kant is daar die geestesverwantskap met Erich en die besef dat hy haar so nodig het om sy kunstenaarsideaal te verwesenlik. Aan die ander kant staan Oswald met sy groot liefde en sy hulpelose kindertjies. Erich stel die probleem aldus: ‘Watter Eugenie gaan wen? Die nuwe of die oue? Die vrou van die kultuurwêreld en van my; of die moeder en die vrou van die klein huislike geluk.’
Met 'n seldsame indringingsvermoë het die skryfster die verloop van hierdie stryd uitgebeeld. Wie hom aandagtig inleef in al die kwellings van hierdie gemartelde siel, begin iets te begryp van die misterieuse wonder van die vroulike liefde wat alles wil gee.
Eugenie word wel tydelik oorrompel deur Oswald, maar sy is tog een van die mense wat die groot liefde kan voel en wat deur alle lewenswisselinge steeds die besef omdra dat sy slegs aan dié liefde trou kan bly. Daarom kan sy so beslis aan Oswald sê:
‘Maar dis alles om 't ewe.... Of (Erich) my lief het of nie; of hy my terug wil hê of nie, ek kan hom nie in die steek laat nie.’
Toe ek dit lees, moes ek dink aan Johan de Meester se verstote Geertjie, wat, ten spyte van haar ellende, so fel-uitdagend haar grootvader toegevoeg het:
‘Die man heb ik lief, en altijd, verstaat u, na me dood nog, ten eeuwigen dage, zal ik van 'em houe, dié man!’
Lank hou Eugenie dit nie in Suid-Afrika uit nie. Sy gaan na Duitsland ‘om haar skuld te vereffen.... om te bewys hoe groot haar liefde tog is ten spyte van haar afdwaling.’ Intussen het Erich egter, na 'n tydperk van vertwyfeling, troos gevind in die geselskap van 'n boeremeisie, Else, wat 'n paar verleidelike bruin oë het. Erich besef dat hy as eenvoudige amptenaar aan geen huwelik met Eugenie kan dink nie, en in sy moedelose stemming vind hy 'n verbintenis met die huislike Else nogal aantreklik. Hoe onmisbaar Eugenie ook al mag wees vir sy geestelike behoeftes, Else maak 'n beroep op sy sinlike natuur.
Met Eugenie se aankoms in Duitsland staan Erich dus voor 'n groot krisis. Hy kon haar besoek verhinder het, maar dit sou in stryd gewees het met wat die eintlike kern van sy wese is, naamlik fatalisme. Met 'n dowwe gelatenheid onderwerp hy hom aan die grille van 'n noodlot, waarteenoor hy hom magteloos voel. Maande lank word hy heen en weer geslinger sonder dat hy sy besluiteloosheid kan oorwin. ‘Dis of alles maar gebeur, sonder dat ek iets besluit of bepaal - kompleet of ek aan die swewe is.’ Deur hierdie houding besorg hy die twee vroue wat hom lief het 'n verfynde marteling. Erich is die ewige weifelaar, 'n Hamlettipe, soos hyself opmerk, wat maar altyd probeer om deur 'n uitweg die tragedies van die lewe te ontduik.
Tussen die donker boomstamme van die Grünwald met sy vallende herfsblare, waar die vrolike gesnap van ander liefdespaartjies weerklink,