewe huisie toe. Wat vir Fritz slegs 'n interessante episode was, is vir haar lewensaak. Gedurende haar maandelange siekte leer ons Katoo beter ken. Soos 'n getergde moederdier staan sy oor haar beseerde welp: ‘Nie 'n spikkeltjie moet op die eer van haar kind val as sy dit kan verhelp nie. Arm maar ordentlik!’ En selfs Koos word opgeskrik uit sy luie daadloosheid: ‘Ek gaan vandag die groot land ploeg!’ sê hy ‘ongewoon bars’. Nou kry Meester weer 'n kans om Tilde te omring met tasbare bewyse van sy sorgsame liefde, totdat hy eindelik die ‘kruikie van fyn porselein’ sy eie kan noem. Maar Tilde swig alleen vir sy aandrang omdat sy daardeur kan ontsnap aan die smartvolle herinnering van haar verlore liefde, en omdat sy in 'n oorsese reis bevrediging kan vind vir haar romantiese verlangens. By haar terugkeer neem Tilde haar intrek in die mooi nuwe woning wat Pieter op Baskoppie laat bou het. Lea help haar om sosiale status te verwerf, maar die besit van een van Fritz se skilderye laat die ou verlange herleef. Sy vind geen bevrediging meer tussen haar blomme nie en begin te hunker na 'n plesierlewe waaraan haar middeljarige eggenoot slegs met teësin deelneem. Haar huwelikslewe word slegs fragmentaries geskets en daar is geen teken van geestelike groei nie. Ten spyte van die feit dat sy nou drie-en-twintig jaar oud is en reeds drie jaar getroud met 'n baie verstandige man, bly sy nog steeds 'n kind-vroutjie, 'n hulpelose wesentjie sonder die geringste besef van haar verpligtings as getroude vrou. Sodra Fritz op die toneel verskyn, knoop sy weer die ou verhouding aan asof daar deur haar huwelik niks verander het nie. Die skryfster wil hê dat ons haar moet sien as die verpersoonliking van die reinste onskuld. Selfs Pieter weet ‘dat wat ook al oor haar kom sal wees soos 'n blom wat in die môreson oopgaan, sonder bedrog, selfs sonder voorbedagtheid.’ Sy is ‘so tenger en sonder lewenswysheid’ dat ook Lea haar beskou as ‘'n onnosel kind’. Maar die meeste lesers sal volkome met Lea saamstem waar sy byvoeg: ‘Jou drie jaar van getroude lewe behoort jou meer wysheid te verskaf het.’ (p. 254.) As Tilde eindelik halfhartig instem om met Fritz te breek, dan is dit nie omdat sy tot opregte inkeer kom nie, maar alleen omdat sy geen skande oor die familie wil bring nie. Hier het ons dus dieselfde lewensopvatting wat ons reeds ken uit Sophie Roux se eerste roman. Suzanne was 'n hulpelose wesentjie, ‘vasgekeer tussen grense wat onoorkomelik is’, ‘'n oorblufte kind’ wat vertroosting soek by 'n minnaar. Ook Grietjie, die gevalle meisie, was geen sondares nie, maar slegs 'n ‘bedroë kleintjie’ wat toegee aan 'n natuurlike liefdesdrang. Tilde verskil van hierdie twee deurdat sy minder uitdagend is, haar meer passief oorgee aan die liefde, wat volgens haar opvatting ‘'n ding (is) wat ontydig, onverwags op jou afkom, waarvan 'n mens | |
[pagina 411]
| |
deurskynend, dronk-vol word, totdat dit jou gehawend in die steek laat...’ (p. 202). Sy verset haar wel teen Fritz se argument van die ‘mensgemaakte huwelikswet’, maar is tog ‘magteloos om die vuur en gejuig wat deur haar wese gaan, te keer.’ (Ek kursiveer.) Van hierdie swakheid maak Fritz gebruik, maar nadat hy haar oorrompel het volg plotseling 'n onverklaarbare berou. Onverklaarbaar omdat daar geen die geringste aanduiding is dat Tilde ooit geworstel het teen haar sondige liefde nie. Haar enigste houvas is die belofte wat sy aan Lea gegee het en die vrees vir haar moeder se afkeuring. Soos 'n onnosele kind loop sy haar ongeluk tegemoet. Sulke ongelukke vind natuurlik plaas, maar uit literêre oogpunt beskou is dit onbeduidend. ‘Stomme kindjie’, voel 'n mens geneig om uit te roep, ‘kon Lea of Pieter dan nie beter wag gehou het oor jou nie!’ Hierdie ontknoping is 'n ernstige fout in die roman. Die skryfster probeer die slot indrukwekkend te maak deur die broeiende donderstorm wat die stryd van die hartstogte begelei en die ‘modderbesmeerde tabberd’ wat Tilde se besef van onreinheid moet aksentueer, maar hierdie middele voel ons slegs as uiterlike, geforseerde simboliek. Hier word geen magtige, alles-beheersende hartstog uitgebeeld wat na heftige stryd tot 'n verskeurende afskeid lei nie. Dis alleen 'n erg patetiese kindermoord wat ons aanskou. Maar nadat dit gesê is, moet ons nie vergeet dat die eerste gedeelte van die roman baie verdienstelike kwaliteite besit nie. Die bewoners van die skewe huisie is so goed uitgebeeld dat ons hulle nie gou sal vergeet nie. Die swygsame Katoo met haar moederlike gevoel, wat so moeilik tot uiting kom, die futlose Koos, wat net soos Tilde in 'n ander omgewing tot skone menslikheid sou geryp het, die terglustige tweeling, wat tot sulke lewendige toneeltjies aanleiding gee - hulle almal lewe voort in ons gedagtes. En die ontluikende vroulikheid van Tilde, die mymeringe van haar romantiese kindergemoed, dit alles word so suiwer uitgebeeld dat ons die beste verwagtings kan koester van die skryfster se talent. Miskien sal sy in 'n volgende roman nog veel dieper kan indring in die misterie van die vroueliefde deur as hoofkarakter te kies, nie 'n swak, onskuldige lammetjie wat weerloos ter slagting gelei word nie, nie 'n ‘bedroë kleintjie’ wat oorrompel word deur 'n wellusteling nie, maar 'n vrou wat slegs tot seksualiteit sal ontwaak in die gloed van 'n alles-opofferende liefde. ‘Zoo de vrouw één grootsche opgave heeft, dan is het deze: alle zinnelijkheid door liefde te heiligen, alle zinneleven in den heiligen kring der liefde te trekken en het als 't ware daarin op te sluiten! Als zoodanig kan zij het lichtende voorbeeld zijn voor den man, die in eeuwen en eeuwen geestelijke ontwikkeling dit nog niet heeft bereikt. Het scheen ons steeds het teeken eener meest veredelde menschelijkheid: slechts in den droom der liefde sexueel te kunnen ontwaken! En vele vrouwen hebben dit altijd verwerke- | |
[pagina 412]
| |
lijkt.’ Hierdie ideaal van Dirk Coster staan oneindig hoër as die oppervlakkige seksualiteit wat in so baie buitelandse vroueromans uitgebeeld word; daardie romans waarin die sinnelikheid van die liefde afgeskeur word en waarin ‘alles is geoorloof’ glimlaggend uitgewerk word tot 'n lewensisteem. Taalkundig is hierdie roman beter versorg as Wrede Grense, ofskoon dit verreweg nog nie vlekkeloos is nie. |