Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendJoggie (1934).Joggie is 'n oorlogskind, erflik belas met al die ellende en bitterheid wat sy vader op die slagveld, en sy moeder in die konsentrasiekamp deurgemaak het. Op Blinkwater groei die wees op onder die sorg van oom Frans en tant Hessie, wat self twee kinders het. Oom Frans het alles verloor in die oorlog en hy en sy vrou behandel Joggie soos 'n lastige indringer. Al pedagogiese middel wat hulle ken, is die spantou, en as gevolg van oom Frans se ongenadige afranselinge word Joggie soos 'n vervolgde dier wat in doodsangs links en regs byt en klou en dan op die vlug slaan. Die seun is gedurig in die moeilikheid, en sy opstandigheid word nog aangewakker deur die geniepsige tergery van sy neef, wat op behendige wyse al sy skuld ook op Joggie afskuiwe. In hierdie onsimpatieke omgewing vind Joggie troos by Ripsie, sy wit brakkie, Langman, 'n ou Kaffer, en Nellie, 'n skoolmaat. Besonder fyn van uitbeelding is Joggie se eerbiedige verering van Nellie. As hy saans na 'n gedugte afranseling probeer slaap in die buitekamer op die holmatkatel, dan draai hy sy gesig na haar pa se plaas toe. ‘Om met sy rug na Koedoesvlei se kant toe te lê, is oneerbiedig. Saggies bid hy in sy gedagte: Liewenheertjie, stuur 'n sterk man soos Simson wat vir oom Frans in die beeskraal kry....’ | |
[pagina 386]
| |
Erg teleurgesteld is Joggie omdat selfs Meester oom Frans nie 'n bloedneus kan slaan nie! Hoe het hy nie teen sy neef gespog oor Meester se wonderlike krag nie: ‘Meester slaat jou pa dat daar stukkies trek. Hy is net soos Simson. Hy skop die “bol” tot in die wolke.’ MaarMeester het darem oomFrans beweeg om hom weer skool-toe te stuur. Op die dorpskool kom Joggie deur sy opvlieënde geaardheid ook gedurig in botsing met ander seuns. Ripsie is dood, Nellie het aan die griep beswyk en die tergery van die seuns laat ‘hom tot sterwens toe’ ongelukkig voel. ‘Ek wil sterwe, want hier op die wêreld is net smarte en onreg. Nellie, jy is in die hemel by die Here, maar ek bars onder die mense.’ In 'n mismoedige bui maak hy 'n mislukte poging om selfmoord te pleeg. Die vriendskap van Neels Brink beur hom egter weer op na die wrede mishandeling van sy neef. As tant Hessie sterf, moet hy weeshuis-toe. Die gereelde lewe pas hierdie wilde natuurkind nie, en 'n bietjie tergery laat hom losbars in dierlike woede. As die huisvader hom wil straf, vlug hy weg soos hy vroeër van oom Frans na die bure geloop het. Op die eensame veld word hy deur 'n geweldige storm oorval, wat hom ‘deur angs verstyf’ teen die stam van 'n wildevyeboom skuiling laat soek. Langsamerhand kom hy tot die besef dat hy 'n ‘kind is van die wydte’ wat nooit weer in 'n huis wil slaap nie. By die Malan's, waar hy werk, kom hy eindelik in 'n simpatieke omgewing, waar sy beste eienskappe tot ontplooiing kan kom. Oom Willie Malan beskerm hom teen die konstabel wat hom wil terugvoer na die weeshuis. Hierdie poging van die gereg lei nogeens tot 'n uitbarsting waarin al die opgekropte woede van jare van vervolging tot waansinnige uiting kom. Maar die verstandige behandeling van oom Willie, en Joggie se liefde vir Mimie, bewerk 'n volkome regenerasie. As hy met die haelgeweer oor die wye veld loop, dan verdwyn al die ou bitterheid uit sy hart. 'n Nuwe lewensfase het begin, omdat hy eindelik die liefde gevind het waarna hy so lank gesmag het. Die geskiedenis van Joggie is 'n afskrikwekkende voorbeeld van die verwoesting van 'n jong lewe deur liefdeloosheid en onverstandige lyfstraf. Sonder enige versiering teken die skrywer vir ons die afstootlike realiteit van die seun se ellendige verblyf by sy hardvogtige oom en tante. Dis rusie en vegpartye, vloektaal en onmenslike kastyding. Maar onder al hierdie narigheid kry ons tog 'n mooi kyk op die ontwikkeling van Joggie se oorblufte kindersieltjie. Met innige medelye het die skrywer sy versukkelde lewensgroei geteken in 'n reeks toneeltjies vol aksie en spanning. Daar is geen langdraderige uitpluising nie, en al is die tweede gedeelte van Joggie se ontwikkeling miskien te fragmentaries, tog kry ons 'n helder begrip van die tragiek van hierdie ongelukkige seun se lewe. |
|