Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 35. Dirk Mostert.Dirk Mostert is in 1897 op Middelburg, Transvaal, gebore. Hy is tans hoofonderwyser van die Langenhoven-Vakskool op Oudtshoorn. Van hom het verskyn: Petaljes van Oom Bart (1934), Slegtkamp van SpioenkopGa naar voetnoot1) (1935), Moleste in die Moot (1936), Nooientjies van die Onderland (1938) en Uit my ou Vrystaat (1938). | |
Petaljes van Oom Bart (1934).In hierdie reeks sketse gee die skrywer 'n luimige verslag van sy pogings om oom Bart, 'n sogenaamde boer, wat af en toe 'n los werkie verrig, tot 'n respektabele burger te hervorm. Die bouplan van nagenoeg al die sketse is as volg: Op 'n Saterdagmôre, wanneer Meester allerlei werkies wil verrig in sy tuin of by sy hoenderhokke, kom oom Bart kuier. Hy is gewapen met 'n hele reeks slimpraatjies en nuwe planne, wat hy onder die genot van tallose koppies koffie kwytraak, en probeer gewoonlik om 'n paar pond by Meester te leen. Meester doen sy bes om hom op taktvolle wyse van sy ergste dwaashede te genees, met die gevolg dat die skrywer se eie persoon soms hinderlik op die voorgrond tree. Af en toe word die direkte verteltrant onderbreek deur uitweidings en beskouings oor allerlei sake. Die geestigheid in hierdie sketse is nie juis van hoë gehalte nie. Dit ontstaan meestal deur die astrante koppigheid waarmee oom Bart sy | |
[pagina 384]
| |
eienaardige denkbeelde voordra, deur sy sonderlinge reaksies op nuwe idees, en die koddige pogings wat hy aanwend om op 'n moderne manier te boer. 'n Ander faktor is oom Bart se komiese plattaal, deurspek met luimige boerevergelykings, en ryklik versier met volksetimologiese vervormings en kontaminasie-verskynsels. 'n Motor word mousterkar of modderkar, incubator - eendjiebyter, termometer - dermmeter, koalisie - kaloesie, ens. As oom Bart deftig wil praat dan kry ons soiets: ‘Ek dispekteer 'n man wat altyd in die eerste distansie vir sy reg uitkom.’ Hierdie plat-komiese draaitjies word egter tot vervelens toe herhaal. Oom Bart word so opsetlik in allerlei lagwekkende situasies gewikkel dat die leser se belangstelling in sy dolle kaskenades nie van lange duur kan wees nie. En dis eintlik jammer, want oom Bart se persoonlikheid sou interessant genoeg wees in die raamwerk van 'n stewige komposisieplan. Mostert betrag sy figuur met begrypende simpatie, ken sy swakhede deur-en-deur, maar behandel hom nooit uit die hoogte nie. Simpatie beteken vir hom nie jammerkry nie, maar verstandige hulp wat die armblanke sy eergevoel laat herwin. So word hierdie sketse nog 'n bydrae tot die steeds aangroeiende literatuur oor die armblankevraagstuk. Moleste in die Moot (1936) bevat verdere petaljes van Oom Bart. Nooientjies van die Onderland (1938) bestaan uit 'n twaalftal vlotvertelde verhale wat egter uit letterkundige oogpunt teleurstellend is. Die kunstig bedagte intrige bly vir Mostert hoofsaak, en van sielkundige deurdringing is daar weinig sprake. Hy openbaar 'n gawe om verrassende toneeltjies inmekaar te sit, maar sy karaktertekening mis diepte. As ontspanningslektuur kan hierdie bundel, wat o.a. 'n hele paar speurdersverhale bevat, nuttige dienste bewys. | |
Uit my ou Vrystaat (1938).Uit my ou Vrystaat (1938) is nou werklikwaar die paradys van knap kêrels en mooi nooiens! De Waal se engelagtige meisies met hul ‘betowerende, hemel-fraaie kykers’, sy Venusagtige vroutjies wat aan die slot met 'n tweeling op die arm verskyn - ag nee wat, Dirk Mostert het nou hul glans laat verbleek. Sommer in die eerste verhaal al ontmoet ons 'n staatmaker-nooi: ‘Twee rye spierwit tande pêrel soos juwele tussen die rooi lippe deur as sy glimlag, en twee kuiltjies plooi op die wange in.’ En wil u weet hoe 'n arme student voel as hy so 'n nooi ontmoet? Luister maar: ‘Bols voel asof die bloed in sy are tot skuim geklits word. Hy kan sy hart duidelik hoor doems - doems - doems.... Weer glimlag sy daardie hemelse glimlag wat deurslaan tot in die diepste dieptes van sy siel. Dis of die aarde onder hom meegee, en dan weer voel hy asof daar geen aarde onder sy voete bestaan nie. Hy sweef in hoër sfere.’ Maar die nooi is baie prakties. Sy kom die skamerige student, wat nie genoeg sakgeld had om haar behoorlik te ontvang nie, by die | |
[pagina 385]
| |
kosinrigting haal, bring vir hom sakgeld saam, en.... nou ja, verder kan elke leser mos raai! So druk die helde van al die elf verhale, na heelwat misverstand, moeilikhede en lyding, hul wonderskone nooientjies met die ruim siele en engelagtige bekoorlikhede in hul gespierde arms vas. Dan leef hul in ‘'n sewende hemel, kompleet uitgemeubileer’! Die helde is gewoonlik arm weeskinders, wat as boereknegs op Vrystaatse plase werk. Maar die bo-natuurlike intuïsie van die vrou ontdek hul reine sieleadel, en verskaf die aardse slyk om hul huweliksgeluk moontlik te maak. Voordat dit sover kom, word die skurke ontmasker of behoorlik in boeie geslaan. As dit nodig is om die gevoellose hart van 'n onwillige vader te vermurwe, dan bied die galante jongkêrels hom 'n rasperd as waarborg aan of skeur 'n skuldbewys van £314 fyn en flenters. Wie nog vermaak kan vind in die onwaarskynlikhede van hierdie romantiese papierwêreldjie sal geniet van die skrywer se lewendige verteltrant, en as gevolg van die spannende verwikkelinge nouliks merk dat Mostert hom dikwels toewikkel in die toiings van 'n afgeslete retoriek. |