vrou om vergiffenis, en na al die jare van rusie en vernedering vind tant Koot haar eerste liefde weer. In hierdie verhaal is daar goeie tipering van plattelandse toestande, maar dit het nog nie gegroei tot wat Coster noem ‘samenvattende verhaalsplastiek die de gestalten vaster doet oprijzen’. Dit blyk te veel kopie van die troostelose werklikheid, en die skrywer se lewensgevoel is nog te swak om op te styg bokant nugtere waarneming.
In Lusie en Coetzee se Seun triomfeer die liefde van die jongmense oor die teenstand van ouers as gevolg van die diplomatiese taktiek van Ou Stoop. So 'n vermoënde, vriendelike oubaas, wat die slag het om moeilikheidjies tussen vryers op te los, is 'n welbekende figuur, wat al 'n eerbiedwaardige stamboom het in die letterkunde. As ligte lektuur beskou, het hierdie twee verhale verdienstelike eienskappe.
Van meer betekenis is die slotverhaal, Van den Berge, waarin die stryd teen knaende verarming goed geteken word. Soos soveel ander, trek hierdie uitgeboerde boer na die delwerye, waar hy met veel inspanning tog vyftig pond wins maak. Vir almal bring hy klein presentjies en vir sy lieflingdogtertjie 'n goue ring. 'n Mens verwag 'n spannende toneeltjie as Kato haar langverwagte vader 'n end van die huis af opwag. Maar luister hoe tergend-kalm, haas sonder enige ontroering die sakie afgehandel word:
‘Het Pa iets gemaak?’ vra sy.
‘Nee, nie te veel nie,’ sê hy.
‘Pa het seker nie 'n ring vir my gekoop nie?’
‘Ja, dit het ek darem gedoen.’ Hy haal die dingetjie uit, en sy pas dit aan haar vinger.
‘Baie dankie, Pappie. Ag, hoe fraai!’ Haar bruin oë skitter bly in haar bleekbruin gesig; haar wit tande blink tussen haar dun lippe. ‘Baie dankie, Pappie. Pa het maer geword,’ sê sy toe.
Sobere eenvoud, ja - maar sonder die psigiese aksent van waaragtigheid. Eg is die skrywer se gevoel wel, maar hy mis die stylvermoë om sy ontroering oor te dra op die leser. Dis 'n herhaling van Dawid Booysen se prosaïese vryery.
By Van den Berge woon ook sy skoonseun, Lindeque, met vrou en kinders. Sy vernaamste werk is vinke skiet, terwyl sy skoonvader hom afsloof om die twee gesinne van kos te voorsien. Hoe hierdie luie lummel, wat al twee jare leeglê op die plaas, terugkeer na die myn en genoeg geld verdien om die plaas weer terug te koop, word in die slothoofstuk vertel. Maar die motivering van hierdie omkeer by Lindeque is onoortuigend, en die beste deel van die verhaal is die skildering van die kommervolle bestaan van die verarmde Van den Berge.
As geheel beskou, is hierdie bundel 'n teleurstelling. Maar Van Melle het ongetwyfeld sy plattelandse mense fyn waargeneem, en ofskoon hy