Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 374]
| |
Moderne Jongmense (1933).By 'n groot gedeelte van ons volk bestaan daar nog 'n diep ingewortelde afkeer van alle romans of ‘storieboeke’, soos dit soms op minagtende wyse genoem word. Te weinig word daar nog besef dat die goeie roman 'n ernstige boodskap tot sy leser bring, dat die romanskrywer nie net aangenaam wil besig hou nie, maar deur sy voorstelling en interpretasie van die lewensfeite die leser tot 'n sekere oortuiging wil dwing. As ons die jongmense dus 'n boek in die hand kan stop wat hulle so ongemerk in intieme aanraking bring met ernstige lewensvrae, dan kan die dikwels gesmade ‘storieboek’ 'n verreikende invloed uitoefen. Jurg Vaber het 'n roman geskrywe wat meer sal uitrig as honderd preke van sy kollegas, 'n roman wat die jongmense gerus op Sondag mag lees, omdat dit hulle sal dwing om hulself rekenskap te gee van hul houding teenoor die godsdiens. Dit is 'n boek wat ek graag in elke Afrikaanse huisgesin sou wil sien, omdat ek oortuig voel dat dit 'n veredelende invloed op ons jongmense sal uitoefen. En dis ook 'n boek wat die ernstige aandag verdien van ons predikante wat hul tereg bekommer oor die feit dat ons ‘moderne jongmense’ al hoe verder van die kerk af wegdrywe. ‘Die onmag van die kerk teenoor die geleerde jongmense van vandag’ is die sentrale onderwerp van hierdie verhaal. Op die ringsitting word verskillende redmiddels aan die hand gegee: die dienste moet aantrekliker gemaak word, die liturgie moet uitgebrei word, die preke is nie interessant genoeg nie, opwekkingsdienste is nodig en meer gebruik van lekeprediking word aanbeveel. Die skrywer se eie oplossing van die vraagstuk vind ons in die woorde van ds. Timo Berg, die ideale predikant van Waterkant, wat in sy eie gemeente reeds tallose jongmense tot die kerk van hul voorvaders teruggebring het. Ds. Berg formuleer dit so: ‘Die jongmense kyk na ons wat Christene is en hulle soek by ons iets om hulle op te hef en aan te trek, en wat vind hulle meer as kritiek en veroordeling? Hulle soek in ons lewes 'n blydskap en vreugde, wat groter is as die plesier van die wêreld wat hulle geniet en wat ons veroordeel, en dikwels vind hulle weinig meer as klaagliedere oor die laste van die Christendom.... Die Christen se lewe moet so vol wees dat dit die moeite werd blyk te wees vir die mees verharde plesiersoeker. Hy moet in die Christen wat vervuld is met die Gees van God 'n beeld van Christus kan sien - en dan sal die mees losbandige ydelheid hom nie meer trek nie.’ Of Jurg Vaber se kollegas met hom sal saamstem weet ek nie, maar ek meen tog dat hul by ernstige selfondersoek sal moet erken dat hy | |
[pagina 375]
| |
een van die hoofoorsake - en miskien wel dié hoofoorsaak - van die kerk se onmag aangewys het. In die moderne maatskappy het die moontlikhede om oppervlakkige plesier te verkry vertiendubbel deur uitvindsels soos die bioskoop, die draadloos, ens. Ons kan dit betreur dat jongmense wat inkom vir die Nagmaal wegsluip van die kerkdienste om 'n rolprent te gaan sien, maar twyfel sterk daaraan of die ouderwetse predikant, wat van die kansel af fulmineer teen die afwesige plesiersoekers, ooit hul harte sal raak. Ons, wat deur daaglikse bestudering van die jeug se mentaliteit, weet dat gedagtelose plesiersoek glad nie gelykstaan met gebrek aan lewenserns nie, het meer vertroue in die pedagogiese metodes van die geesdriftige jeugpredikant, en meen dat 'n verstandige toepassing daarvan die beste deel van ons jongmense tot inkeer sal bring. Hierdie gedeelte van die boek is meer in die besonder gerig tot die leidsliede van ons Kerk. Daar word ernstige kritiek uitgeoefen op die verouderde beroepstelsel, wat deur elke Sinode togmaar weer onveranderd gelaat word. Ons kry verder nog 'n kykie op die onsmaaklike beroepsjaloesie tussen predikante wat ons tot diepe droefheid stem. Maar die eer van die heilige amp word glansryk gehandhaaf deur ds. Timo Berg wat 'n verleidelike regeringspos afwys om hom aan sy herderlike werk te wy. Die grootste gedeelte van die roman egter, behandel die ‘moderne jongmense’ wat deur plesiersug al verder van die Kerk af wegdrywe. Myns insiens is dit jammer dat die skrywer hom 'n tweeledige doel voor oë gestel het, nl. kritiek op kerklike instellings en karakterisering van die moderne jongmense. Die twee sake is wel nou aan mekaar verwant, en die huisgesin van generaal Boshoff, die ouderling, vorm 'n natuurlike skakel, maar ek voel tog dat die eenheid van die verhaal deur hierdie verbinding skade ly. Interessant en leersaam is die bespreking van kerklike sake seker, maar daardeur raak die jongmense enigsins op die agtergrond. Die skrywer het 'n hele klompie romantiese drade deur die liefdesgeskiedenis van die jong predikant geweef, en daarin geslaag om spanning in die verhaal te bring. Elina laat haar onverskillige houding teenoor die godsdiens vaar, omdat sy verlief raak op die predikant wat so aandoenlik kan preek en so goed kan tennisspeel. 'n Wrede ontnugtering wag haar egter, en in wanhoop vlug sy weg uit die huis van haar pleegvader, waarheen sy spoedig terugkeer deur bemiddeling van 'n straatkindjie wat haar hart geroer het. Dit alles word vlot vertel, maar Elina word nie vir ons 'n lewende mens, wat na 'n eensame worsteling eindelik rus vind vir haar gemartelde siel nie. Daarvoor is die skrywer se tekening te oppervlakkig. Dieselfde geld ook die bekering van dr. Jan Boshoff. Die uiterlike tekens van die bekering word wel aangedui, maar ons kry nie 'n blik op die worsteling in die gemoed van die jongman nie. Hoe 'n soekende siel na 'n bange | |
[pagina 376]
| |
worstelstryd eindelik rus en vrede vind deur die geloof is natuurlik 'n gegewe wat selfs die begenadigde kunstenaar slegs met die grootste huiwering sal aandurf. Maar as die skrywer werklik die harte van ons ‘moderne jongmense’ wil ontroer, dan moet hy hom nog dieper inlewe in die kronkelgange van die gemartelde siel, wat uit die duistere doolhof van die twyfel eindelik die lig in die verte sien skemer. Jurg Vaber het in hierdie eerste werk getoon dat hy interessant en boeiend kan vertel. Hy het ons 'n blik gegee op wat daar woel en gis in die gemoed van ons jongmense; hy het ons ernstig laat nadink oor die kerk se roeping teenoor die jeug, en ons deur die figuur van ds. Timo Berg in intieme aanraking gebring met die moeilikhede van die pastorie. Besonder goed geslaag is die tekening van die moederlike juf. Houmann, wat so goed afreken met nuuskierige besoekers; ook die luimige toneeltjie waarin 'n troulustige jongman sy gebooie kom opgee. Op die gebied van die godsdienstige verhaal het ons nog maar weinig boeke wat nie verveel deur 'n salwende preektoon of traktaatjiestyl nie. Daarom ook is hierdie fris geskrewe boek so 'n groot aanwins. |
|