Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendDie Duistere Sluier (1934).Die hoofpersoon, Hettie Vorster, is 'n talentvolle dogter uit 'n agterlike gesin. Deur bemiddeling van die plaas-onderwyser gaan sy na die hoërskool en word daarna opgelei as onderwyseres. Haar vader is 'n buffelagtige onmens, wat deur luiheid en onkunde al agteruit boer. As Hettie begin skoolhou, wil hy die grootste gedeelte van haar salaris inpalm om sy rente te betaal, en daarby verydel hy al haar pogings om die jonger kinders te laat leer. Hettie is opvliegend van geaardheid en taktloos in haar optrede. Die gevolg is 'n heftige botsing waarin oom Hendrik sy opgegroeide dogter onder die karwats steek. Na hierdie insident verlaat sy die ouderlike woning en besluit om alle kontak te verbreek. Vir 'n hele jaar geniet sy haar vryheid, maar tydens die griep-epidemie begin sy haar te bekommer oor die lot van haar moeder en die ander | |
[pagina 397]
| |
kinders. Voordat sy egter iets kan doen, ontmoet sy Etienne Hugo met wie sy in die huwelik tree. Hettie kan nie sover kom om die duistere geheim van haar armblanke-afkoms aan haar welgestelde eggenoot te openbaar nie. Daardeur verwoes sy haar huweliksgeluk. Na verloop van sewe jaar kom haar verliederlikte vader haar herinner aan die lot van haar moeder, broers en susters. Hy dring in haar deftige woning binne om die sterwensboodskap van haar moeder persoonlik af te gee: ‘Ontferm jou oor my kinders - hulle vergaan van ellende.’ Hierdie boodskap laat Hettie eindelik uit haar kille onverskilligheid opskrik. Sy is self moeder, maar sy besluit om haar eie dogtertjie en man te verlaat en hervat haar taak as onderwyseres. Die motivering van hierdie ongewone stap is onoortuigend: ‘Valse trots en minderwaardigheidsgevoel (is) die helse kompleks in Hettie se lewe.’ Deur gebrek aan beeldingsvermoë slaag die skryfster egter nie daarin om dit aanneemlik te maak nie. Hettie vind haar verlore bloedverwante in die ellendigste armoede op die delwerye, en nadat haar vader afstand gedoen het van sy regte, onderneem sy die sorg vir vyf van die Vorsters. Maar ten spyte van al haar opofferinge vind sy geen ware vreugde in haar taak nie, want herinneringe aan haar verlore geluk en 'n knaende verlange na haar eie kind verteer haar. Toevallig sien sy haar man met Helène in 'n koffiehuis en gaan dan na sy hotel met die doel om hom uiteindelik alles openhartig te vertel. Etienne glo egter nie meer aan haar opregtheid nie en verstoot haar. Met die Vorsters wat op die delwerye agtergebly het gaan dit vinnig afdraand. Hulle beroof kaffers van diamante, en Hettie se vader word weens moord tot die dood veroordeel. Hettie se poging om een van haar broers op die goeie pad te bring misluk, en 'n getroude suster sterf in die uiterste verwaarlosing op die delwerye. Na aanleiding van die moordsaak word die hele familiegeskiedenis met kleur en geur in die pers opgedis, met die gevolg dat Hettie tydelik waansinnig word. Deur die persverslag kry Etienne eindelik 'n verklaring van Hettie se sonderlinge gedrag en neem haar halfvoltooide taak oor. In die slothoofstuk verskyn een van haar leeglêer-broers met 'n splinternuwe motor: ‘Ek het die oukêrel gaan uitsnuffel en die klippies by hom gekry, voor hulle hom in die hande gekry het.’ So eindig die droewige geskiedenis van die Vorster-gesin. Mev. Pienaar het die verarmings- en verwordings-proses van ons onontwikkelde blankes met groot talent en kennis van sake geteken. Sy laat ons besef hoe moeilik dit is vir die tweede geslag om op te styg uit die armoede-moeras. Selfs waar dit moontlik blyk, is die herowering van 'n sosiale status uitgesluit weens die parasitisme van agterlike bloedverwante. Hettie probeer die familiebande breek, maar word uiteindelik | |
[pagina 398]
| |
deur haar gewete gedwing om die opheffingstaak te aanvaar. Haar geskiedenis mag nou wel versier wees met te veel romantiese franjes, maar dit beklemtoon nogeens dat ons met veel meer as bloot 'n ekonomiese vraagstuk te doen het. En omdat hierdie verhaal soveel bewyse lewer van die skryfster se diepe insig in die mentaliteit van ons veragterde Afrikaners, omdat dit so 'n roerende beeld gee van ons nasionale tragedie kan dit, trots sy letterkundige gebreke, die volksgewete help wakker skud. | |
Verlate Vlaktes (1936).Dit is 'n verhaal van twee siele, wat mekaar innig liefhet, maar na 'n heftige stryd uitmekaar gaan om eensaam voort te skry oor die verlate vlaktes van die lewe.... Diepe deernis huiwer daar in die stem van die skryfster as sy vertel van hul stille smart, hul uiteindelike loutering en kalme berusting. Daar kom oomblikke in hul lewe, wanneer hul roekeloos wil gryp na die geluk wat alleen deur 'n mislukte huwelik belemmer word, maar onstuimige lyfsbegeertes word by elke krisis oorwin deur omhoogstrewende idealisme. Mina en Karel se huweliksgeluk is kort van duur omdat daar geen ware sielegemeenskap tussen hulle bestaan nie. Karel het 'n opvlieënde geaardheid, en sy buffelagtige gedrag gee aanleiding tot eindelose rusies. Hy vind bevrediging in sy spekulasies wat hom ver van die huis laat rondswerf, terwyl sy vrou al hoe meer vereensaam en slegs tussen haar blomme enige troos vind. Sy wil geen kind hê nie ‘want watter geluk, watter opvoeding lê daar vir 'n kind in 'n huis waar geen eensgesindheid of liefde is nie?’ Op 'n aangrensende plaas woon die Fouries, en tussen Mina en Frans Fourie, 'n stil, ingetoë boerseun, ontwikkel daar 'n innige verhouding. Albei ly swaar onder die liefde wat verswyg moet word, maar omdat hul vasgeanker is in die Christelike tradisies van hul volk, handel hul nie soos karakterlose uitlanders op die rolprent wat op hulle seks-gevoelstroom van golf tot golf geslinger word.’ Tant Ralie se afsterwe bring albei diep onder die besef van die erns van die lewe. In die eensaamheid van die nag vlug Mina na buite om te worstel met haar lewensprobleme. Een vir een blaai sy die bladsye van haar lewensboek om en orals vind sy ‘vergane illusies, gebroke ideale, onversadigbare verlange....’ Sy begryp dat sy nie haar lewe kan inrig soos sy dit wil hê nie, maar dat 'n hoër mag haar gange bestier: ‘O God, leer my net om te lewe soos U wil.’ As Frans ná die begrafnis alleen tuiskom, vlug hy uit die ouderlike woning om troos te soek by Mina. Sy groot droefheid oor sy moeder het hom swak gemaak: ‘Wat help dit om volhardend teen die noodlot te veg? Al die jare het dit nie gehelp om stil te bly nie.’ Maar in hierdie beslissende oomblik is Mina sterk, en deur haar selfbeheersing kon Frans | |
[pagina 399]
| |
ook tot kalmte gekom het, selfs sonder die onnodige toeval wat hom tot besinning bring. Onder die gesels word sy bewus van hul innige sielegemeenskap, maar sy verwar dit nie meer met ‘blote sinlikheid’ nie. Tog is sy nog nie seker van haar gevoel nie, want na Frans se vertrek smeek sy: ‘O, God, laat die gevoel van hoër waarde wat alleen vir my siel kan rus gee tog ewig duur! Ek smeek nie om geluk nie, want miskien is dit beter vir my daarsonder, of miskien het ek my porsie al verbruik, maar gee my tog uit U groot genade immer hierdie rustigheid van gevoel, hierdie rustige kalmte.’ Haar gebed word verhoor, want na Frans se vertrek ondervind sy ‘daardie berustingsvrede wat langsaam deur die lewe daal van hulle wat die goeie stryd wil stry....’ Moedig aanvaar sy die lewe met al sy onvolmaakthede. Sy kom tot die gevolgtrekking dat haar jeugdige huweliksideaal van een vlees en een gees dwaasheid was ‘want elke lewe is soos 'n groot verlate vlakte waardeur die siel alleen moet gaan.’ Deur die beklemtoning van hierdie sentrale gedagte wek die skryfster by ons die gevoel dat die ideale huwelik slegs 'n dwase geluksdroom is, wat nooit verwesenlik kan word nie. Ons wil toegee dat Mina, met so 'n oppervlakkige eggenoot as Karel, tot geen ander gevolgtrekking kon kom nie, maar die skryfster het ons geensins oortuig van die algemene geldigheid van haar stelling nie. Daar is mooi dramatiese momente in hierdie verhaal waaraan die skryfster oortuigend gestalte gee. Ek noem b.v. die onderhoud tussen Mina en Frans in die onweersnag (hfst. XVIII). Verder noem ek die stemmingsvolle beskrywing van die groep rondom die kaggel wanneer tant Ralie op sterwe lê. Die sieke is skynbaar beter en oom Frans vertel vrolike kommandostories. Maar al die tyd is ons bewus van die angstige spanning wat tot 'n klimaks gevoer word deur Frans se onverwagte aankoms. Sulke toneeltjies toon hoeveel sterker die uitbeeldingsvermoë van mev. Pienaar geword het sedert die verskyning van haar eerste werk Die Duistere Sluier (1934). Daarnaas kry ons egter ook mat gedeeltes, soos die liefdesgeskiedenis van Martie, wat in 'n dorre feiterelaas verloop, sonder dat dit die hoofmotief versterk. Nog 'n komposisiefout is die te lang uitgerekte vertelling van Mina se huweliksmisère wat eers op bladsy 129 eindig. Karel moet Mina se ware self tot sy reg laat kom,’ maar hy verbleek tot 'n abstraksie omdat hy alleen moet dien as skakel in die louteringsproses. Onwillekeurig vergelyk 'n mens die oplossing in hierdie roman met die van Wrede Grense. Die kontras in lewensopvatting is so sterk dat Verlate Vlaktes amper kan beskou word as 'n protes teen die stellings van mev. Sophie Roux. Suzanne word ons in Wrede Grense voorgestel as 'n magtelose slagoffer van die irrasionele huweliksdwang. Sy aanvaar die gebondenheid van die huwelik alleen ter wille van haar kinders, maar haar minnaar moet haar help ‘om min of meer tevrede te bly’ in die huwelikstronk! | |
[pagina 400]
| |
Mina egter, word deur haar liefdestryd tot ernstige selfondersoek gedwing, totdat sy uiteindelik rus vind in 'n kinderlike oorgawe aan Gods wil. Haar liefde vir Frans lei tot 'n geestelike hergeboorte, en sy begryp ‘dat geluk nie kan gesoek word nie, of deur begeertedwang gedwing word nie...’ Hoe anders as Suzanne wat vir haarself die reg opeis van persoonlike vryheid en geluk: ‘Nou staan haar besluit vas om elke krummeltjie geluk op haar lewensweg gulsig buit te maak.’ Uit so 'n vergelyking blyk duidelik dat mev. Pienaar nie tevrede is met 'n oppervlakkige skynoplossing nie, maar dat sy met haar rypere lewenswysheid veel dieper deurdring tot die kern van die probleem. Hierdie verdieping is 'n welkome verskynsel in ons letterkunde, want dis nog nie so lank gelede nie dat baie van ons skrywers hul tevrede gestel het met die verliefderige banaliteite wat 'n mens in elke magazine kan raakloop. Ek wil nie beweer dat mev. Pienaar met hierdie roman 'n groot kunswerk geskep het nie, want haar idee-ontwikkeling is nog veel te geforseerd en nog nie innig genoeg saamgeweef met die lewensverloop van haar mense nie. Daarby is haar stylvermoë dikwels nog te beperk om 'n skone uitingsvorm te vind vir haar gedagtegang. Afgeslete beeldspraak ontstel haar nie en verwronge sinsbou of onsuiwere taalgebruik maak haar prosa soms ongenietbaar. Ek gee een voorbeeld: ‘Die vlakte lê ontroof, ontsier, sonder enige verstoring egter.... - gesluier in 'n kille winterkleed - rustend, geduldig wagtend, verseker, ja ongetwyfeld gewis dat op 'n voorafbepaalde tyd die teken van die Verlosser sal kom - ontwaak ontvou en dan gereed.’ (p. 57.) | |
'n Merk vir die Eeue (1937).Wat Kleinjan in sy verhaal Bittereinders vir die Mafekingse Konsentrasiekamp gedoen het, het mev. T.C. Pienaar hier verrig vir die kamp op Klerksdorp. Ek twyfel vir geen oomblik dat die feitlike gegewens waarop die verhaal gebaseer is deur baie getuies kan bevestig word nie. Ons besit trouens genoeg dokumentêre bewyse oor die kampe waaruit die waarheid van die hoofsake in mev. Pienaar se verhaal kan gestaaf word. Ongelukkig het die skryfster ons egter geen aanduiding gegee van die verhouding tussen waarheid en verdigting in haar werk nie. Weinig lesers sal hierdie skildering van moedersmart en kinderleed kan volg sonder 'n traan in die oog. Die naakte feite, wat sonder enige opsmuk meegedeel word, is so ontstellend wreed dat dit 'n onvergeetlike aanklag vorm teen die barbaarsheid van die oorwinnaar. Maar sterker nog as die aanklag wek hierdie verhaal die oortuiging dat 'n volk waarvan die moeders só kon ly en sterwe nie te gronde kan gaan nie. In hul wanhopige vertwyfeling het hul soms gemeen dat daar geen regverdige God meer bestaan nie. Maar dan vind hul weer berusting in die geloof van die voorvaders: ‘My kind, Gods weë is wonderlik. Ons kan dit nie | |
[pagina 401]
| |
verstaan nie, ons moet net genade vra om ons te kan onderwerp.’ En tot sommiges dring die diepere betekenis van die lyding langsamerhand deur: ‘Sonder woord of gedagtevorming raak sy daarvan bewus dat die groot Boumeester besig is om haar nasie te bou; dat die vrou, uit wie die toekomstige nasie gebore moet word, so deur beproewing gelouter en gesterk moet word!’ Die verhaal begin met die oorrompeling van weerlose vrouens en kinders, die afbranding van plaaswonings en die ongevoelige behandeling op pad na die kamp. Erger as die liggaamlike ongerief is die kleingeestige plaerye van verraaiers en die vernederende baasspelery van swart huurlinge. Uit die lotgevalle van 'n paar gesinne kry ons 'n beeld van die daaglikse kamproetine. Dit word 'n aaneenskakeling van ellende: honger, siekte, kranksinnigheid, dood. Maar onder dit alles bly die vryheidsgees van die Afrikaanse vrou onoorwinlik, en as 'n klompie van die kwaaistes na Natal gestuur word wapper 'n twintigtal Vierkleure oor die beestrokke, terwyl die papnat gereënde vrouens moedig uit volle bors aanhef: Dat vrije, vrije volk zijn wij! Die skryfster het nie alte goed daarin geslaag om 'n samevattende beeld van die kampellende te gee nie, en haar karaktertekening bly te oppervlakkig om ons intens te laat meelewe met haar hooffigure. Sy soek dit meer in die breedte as in die diepte, en die telkens herhaalde sterfbedtonele verswak selfs die hoofindruk wat sy by die leser wil wek. Deur die aaneenryging van 'n reeks treurige gevalle wil sy die tragiek van die vroueleed uitbeeld. Maar uit 'n kunsoogpunt bevredig dit ons nie, want ons mis daarin die heg geboude raamwerk van 'n verhaal wat styg tot 'n klimaks. Tog wil ek hierdie vlot geskrewe boek hartlik verwelkom omdat dit jong lesers, wat na inligting soek oor hierdie droewigste periode van ons nasiewording, in aantreklike verhaalvorm 'n onvergeetlike blik sal gee op die lyding van ons volksmoeders. |
|