Die skrywer vertel vlot en besit veel kennis van die groot sakewêreld. Tog maak die verhaal nie veel meer indruk op ons nie as 'n verslag wat ons so terloops in die koerant lees en 'n paar dae later al weer vergeet het. Dit is omdat Conradie ons nie onthef aan die werklikheid van die objektiewe feite nie. Hy het 'n voortreflike skets gelewer van die hopelose stryd teen die werkloosheid, maar sy getroue waarneming het nie geryp tot innerlike aanskouing nie. Die realiteit het hom wel getref, maar hy kon dit nie volkome beheers nie. Wat hy ons aanbied is alleen die grondstowwe van die lewe in onverwerkte vorm, soos Dirk Coster dit noem. Eers as hy daarin slaag om hierdie grondstowwe te vergeestelik, sodat dit ons kan ontroer as verrassende openbaring van lewenswaarheid, eers dan sal sy werk van wesenlike belang word.
Aan die slot van die verhaal het hy tog iets van hierdie hoër realisme bereik. Die kinders het wysgerig geredeneer oor die al of nie bestaan van Vader Krismis, en dis alleen Jannie wat onder die bespotting van sy broers 'n kous ophang. Dieselfde aand ontvang die familie, wat nou in die uiterste nood verkeer, 'n mandjie met kosware van die Heilsleër. Dan vergeet die verraste ouers vir enige oomblikke al die ellende en bitterheid van hul armoede, omdat hul nou die hart van hul seuntjie kan verbly. Dis net jammer dat Conradie hierdie roerende toneeltjie bederf deur die banale niksseggende verklaring: ‘Terwyl sy dit doen (naamlik die sokkie met lekkernye vul) glans haar gesig; haar gevoelens kan sy nie vertolk nie; sy voel soos alleen 'n moeder onder dié omstandighede kan voel.’
Die uiterlike feite van die verarmingsproses het Conradie verdienstelik opgeteken; maar om die tragiese ondergang van 'n medemens uit te beeld - dit kon hy nog nie bereik nie.