oorval 'n groot ramp hom. Hy verloor £500, die tweede paaiement op sy plaas. Nadat die eerste skok verby is kom hy tot besinning. Deur selfondersoek en bybellees ontdek hy dat die najaag van rykdom nog altoos sy ideaal gewees het en dat hy die Here ‘sommer vir 'n noodhulp aangeroep het’. Hy gaan weer hard werk, maar nie net om ryk te wees nie, maar om gelukkig te wees. In sy ellende kry hy ook 'n ander kyk op die hartkwaal van sy medemense. Hulle het geen anker in die lewe nie.... en, ‘as God jou anker is sal die depressie jou nie omdruk nie.... Soek eers die koninkryk van God en dan sal die hartkwaal wegsak....’
Gewapen met hierdie lewenswysheid gaan oom Kalie weer op huisbesoek en hy smaak die voldoening om die moeilikheid met sy bure op te los. Die didaktiese strekking van die verhaal word nogeens beklemtoon deur die raad wat oom Kalie aan sy seun gee net voor sy huwelik met die welgestelde Ragie: ‘Moenie vir jouself leef nie. Dis wat ek gedoen het en daarom lê ek vanaand nog so diep in die aardse modder. Hou jou siel ryk. Onthou daar is nog ander mense wat moet lewe. Net waar jy kan, moet jy met die vriendelike woord, met kos en klere help.’
Die grootste gedeelte van hierdie verhaal bestaan uit dialoog, wat, soos Eitemal tereg in die voorberig opmerk, 'n fonografiese reproduksie is. Coetzee het ongetwyfeld 'n intensiewe studie gemaak van die bywonertaal en -beeldspraak, en hy bereik daar soms verrassende effekte mee. Hy moet egter nog leer dat 'n getroue weergawe van die werklikheid sonder die herskeppende en ordenende fantasie van die kunstenaar vrywel waardeloos is. Dit is hierdie gebrek wat die lees van sy verhaal so vermoeiend maak. Ons moet urelank luister na die redenasies van die bywoners sonder dat die realiteit van hul armsalige bestaan vir ons geïnterpreteer word. Coetzee het die armblankes lief en het hom ingeleef in hul dinkwêreld, maar hy kan sy gevoel nog nie omskep tot 'n hoëre, geestelike realiteit nie.
Daarom het sy verhaal 'n nugtere kopie van die werklikheid gebly. Van belang is dit egter, omdat hy die sielkundige en godsdienstige aspek van die armblanke-vraagstuk beklemtoon.