verbitterde vrou, die skokkende nasleep van rassevermenging benewens moord en doodslag. Maar al hierdie vuurwerk laat ons onbewoë, want daar is geen sprake van psigologiese deurdringing nie. In plaas daarvan vind ons al die welbekende eienskappe van die bioskooproman.
Skaduweeagtige figure, wat vir geen enkele oomblik hul eie lewe leef nie, tree in melodramatiese tonele op en deklameer op ouderwets-retoriese wyse. Luister maar hoe 'n predikants-weduwee haar seun wat sy van ontug verdink, te lyf gaan:
‘Jou onbeskryflike wellusteling! Natuurlik sal die drang na vleeslike genot en lae, liggaamlike belustiging jou oormeester op die oomblik wanneer jou verfoeilike aandrifte eindelik daarin geslaag het om my verbryselde gelukswêreld op my onskuldige hoof te laat neerstort!’ (Die Verstoteling.)
Of luister na 'n stukkie beskrywing:
‘Maar stadig staan Essie op, terwyl haar magnetiese oë die weduwee boei, sodat sy onwillekeurig stil bly staan, onmagtig om haar eie oë af te neem van die vlammende vonke wat uit Essie s'n spat.’
‘Vlammende vonke’ ja, en vulkaniese uitbarstings. Genoeg om gans Afrika op sy grondveste te laat sidder. Maar met al haar warme liefde vir die gevalle vrou en die ongelukkige kleurling kan die skryfster ons nie ontroer nie. En vir wie enigsins taalgevoelig is sal haar retoriese en anglisistiese styl 'n pynigende kwelling wees.