Die Wedstryd en ander Verhale vir die Jongspan (1936).
Ofskoon hierdie bundel, blykens die titel, vir die jeug bedoel is, beskou ek dit meer geskik vir die algemene leser. Dit bevat, onder andere, drie mooi verhale uit die Frans vertaal. Die vertalings lees besonder vlot en daar is geen spore van moeisame verstandswerk nie.
Die grootste gedeelte van Du Plessis se oorspronklike werk behoort tot wat ons aangename ontspanningslektuur kan noem. In die speurverhale openbaar hy 'n sterk neiging tot die fantastiese. As dit 'n bietjie te dol toegaan in Die Vreemde Wêreld van Hamar Spug probeer hy die leser se twyfel sus deur geforseerde geestighede. Deurgaans egter, bly sy verteltrant onderhoudend en slaag hy so goed daarin om die vertelling aan die gang te hou dat die gemiddelde leser met genoeë na die ontknoping sal soek.
Daar is aanduidings in hierdie bundel dat Du Plessis met meer konsentrasie dit verder kan bring as oppervlakkige ontspanningslektuur. Ek wys veral op die twee verdienstelike verhale Blou-Jan en Die Sanger wat albei uitmunt deur simpatieke uitbeelding. Blou-Jan is 'n parmantige straatklonkie, wat onder die invloed van 'n bende misdadigers 'n konstabel doodskiet by 'n inbraak. - Abdullah, ‘die baassanger van die Kaap’, het gedurende vyftig jaar 'n groot liedereskat versamel, maar word tydens die oefeninge vir 'n karnaval deur 'n bloedstorting oorval en moet op mediese advies ophou met sing. Maar toe hy die kort-saaklike bevel van die dokter kry, bars die baassanger hartstogtelik los: ‘Ek moet sing!’ Hierdie twee verhale bly in ons geheue voortlewe omdat die skrywer daarin geslaag het om ons die twee figure te toon op 'n keerpunt waarin hul lewe so saamgetrek is dat ons meteens die kern van hul wese begryp.