| |
| |
| |
§ 37. C.H. Kühn (Mikro).
Mikro is die Stellenbosse bynaam van C.H. Kühn wat in 1903 in die distrik Williston gebore is. Sedert 1928 gee hy onderwys op Kuilsrivier, waar hy in 1937 hoof van die sekondêre skool geword het. Hy het sy literêre werksaamheid begin met twee toneelstukke: Diplomaties (1930) en Die Grootste Genot (1931). In 1934 verskyn sy hoofwerk: Toiings; in 1935 die vervolg daarop: Pelgrims. Met hierdie twee verhale het hy die Hertzogprys van die Akademie in 1936 gewin. Ander werk: Rou Rieme (1935), 'n bundel kortverhale; Die Ruiter in die Nag (1936), 'n avontuurverhaal met die vervolg daarop: Kaptein Gercke (1937) is goeie ontspanningslektuur vir die jeug; Oeslande (1938).
| |
Toiings (1934).
Die mentaliteit van die Kaapse kleurling is seker interessant genoeg om die aandag van ons skrywers besig te hou. Von Wielligh het deur Jakob Platjie (1918) en ook in ander verhale ons in aanraking gebring met Hottentotte, Griekwas, ens., maar hy het selde of ooit deurgedring tot die kleurling se innerlik, en hom meestal tevrede gestel met die optekening van gewoontes en taaleienaardighede. In baie ander romans is die bediendes slegs vlugtig geteken, terwyl hul op die planke meestal in een of ander potsierlike rol opgetree het. D.F. Malherbe is een van die weinige skrywers wat meer as 'n oppervlakkige belangstelling vir die kleurling gekoester het, want Velbaadjie in Die Meulenaar is ongetwyfeld 'n interessante Hottentot-karakter.
In Toiings tree die blanke baas en sy vrou alleen as byfigure op. Dit is 'n Hottentot-verhaal waarin die kleurlinge om hul eie ontwil geskilder word. Hulle handel selfstandig, is nie net 'n blote aanhangsel van die blanke beskawing nie, maar kry 'n geleentheid om hul persoonlikheid ten volle te ontwikkel. Nêrens het die skrywer hul met die neerbuigende meerderwaardigheidsgevoel van die blanke beskou nie, en as gevolg van 'n simpatieke inlewing in hul dink- en gevoelswêreld kon hy werklik lewende figure skep. Die eienaardige Hottentottaal met sy sterk gekruide uitdrukkings en verrassende idioom is deurgaans baie suiwer weergegee, en selfs in die beskrywende gedeeltes is daar selde iets wat uit die toon val. Ek skryf enkele tiperende staaltjies van die Hottentot-idioom af:
‘Toiings, jou laatvye is vandag weer omgesukkel. Ja nee, jou torre is sowaar getee.’
‘Baas, en toe het die ster daar op sy tondeldoos geslaan....’ (verskiet).
‘Ou Giel, sy ou broer, vloek dat die wêreld na swael ruik....’
‘Dawid moet rondstap soos 'n wees bobbejaantjie en boepens grootword.’
Maar dis nie alleen in enkele afgeluisterde kwinkslae dat Mikro sy
| |
| |
kennis van die Hottentot se spreekwyse toon nie, want dwarsdeur die boek, in die hele voorstelling en wyse van beskouiing leef die Hottentotatmosfeer.
Toiings, die hooffiguur, is 'n getroue ou skaapwagter van die ou stempel, oordrewe beskeie en enigsins sentimenteel van aanleg. In die meid, Siena, vind hy 'n ideale maat, en deur sy tere liefde vir haar word sy hele lewenshouding beheers. Kort na die huwelik sterf sy, maar by alles wat Toiings doen, en veral by gewigtige besluite soos 'n nuwe huwelik, gesels hy eerbiedig met haar by haar graf. Die herinnering aan haar reine liefde help hom om alle bose aanvegtings te oorwin. Op die eensame Kareeplaas gaan dit betreklik gemaklik, maar as Toiings lokasie-toe gaan om 'n nuwe meid te soek dan raak hy maats met die lawaaierige jongvolk, wat by die kantiene rondlê. Die feestelikhede met die huwelik en die uitspattings van die jongspan in die lokasie gee die skrywer geleentheid om die dorps-Hottentot met sy spoggerige maniere geestig te teken. Daar is 'n vermaaklike voetbalwedstryd tussen die Never Sweats en die Lily Whites, waarby die mededinging om 'n ‘Eppentonse’ meid 'n groot rol speel. Toiings kweek lokasiemaniertjies aan en probeer effek bereik met sy ‘witgespikkelde onderbaadjie’, maar sy seun se siekte laat hom berouvol aan Siena erken dat hy nie kontrak gehou het nie. Met behulp van oompie Dissel vind hy eindelik 'n deeglike meid wat by sy stemmige geaardheid pas en keer terug plaas-toe.
| |
Pelgrims (1935).
Toiings keer met sy nuwe vrou, Jannetjie, terug na Kareeplaas en in die eerste roes van sy huweliksgeluk is hy vol heilige voornemens om nou reg te lewe en fluks vorentoe te boer. Sy eerste daad is om Siena se verwaarloosde graf skoon te skoffel, en in sy verbeelding vereenselwig hy al dadelik die twee goeie vroue met mekaar. So gelukkig is hy nou in sy stroois en in sy werk dat hy die voortekens van die dreigende droogte nie raak sien nie. As die skaappote so om hom ruis, verloor Blikkiesdorp met sy uitspattings alle bekoring. ‘So tussen die vee wil hy maar lewe, hier, waar hy elke ooi later aan haar blêr ken.’
Omdat hy nou so reg lewe, redeneer Toiings, kan die reën eenvoudig nie weg bly nie. Teenoor sy baas se mismoedigheid stel hy 'n stralende optimisme. Al sy bokke gaan vanjaar tweelinge lam; hy sal sommer twee kapaters vir die kerkbasaar gee en die lokasie-leeglêers wys hoe 'n flukse boer hy is! Maar hierdie gedagtes aan toekomstige rykdom maak hom 'n maklike prooi van die eerste versoeking. Hy verruil Twaailaait, 'n donkie, wat hy eenmaal as troosgeskenk aan oompie Dissel gegee het, vir ses bokke. Maar na hierdie slegte daad verdwyn ook sy gemoedsrus. As oompie Dissel, 'n rustende ouderling, by hom kom inwoon wil hy dadelik weet wat die reën dan weghou en ewe vroom gaan hy na baas Fanie se
| |
| |
huisgodsdiens. 'n Klein reëntjie laat hom weer moed skep en vol trots merk hy hoe voorspoedig sy bokke aanteel. Maar toe die droogte aanhou en die vee begin vrek, groei daar in sy gemoed 'n nukkerige opstandigheid wat hom roekeloos maak. 'n Diaken wat kom kollekteer, word in die pad gesteek en die wegraak van een van sy beste bokooie laat 'n redelose woede in hom opvlam. Bedags probeer hy sy gekwelde gemoed sus deur onvermoeide aandag aan die vee te skenk, maar sy gewete kla hom gedurig aan oor die diefstal van Twaailaait. Eindelik word hy so sterk oortuig dat die droogte aan sy sonde te wyte is en dat hy nog verder gestraf sal word deur Jannetjie se dood, dat hy sy sonde aan oompie Dissel bely. In die veld bid hy en oompie saam en met verligte gemoed begin Toiings dadelik na wolkies te soek. Alles is mos nou reg en die reën sal seker kom! As hy net sê: ‘Wyk, Satan, wyk!’ sal die versoeking hom nie weer oorrompel nie. Maar die dag daarop vrek sy beste bokooi, en Toiings begin sterk te twyfel of sy terugkeer op die regte pad wel voordelig sal wees.
As oompie Dissel sterf, dan wil Toiings wegvlug van die plaas ‘waar hy in die laaste tyd net dooie dinge gesien het.’ Bangerig stap hy die veld in, want daar by die stroois met die lyk wil hy nie kom nie. Hy hoor egter sy oompie se stem wat hom vra ‘om hom te gaan bêre’ en begin in die middel van die nag met woeste werkywer die graf te grawe. Dis die enigste middel om sy bygelowige vrees te verban. Die besoekers se praatjies oor die dood laat hom weer wegbars veld-toe, waar hy op die geraamte van sy vermiste bok afkom. Orals agtervolg die dood hom.
Ou Jan Brood het Toiings se sielestryd opgemerk en op besonder diplomatiese wyse oortuig hy hom dat hy ‘'n versterkinkie’ nodig het uit sy bottel witblits. Hy wil hom nie verlei om te drink nie: ‘Ek vat altyd so 'n versterking op 'n begrafnis, want mens voel darem te aardig om so 'n bekinde toe te gooi.....’
‘As Oompie dink dit sal help, sal ek net twee slukke vat.’
‘Dis reg, Toiings, net 'n paar slukke. Hulle sê die dood wink ieder uur en daarom sê ek, 'n man het 'n versterking nodig.’
En daar agter die wolfdoringbos vergeet Toiings die doodsbenouenis, drink hy al die kwelgedagtes weg, word hy so onverskillig oor die groot lewensvraagstukke dat hy ‘geen flenter omgee wat van Jannetjie, Dawid, sy bokke of die baas se vee word nie.’
As ou Saul Niklaas met sy mooi dogter, Sysie, na Kareeplaas kom, dan weet Toiings dat hy ‘vir die hel lewe.’ ‘Waarom sal hy padlangs lewe, hy wat maar 'n Hotnot is? Vir hulle sal daar nie eendag in die hemel 'n plek wees nie, want hulle sal maar altyd moet tou staan en padgee as daar witmense inkom.’ Af en toe kwel hy hom nog wel oor sy uitspattings, maar Jannetjie se persoonlikheid is te swak om hom terug te lei na die goeie pad. Sy kan alleen haar leed uitsnik by Siena se graf.
| |
| |
Met die mondfluitjie probeer Toiings sy gewete sus by ou Saul se stroois. Vaag voel hy nog die verband tussen die verskrikkinge van die droogte en sy sonde, maar ou Saul se raad is:
‘Blaas die bekfluitjie en laat staan daardie dinge. Dis nog nie Nagmaal nie.’
Met sy nuwe maats gaan hy vrolikheid maak op Poen Pertoors se bruilof. Die skape drink mos ook gulsig na 'n stowwerige dag en waarom sal hy dan die wyn laat staan! Al oompie Dissel se gebede het die dood tog nie weggehou nie.
‘Nou sê ek vir julle vannag, drink liewerste. Die ander is onbekende dinge wat jy doodstil moet laat staan....’
Maar ten spyte van sy roekeloosheid kan Toiings die innerlike stem nie doodsmoor nie. Die verskrikkinge van die droogte neem daagliks toe en Toiings se moedeloosheid styg tot wanhoop. Die sagsinnige Jannetjie se aanwesigheid alleen is voldoende om sy gewete te prikkel, en as sy hom een aand wil help om een van sy spogooie uit die modder te haal, bars hy in 'n redelose drifbui los en skop en klap die arme dier. Nou wil hy net weg van Kareeplaas: ‘Hier kan mens nie meer lewe nie. Ek weet nie vir wat die goed dan nie almal vrek nie. Staan en sukkel en sukkel en hulle kan darem nie....’ Maar oom Saul en sy mooi dogter, Sysie, moet saamgaan! Jannetjie hoor toevallig van die plan en in haar radelose wanhoop sluip sy weer in die donker na Siena se graf:
‘Tant Siena, dis Jannetjie hierdie.... Vergewe my dat ek sy liefde van jou wou afvat, maar ek het hom ook net so lief. Tant Siena, Toiings is in die klippe rond, maar jy kan hom weer terug bring pad-toe. Asseblief, tant Siena.’
Toiings hoor die laaste wanhopige blêr van sy spogbokooi wat wegsak in die modder:
‘Vrek! Ek het geweet vrek is jou voorland....’
Op die nuwe staanplek verheug Toiings hom in die geselskap van oom Saul en Sysie. Maar die toevallige verwysing na Siena laat meteens alle oppervlakkige uitgelatenheid verdwyn. Siena se graf gaan oop, maar dis die sagsinnige Jannetjie wat hom terugwink na die goeie pad. Sonder 'n enkele verklaring verlaat hy sy vrolike vriende en stap in die nag terug na Kareeplaas. Langs die pad sak hy neer by 'n wolfdoringbos en bid:
‘Liewe Oubaas, dis Toiings, Toiings wat so in die klippe gehou het. Hy wou nie moedswillig verkeerd loop nie, maar hy wou so graag baie bokke hê....’
Berouvol sluip hy sy stroois binne, waar klein Siena by die verlate Jannetjie lê. ‘Ek het geweet jy sal kom,’ begroet sy hom.
Buite val die eerste druppels van 'n aanhoudende reën. Al sy sorg en kommer is meteens weg, want baas Fanie verseker hom dat hy met die
| |
| |
treurige oorskiet van sy veetjies tog nog 'n ryk Hotnot kan word. Al het hy baie teen die droogte gevloek, miskien kan hy darem weer diaken word, want klein Siena sal hom nou reg hou!
Mikro het die geestelike ervarings van hierdie Hottentot met so 'n merkwaardige suiwerheid uitgebeeld dat Toiings een van die interessantste figure in ons letterkunde geword het. Hy is maar 'n eenvoudige skaapwagter, maar die probleme waarmee hy worstel is met soveel diepe menslikheid deurskou, dat ons saam met hom pelgrims word op die doringagtige lewenspad. Vasgeanker in sy siel is die herinnering aan die goeie Siena, wat herlewe in sy nuwe vrou Jannetjie. Hy mag wel tydelik afdwaal en hom oorgee aan roekelose uitspattings, maar hy weet dat hy eendag tot verantwoording sal geroep word. Ons sien hom worstel teen die hebsug, en ná 'n innerlike stryd sy sonde bely in die naïewe vertroue dat hy nou weer voorspoedig sal boer. Maar meedoënloos gaan die Natuur sy ewige gang en die vee van regverdiges en onregverdiges vrek op die kaalgevrete veld. Oral loer die dood en Toiings kan sy angs alleen met 'n sopie verdryf. As hy eers op die afdraande pad is, word sy verderf vinnig voltooi, want Jannetjie, wat hom herinner aan sy heilige voornemens, prikkel hom net tot moedswillige verset deur haar swygende verwyte. Pragtig geteken is die figuur van hierdie vereensaamde meid wat in ootmoedige vertroue wag op die terugkeer van 'n herbore Toiings. So laat Mikro ons die skoonheid sien wat daar lewe in eenvoudige Hottentot siele - afgedwaalde pelgrims, wat ná 'n swerftog in die woestyn, eindelik weer die goeie pad vind. Hulle worstel met dieselfde lewensvraagstukke as ons en die naïewe logika waarmee hul halfbeskaafde verstand daarop reageer, is die grootste bekoring van hierdie verhaal. Met 'n speelse maar innige humor het Mikro die geestelike ewolusie van sy Hottentotfigure belig. Hulle sal bly lewe in ons letterkunde.
| |
Rou Rieme (1935).
In Toiings het ons Mikro leer ken as die simpatieke uitbeelder van die Kaapse kleurling. Daarby sluit aan die beste verhaal in hierdie bundel, Ou Sampie van die Rôeveld. Sampie word as held in die lokasie van Rooiwal vereer omdat hy reeds drie vroue begrawe het en ook blykbaar die geheim van die ewige jeug ontdek het. Daar loop wel gerugte dat hy sy vrouens mishandel het, maar Sampie speel die rol van bedroefde wewenaar so goed dat hy telkens nuwe oorwinnings behaal. Dit word vir hom 'n aangename spel om 'n jong meid so onder die neus van haar jongkêrel te skraap en in triomf weg te voer na die Roggeveld, waar hy haar saam met sy jong donkies inbreek. Pas was die derde vrou begrawe of Sampie maak al weer flikkers by Let. Maar die ouderdom begin hom te vang en die meid is verloof aan Freek, 'n konstabel, wat danig spog oor die manier waarop hy die ou wewenaar gaan verneder. Dis nou
| |
| |
net die situasie waarna Sampie verlang. ‘Hy wil nie 'n meid hê as sy nie man kan kry nie.’ Hy gee 'n verbluffende vertoning van sy manlike krag deur die weerspannige donkie, Bloubok, so onder Let se oë in te breek. Teenoor Freek is hy vriendelik en beskeie, maar in die stilte het hy hom al klaar uitoorlê en by 'n drinkparty stof Sampie sy teenstander maklik uit. ‘Sonop die volgende môre vat oompie Sampie net mooi die kaaiingbulte. Langs hom sit Let, sy vierde vrou, kersregop.’
As die ouderdom Sampie begin vang, bedink hy 'n oulike plan om 'n pensioen te bemagtig. Hy moet ‘'n baassiekte raakloop’ om die magistraat te oortuig, en hierby kom sy gawe as toneelspeler hom uitstekend te pas. As dit blyk dat ‘bromkaaitjies’ dreig om epidemies te word onder die afgeleefde volkies, ontwikkel Sampie blindheid. ‘Dis 'n bulsiekte hierdie; sommer so nommerpas.’ Komies is die verslag van sy onderhoud met die magistraat, waar die eertydse huweliksheld met bitterheid moet erken dat sy vierde vrou hom baasgeraak het. Let word elke jaar sterker, en ou Sampie is nou te swak om haar te slaan. Sy stryk aan die end van die maand weg met sy pensioengeldjies, en 'n heimwee bekruip hom wat hy selfs met lawaaiwater nie kan verdryf nie.
In die hulpeloosheid van sy ouderdom word die lewenslustige Hottentot 'n beklaenswaardige figuur.
‘Ou Sampie het eers skimmel begin word, toe verkreukel. Later het sy bene bak begin trek nes 'n ou afgeleefde kar se wiele, maar wat styf hou, is hy. Toe het sy malers begin uitval en links onder het nog een oorgebly, weggeslyt soos 'n ou-ooi s'n wat jy al stompoor gemerk het.’
Andermaal blyk uit so 'n sitaat hoe die skrywer telkens die juiste styl vind om uitdrukking te gee aan die gedagtewêreld en lewensfeer van die Hottentot.
Let vertrek met haar ‘broeisel kleingoed’ en laat ou Sampie eensaam agter om te treur oor die glorie van vergange dae, toe hy sy meide nog kon regslaan. Verrassend is die ironiese slot. Op 'n goeie dag soek Kris, wat weer 'n pak gekry het van haar man, skuiling by.... Sampie! Die ou meideslaner is mos nou skadeloos! Die twee oues troos mekaar, want selfs Riempies, wat nog altoos trou by sy pa gestaan het, verlaat hom by die koms van die vyfde meid om self te gaan rondkuier. In die loop van die jare het ou Sampie ook al wysheid geleer, want as Kris hom vertroulik vra: ‘Ek wonder net hoe dit sou gewees het as ek jou eerste of tweede vrou gewees het,’ dan bly die ou doodstil - hy, wat vroeër so gespog het, omdat hy met sy eerste vrou al sleg geleef het.
Ou Sampie met sy vyf meide en sy ‘bulsiekte’ het vir ons 'n lewende mens geword. Hy bly 'n ‘rou riem’ tot aan die end, maar hy is 'n besonder interessante persoonlikheid deur sy spoggerige vrytaktiek, sy huigelagtige droefheidsvertoon, sy familietrots en slinkse deurtraptheid.
Vier van die ander verhale in hierdie bundel kan ons dorpsketse noem.
| |
| |
Verskeie figure uit die dorpie Rooiwal word verdienstelik getipeer, maar meer bereik die skrywer hier nie. Oral is daar geslaagde trekkies, maar ons word nie meteens getref deur die egtheid van die tekening nie. Die dialoog word dikwels vermoeiend deur niksseggende breedvoerigheid, en die voorstelling van die dorpsbedrywigheidjies is nie van so 'n aard dat dit ons belangstelling kan vashou nie.
In Net maar 'n Sondaar is die ommekeer in die seun se lewe baie oppervlakkig en onoortuigend geteken. Dit geld ook die verandering by oom Sybrand en tant Laal in Rooiwal. In Oom Frikkie doen boete kry ons 'n geestige situasie. Deur die aankoms van 'n ou ‘vlam’ word die deftige ouderling van Rooiwal plotseling verontrus omdat dit die herinnering wek aan 'n snode jeugsonde, naamlik die feit dat hy amoreuse liedjies op die mooi nooi gedig het! Sy vrou bedink 'n oulike straf vir hom: hy moet (ná 'n dertigjarige huwelik!) nou op háár ook 'n paar liedjies dig! Mooi is die vriendskap tussen die twee ooms geteken en ook die slot is verrassend, maar die onwaarskynlikheid van die boetedoening, wat nogal twee maande duur, bederf die totaalindruk.
| |
Oeslande (1938).
Draaikolk se kleurlinggemeenskap en die pogings van die sendeling, Herman Otto, om hul op geestelike en ekonomiese gebied te bearbei vorm die hooftema van hierdie verhaal. Herman is al in sy vyftigste jaar, het al twee ander gemeentes gehad en kom dus met rype ervaring na Draaikolk. ‘Hy is amper twee jaar al hier en behalwe die dienste wat hy Sondae lei en die bietjie huisbesoek wat hy doen, kan hy niks meer toon wat hy vir die kleurlinge gedoen het nie. Preek, aanneem, doop, dooies begrawe! Dit hinder hom. Hy het hierheen gekom om baie meer vir hulle te doen.’
Om 'n einde te maak aan die leeglêery van die volk, besluit hierdie idealistiese werker om 'n groot lap grond langs Soetrivier deur die kleurlinge te laat bewerk. Arbeid adel, is sy leuse en hy wil die ganse kleurlinggemeenskap deur sy skema ophef en inspireer. Vir die uitvoering van hierdie plan kry hy die samewerking van Draaikolk se burgemeester, Lodewyk Roux, nie juis omdat laasgenoemde werklik belangstel in sy proefneming nie, maar omdat hy wil gebruik maak van die kleurlingstem om sy politieke aspirasies te verwesenlik.
Ten spyte van 'n breedvoerige tekening bly Herman Otto 'n enigsins newelagtige figuur, veral omdat die skrywer slegs 'n vae aanduiding gee van die geestelike worsteling van hierdie eensame idealis. Hy koester 'n sondige liefde vir die mooi sestienjarige dogter van Roux, maar die besef van sy geestelike onwaardigheid probeer hy uitwis deur 'n titaniese arbeidsprestasie op die sendinggemeente se saailande. Daar is sterk momente in die beskrywing van sy byna bo-natuurlike uithouvermoë op die ploeg- | |
| |
land waar hy die boodskap van Millie se dood ontvang. ‘Werk, werk, werk! Dis wat hy moet doen. Hier is iets binne-in hom aan broei, iets wat tot uitbarsting gaan kom as hy hom nie keer nie. Vanmiddag het hy geen liefde vir die kleurlinge nie.... Wat gee hy om hul siele! Nee, hy wil liewer een van hulle wees wat die lewensbeker aan sy mond kan sit, daaruit drink tot hy versadig is. Vry te wees om te lewe, lief te hê. Nooit te vra of dit of dat sonde is nie....’ Mooi is die menslike swakheid van die sendeling hier geteken. Die innerlike stryd word opgelos deur verhoogde liggaamlike inspanning. Wanneer al die volk, wat hy deur sy werkywer geïnspireer het, al tou opgegooi het, dan loop Herman nog een stryk deur agter sy ploeg sonder om ag te gee op die vallende duisternis.
Maar hoeveel sterker sou hierdie figuur nie gewees het nie as Mikro ons ook 'n kykie gegee het op wat daar in Herman se siel omgegaan het gedurende die eensame dae en nagte wat hy hom in sy studeerkamer opsluit? Aan hierdie worsteling van die onwaardige dienskneg met sy Skepper het die skrywer hom nie gewaag nie en daarom bly daar vir my iets raaiselagtigs in die gedrag van Herman, wat een oomblik 'n onpraktiese daadlose dromer is en dan weer sake aanpak met die verterende ywer van 'n dweper.
Die onmiddellike resultaat van Herman se proefneming is dat die dorpsbewoners dit baie moeilik vind om werkvolk te kry. Veertien dae nadat die kleurlinge die laaste sooi langs die rivier omgekeer het val hul maar weer stadigaan terug in hul gewoontes van leeglê, drink, steel, ens. 'n Blywende verbetering het Herman se proefneming nie gebring nie en toe hy in onbewimpelde taal die moedergemeente wys op die blanke se verpligtings teenoor die kleurling het hy baie vyande gemaak. Jan du Toit word die woordvoerder van die ontevredenes: ‘Volk, sê ek altyd, moet min betaling en baie slae kry. Het hulle nou al eendag gedeug?.... Ek is ook een wat graag my Christelike plig wil doen, maar nou is dit nog by my 'n kwessie of dit ons Christelike plig is om hulle te leer en aan te help tot hulle ons eendag begin verdruk....’
Die ontevredenheid van die dorpsbewoners groei aan deur die opstandigheid van die kleurlinge tydens die opwinding van 'n verkiesing waarin allerlei beloftes aan hulle gemaak word. Lodewyk Roux het hulle die dorpsaal belowe vir 'n dansparty, en as hy in gebreke bly om daaraan uitvoering te gee, trek die teleurgestelde lawaaimakers na sy huis waar hulle verskrik uitmekaar stuif omdat die baas vermoord in die agterplaas lê. Die moordenaar was Pool, een van die hooffigure in die verhaal. Hierdie stilgeaarde Hottentot, wat nooit deelneem aan die uitspattings in die lokasie nie, verkeer op besonder vriendskaplike voet met die sendeling. Hy gee sy werk by die kleremaker op omdat hy deur Herman se boerderyskema begin te hunker na die rustige plaaslewe. Hy word in sy liefde vir Krissie gedwarsboom deur die meid se baas, Lodewyk Roux, op wie
| |
| |
hy hom dan wreek. Roerend is die wanhoopskreet van hierdie getergde siel wat so verbrysel is deur die onreg hom aangedoen, dat hy die sendeling se vertroostende vermaning nie langer kan aanhoor nie: ‘Wat help dit, Baas, om berou te hê! Wat help dit om jou sonde te bely! Wat help dit vir my, wat 'n hotnot is, om te vra om vergewing! Die Heer wat ek na moet bid is die Heer van die witmense en Hy sal nie verstaan nie. Daardie Heer is vir die witmense en nie vir my nie.’
Sonder dat Mikro enige direkte pleidooi vir die kleurlinge lewer, laat hy ons baie sterk voel hoeveel huigelagtigs daar nog is in die gedrag van baie blankes, wat hul die reg aanmatig om uit die hoogte te veroordeel. Wat 'n veragtelike wese is die invloedryke burgemeester nie wat wil poseer as die weldoener van die kleurlinggemeenskap, maar wie se gemene bybedoelings dwarsdeur die lokasie bekend is! Hierdie meneer stap uit die kerk as daar gepreek word oor die blanke se verpligtings teenoor die kleurling, en vererg hom bloedig as sy dogter se begrafnisstoet 'n oomblik tot staan gebring word deur dié van 'n kleurling wat hy in 'n dronkaardsgraf gehelp het. Maar so weinig menslike gevoel besit hy, dat selfs sy dogter se dood 'n middel word om sy ydelheid te streel, want hy wys 'n spesiale bediende aan om die aantal motors in haar stoet te tel!
Mikro het in hierdie verhaal een van ons neteligste vraagstukke behandel. Sy voorstelling sal ongetwyfeld tot verset prikkel, want deur sy intense simpatie vir die kleurling is hy geneigd om karikature van sy blankes te maak. Behalwe Lodewyk Roux en die welmenende maar onpraktiese Herman is daar die volksraadslid D.P.R. met sy politieke vleiery en omkooptaktiek, en verder nog die babbelsugtige kleremaker, Jan du Toit, en die op sensasie beluste magistraat, Vercuiel. Dat daar sulke figure bestaan sal wel niemand betwis nie, maar die beligting van hul ondeugde is baie eensydig. Pool, die basterjong, daarenteë, word so simpatiek geskilder dat ons die moord wat hy begaan nouliks kan afkeur. Ook in sy geval egter, bly die uitbeelding fragmentaries en onseker. Dit was tog seker onnodig om hierdie sterk figuur tot handeling aan te spoor deur voorbodes van 'n komende ramp. En wat het daar geword van Pool se lasterlike opstandigheid? Aan die slot van die verhaal kniel hy deemoedig saam met Herman. En dis dieselfde Pool wat enige dae tevore uitgeroep het: ‘Die ewigheid! Ek wil dit nie hê nie. Wat maak ek met die ewigheid as ek Krissie se liefde verloor het?....’ Daar moet tog seker iets geweldigs in sy siel plaasgevind het, maar ons hoor daar niks van nie.
Meer suksesvol was Mikro met die uitbeelding van die groot aantal byfigure, waardeur ons so 'n diepe insig kry in die kleurling-mentaliteit. Ou Willem is die vader van die lokasie, die raadgewer van almal. Hy is 'n troue Christen, maar sy vrees vir die dood dryf hom gedurig na
| |
| |
meneer-goed omdat hy daar by die pastorie darem veiliger voel! En hoe lastig word hy met sy oumenswysheid by die oplaaiery van die kiste! (Hfstk. 16.) Ou Willem is met sy beskeidenheid en respek vir die blanke 'n verteenwoordiger van die ou soort Hotnot, wat heeltemal tevrede sal wees as hy eendag in die hemel ‘daar agterlangs iewers 'n plekkie’ kry. Dan is daar die tranerige ou Dolf en die dranksugtige Petrus Slinger wat tog nie in die hemel wil kom nie: ‘Ons sal daar tog nie deug nie. Bekos waai? Dit sal net so 'n rukkie duur of Petrus sal daar smoordronk lê....’ Sy maats betreur wel die ongeluk wat hom getref het, maar merk tog met tipiese Hotnot-humor op: ‘Oompie moet nou darem so rekent: Petrus het tog darem lekkerlyf uit die wêreld gegaan.’
So laat Mikro al die lokasiebewoners voor ons verbytrek. Ons sien hul op die ploegland waar Windbuks die swak werkers so oulik uitkoggel, op die ‘paartie’ waar die jong meide so verleidelik is en by die saal waar hul met al hul lawaaierige baldadigheid tog niks uitvoer nie. Dan weer op die begrafnis van Petrus Slinger waar hulle op spesiale versoek van die afgestorwene saamsing: Reeds wyk die naglik duister. Mikro ken sy volkies, hul swakhede en deugde, hul bygeloof en eenvoudige godsdienssin, hul dranksug en sinnelikheid. Maar hy weet ook hoe hul by alle uiterlike onderdanigheid dwarsdeur die huigelagtige vernaamheid van baie blankes sien.
Dis 'n verhaal wat tot ernstige oorpeinsing stem, wat daardie politici veral moet lees wat meen dat hul die oplossing van die kleurvraagstuk in hul onderbaadjiesak ronddra. Wit lê die oeslande, maar die werkers is so min! |
|